JOHANNES 20:1-31
JOHANNES 20:1-31 Bybel vir almal (ABA)
Vroeg die Sondag-oggend het Maria Magdalena na Jesus se graf gegaan. Dit was nog donker. Sy het gesien die klip voor die graf is weg. Toe hardloop sy na Simon Petrus en die ander dissipel, die dissipel vir wie Jesus lief was. Sy het vir hulle gesê: “Iemand het die Here se liggaam weggeneem uit die graf en ons weet nie waar hy Hom gesit het nie.” Petrus en die ander dissipel het na die graf gegaan. Hulle het saam na die graf gehardloop. Maar die ander dissipel het vinniger as Petrus gehardloop en hy het eerste by die graf gekom. Hy het gebuk en in die graf gekyk. Hy het gesien die grafdoeke lê daar, maar hy het nie ingegaan in die graf nie. Ná die dissipel vir wie Jesus lief was, het Simon Petrus ook daar gekom. Petrus het ingegaan in die graf en hy het gesien die grafdoeke lê daar. Hy het ook die doek gesien wat om Jesus se kop was. Die doek het nie by die ander grafdoeke gelê nie. Iemand het dit opgevou, en dit was op 'n ander plek. Die ander dissipel wat eerste by die graf was, het toe ook ingegaan. Hy het gesien Jesus se liggaam is nie daar nie en hy het geglo. Die Ou Testament sê Jesus sal weer lewe, maar die dissipels het dit nog nie verstaan nie. Toe het die twee dissipels weer teruggegaan. Maria het by die graf gestaan en huil. Terwyl sy huil, het sy vorentoe gebuk en sy het ingekyk in die graf. Sy sien toe twee engele. Hulle het wit klere aangehad. Hulle het gesit op die plek waar Jesus se liggaam gelê het. Een engel het gesit waar sy kop was, en die ander engel waar sy voete was. Die twee engele het vir haar gevra: “Mevrou, hoekom huil jy?” Sy het gesê: “Hulle het my Here se liggaam weggeneem, en ek weet nie waar hulle Hom gesit het nie.” Nadat sy dit gesê het, het sy omgedraai. Sy sien toe vir Jesus, Hy het daar gestaan, maar sy het nie geweet dit is Jesus nie. Jesus het vir haar gesê: “Mevrou, hoekom huil jy? Vir wie soek jy?” Maria het gedink dit is die man wat daar in die tuin werk. Daarom het sy vir Hom gesê: “Meneer, het jy my Here weggeneem? As jy Hom weggeneem het, sê dan vir my waar jy Hom gesit het. Dan kan ek Hom gaan haal.” Jesus het vir haar gesê: “Maria!” Toe draai sy na Jesus en sê: “Rabboeni!” Rabboeni is 'n Hebreeuse woord, dit beteken “My Meneer.” Jesus het vir haar gesê: “Jy moenie aan My raak nie, want Ek moet nog na my Vader in die hemel gaan. Jy moet teruggaan na my broers, die dissipels. Gaan sê vir hulle Ek gaan na my Vader en my God. Hy is nou ook julle Vader en julle God.” Maria Magdalena het vir die dissipels gaan sê: “Ek het die Here gesien!” Sy het vir hulle vertel wat Jesus vir haar gesê het. Daardie selfde Sondagaand was die dissipels bymekaar. Al die deure was gesluit, want hulle was bang vir die Jode. Jesus het gekom en Hy het tussen hulle gaan staan. Hy het vir hulle gesê: “Ek gee vir julle my vrede!” Nadat Jesus dit gesê het, het Hy vir hulle gewys hoe lyk sy hande en hoe lyk dit waar die soldaat Hom met die spies gesteek het. Die dissipels was baie bly toe hulle die Here sien. Jesus het weer vir hulle gesê: “Ek gee vir julle my vrede. Die Vader het My gestuur. Nou stuur Ek julle ook.” Nadat Jesus dit gesê het, het Hy op hulle geblaas en gesê: “Ek gee vir julle die Heilige Gees. As julle ander mense se sondes vergewe, dan vergewe God ook hulle sondes. As julle nie hulle sondes vergewe nie, dan vergewe God ook nie hulle sondes nie.” Tomas was een van die twaalf dissipels. Die mense het hom “Tweeling” genoem. Hy was nie by die ander dissipels toe Jesus aan hulle verskyn het nie. Hulle het vir Tomas gesê: “Ons het die Here gesien.” Tomas het vir hulle gesê: “Nee, ek glo dit nie. Ek sal dit net glo as ek die plekke in sy hande sien waar die spykers was en as ek my vinger daar kan indruk. Ek sal dit net glo as ek my hand kan indruk in die gat in Jesus se sy.” 