JOSUA 4:1-24

JOSUA 4:1-24 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Toe die hele nasie die deurtog deur die Jordaan voltooi het, het die HERE vir Josua gesê: “ Neem vir julle twaalf manne uit die volk, een man uit elke stam, en gee aan hulle opdrag, ‘Tel vir julle twaalf klippe op daar in die middel van die Jordaan, op die plek waar die voete van die priesters stewig staan. Neem dit saam met julle deur die rivier en sit dit neer op die plek waar julle vannag gaan oornag. ’ ” Josua het die twaalf manne wat hy uit die Israeliete aangewys het, een uit elke stam, ontbied. Josua het vir hulle gesê: “Gaan voor die ark van die HERE julle God uit tot in die middel van die Jordaan, en tel elkeen dan self 'n klip op sy skouer, net soveel as die stamme van die Israeliete, sodat dit kan dien as 'n teken onder julle. Wanneer julle kinders in die toekoms vra, ‘Wat beteken hierdie klippe vir julle?’ moet julle vir hulle sê dat die water van die Jordaan afgesny was voor die verbondsark van die HERE. Sê vir hulle, ‘Toe die ark deur die Jordaan moes gaan, is die water van die Jordaan afgesny; en hierdie klippe dien vir altyd as 'n herinnering aan die Israeliete.’ ” Die Israeliete het gemaak soos Josua beveel het: Hulle het twaalf klippe, net soveel as die stamme van die Israeliete, uit die middel van die Jordaan opgetel, soos die HERE vir Josua gesê het. Hulle het dit met hulle saamgeneem na hulle oornagplek en dit daar neergesit. Nog twaalf klippe is deur Josua in die middel van die Jordaan opgerig op die plek waar die voete van die priesters wat die verbondsark gedra het, gestaan het. Dit is daar tot vandag toe. Die priesters wat die ark gedra het, het bly staan in die middel van die Jordaan, totdat alles afgehandel was wat die HERE Josua beveel het om vir die volk te sê, net soos Moses vir Josua beveel het. Die volk het haastig deurgetrek; en toe die hele volk die deurtog voltooi het, het die ark van die HERE en die priesters voor die volk deurgegaan. Die nageslag van Ruben en Gad en die halwe stam van Manasse het voor die Israeliete in slagorde deurgetrek, soos Moses vir hulle gesê het. Ongeveer veertigduisend het, gewapen vir die oorlog, voor die HERE vir die geveg na die vlaktes van Jerigo deurgetrek. Op daardie dag het die HERE Josua se aansien verhoog in die oë van die hele Israel en hulle het, solank hy geleef het, vir hom ontsag gehad soos hulle vir Moses ontsag gehad het. Die HERE het vir Josua gesê: “Beveel die priesters wat die ark met die Getuienis dra, om uit die Jordaan op te klim.” Josua het toe die priesters beveel: “Klim op uit die Jordaan!” Toe die priesters wat die verbondsark van die HERE dra, uit die middel van die Jordaan opklim en hulle voetsole droë grond raak, het die water van die Jordaan teruggevloei na sy plek. Dit het soos voorheen kant en wal geloop. Die volk self het uit die Jordaan opgetrek op die tiende van die eerste maand. Hulle het kamp opgeslaan by Gilgal aan die oosgrens van Jerigo. Daardie twaalf klippe wat hulle uit die Jordaan geneem het, het Josua in Gilgal opgerig. Hy het vir die Israeliete gesê: “As julle kinders in die toekoms vir hulle ouers vra, ‘Wat beteken hierdie klippe?’ dan moet julle aan julle kinders verduidelik, ‘Op droë grond het Israel deur hierdie Jordaan getrek.’ Want die HERE julle God het die water van die Jordaan voor julle laat opdroog, totdat julle deurgetrek het, soos wat die HERE julle God gedoen het met die Rietsee wat Hy voor ons laat opdroog het, totdat ons deurgetrek het, sodat al die volke van die aarde mag weet dat die hand van die HERE sterk is, en sodat julle altyd vir die HERE julle God ontsag sal hê.”

