JOËL 2:26-32
JOËL 2:26-32 Afrikaans 1983 (AFR83)
Julle sal oorgenoeg hê om te eet, julle sal die Naam van die Here julle God prys, Hy wat wonders vir julle gedoen het. My volk sal nooit weer in die skande kom nie. Dan sal julle besef dat Ek by Israel is, dat Ek die Here julle God is, dat daar buiten My nie 'n ander is nie. My volk sal nooit weer in die skande kom nie. Wanneer dit alles gebeur het, sal Ek my Gees laat kom op al die mense, julle seuns en julle dogters sal as profete optree, julle oumense sal drome droom, julle jong mans sal visioene sien. In daardie tyd sal Ek my Gees laat kom selfs op dié wat nie in aansien is nie. Ek sal tekens gee, in die hemel en op die aarde: bloed, vuur en rookwolke. Die son sal donker word, die maan bloedrooi en dan sal die groot, die vreeslike dag van die Here kom. Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word. Op Sionsberg en in Jerusalem sal daar uitkoms wees. So het die Here beloof. Dié wat deur die Here geroep is, is by dié wat gered is.
JOËL 2:26-32 Bybel vir almal (ABA)
Julle sal baie kos hê, meer as wat julle kan eet. Julle sal die Naam van julle God die Here prys. Ek sal vir julle wonderwerke doen, en die ander volke sal my volk nooit weer spot nie. Julle sal weet dat Ek by die Israeliete is, Ek is julle God die Here, daar is nie 'n ander God nie. Die ander volke sal nooit weer my volk spot nie.” Die Here sê: “Wanneer dit alles gebeur het, dan sal Ek my Gees gee vir al die mense. Julle seuns en julle dogters sal profete wees. Die ou mense en die jong mense sal droom en sien wat later sal gebeur. Ek sal in daardie tyd my Gees ook vir slawe en slavinne gee. Ek sal vir die mense tekens wys. Daar sal bloed op die aarde wees, en vuur en rook in die lug. Die son sal donker word, en die maan sal rooi word. Dan sal die dag van die Here kom, die groot en verskriklike dag. Dan sal almal vry word wat die Here aanbid. Almal wat nog lewe, sal vry word in Jerusalem, op Sionsberg.”
JOËL 2:26-32 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Dan sal julle oorvloedig eet en versadig wees en die Naam van die HERE julle God prys wat wonderbaar met julle gehandel het, en my volk sal in ewigheid nie beskaamd staan nie. En julle sal weet dat Ek in die midde van Israel is, en dat Ek die HERE julle God is, en niemand anders nie; en my volk sal in ewigheid nie beskaamd staan nie. En daarna sal Ek my Gees uitgiet op alle vlees, en julle seuns en julle dogters sal profeteer, julle ou mense drome droom, julle jongelinge gesigte sien. En ook op die diensknegte en op die diensmaagde sal Ek in dié dae my Gees uitgiet. En Ek sal wondertekens gee aan die hemel en op die aarde: bloed en vuur en rookpilare. Die son sal verander word in duisternis en die maan in bloed, voordat die groot en deurlugtige dag van die HERE kom. En elkeen wat die Naam van die HERE aanroep, sal gered word; want op die berg Sion en in Jerusalem sal daar ontkoming wees soos die HERE gesê het, en onder die vrygeraaktes die wat die HERE sal roep.
JOËL 2:26-32 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Dan sal julle oorgenoeg kan eet en versadig word, en julle sal die Naam van die HERE julle God loof, wat wonderlike dinge met julle laat gebeur het. My volk sal nooit weer in die skande kom nie. Dan sal julle weet dat Ek in julle midde is, Israel. Ek is die HERE julle God en niemand anders nie. My volk sal nooit weer in die skande kom nie.” “ Ná hierdie dinge sal Ek my Gees uitstort op alle mense. Dan sal julle seuns en julle dogters profeteer. Julle ou mense sal drome droom, en julle jong mense sal visioene sien. Selfs op die slawe en slavinne sal Ek in daardie dae my Gees uitstort. Ek sal tekens gee in die hemel en op aarde: bloed en vuur en kolomme rook. Die son sal verander word in donkerte, en die maan in bloed, voordat die groot en verskriklike dag van die HERE kom. Dan sal elkeen wat die Naam van die HERE aanroep, ontkom; want op die berg Sion en in Jerusalem sal daar ontvlugting wees, soos die HERE gesê het. Net hulle wat deur die HERE geroep word, sal vry wees.”
