JOSUA 5:1-15

JOSUA 5:1-15 Bybel vir almal (ABA)

“Die konings van die Amoriete wes van die Jordaan-rivier en die konings van die Kanaäniete by die see het gehoor dat die Here die water van die Jordaan-rivier laat ophou vloei het sodat die Israeliete oor die rivier kon gaan. Die konings het baie bang geword, hulle was bang om teen die Israeliete te veg.” Die Here het toe vir Josua gesê: “Jy moet klipmesse maak en jy moet die Israeliete besny.” Josua het klipmesse gemaak en hy het die Israeliete besny by Voorhuide-heuwel. Hoekom moes Josua dit doen? Want al die mans wat uit Egipte gekom het, almal wat kon oorlog maak, het in die woestyn gesterf nadat hulle uit die land Egipte gekom het. Almal wat uit Egipte gekom het, was besny, maar almal wat in die woestyn gebore is, nadat hulle uit Egipte gekom het, is nie besny nie. Die Israeliete moes 40 jaar lank deur die woestyn loop totdat al die mans gesterf het wat uit Egipte gekom het, almal wat kon oorlog maak. Want hulle was nie gehoorsaam aan die Here nie, en die Here het gesê hulle sal nie die land sien nie. Hy het vir hulle voorvaders belowe dat Hy die land vir ons sal gee. Dit is 'n land waar daar baie melk en heuning is. Die Here het seuns gegee in die plek van hulle pa's, en Josua het húlle besny. Hulle is nie op die pad van Egipte af hiernatoe besny nie. Toe almal klaar besny is, het hulle daar in die kamp gebly totdat hulle gesond was. Die Here het vir Josua gesê: “Julle was slawe in Egipte, maar Ek het vandag die skande weggeneem van julle.” Daarom het die Here daardie plek Gilgal genoem, en dit is vandag nog die plek se naam. Die Israeliete het die Paasfees gevier terwyl hulle in die kamp by Gilgal was, in die Jordaan-vallei naby Jerigo. Dit was op die aand van die veertiende dag van die maand. Die dag ná die Paasfees het hulle die eerste maal kos geëet van daardie land. Dit was ongesuurde brood en gebraaide koring. Daar het nie meer manna uit die hemel geval nie. Dit het opgehou val van die dag toe hulle kos van die land Kanaän geëet het. Die Israeliete het nie weer manna gekry nie. Hulle het daardie jaar kos geëet wat in daardie land gegroei het. Toe Josua by Jerigo was, het hy 'n man voor hom sien staan. Die man het sy swaard in sy hand gehad. Josua het na die man toe gegaan en hy het vir hom gevra: “Is jy een van ons of is jy een van ons vyande?” Die man het vir hom gesê: “Nee, ek is die hoof van die leër van die Here, ek het nou gekom.” Josua het gebuig en hy het met sy gesig teen die grond gaan lê en gesê: “Wat wil Meneer vir my sê? Ek sal doen wat jy sê.” Die hoof van die leër van die Here het vir Josua gesê: “Jy moet jou sandale uittrek, want jy staan op 'n gewyde plek.” Josua het dit gedoen.