JOSUA 4:1-24 Bybel vir almal (ABA)

Toe al die mense klaar deur die Jordaan-rivier gegaan het, het die Here vir Josua gesê: “Julle moet twaalf mans kies uit die volk, julle moet een man kies uit elke stam, en julle moet vir hulle sê: ‘Julle moet hier in die middel van die Jordaan-rivier twaalf klippe optel, op die plek waar die priesters gestaan het. Julle moet die klippe saamneem en julle moet die klippe neersit op die plek waar julle vannag gaan slaap.’ ” Josua het toe die twaalf mans geroep wat hy uit die Israeliete gekies het, een man uit elke stam, en hy het vir hulle gesê: “Julle moet voor die kis van julle God die Here loop na die middel van die Jordaan-rivier, en julle elkeen moet 'n klip optel en op sy skouer sit, een klip vir elke stam van die Israeliete. Die klippe moet vir julle 'n teken wees. Wanneer julle kinders eendag vir julle vra: ‘Wat beteken daardie klippe vir julle?’ dan moet julle vir hulle sê: ‘Toe die verbondskis van die Here deur die Jordaan-rivier gegaan het, het die water opgehou om te vloei. Daardie klippe is daar sodat die Israeliete altyd sal onthou wat gebeur het.’ ” Die Israeliete het gedoen wat Josua gesê het. Hulle het twaalf klippe in die Jordaan-rivier opgetel, een klip vir elke stam van die Israeliete. Hulle het die klippe saamgeneem en hulle het dit neergesit op die plek waar hulle die nag geslaap het. Die Here het vir Josua gesê hulle moet dit doen. Josua het twaalf klippe regop gesit in die Jordaan-rivier op die plek waar die priesters gestaan het wat die verbondskis gedra het. Die klippe is nou nog daar. Die priesters wat die kis gedra het, het in die Jordaan-rivier bly staan totdat alles gebeur het wat die Here vir Josua gesê het. Josua moes vir die Israeliete alles sê wat Moses vir hom gesê het om te doen. Die Israeliete was haastig, hulle het vinnig oor die rivier gegaan. Toe hulle klaar oorgegaan het, het die priesters die verbondskis van die Here ook oorgedra, en hulle het voor die volk geloop. Die manne van die stamme Ruben en Gad en die halwe Manasse-stam het voor die Israeliete oorgegaan. Hulle was gereed om oorlog te maak. Daar het omtrent 40 000 manne voor die verbondskis oorgegaan na die Jordaan-vallei naby die stad Jerigo. Die Here het daardie dag vir Josua 'n belangrike man laat word. Al die Israeliete het gedink Josua is 'n belangrike man, hulle het hom gerespekteer so lank soos hy gelewe het, soos hulle ook vir Moses gerespekteer het. Die Here het vir Josua gesê: “Sê vir die priesters hulle moet uitkom uit die Jordaan-rivier.” Josua het toe vir die priesters gesê hulle moet uitkom. Die priesters wat die verbondskis van die Here gedra het, het uit die Jordaan-rivier gekom, en toe hulle voete aan die kant van die rivier raak, het die water van die rivier weer begin vloei, soos voorheen. Die rivier het oor sy walle gevloei, soos voorheen. Die Israeliete het uit die Jordaan-rivier gekom op die tiende dag van die eerste maand, en hulle het hulle tente opgeslaan by die plek Gilgal oos van die stad Jerigo. Josua het daardie twaalf klippe wat hulle uit die Jordaan-rivier geneem het, regop gesit by Gilgal, en hy het vir die Israeliete gesê: “Wanneer julle kinders eendag vir hulle pa's vra wat daardie klippe beteken, dan moet julle vir die kinders vertel: ‘Israel het op droë grond oor hierdie Jordaan-rivier gegaan.’ Die Here het die water van die Jordaan-rivier laat ophou vloei, sodat julle kon oorgaan. Julle God die Here het dit ook gedoen by die Riet-see. Hy het die see laat ophou vloei sodat ons kon deurgaan. Die Here het dit gedoen sodat al die volke van die aarde moet weet dat die Here sterk is en sodat julle self julle God die Here altyd sal respekteer en dien.”