'n Week later was die dissipels weer bymekaar. Tomas was ook by hulle. Die deure was gesluit, maar Jesus het gekom en Hy het tussen hulle gaan staan. Hy het vir hulle gesê: “Ek gee vir julle my vrede!” Toe sê Hy vir Tomas: “Kom, druk jou vinger hier in my hande en kyk, en kom druk jou hand in die gat in my sy. Jy moenie ongelowig wees nie, jy moet glo!” Tomas het vir Jesus gesê: “U is my Here en my God!” Jesus sê toe vir hom: “Jy het My nou gesien, daarom glo jy. Maar die mense wat My nie sien nie en wat in My glo, hulle sal regtig gelukkig wees.” Jesus het nog baie ander wondertekens gedoen wat die dissipels gesien het, maar julle lees nie van daardie wondertekens in hierdie boek nie. Maar die wondertekens waarvan julle in hierdie boek lees, is geskryf sodat julle kan glo Jesus is die Christus, die Seun van God. Dit is geskryf sodat julle die ewige lewe kan kry omdat julle aan Hom behoort.
JOHANNES 20:1-31 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN op die eerste dag van die week kom Maria Magdaléna vroeg, terwyl dit nog donker was, by die graf en sien dat die steen van die graf weggeneem was. Sy hardloop toe en kom by Simon Petrus en by die ander dissipel vir wie Jesus liefgehad het, en sê vir hulle: Hulle het die Here uit die graf weggeneem, en ons weet nie waar hulle Hom neergelê het nie. Toe gaan Petrus en die ander dissipel uit en kom by die graf. En die twee het saam gehardloop, en die ander dissipel het vooruit gehardloop, vinniger as Petrus, en eerste by die graf gekom. En terwyl hy neerbuk, sien hy die doeke lê; maar hy het nie ingegaan nie. Toe kom Simon Petrus agter hom aan en gaan in die graf en sien die doeke lê; en die doek wat op sy hoof was, sien hy nie by die doeke lê nie, maar opgerol op een plek afsonderlik. Daarop het ook die ander dissipel wat eerste by die graf gekom het, ingegaan, en hy het gesien en geglo. Want hulle het nog nie die Skrif verstaan dat Hy uit die dode moes opstaan nie. En die dissipels het weer huis toe gegaan. MAAR Maria het buitekant by die graf gestaan en ween; en terwyl sy ween, buk sy na die graf toe en sien twee engele daar sit met wit klere aan, een by die hoof en een by die voete waar die liggaam van Jesus gelê het. En hulle sê vir haar: Vrou, waarom ween jy? Sy antwoord hulle: Omdat hulle my Here weggeneem het, en ek weet nie waar hulle Hom neergelê het nie. En toe sy dit gesê het, draai sy haar om agtertoe en sien Jesus staan, en sy het nie geweet dat dit Jesus was nie. Jesus sê vir haar: Vrou, waarom ween jy? Wie soek jy? Sy het gedink dat dit die tuinier was en antwoord hom: Meneer, as u Hom weggedra het, sê vir my waar u Hom neergelê het, en ek sal Hom wegneem. Jesus sê vir haar: Maria! Sy draai haar om en sê vir Hom: Rabboeni! dit beteken Meester. Jesus sê vir haar: Raak My nie aan nie, want Ek het nog nie opgevaar na my Vader nie; maar gaan na my broeders en sê vir hulle: Ek vaar op na my Vader en julle Vader, en my God en julle God. Maria Magdaléna het aan die dissipels gaan vertel dat sy die Here gesien het en dat Hy dit vir haar gesê het. EN toe dit aand was op daardie eerste dag van die week en die deure waar die dissipels vergader het uit vrees vir die Jode, gesluit was, het Jesus gekom en in hul midde gestaan en aan hulle gesê: Vrede vir julle! En nadat Hy dit gesê het, wys Hy hulle sy hande en sy sy. En die dissipels was bly toe hulle die Here sien. Jesus sê toe weer vir hulle: Vrede vir julle! Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook. En nadat Hy dit gesê het, blaas Hy op hulle en sê vir hulle: Ontvang die Heilige Gees. As julle die mense hulle sondes vergewe, dan word dit hulle vergewe; as julle die mense hulle sondes hou, dan is dit gehou. En Thomas wat genoem word Dídimus, een van die twaalf, was nie saam met hulle toe Jesus gekom het nie. Die ander dissipels sê toe vir hom: Ons het die Here gesien! Maar hy het vir hulle gesê: As ek nie in sy hande die merk van die spykers sien en my vinger steek in die merk van die spykers en my hand in sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie. En agt dae daarna was sy dissipels weer binne, en Thomas saam met hulle. En Jesus het gekom terwyl die deure gesluit was, en het in hul midde gestaan en gesê: Vrede vir julle! Daarna sê Hy vir Thomas: Bring jou vinger hier, en kyk na my hande; en bring jou hand en steek dit in my sy; en moenie ongelowig wees nie, maar gelowig. En Thomas antwoord en sê vir Hom: My Here en my God! Jesus sê vir hom: Omdat jy My gesien het, Thomas, het jy geglo; salig is die wat nie gesien het nie en tog geglo het. Nog baie ander tekens het Jesus voor sy dissipels gedoen wat in hierdie boek nie beskrywe is nie; maar hierdie is beskrywe, dat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God; en dat julle deur te glo die lewe kan hê in sy Naam.
JOHANNES 20:1-31 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die Sondagmôre vroeg, toe dit nog donker was, kom Maria Magdalena by die graf en sien dat die klip van die graf af weggerol is. Sy hardloop toe en gaan na Simon Petrus en na die ander dissipel toe vir wie Jesus baie lief was, en sê vir hulle: “Hulle het die Here uit die graf weggevat, en ons weet nie waar hulle Hom nou begrawe het nie.” Petrus en die ander dissipel het toe uitgekom en na die graf toe gegaan. Die twee het saam begin hardloop, maar die ander dissipel het vinniger as Petrus gehardloop en eerste by die graf gekom. Toe hy vooroor buk, sien hy die doeke lê, maar hy het nie ingegaan nie. Ná hom het Simon Petrus ook daar aangekom, en hy het in die graf ingegaan. Hy sien toe die doeke daar lê, ook die doek wat om Jesus se kop was. Dié doek het nie by die ander doeke gelê nie, maar was eenkant afsonderlik opgerol. Daarna het die ander dissipel, wat eerste by die graf gekom het, ook ingegaan, en hy het dit ook gesien en geglo. Hulle het nog nie die Skrif verstaan dat Jesus uit die dood moet opstaan nie. Daarna het die dissipels weer huis toe gegaan. Maar Maria het buite by die graf bly staan en huil. Terwyl sy huil, het sy vooroor gebuk om in die graf in te kyk. Toe sien sy twee engele met wit klere aan daar sit waar die liggaam van Jesus gelê het, een waar die kop en een waar die voete was. Hulle vra toe vir haar: “Mevrou, waarom huil jy?” Sy antwoord hulle: “Omdat hulle my Here weggevat het en ek nie weet waar hulle Hom nou begrawe het nie.” Nadat sy dit gesê het, het sy omgedraai en vir Jesus daar sien staan, maar sy het nie geweet dat dit Hy is nie. Jesus vra haar toe: “Mevrou, waarom huil jy? Vir wie soek jy?” Sy het gedink dit is die tuinopsigter, en sy het vir hom gesê: “Meneer, as u Hom weggevat het, sê vir my waar u Hom begrawe het, en ek sal Hom daar gaan haal.” Jesus het vir haar gesê: “Maria!” Sy draai na Hom toe en sê in Hebreeus vir Hom: “Rabboeni!” Dit beteken leermeester. Jesus sê toe vir haar: “Moet My nie vashou nie, want Ek het nog nie na die Vader toe opgevaar nie. Maar gaan na my broers toe en sê vir hulle: ‘Ek vaar op na my Vader toe, wat ook julle Vader is, na my God, wat ook julle God is.’ ” Maria Magdalena het toe vir die dissipels gaan sê: “Ek het die Here gesien!” En sy het ook vertel wat Hy vir haar gesê het. Daardie Sondagaand was die dissipels bymekaar. Alhoewel die deure gesluit was omdat hulle bang was vir die Jode, het Jesus gekom en tussen hulle gaan staan en vir hulle gesê: “Vrede vir julle!” Nadat Hy dit gesê het, wys Hy sy hande en sy sy vir hulle. Die dissipels was baie bly toe hulle die Here sien. “Vrede vir julle!” sê Hy weer vir hulle. “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.” Nadat Hy dit gesê het, blaas Hy oor hulle en sê: “Ontvang die Heilige Gees! As julle vir mense hulle sondes vergewe, word dit hulle deur God vergewe; as julle dit nie vergewe nie, word dit nie deur God vergewe nie.” Tomas, wat ook Didimus genoem is, een van die twaalf, was nie by die dissipels toe Jesus gekom het nie. Die ander dissipels sê toe vir hom: “Ons het die Here gesien!” Maar hy sê vir hulle: “As ek nie die merke van die spykers in sy hande sien en my vinger in die merke van die spykers steek en my hand in sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie.” Ag dae later was Jesus se dissipels weer bymekaar, en Tomas was by hulle. Hoewel die deure gesluit was, het Jesus gekom en tussen hulle gaan staan en gesê: “Vrede vir julle!” Daarna sê Hy vir Tomas: “Bring jou vinger hier en kyk na my hande; en bring jou hand en steek hom in my sy; en moenie langer ongelowig wees nie, maar wees gelowig.” En Tomas sê vir Hom: “My Here en my God!” Toe sê Jesus vir hom: “Glo jy nou omdat jy My sien? Gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tog glo.” Jesus het nog baie ander wondertekens, wat nie in hierdie boek beskrywe is nie, voor sy dissipels gedoen. Maar hierdie wondertekens is beskrywe sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat julle deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê.
JOHANNES 20:1-31 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
En vroegoggend, op die eerste dag van die week, terwyl dit nog donker was, kom Maria Magdalena tot by die graf en sien dat die klip van die graf verwyder is. Sy hardloop toe en gaan na Simon •Petrus en na die ander dissipel vir wie Jesus liefgehad het, en sê vir hulle: “Hulle het die Here uit die graf weggevat, en ons weet nie waar hulle Hom neergelê het nie.” Petrus en die ander dissipel het toe uitgegaan en na die graf gegaan. Die twee het saam gehardloop, maar die ander dissipel het vooruit gehardloop, vinniger as Petrus, en eerste by die graf aangekom. Toe hy vooroor buk, sien hy die linnedoeke lê; hy het egter nie binnegegaan nie. Maar toe Simon Petrus wat hom gevolg het, daar aankom, het hy die graf binnegegaan en die linnedoeke daar sien lê, en die doek wat oor sy kop was. Dié doek het nie by die linnedoeke gelê nie, maar was eenkant, afsonderlik opgerol. Toe het ook die ander dissipel, die een wat eerste by die graf gekom het, binnegegaan, en hy het gesien en geglo. Hulle het nog nie die Skrif verstaan dat Hy uit die dood moes opstaan nie. Daarna het die dissipels weer huis toe gegaan. Maar Maria het buitekant by die graf staan en huil. Terwyl sy huil, het sy vooroor na die graf toe gebuk en twee engele met wit klere aan daar sien sit, waar die liggaam van Jesus gelê het – een waar sy kop en een waar sy voete was. Hulle sê toe vir haar: “Vrou, waarom huil jy?” Sy antwoord hulle: “Hulle het my Here weggevat, en ek weet nie waar hulle Hom neergelê het nie.” Nadat sy dit gesê het, het sy omgedraai en Hom daar sien staan, maar nie besef dat dit Jesus was nie. Jesus sê vir haar: “Vrou, waarom huil jy? Wie soek jy?” Sy het gedink Hy is die tuinier, en sê toe vir Hom: “Meneer, as u Hom verwyder het, sê vir my waar u Hom neergelê het, en ek sal Hom wegneem.” Jesus sê vir haar: “Maria!” Sy het omgedraai en – in Hebreeus – vir Hom gesê: “Rabboeni! ” Dit beteken ‘Leermeester’. Jesus sê vir haar: “Moenie My langer vashou nie, want Ek het nog nie na die Vader opgevaar nie. Maar gaan na my broers en sê vir hulle, ‘Ek vaar op na my Vader, en julle Vader, en na my God en julle God.’ ” Maria Magdalena gaan vertel toe aan die dissipels: “Ek het die Here gesien,” en dat Hy hierdie dinge vir haar gesê het. Dit was al laat die aand op daardie eerste dag van die week. Die deure waar die dissipels vergader het, was gesluit uit vrees vir die Jode. Jesus het toe gekom en tussen hulle gaan staan en vir hulle gesê: “Vrede vir julle!” En nadat Hy dit gesê het, wys Hy hulle sy hande en sy sy. Die dissipels was verheug toe hulle die Here sien. Jesus sê toe weer vir hulle: “Vrede vir julle! Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook. ” Nadat Hy dit gesê het, blaas Hy op hulle en sê vir hulle: “Ontvang die Heilige Gees! As julle mense se sondes vergewe, is dit hulle vergewe; as julle dit van hulle weerhou, bly dit van hulle weerhou.” Maar Thomas, een van die twaalf, wat bekend gestaan het as Didimus, was nie by hulle toe Jesus gekom het nie. Die ander dissipels sê toe vir hom: “Ons het die Here gesien!” Maar hy het vir hulle gesê: “As ek nie die merke sien van die spykers in sy hande en my vinger nie steek in die spykermerke, en my hand nie in sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie.” Agt dae later was sy dissipels weer binne, en Thomas saam met hulle. Terwyl die deure gesluit was, het Jesus gekom en in hulle midde gaan staan en gesê: “Vrede vir julle!” Daarna sê Hy vir Thomas: “Bring jou vinger hier, en kyk na my hande, en bring jou hand en steek dit in my sy; en moenie langer ongelowig wees nie, maar gelowig.” Thomas het vir Hom gesê: “My Here en my God!” Toe sê Jesus vir hom: “Glo jy omdat jy My gesien het? Gelukkig is hulle wat nie gesien het nie, en tog tot geloof gekom het. ” Jesus het nog baie ander tekens voor sy dissipels gedoen wat nie in hierdie boekrol geskryf staan nie. Hierdie dinge is egter neergeskryf sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die •Seun van God, en dat julle deur te glo, die lewe in sy Naam kan hê.
JOHANNES 20:1-31 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Die eerste dag van die week kom Maria Magdalena vroeg, toe dit nog donker was, by die graf en sien hoe die steen van die graf weggeneem is. Daarna hardloop sy en kom by Simon Petrus en die ander dissipel vir wie Jesus liefgehad het, en sê vir hulle: Hulle het die Here uit die graf weggeneem, en ons weet nie waar hulle Hom neergelê het nie. Petrus het toe uitgegaan en daardie ander dissipel en by die graf gekom. Hulle het toe altwee saam gehardloop, en die ander dissipel het voor Petrus gehardloop en eerste by die graf gekom. Toe hy vooroor gebuk en inkyk, sien hy die linneklere lê; tog het hy nie ingegaan nie. Toe kom Simon Petrus agter hom aan en gaan in die graf en sien die linneklere lê, En die doek wat om sy hoof was, het nie by die linneklere gelê nie, maar saamgedraai op 'n plek alleen. Toe het die ander dissipel, wat eerste by die graf gekom het, ook ingegaan, en hy het gesien en geglo. Want hulle het nog nie die Skrif geken nie, dat Hy uit die dode moet opstaan. Toe het die dissipels weer na hulle eie huis gegaan. Maar Maria het buite by die graf gestaan en ween; en terwyl sy ween, buk sy neer en kyk na die graf. En sien twee engele in wit klere sit, die een aan die hoof en die ander by die voete, waar die liggaam van Jesus gelê het. En hulle sê vir haar: Vrou, waarom ween jy? Sy sê vir hulle: Omdat hulle my Here weggeneem het en ek nie weet waar hulle Hom neergelê het nie. En toe sy dit gesê het, draai sy haarself om en sien Jesus staan, en sy het nie geweet dat dit Jesus was nie. Jesus sê vir haar: Vrou, waarom ween jy? wie soek jy? Sy, wat gedink het dat hy die tuinier is, sê vir hom: