JONA 3:5-9 - Vergelyk alle weergawes | YouVersion
JONA 3:5-9 AFR83 (Afrikaans 1983)
Die mense van Nineve het toe in God geglo en hulle het 'n dag aangekondig om te vas. Groot en klein het rouklere aangetrek. Die berig het ook by die koning van Nineve uitgekom. Hy het van sy troon af opgestaan en sy koningsklere uitgetrek, rouklere aangetrek en op 'n ashoop gaan sit. Hy het in Nineve laat proklameer: “Die koning en sy raadgewers beveel dat mens en dier, grootvee en kleinvee, aan niks mag proe nie, dat hulle niks mag eet en nie water mag drink nie. Mens en dier moet rouklere aanhê, en die mense moet ernstig tot God roep en hulle van hulle verkeerde dade bekeer en berou hê oor die geweld wat hulle gepleeg het. Miskien sal God van plan verander en nie meer kwaad wees nie. Dan sal ons nie omkom nie.”
JONA 3:5-9 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
En die manne van Ninevé het God geglo en 'n vasdag uitgeroep, en groot en klein het hulle met rougewaad beklee. En toe die berig die koning van Ninevé bereik, het hy opgestaan van sy troon en sy mantel afgehaal en in rougewaad gehuld in die as gaan sit. En hy het in Ninevé laat uitroep en sê: Op las van die koning en sy groot manne — geen mens of dier, beeste of kleinvee mag aan iets proe nie, hulle mag nie wei of water drink nie; maar mens en dier moet 'n rougewaad om hê, en hulle moet ernstig tot God roep, en elkeen moet hom van sy verkeerde weg bekeer en van die onreg wat aan sy hande kleef. Wie weet of God nie sal omkeer en berou sal hê nie, sodat Hy Hom afwend van die gloed van sy toorn en ons nie vergaan nie?
JONA 3:5-9 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
Die mense van Nineve het God se boodskap geglo. Almal, van groot tot klein, het besluit om te vas en om rouklere aan te trek. Toe die koning van Nineve hoor wat Jona sê, het hy van sy troon af opgestaan en sy koninklike klere uitgetrek. Hy het rouklere aangetrek en op ’n ashoop gaan sit. Die koning en sy amptenare het toe die volgende bevel deur die stad gestuur: “Niemand nie, nie eers die diere, mag enigsins iets eet of drink nie. Almal moet rouklere aantrek en ernstig tot God bid. Almal moet ophou om kwaad te doen en geweld te pleeg. Wie weet, miskien sal God ons genadig wees en ons nie in sy woede vernietig nie.”
JONA 3:5-9 DB (Die Boodskap)
Die inwoners van Nineve het hierdie boodskap geglo. Hulle het besluit dat almal hulle voor God moet verootmoedig en niks moet eet nie. Van die belangrikste mense tot die eenvoudigstes het begrafnisklere aangetrek om vir God te wys hoe spyt hulle was oor alles wat hulle verkeerd gedoen het. Toe die koning van Nineve van God se besluit hoor, het hy van sy troon afgeklim. Hy het sy koningsklere uitgetrek en ook begrafnisklere aangetrek. Hy het by die ashoop gaan sit. Hy het as oor homself gestrooi om te wys hoe jammer hy was oor al die verkeerde dinge wat hulle gedoen het. Hy het ’n amptelike afkondiging in Nineve laat maak: “Op las van die koning en sy kabinet: Geen mens of bees of vee in Nineve mag enigiets eet of drink nie. Al die mense en elke dier moet klere aanhê vir ’n begrafnis. Elkeen moet baie ernstig tot die Here bid. Almal moet die verkeerde dinge wat hulle doen, laat staan. Die geweld teenoor mekaar moet dadelik stopgesit word. Wie weet of God nie miskien weer ’n keer oor sy besluit sal dink nie. Miskien sal Hy ons jammer kry en ophou om vir ons kwaad te wees. Miskien sal Hy nie ons stad verwoes nie.”
JONA 3:5-9 ABA (Bybel vir almal)
Die mense van Nineve het geglo wat God gesê het. Hulle het gesê almal moet vas, hulle moet niks eet nie. Almal het rouklere aangetrek, die belangrike mense en ook die mense wat nie belangrik was nie. Die koning van Nineve het hiervan gehoor. Hy het toe afgeklim van sy troon en hy het sy koningsklere uitgetrek. Hy het rouklere aangetrek en hy het op 'n ashoop gaan sit. Hy het vir die mense van Nineve gesê: “Die koning en sy amptenare sê: Niemand mag iets eet of drink nie, nie 'n mens of 'n dier nie, nie 'n bees of 'n skaap of 'n bok nie. Almal moet rouklere dra, mense en diere. Almal moet ernstig tot God bid. Almal moet ophou om sonde te doen en om slegte dinge te doen aan ander mense. Miskien sal God sy plan verander, miskien sal Hy ons nie meer straf nie. Miskien sal Hy jammer wees vir ons, miskien sal Hy nie meer kwaad wees vir ons nie. Dan sal ons nie sterf nie.”
JONA 3:5-9 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
Die mense van Nineve het toe in God geglo en 'n vasdag uitgeroep, en hulle het almal, belangrik en onbelangrik, rouklere aangetrek. Toe die berig die koning van Nineve bereik, het hy van sy troon af opgestaan, sy koningsmantel afgegooi, 'n roukleed omgehang en in die stof gaan sit. Hy het in Nineve laat afkondig: “Op las van die koning en sy belangrike amptenare: Niemand mag aan enigiets proe nie – nie mens of dier, beeste of kleinvee nie. Hulle mag nie eet of water drink nie. Mens en dier moet met 'n roukleed bedek wees. Die mense moet God ernstig aanroep en elkeen moet hom bekeer van sy slegte gedrag en van die geweld wat aan sy hande kleef. Wie weet, dalk draai God terug en het Hy berou; dalk draai Hy om, weg van sy brandende toorn, sodat ons nie vergaan nie.”
JONA 3:5-9 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
Die mense van Nineve het toe in God geglo en 'n vasdag uitgeroep en rouklere aangetrek, van die grootste tot die geringste onder hulle. Want 'n woord het tot die koning van Nineve gekom, en hy het van sy troon af opgestaan, en hy het sy kleed van hom af neergelê en hom met 'n roukleed bedek en in die as gaan sit. En hy het dit in Nineve laat verkondig en bekend gemaak deur die bevel van die koning en sy edeles, en gesê: Laat geen mens of dier, beeste of kleinvee iets proe nie; laat hulle nie wei en geen water drink nie. Maar laat mens en dier met rouklere bedek wees en met krag tot God roep; ja, laat hulle elkeen bekeer van sy verkeerde weg en van die geweld wat in hulle hande is. Wie kan weet of God hom sal bekeer en hom sal bekeer en van sy toorn afwyk, sodat ons nie vergaan nie?