JOSUA 4:1-24 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN toe die hele volk die deurtog deur die Jordaan voleindig het, het die HERE met Josua gespreek en gesê: Neem vir julle uit die volk twaalf manne, uit elke stam een man, en gee hulle bevel en sê: Neem vir julle vandaar, uit die middel van die Jordaan, van die plek waar die voete van die priesters vas bly staan het, twaalf klippe en bring dit saam met julle deur en sit dit neer op die slaapplek waar julle vannag gaan oorbly. Toe het Josua die twaalf man geroep wat hy uit die kinders van Israel, uit elke stam een man, aangestel het, en Josua het vir hulle gesê: Trek uit voor die ark van die HERE julle God tot binne-in die Jordaan, en tel vir julle 'n klip op, elke man een op sy skouer, volgens die getal van die stamme van die kinders van Israel, sodat dit 'n teken onder julle kan wees. As julle kinders later vra en sê: Wat beteken hierdie klippe vir julle? moet julle vir hulle sê: omdat die water van die Jordaan afgekeer is voor die verbondsark van die HERE by sy deurtog deur die Jordaan — die water van die Jordaan is afgekeer; daarom is hierdie klippe as 'n aandenking vir die kinders van Israel vir altyd. Die kinders van Israel het toe so gedoen soos Josua beveel het: hulle het twaalf klippe uit die middel van die Jordaan opgetel soos die HERE met Josua gespreek het, volgens die getal van die stamme van die kinders van Israel; en hulle het dit saam met hulle deurgebring na die slaapplek toe en dit daar neergesit. Josua het ook twaalf klippe opgerig in die middel van die Jordaan, op die plek waar die voete van die priesters, die draers van die verbondsark, gestaan het; en dit is daar tot vandag toe. En die priesters wat die ark gedra het, het bly staan in die middel van die Jordaan totdat alles volbring was wat die HERE Josua beveel het om aan die volk te sê, volgens alles wat Moses Josua beveel het; en die volk het gou deurgetrek. En toe die hele volk die deurtog voleindig het, het die ark van die HERE met die priesters voor die oë van die volk deurgegaan. En die kinders van Ruben en die kinders van Gad en die halwe stam van Manasse het gewapend voor die kinders van Israel deurgetrek soos Moses aan hulle gesê het. Omtrent veertigduisend wat vir oorlog gewapen was, het voor die aangesig van die HERE deurgetrek om te veg, na die vlaktes van Jérigo toe. Dié dag het die HERE Josua groot gemaak voor die oë van die hele Israel, sodat hulle hom gevrees het soos hulle Moses gevrees het al die dae van sy lewe. En die HERE het met Josua gespreek en gesê: Gee bevel aan die priesters wat die ark van die Getuienis dra, dat hulle uit die Jordaan uit opklim. Josua het daarop die priesters bevel gegee en gesê: Klim op uit die Jordaan. En toe die priesters wat die verbondsark van die HERE gedra het, opklim uit die middel van die Jordaan, het die priesters skaars hulle voetsole gelig en die droë grond bereik, of die water van die Jordaan het na sy plek teruggekeer en soos gister en eergister op al sy walle geloop. En die volk het op die tiende van die eerste maand uit die Jordaan uit opgetrek en laer opgeslaan by Gilgal, aan die oostelike grens van Jérigo. En daardie twaalf klippe wat hulle uit die Jordaan geneem het, het Josua by Gilgal opgerig. En hy het met die kinders van Israel gespreek en gesê: Wanneer julle kinders later hulle vaders vra en sê: Wat beteken hierdie klippe? dan moet julle dit aan julle kinders bekend maak en sê: Op droë grond het Israel deur hierdie Jordaan getrek, deurdat die HERE julle God die water van die Jordaan voor julle uit laat opdroog het, totdat julle deurgetrek het, soos die HERE julle God gedoen het met die Skelfsee wat Hy voor ons uit laat opdroog het, totdat ons deurgetrek het; dat al die volke van die aarde kan weet dat die hand van die HERE sterk is, sodat julle die HERE julle God altyd mag vrees.