Meneer, as u hom van hier af gedra het, sê vir my waar u hom neergelê het, en ek sal hom wegneem. Jesus sê vir haar: Maria! Sy het haar omgedraai en vir Hom gesê: Rabboni! dit wil sê: Meester. Jesus sê vir haar: Raak My nie aan nie; want Ek het nog nie opgevaar na my Vader nie; maar gaan na my broers en sê vir hulle: Ek vaar op na my Vader en julle Vader; en aan my God en jou God. Maria Magdalena het gekom en vir die dissipels vertel dat sy die Here gesien het en dat Hy hierdie dinge met haar gesê het. En dieselfde dag in die aand, dit was die eerste dag van die week, toe die deure gesluit was waar die dissipels uit vrees vir die Jode vergader het, het Jesus gekom en in die midde gestaan en vir hulle gesê: Vrede vir julle! En nadat hy dit gesê het, wys hy aan hulle sy hande en sy sy. Toe was die dissipels bly toe hulle die Here sien. Toe sê Jesus weer vir hulle: Vrede vir julle; soos my Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook. En nadat Hy dit gesê het, blaas Hy op hulle en sê vir hulle: Ontvang die Heilige Gees. Elkeen se sondes wat julle vergewe, word hulle vergewe; en wie se sondes julle ook al behou, dit word behou. Maar Tomas, een van die twaalf, wat Didimus genoem word, was nie by hulle toe Jesus gekom het nie. Die ander dissipels sê toe vir Hom: Ons het die Here gesien. Maar hy sê vir hulle: As ek nie in sy hande die teken van die spykers sien en my vinger in die teken van die spykers steek en my hand in sy sy steek nie, sal ek nie glo nie. En ná agt dae was sy dissipels weer binne, en Tomas saam met hulle; Jesus het toe gekom, terwyl die deure gesluit was, en in die midde gestaan en gesê: Vrede vir julle! Toe sê hy vir Thomas: Bring jou vinger hier en kyk na my hande; en steek jou hand hier en steek dit in my sy; en wees nie ontrou nie, maar gelowig. Toe antwoord Tomas en sê vir hom: My Here en my God. Jesus sê vir hom: Tomas, omdat jy My gesien het, het jy geglo; salig is die wat nie gesien het nie en tog geglo het. En baie ander tekens het Jesus waarlik in die teenwoordigheid van sy dissipels gedoen, wat nie in hierdie boek beskrywe is nie: Maar dit is geskrywe, sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God; en dat julle deur te glo die lewe kan hê in Sy Naam.
JOHANNES 20:1-31 Die Boodskap (DB)
Daardie Sondagmôre was die son nog nie eens op nie, toe was Maria Magdalena al by die graf. Sy het dadelik gesien dat iemand die groot klip voor die ingang van die graf weggerol het. Toe sy dit agterkom, vlieg sy om en hardloop na Simon Petrus en die ander dissipel toe (dit was die een van wie Jesus baie gehou het). “Die Here is nie meer in die graf nie. Hy’s weg!” hyg sy. “Ek weet nie waarheen hulle Hom gevat het nie.” Petrus storm toe saam met die ander dissipel uit die huis uit. Hulle sit dadelik af graf toe. Die ander dissipel het vir Petrus weggehardloop en eerste by die graf gekom. Hy steek toe by die ingang vas en loer by die graf in. Net die linne het daar eenkant gelê. Toe Petrus daar aankom, bars hy sommer by die graf in. Hy het ook net die linne daar sien lê. Die spesiale lap wat hulle op Jesus se gesig gesit het, het nie by die ander linne gelê nie. Dit het eenkant alleen gelê, mooi opgevou. Die ander dissipel, wat eerste daar was, het nou ook sy moed bymekaargeskraap en in die graf ingegaan. Daar het hy al die linne sien lê. Dit het hom oortuig dat Jesus regtig is wie Hy gesê het Hy is. Tot in daardie stadium het hulle nog nie verstaan wat die Skrif daarmee bedoel dat Jesus moes sterf en weer uit die dood moes opstaan nie. Daarna is die twee daar weg, elkeen na sy eie huis toe. Maria het by die graf agtergebly en hartseer gehuil. So deur die trane het sy by die graf ingeloer. Daar, presies op die