JOSUA 5:1-15 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN toe al die konings van die Amoriete wat anderkant die Jordaan na die weste was, en al die konings van die Kanaäniete wat by die see woon, hoor dat die HERE die water van die Jordaan voor die kinders van Israel uit laat opdroog het, totdat hulle deurgetrek het, het hulle hart versmelt en was daar in hulle geen moed meer vanweë die kinders van Israel nie. HERE IN dié tyd het die HERE vir Josua gesê: Maak vir jou klipmesse en besny weer die kinders van Israel vir die tweede keer. Toe het Josua vir hom klipmesse gemaak en die kinders van Israel besny by die heuwel van die voorhuide. En dit is die rede dat Josua hulle besny het: Die hele volk wat uit Egipte uitgetrek het, die manspersone, al die krygsmanne, het op pad in die woestyn gesterwe, op hulle trek uit Egipte. Want die hele volk wat uitgetrek het, was besnede; maar die hele volk wat op pad in die woestyn gebore is, op hulle trek uit Egipte, het hulle nie besny nie. Want veertig jaar lank het die kinders van Israel in die woestyn getrek, totdat die hele volk omgekom het, die krygsmanne wat uit Egipte weggetrek het, wat nie aan die stem van die HERE gehoorsaam was nie; vir wie die HERE gesweer het dat Hy hulle die land nie sou laat sien wat die HERE hulle vaders met 'n eed beloof het om aan ons te gee nie — 'n land wat oorloop van melk en heuning. Maar in hulle plek het Hy hul seuns gestel; dié het Josua besny; want hulle was onbesnede, omdat hulle op pad nie besny is nie. En toe die hele volk klaar besny is, het hulle op hul plek in die laer gebly totdat hulle gesond was. Toe het die HERE vir Josua gesê: Vandag het Ek die smaad van Egipte van julle afgewentel. Daarom het hulle dié plek Gilgal genoem tot vandag toe. Terwyl die kinders van Israel by Gilgal gelaer was, het hulle die pasga gehou op die veertiende dag van die maand in die aand, in die vlaktes van Jérigo. En hulle het die dag ná die pasga van die opbrings van die land geëet: ongesuurde brode en gebraaide koring, daardie selfde dag. En die dag nadat hulle van die opbrings van die land geëet het, het die manna opgehou, sodat die kinders van Israel verder geen manna gehad het nie; maar hulle het geëet van die opbrings van die land Kanaän in daardie jaar. En terwyl Josua by Jérigo was, slaan hy sy oë op en kyk, en daar staan 'n man teenoor hom met 'n ontblote swaard in sy hand; en Josua het na hom gegaan en hom gevra: Behoort U by ons of by ons vyande? En Hy sê: Nee, maar Ek is die leërowerste van die HERE; Ek het nou gekom. Toe val Josua met sy aangesig op die grond en buig hom neer en vra Hom: Wat wil my Here aan sy dienskneg sê? Toe sê die leërowerste van die HERE vir Josua: Trek jou skoene van jou voete af, want die plek waar jy op staan, is heilig. En Josua het so gedoen.

JOSUA 5:1-15 Afrikaans 1983 (AFR83)

“Toe al die konings van die Amoriete wes van die Jordaan en al die konings van die Kanaäniete aan die see hoor dat die Here die water van die Jordaan voor die Israeliete laat opdroog het sodat ons kon deurgaan, het hulle harte van angs verstyf en het hulle nie meer moed teen die Israeliete gehad nie.” In dié tyd het die Here vir Josua gesê: “Maak vir jou klipmesse en besny die Israeliete. Daar moet weer 'n besnydenis wees.” Josua het toe vir hom klipmesse gemaak en hy het die Israeliete besny. Die plek is genoem die Heuwel van die Besnydenis. Die rede waarom Josua die besnydenis moes uitvoer, is die volgende: die hele volk wat uit Egipte getrek het, die mans, al die weerbare manne, is op pad in die woestyn dood met die uittog uit Egipte; al die mense wat destyds getrek het, was besny, maar die mense wat in die woestyn onderweg gebore is tydens die uittog uit Egipte, was nie een besny nie; die Israeliete het veertig jaar lank in die woestyn rondgetrek, totdat die hele nasie uitgesterf het, dit wil sê die weerbare manne wat uit Egipte getrek het en ongehoorsaam was aan die opdrag van die Here. Hy het destyds 'n eed afgelê dat hulle nie die land sou sien wat Hy met 'n eed aan hulle voorvaders beloof het om aan hulle te gee nie, 'n land wat oorloop van melk en heuning; Hy het daardie mense se kinders in hulle plek gestel en vir hulle het Josua besny, want hulle was nog nie besny nie, hulle is nie langs die pad besny nie. Nadat die hele nasie klaar besny is, het hulle eers in die kamp gebly tot hulle gesond was. Die Here het vir Josua gesê: “Vandag het Ek julle bevry van die smaad wat van Egipte se tyd af op julle rus.” Josua het die plek toe Gilgal genoem. Dit is vandag nog die naam. Terwyl die Israeliete nog in Gilgal in die kamp was, het hulle die paasfees daar in die Jerigovlakte gevier, op die veertiende van die maand, in die aand. Die oggend na paasfees, presies op dié dag, het hulle ongesuurde brood en gebraaide koring, van die opbrengs van die land, geëet. Daardie oggend toe hulle van die opbrengs van die land eet, het die manna weggebly; daar was nie weer manna vir die Israeliete nie: hulle het daardie jaar van die land Kanaän se eie oes geëet. Josua was naby Jerigo. Toe hy sien, staan daar 'n man voor hom met 'n ontblote swaard in die hand. Josua het na hom toe gegaan en hom gevra: “Is u aan ons kant of aan ons vyande s'n?” “Nee,” sê die man, “ek is die aanvoerder van die leër van die Here. Daarom is ek hier.” Josua het diep gebuig en vir die man gesê: “Wat wil u aan my, u dienaar, sê?” Toe sê die leëraanvoerder van die Here vir Josua: “Trek jou skoene uit, want die plek waarop jy staan, is 'n gewyde plek.” Josua het dit gedoen.