JOSUA 4:1-24 Afrikaans 1983 (AFR83)

Nadat die hele nasie deur die Jordaan is, het die Here vir Josua gesê: “Neem nou die twaalf man uit die volk, een uit elke stam, en sê vir hulle: Vat hier uit die Jordaan, op die plek waar die priesters gestaan het, twaalf klippe en neem hulle saam met julle deur en sit hulle neer op die plek waar julle vannag oorbly.” Josua roep toe die twaalf man wat hy uit die Israeliete aangewys het, een uit elke stam, en hy sê vir hulle: “Gaan by die ark van die Here julle God verby tot in die middel van die Jordaan en tel elkeen 'n klip op die skouer, in ooreenstemming met die getal stamme van die Israeliete. Dit moet onder julle as 'n teken dien. Wanneer julle kinders julle eendag vra: ‘Wat beteken hierdie klippe vir u?’ moet julle vir hulle sê die Jordaan se water is voor die verbondsark van die Here afgesny; toe die ark deur die Jordaan moes gaan, is die rivier se water afgesny; daarom is hierdie klippe vir die Israeliete 'n blywende herinnering daaraan.” Die Israeliete het gemaak soos Josua gesê het. Hulle het die twaalf klippe in ooreenstemming met die getal stamme van Israel gevat soos die Here vir Josua gesê het, dit met hulle saam deurgeneem na die plek toe waar hulle sou oornag en dit daar neergesit. Josua het ook twaalf klippe binne-in die Jordaan opgerig, op die plek waar die priesters gestaan het wat die verbondsark gedra het. Die klippe is vandag nog daar. Die priesters wat die verbondsark gedra het, het in die Jordaan bly staan tot alles afgehandel was wat die Here vir Josua opgedra het om vir die volk te sê in ooreenstemming met alles wat Moses vir Josua beveel het. Die volk was haastig om deur te gaan. Toe die volk klaar deur is, het die ark van die Here deurgegaan. Die priesters was voor die volk. Die stamme Ruben en Gad en die halwe Manassestam het, soos Moses hulle beveel het, in formasie voor die Israeliete getrek. Omtrent veertig duisend gewapende manne het vir die oorlog die rivier deurgegaan voor die ark van die Here uit na die Jerigovlakte toe. Die Here het daardie dag aan Josua hoë aansien gegee in die oë van die hele Israel. Hulle het sy lewe lank aan hom eerbied betoon soos aan Moses. Die Here het vir Josua gesê: “Sê vir die priesters wat die ark met die getuienis dra, hulle moet uit die Jordaan kom.” Josua het toe die priesters beveel om uit die Jordaan te kom, en toe die priesters wat die verbondsark van die Here dra, uit die Jordaan kom en hulle voetsole die grond aan die kant raak, het die rivier se waters weer op hulle ou plek begin loop. Soos tevore het hy weer al sy oewers oorstroom. Die volk het op die tiende dag van die eerste maand uit die Jordaan gekom en kamp opgeslaan in Gilgal, oos van Jerigo. Josua het die twaalf klippe wat hulle uit die Jordaan saamgebring het, in Gilgal opgestel en vir die Israeliete gesê: “As julle kinders eendag hulle pa's vra: ‘Wat beteken daardie klippe?’ moet julle die kinders inlig en sê: Israel het op droë grond deur hierdie Jordaanrivier gegaan. Die Here julle God het die Jordaan se water voor julle laat opdroog sodat julle kon deurgaan, net soos Hy met die Rietsee gemaak het toe Hy dit voor ons laat opdroog het sodat ons kon deurgaan. Hy het dit gedoen sodat al die volke van die aarde kan besef dat die mag van die Here groot is, en sodat julle die Here julle God altyd sal dien.

