Die embleem van die Bybeltoep
Soek-ikoon

JOËL 2:12-14 - Vergelyk alle weergawes | YouVersion

JOËL 2:12-14 AFR83 (Afrikaans 1983)

Maar nou sê die Here: Kom met julle hele hart terug na My toe, vas, huil en treur! Skeur julle harte, nie julle klere nie. Kom terug na die Here julle God toe: Hy is genadig en barmhartig; Hy is lankmoedig en vol liefde. Hy is bereid om straf te herroep. Wie weet of Hy nie die straf sal herroep nie; of Hy nie weer voorspoed sal gee nie sodat daar weer graan- en drankoffers sal wees vir die Here julle God!

JOËL 2:12-14 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

Maar selfs nou nog, spreek die HERE, bekeer julle tot My met julle hele hart, en met vas en geween en rouklag. En skeur julle hart en nie julle klere nie, en bekeer julle tot die HERE julle God; want Hy is genadig en barmhartig, lankmoedig en groot van goedertierenheid, en Een wat berou het oor die onheil; wie weet of dit Hom nie weer sal berou nie, sodat Hy 'n seën sal agterlaat — 'n spysoffer en 'n drankoffer aan die HERE julle God.

JOËL 2:12-14 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

Maar nou sê die HERE: “Draai met volle oorgawe terug na My toe! Vas, huil en treur! Moenie julle klere skeur omdat julle hartseer is nie, skeur julle harte!” Draai terug na die HERE julle God toe, want Hy is genadig en vol meegevoel. Hy word nie maklik kwaad nie. Hy is baie liefdevol en wil julle nie graag straf nie. Wie weet, miskien besluit Hy anders en is Hy julle genadig. Dalk gee Hy vir julle voorspoed in plaas van hierdie verskriklike oordeel. Miskien maak Hy dit vir julle moontlik dat julle weer soos voorheen graan en wyn vir die HERE julle God kan offer!

JOËL 2:12-14 DB (Die Boodskap)

Die Here sê: Verander julle manier van leef, nou dadelik! Draai terug na My toe. Hou op om te eet omdat julle huil en treur oor al julle sonde. Moenie julle klere skeur om te wys julle is jammer oor julle sondes nie. Julle berou moet uit julle binneste uit kom; julle manier van leef moet verander. Kom terug na die Here julle God toe. Hy is vol goedheid en Hy kry mense gou-gou jammer. Hy is nie haastig om te straf nie, Hy is vol liefde vir mense. Hy is bereid om sy straf terug te trek en mense te vergewe. Wie weet of die Here nie dalk van plan sal verander en sal ophou om vir julle kwaad te wees nie! Dalk gee Hy weer vir julle groot oeste. Dan kan julle weer vir die Here julle God offers van koring en wyn bring om Hom te eer.

JOËL 2:12-14 ABA (Bybel vir almal)

Maar die Here sê daar is nog tyd. Hy sê: “Julle moet terugkom na My toe. Julle moet My altyd dien, julle moet net vir My dien.” Julle moet vas en huil en treur. Moenie net vir mense wys julle is jammer nie, wys dit vir die Here. Moenie net julle klere skeur nie, skeur julle harte. Julle moet terugkom na julle God die Here toe, want Hy is genadig en goed vir mense wat swaarkry. Hy is geduldig en vol liefde. Hy vergewe mense se sonde maklik. Miskien sal Hy julle sonde vergewe en julle weer seën. Dan sal daar weer koring-offers en drank-offers wees vir julle God die Here.

JOËL 2:12-14 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

“Maar selfs nou, keer terug na My met julle hele hart, vas en huil en rou,” is die uitspraak van die HERE. Skeur julle harte, en nie julle klere nie, draai om na die HERE julle God; want Hy is genadig en barmhartig, geduldig en oorvloedig in troue liefde, Hy het berou oor die onheil wat Hy bring. Wie weet, dalk draai Hy om, het berou, en laat 'n seëning agter Hom oorbly – 'n •graanoffer en 'n •drankoffer vir die HERE julle God.

JOËL 2:12-14 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

Daarom ook nou, spreek die HERE, bekeer julle tot My met julle hele hart en met vas en geween en rou. En skeur julle hart en nie julle klere nie, en bekeer julle tot die HERE julle God, want Hy is genadig en barmhartig, lankmoedig en groot goedertierenheid, en Hy het berou oor die onheil. Wie weet of hy sal terugkeer en berou sal hê en 'n seën agter hom laat; 'n spysoffer en 'n drankoffer aan die HERE jou God?