JOËL 2:26-32 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En julle sal in oorvloed eet en versadig word en die Naam van die HERE julle God loof wat wonderbaarlik aan julle gehandel het; en my volk sal nooit beskaamd staan nie. En julle sal weet dat Ek in die midde van Israel is en dat Ek die HERE julle God is en niemand anders nie; en my volk sal nooit beskaamd staan nie. En daarna sal Ek my Gees op alle vlees uitgiet; en julle seuns en julle dogters sal profeteer, julle ou mense sal drome droom, julle jongmanne sal gesigte sien. En ook op die diensknegte en op die slavinne sal Ek in daardie dae my Gees uitstort. En Ek sal wonders aan die hemel en op die aarde doen, bloed en vuur en rookpilare. Die son sal verander word in duisternis en die maan in bloed, voordat die groot en vreeslike dag van die HERE kom. En elkeen wat die Naam van die HERE aanroep, sal gered word; want op die berg Sion en in Jerusalem sal verlossing wees, soos die HERE gespreek het, en in die oorblyfsel wat die HERE sal roep.
JOËL 2:26-32 Die Boodskap (DB)
Julle sal weer genoeg hê om te eet. Dan sal julle die Naam van die Here julle God grootmaak en loof vir die wonderlike dinge wat Hy vir julle gedoen het. My volk sal nooit weer so verneder word nie. Dan, Israel, sal julle weet dat Ek regtig by julle is en dat net Ek, die Here, julle God is, niemand anders nie. My volk sal nooit weer so verneder word nie. Nadat al hierdie dinge gebeur het, sal Ek my Gees oor almal laat reën. Julle seuns en julle dogters sal my boodskap bekendmaak, presies net soos die profete dit gedoen het. Julle oumense sal drome droom wat van My af kom, en julle jongmense sal bonatuurlike visioene sien waarin Ek met hulle praat. In daardie tyd sal Ek selfs my Gees laat kom op mense wat glad nie belangrik is nie. Ek sal ook buitengewone tekens in die hemelruim en op die aarde laat gebeur. Op die aarde sal daar bloedvergieting, vuur en rookwolke wees. In die hemelruim sal die son en die maan pikdonker word. Dan sal die groot en vreeslike dag van die Here kom. Almal wat die Here ernstig smeek om hulle te help, sal op daardie dag gered word. Presies net soos die Here beloof het, sal Hy daar op die berg Sion en in Jerusalem ingryp om al sy mense te help. Almal wat deur die Here geroep is om aan Hom te behoort, sal definitief deel uitmaak van die mense wat gered word.
JOËL 2:26-32 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Julle sal weer al die kos kry wat julle begeer. Julle sal die HERE julle God loof wat hierdie wonders vir julle moontlik maak. My volk sal nooit weer so in die skande kom nie. Julle sal weet dat Ek onder my volk Israel teenwoordig is. Net Ek is die HERE julle God, niemand anders nie! My volk sal nooit weer so in die skande kom nie.” HERE “Daarna sal Ek my Gees op alle mense uitstort. Julle seuns en julle dogters sal profeteer. Julle oumense sal drome droom. Julle jongmense sal visioene sien. In dié tyd sal Ek my Gees selfs op slawe en slavinne uitstort. “Ek sal wonders in die hemel en op die aarde laat plaasvind: bloed, vuur en rookkolomme. Die son sal donker word en die maan bloedrooi. Dit sal gebeur voor die groot en verskriklike dag van die HERE aanbreek. “Enige persoon wat tot die HERE bid, sal gered word. Die mense wat ontsnap, sal op die Sionsberg en in Jerusalem wees, net soos die HERE gesê het. Hulle sal tussen die oorlewendes wees wat die HERE geroep het.”