JOSUA 4:1-24 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En toe die hele volk rein deur die Jordaan getrek het, het die HERE met Josua gespreek en gesê: Neem vir julle twaalf manne uit die volk, uit elke stam 'n man, En gee julle bevel aan hulle en sê: Neem julle hiervandaan uit die middel van die Jordaan uit, uit die plek waar die priesters se voete vas gestaan het, twaalf klippe, en julle moet dit saam met julle oordra en dit in die slaapplek laat julle sal in hierdie nag oornag. Toe het Josua die twaalf manne geroep wat hy van die kinders van Israel voorberei het, uit elke stam 'n man. En Josua sê vir hulle: Trek voor die ark van die HERE julle God oor in die middel van die Jordaan, en neem elkeen van julle 'n klip op sy skouer, volgens die getal van die stamme van die kinders van Israel. Sodat dit 'n teken onder julle kan wees, dat wanneer julle kinders hulle vaders in die toekoms vra en sê: Wat bedoel julle met hierdie klippe? Dan moet julle hulle antwoord: Die waters van die Jordaan is afgesny voor die verbondsark van die HERE; as dit deur die Jordaan getrek het, is die waters van die Jordaan afgesny, en hierdie klippe sal vir ewig vir die kinders van Israel 'n gedenkteken wees. En die kinders van Israel het gedoen soos Josua beveel het, en twaalf klippe uit die middel van die Jordaan opgeneem, soos die HERE met Josua gespreek het, volgens die getal van die stamme van die kinders van Israel, en hulle saam met hulle na die plek waar hulle oornag het, en hulle daar neergelê. En Josua het twaalf klippe in die middel van die Jordaan opgerig, op die plek waar die voete van die priesters gestaan het wat die verbondsark gedra het, en hulle is daar tot vandag toe. Want die priesters wat die ark gedra het, het in die middel van die Jordaan gestaan totdat alles voltooi was wat die HERE Josua beveel het om met die volk te spreek, net soos Moses Josua beveel het; en die volk het gou deurgetrek. En toe die hele volk rein was, het die ark van die HERE en die priesters voor die volk deurgetrek. En die kinders van Ruben en die kinders van Gad en die helfte van die stam van Manasse het gewapen voor die kinders van Israel deurgetrek, soos Moses met hulle gespreek het. Omtrent veertig duisend wat gereed was vir oorlog, het voor die aangesig van die HERE deurgetrek om te veg, na die vlaktes van Jérigo. Daardie dag het die HERE Josua groot gemaak voor die oë van die hele Israel; en hulle het hom gevrees soos hulle Moses gevrees het, al die dae van sy lewe. En die HERE het met Josua gespreek en gesê: Gee bevel aan die priesters wat die ark van die Getuienis dra, dat hulle uit die Jordaan moet opkom. Josua het dan die priesters bevel gegee en gesê: Trek op uit die Jordaan. En toe die priesters wat die verbondsark van die HERE gedra het, uit die Jordaan opgekom het, en die voetsole van die priesters opgelig is na die droë land, het die waters van die Jordaan het na hulle plek teruggekeer en oor al sy walle gestroom, soos hulle vroeër gedoen het. En die volk het op die tiende van die eerste maand uit die Jordaan opgetrek en laer opgeslaan in Gilgal, aan die oostelike grens van Jérigo. En daardie twaalf klippe wat hulle uit die Jordaan geneem het, het Josua in Gilgal opgeslaan. En hy het met die kinders van Israel gespreek en gesê: Wanneer julle kinders hulle vaders in die toekoms sal vra en gesê: Wat beteken hierdie klippe? Dan moet julle julle kinders laat weet en sê: Israel het op droë grond oor hierdie Jordaan gekom. Want die HERE julle God het die waters van die Jordaan voor julle uit laat opdroog totdat julle deurgetrek het, soos die HERE julle God gedoen het met die Skelfsee wat Hy voor ons uit opgedroog het totdat ons deurgetrek het. Sodat al die volke van die aarde die hand van die HERE kan ken, dat dit magtig is, sodat julle die HERE julle God vir ewig kan vrees.