plek waar die liggaam van Jesus gelê het, het twee hemelse wesens gesit. Hulle het helder, wit klere aangehad. Die een het gesit waar Jesus se kop gelê het en die ander een by sy voete. “Vir wat huil jy so?” vra hulle haar. “Hulle het my Here se liggaam hier weggevat. En ek weet nou glad nie waarheen hulle Hom gevat het nie,” sê Maria hartseer. Met dié kyk sy om. Daar sien sy Iemand staan. Dit was Jesus, maar sy het Hom glad nie herken nie. Jesus vra haar toe: “Waarom huil jy so? Vir wie soek jy?” Maria het gedog dis die man wat in die tuin werk. “Asseblief, Meneer,” smeek Maria, “as jy Hom uit die graf gevat het, sê my tog waar sy lyk nou is. Ek sal dit vat en verder daarna kyk.” “Maria!” sê Jesus. Sy swaai vinnig om. “Rabbi!” roep sy in Hebreeus uit. (Die naam verwys na iemand wat mense leer.) “Moenie My vashou nie,” sê Jesus. “Ek het nog nie na my Vader toe teruggegaan nie. Gaan liewer gou terug na my broers toe. Gaan sê vir hulle: Ek gaan terug na my Vader en julle Vader; ja, Ek is op pad na my God en julle God.” Maria Magdalena is toe daar weg na die ander volgelinge van Jesus toe. “Ek het die Here nou net lewendig gesien!” roep sy uit. Opgewonde vertel sy alles wat Jesus gesê het. Laat daardie Sondagaand was Jesus se volgelinge nog bymekaar. Hulle was egter bang vir die Joodse leiers en het al die deure van die huis gesluit. Al was die deure gesluit, het Jesus skielik daar tussen hulle gestaan. “Vrede vir julle,” sê Hy. Met dié woorde wys Hy vir hulle sy hande en sy sy. Die dissipels was buite hulleself van blydskap om die Here te sien. Jesus praat toe verder: “Vrede vir julle. Julle weet die Vader het My met ’n boodskap na die wêreld toe gestuur. Net so stuur Ek julle nou.” Toe blaas Jesus oor sy volgelinge met die woorde: “Ontvang die Heilige Gees! Wanneer julle mense help om hulle verhouding met God reg te maak, sal hulle verhouding met God reg wees. God sal hulle sondes nie teen hulle hou nie. Maar as mense nie luister wanneer julle met hulle oor hulle sondes praat nie, kan julle maar hulle sondes teen hulle hou. God sal dit ook doen.” Tomas was een van Jesus se twaalf getrouste volgelinge. (Party het hom “Tweeling” genoem.) Hy was nie by die ander toe Jesus na hulle toe gekom het nie. Die ander sê toe vir hom: “Ons het die Here lewendig gesien!” “Nee wat, ek glo dit nie,” was Tomas se reaksie. “As ek nie self die seerplekke in sy hande kan sien waar hulle die spykers ingeslaan het en met my vinger daaroor kan streel en my hand op die wond in sy sy kan sit nie, glo ek eenvoudig nie wat julle vir my sê nie.” Omtrent ’n week later was Jesus se getrouste vriende weer almal bymekaar. Hierdie keer was Tomas ook daar. Hulle het weer seker gemaak dat al die deure gesluit was. Skielik was Jesus weer daar by hulle. Net soos die vorige keer groet Hy hulle: “Vrede vir julle.” Hy sê toe vir Tomas: “Bring jou vinger. Kyk na my hande. Kom, sit jou hand hier op die wond in my sy. Moenie twyfel dat dit regtig Ek is nie. Aanvaar dit!” Oorweldig sê Tomas: “My Here en my God!” Jesus sê vir hom: “Is jy oortuig omdat jy My gesien het? Wel, die mense wat My nie soos jy sal sien nie, maar My tog met oorgawe sal aanvaar, gaan van geluk oorloop.” Nie alles wat Jesus gedoen het, is hier neergeskryf nie. Hy het nog baie ander en verskillende wonderlike dinge gedoen om te wys wie Hy regtig is. Sy volgelinge het dit alles gesien. Dit wat in hierdie boek geskryf is, is met ’n spesifieke doel gedoen. Dit is geskryf sodat julle geen oomblik hoef te twyfel dat Jesus die Redder, ja, die Seun van God is nie. Julle kan dit maar volledig aanvaar. En hierdie woorde wil julle ook oortuig dat julle vir ewig gaan leef omdat Jesus dit vir julle moontlik gaan maak.
