JOHANNES 3:18-21
JOHANNES 3:18-21 Afrikaans 1983 (AFR83)
Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie; wie nie glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie in die enigste Seun van God glo nie. En so kom die skeiding: die lig het na die wêreld toe gekom, en tog het die mense eerder die duisternis as die lig liefgehad, want hulle dade was sleg. Elkeen wat kwaad doen, haat immers die lig en kom nie na die lig toe nie, sodat sy dade nie aan die kaak gestel moet word nie. Maar wie volgens die waarheid handel, kom na die lig toe, sodat dit duidelik kan blyk dat sy dade in gehoorsaamheid aan God gedoen is.”
JOHANNES 3:18-21 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie, maar wie nie glo nie, staan reeds veroordeel omdat hy nie in die Naam van die unieke Seun van God geglo het nie. En dit is die oordeel: Die lig het in die wêreld gekom, maar die mense het die duisternis liefgehad bo die lig, omdat hulle dade boos was. Want elkeen wat kwaad doen, haat die lig en kom nie na die lig nie, sodat sy dade nie aan die kaak gestel kan word nie. Maar wie volgens die waarheid leef, kom na die lig, sodat sy dade bekend kan word, dat hulle in God gedoen is.
JOHANNES 3:18-21 Die Boodskap (DB)
Dit is soos ’n hofsaak. Elkeen wat dus in geloof vir Hom ‘ja’ sê, is deur God vrygespreek. Aan die ander kant weerklink die oordeelswoorde nou reeds oor dié wat die Seun nie gelowig aanvaar nie: ‘Julle is skuldig, want julle draai julle rug vir die unieke Seun van God!’ “Hoe die dinge in die hofsaak werk, kan so verduidelik word: Jesus het as die Goddelike Lig in hierdie wêreld kom skyn. Die mense het egter meer daarvan gehou om in die donker te leef as in die lig. En daar was ’n goeie rede voor: hulle dade en optrede was net ’n onheilige en slegte gekonkel. Daarom doen hulle die dinge in die donker, want hulle is bang dat almal gaan sien hoe sleg hulle dade regtig is. Daarom hou mense wat sulke slegte dinge doen, niks van die lig nie en hardloop daarvoor weg. As dit wat iemand doen, egter goed en sinvol is soos God dit bedoel het om te wees, hardloop hy juis na die lig toe. Hy het mos niks om weg te steek nie. Almal sal duidelik kan sien uit die dinge wat hy doen, dat hy iemand is wat aan God se kant staan en aan wie se kant God ook is.”
JOHANNES 3:18-21 Bybel vir almal (ABA)
Niemand anders is soos die Seun nie. As iemand in die Seun glo, dan straf God hom nie. Maar God straf nou elkeen wat nie in die Seun van God glo nie. So skei God die mense van mekaar. Die lig het na die wêreld gekom, maar die mense was lief vir die donker, nie vir die lig nie. Hoekom? Hulle was lief vir die donker omdat hulle slegte dinge doen. Iemand wat slegte dinge doen, hou nie van die lig nie. Hy kom nie na die lig toe nie, want hy wil nie hê die mense moet sien wat hy doen nie. Maar iemand wat lewe soos God wil hê, kom na die lig, want hy wil hê die mense moet sien dat hy gehoorsaam is aan God.
JOHANNES 3:18-21 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie; maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie. En dit is die oordeel: dat die lig in die wêreld gekom het, en die mense het die duisternis liewer gehad as die lig; want hulle werke was boos. Want elkeen wat kwaad doen, haat die lig en kom nie na die lig nie, dat sy werke nie bestraf mag word nie. Maar hy wat die waarheid doen, kom na die lig, sodat sy werke openbaar kan word, dat hulle in God gedoen is.
JOHANNES 3:18-21 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie; maar hy wat nie glo nie, is reeds veroordeel, omdat hy nie in die Naam van die eniggebore Seun van God geglo het nie. En dit is die oordeel, dat die lig in die wêreld gekom het, en die mense het die duisternis meer liefgehad as die lig, want hulle werke was sleg. Want elkeen wat kwaad doen, haat die lig en kom nie na die lig nie, sodat sy dade nie bestraf word nie. Maar hy wat die waarheid doen, kom na die lig, sodat sy werke openbaar kan word, dat hulle in God gedoen is.
JOHANNES 3:18-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Die persoon wat aanhou glo in Hom, word nie veroordeel nie. Die een wat egter nie aanhou glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie tot geloof gekom het in die enigste Seun van God nie. Dít is die beslissende vonnis: die lig het na die mensewêreld toe gekom, en tog het die mense eerder die duisternis as die lig liefgehad, want hulle dade was boos. Elkeen wat doen wat sleg is, haat die lig en kom nie na die lig toe nie sodat sy dade nie bekend word nie. Elkeen wat egter die waarheid beoefen, kom na die lig toe sodat dit sigbaar word dat sy dade vanuit ’n noue verhouding met God gedoen is.”