JOSUA 4:1-24 Die Boodskap (DB)

Toe die hele volk veilig deur die Jordaan is, het die Here vir Josua gesê:  “Kies nou twaalf mense, een uit elke stam. Sê vir hulle om twaalf klippe uit die middel van die Jordaan, daar waar die priesters gestaan het, te gaan haal. Laat hulle hierdie klippe na die plek toe bring waar julle vannag kamp opslaan en laat hulle die klippe daar neersit.” Josua roep toe die twaalf wat hy gekies het bymekaar en sê vir hulle: “Loop tot in die middel van die Jordaan, by die ark van die Here verby. Daar moet julle elkeen ’n klip optel en dit op julle skouers uitdra, een klip vir elkeen van die twaalf stamme. Hierdie klippe sal die mense herinner aan wat die Here gedoen het. As julle kinders dan eendag vir julle vra: ‘Wat beteken hierdie klippe vir julle?’ kan julle vir hulle vertel dat die water van die Jordaan ophou vloei het toe die verbondsark van die Here daardeur is. En dat hierdie klippe vir die Israeliete ’n permanente herinnering aan hierdie wonderwerk is.” Die mense het toe Josua se opdrag uitgevoer. Hulle het twaalf klippe, volgens die Here se opdrag aan Josua, in die middel van die Jordaan gaan optel, een vir elke stam. Hulle het hierdie klippe na hulle oornagkampplek toe gevat en daar neergesit. Josua het toe nog ’n herinneringsteken van twaalf klippe in die middel van die Jordaan opgerig op die plek waar die priesters met die verbondsark gestaan het. (Volgens oorlewering is hulle tot vandag toe nog daar.) Die priesters wat die verbondsark gedra het, het in die middel van die Jordaan bly staan totdat al die Here se opdragte, wat Moses vir Josua gegee het, afgehandel was. Die volk het intussen vinnig deur die droë rivier na die oorkant toe gegaan. Eers toe die hele volk deur is, het die priesters hulle met die ark van die Here gevolg. Die groepe soldate uit die stam van Ruben en Gad, asook die halwe stam van Manasse, het eerste deurgegaan, soos Moses vroeër beveel het. Ongeveer 40  000 van hierdie manne was reg om oorlog te maak. Hulle het deurgetrek na die vlaktes van Jerigo toe. Die Here was by hulle. Die groot dinge wat die Here daardie dag deur Josua gedoen het, het die volk groot respek vir Josua laat kry. Hulle het hom, net soos vir Moses, met eerbied behandel vir die res van sy lewe. Die Here het vir Josua gesê: “Laat die priesters wat die ark met die getuienis dra nou uit die Jordaan uitkom.” Josua het dit toe gedoen. Toe die priesters wat die verbondsark gedra het, aan die ander kant van die rivier uitklim, het dit weer soos voorheen begin vloei en sy walle oorstroom. Dit het alles gebeur op die tiende dag van die eerste maand. Die volk het kamp opgeslaan by Gilgal, oos van Jerigo. Josua het die twaalf klippe wat hulle uit die Jordaan gebring het by Gilgal op mekaar gepak en vir die Israeliete gesê: “As julle kinders eendag vir julle vra: ‘Wat beteken hierdie klippe?’ kan julle vir hulle sê: ‘Hier is Israel droogvoets deur die Jordaan.’ Die Here julle God het die Jordaan se water voor julle laat opdroog sodat julle kon deurstap sonder dat julle voete nat word. Dit is presies soos Hy vroeër met die Rietsee gemaak het toe Hy dit voor ons laat opdroog het sodat ons kon deurgaan. Die Here het hierdie wonderwerk gedoen sodat al die volke van die aarde kan weet hoe magtig Hy is, en sodat julle die Here julle God altyd sal dien en eer.”