JOHANNES 20:1-31 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Vroeg die Sondagoggend toe dit nog donker was, kom Maria Magdalena by die graf aan en merk op dat die klip voor die graf weggerol is. Sy hardloop toe en kom by Simon Petrus en die lieflingdissipel en sê vir hulle: “Hulle het die Here uit die graf weggeneem en ons weet nie waar hulle Hom neergelê het nie.” Petrus en die ander dissipel het uitgekom en na die graf toe gehardloop. Die twee het saam gehardloop, maar die ander dissipel het vinniger as Petrus gehardloop en eerste by die graf aangekom. Toe hy vooroor buk, sien hy net die linnedoeke daar lê, maar hy het nie ingegaan nie. Simon Petrus het ná hom ook daar aangekom en by die graf ingegaan. Hy sien toe ook die linnedoeke daar lê, én die kopdoek wat om Jesus se kop was. Die kopdoek het nie by die ander doeke gelê nie, maar was eenkant opgerol. Daarna het die ander dissipel wat eerste by die graf aangekom het, ook ingegaan, gesien, en geglo. Hulle het nog nie die Skrif verstaan dat Jesus uit die dood moet opstaan nie. Daarna het die dissipels weer teruggegaan huis toe. Maria het buite die graf gestaan en huil. Terwyl sy huil, het sy vooroor gebuk en in die graf in gekyk. Sy sien toe twee engele met wit klere aan wat sit op dieselfde plek waar die liggaam van Jesus gelê het, een aan die kopkant en een aan die voetekant. Hulle vra haar: “Vrou, waarom huil jy?” Sy antwoord hulle: “Hulle het my Here weggeneem en ek weet nie waar hulle Hom neergelê het nie.” Nadat sy dit gesê het, het sy omgedraai en Jesus daar sien staan, maar sy het nie besef dat dit Jesus was nie. Jesus sê vir haar: “Vrou, waarom huil jy? Wie soek jy?” Sy het gemeen dat dit die tuinwerker is, en het vir Hom gesê: “Meneer, as ú Hom weggedra het, sê asseblief vir my waar u Hom neergelê het en ek sal Hom gaan haal.” Jesus sê vir haar: “Maria!” Sy draai om en sê vir Hom in Aramees: “Rabboeni!” Dit beteken “Leermeester”. Jesus sê toe vir haar: “Moenie aan My raak nie, want Ek het nog nie na die Vader opgevaar nie. Gaan na my broers en vertel vir hulle: Ek vaar op na my Vader toe, wat ook julle Vader is, na my God toe, wat ook julle God is.” Maria Magdalena het die boodskap aan Jesus se dissipels gaan oordra: “Ek het die Here gesien!” Sy het ook vertel wat Hy vir haar gesê het. Gedurende die vroeë aand, op daardie Sondag, terwyl die deure uit vrees vir die Jode gesluit was, het Jesus se dissipels bymekaargekom. Jesus het tussen hulle gaan staan en vir hulle gesê: “Vrede vir julle!” Nadat Hy dit gesê het, wys Hy sy hande en sy sy aan hulle. Die dissipels was baie opgewonde om die Here te sien. “Vrede vir julle!” sê Jesus weer ’n keer. “Net soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.” Nadat Jesus dit gesê het, het Hy oor hulle geblaas en vir hulle gesê: “Ontvang die Heilige Gees! Wie se sondes julle ook al vergewe, God vergewe hulle dit; wie s’n julle ook al handhaaf, God handhaaf dit.” Tomas, ook genoem Didimus, een van die twaalf, was nie saam met die ander dissipels toe Jesus daar aangekom het nie. Die ander dissipels sê toe vir hom: “Ons het die Here gesien!” Maar hy het vir hulle gesê: “As ek nie die merk van die spykers in sy hande sien en my vinger in die spykermerke steek en my hand in sy sy steek nie, sal ek nóóit glo nie.” Agt dae later was Jesus se dissipels weer saam, en Tomas was by hulle. Die deure was op slot en grendel, maar Jesus het tussen hulle kom staan en aan hulle gesê: “Vrede vir julle!” Daarna sê Hy vir Tomas: “Bring jou vinger hier en kyk na my hande, en bring jou hand en steek dit in my sy; en hou op ongelowig wees, maar word gelowig!” Tomas het vir Jesus gesê: “My Here en my God!” Jesus se reaksie daarop was: “Glo jy nou nadat jy klaar gesien het? Geseënd is hulle wat nie sien nie, en tog geglo het.” Jesus het nog baie ander wondertekens voor sy dissipels gedoen. Daardie tekens is nie opgeskryf in hierdie boek nie. Hierdie tekens is wel opgeskryf sodat julle tot die geloof kan kom dat Jesus die Messias is, die Seun van God, en sodat julle deur aan te hou glo, in sy Naam die lewe kan hê.