JOSUA 4:1-24 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Toe almal veilig aan die ander kant van die rivier was, het die HERE met Josua gepraat: “Kies twaalf mans uit die volk, een uit elke stam en sê vir hulle: ‘Kry twaalf klippe uit die middel van die Jordaan van die plek waar die priesters staan. Dra hulle saam met julle en gaan pak hulle op ’n hoop waar julle vannag gaan oorbly.’” Josua het toe die twaalf mans wat uit elke stam kom, nadergeroep. Hy sê vir hulle: “Gaan by die ark van die HERE julle God verby tot in die middel van die Jordaan. Elkeen moet ’n klip op sy skouer tel sodat daar vir elke stam een is. Ons sal daarmee ’n gedenkteken bou. Julle kinders sal julle in die toekoms vra: ‘Waaraan herinner hierdie klippe julle?’ Julle moet dan vir hulle vertel: ‘Die water van die Jordaan is afgesny toe die ark van die verbond van die HERE deur die Jordaan gegaan het.’ Hierdie klippe sal die Israeliete altyd daaraan herinner.” Die Israeliete het gemaak soos Josua vir hulle gesê het. Hulle het twaalf klippe vir elkeen van die twaalf stamme uit die middel van die Jordaan uitgedra, soos die HERE vir Josua beveel het. Hulle het dit saam met hulle gevat na die plek waar hulle kamp sou opslaan. Hulle het dit daar opmekaargestapel. Josua het ook twaalf klippe in die middel van die Jordaan opmekaar laat stapel, daar waar die priesters wat die ark van die verbond gedra het, gestaan het. Daardie klippe is vandag nog daar. Die priesters wat die ark van die verbond gedra het, het daar in die middel van die Jordaan bly staan totdat al die HERE se opdragte wat Moses vir Josua gegee het, afgehandel was. Die volk het haastig deur die rivier getrek. Toe die volk klaar deur was, het die priesters met die ark van die HERE deurgetrek. Die volk het vir hulle gestaan en kyk. Die gewapende vegters van die stamme van Ruben en Gad en die halwe stam van Manasse het aan die voorpunt van die Israeliete eerste deur die rivier getrek, soos Moses bepaal het. Omtrent 40 000 mans gewapen vir oorlog het deur die rivier gegaan voor die ark van die HERE uit na die vlakte van Jerigo. Op daardie dag het die HERE Josua groot aansien in die oë van al die Israeliete gegee. Hy was sy hele lewe lank net so belangrik vir hulle soos Moses. Die HERE het vir Josua gesê: “Sê vir die priesters wat die ark dra dat hulle uit die Jordaanrivier moet uitkom.” Josua het hulle so beveel. Die priesters wat die ark van die verbond van die HERE dra, het uit die Jordaan uitgekom. Toe hulle voete die droë grond van die wal raak, het die rivier se waters weer na sy ou plek begin terugvloei. Dit het weer sy walle begin oorstroom. Op die tiende dag van die eerste maand het die volk deur die Jordaan getrek. Hulle het gaan kamp opslaan by Gilgal, oos van Jerigo. Hier by Gilgal het Josua die twaalf klippe wat hulle uit die Jordaan uit saamgebring het, opmekaargestapel. Hy het vir die Israeliete gesê: “Wanneer julle kinders in die toekoms vir hulle pa’s vra: ‘Watse klippe is dit hierdie?’ moet julle hulle vertel: ‘Israel het hier op droë grond deur die Jordaanrivier getrek. Die HERE julle God het die water van die Jordaan voor julle laat wegdroog sodat julle daar deur kon gaan, net soos die Here destyds die Rietsee voor ons laat wegdroog het sodat ons daar deur kon trek.’ Hy het dit gedoen sodat al die volke van die aarde kon erken dat die HERE groot mag het, en dat julle solank julle lewe die HERE julle God moet vereer.”