JOSUA 5:1-15 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Toe al die konings van die Amoriete aan die westekant van die Jordaan en al die konings van die Kanaäniete langs die see hoor dat die HERE die water van die Jordaan voor die Israeliete laat opdroog het totdat hulle deurgetrek het, het hulle harte ineengekrimp, sodat hulle nie meer moed gehad het vir die Israeliete nie. In dié tyd het die HERE vir Josua gesê: “Maak vir jou klipmesse en besny weer die Israeliete 'n tweede keer. ” Josua het toe vir hom klipmesse gemaak en die Israeliete besny by Ghibeat Ha-araloot. En dit is die rede waarom Josua die besnydenis moes doen: Die hele volk wat uit Egipte getrek het, die mans, al die krygsmanne, is op pad in die woestyn dood, gedurende die uittog uit Egipte. Die hele volk wat weggetrek het, was immers besny; maar al die volksgenote wat in die woestyn gebore is terwyl hulle op pad was, gedurende hulle uittog uit Egipte, is nie besny nie. Want veertig jaar lank het die Israeliete in die woestyn rondbeweeg, totdat die hele nasie krygsmanne wat uit Egipte weggetrek het, tot niet was, hulle wat nie na die stem van die HERE geluister het nie, vir wie die HERE gesweer het dat Hy hulle nie die land sal laat sien wat die HERE aan hulle voorvaders met 'n eed beloof het om aan ons te gee nie – 'n land wat oorloop van melk en heuning. Maar hulle kinders het Hy in hulle plek gestel. Dit is hulle wat Josua besny het, want hulle was onbesnede, omdat hulle nie op pad besny is nie. Toe die hele volk klaar besny is, het hulle net waar hulle was in die kamp gebly, totdat hulle gesond was. Die HERE het vir Josua gesê: “Vandag het Ek die bespotting van Egipte van julle afgewerp.” Daarom is die naam van hierdie plek Gilgal; dit is vandag nog so. Terwyl die Israeliete by Gilgal gekamp het, het hulle op die veertiende dag van die maand teen die aand die Pasga gevier in die vlaktes by Jerigo. Die dag ná die Pasga, presies op daardie dag, het hulle van die vrug van die land geëet – ongesuurde brood en gebraaide koring. Die manna het opgehou die dag ná hulle van die vrug van die land geëet het. Daar was nie meer manna vir die Israeliete nie. Hulle het in daardie jaar van die opbrengs van die land Kanaän geëet. Toe Josua naby Jerigo was, het hy opgekyk. Reg voor hom staan daar skielik 'n man met 'n ontblote swaard in sy hand. Josua gaan toe na hom en vra hom: “Is jy vir ons, of vir ons vyande?” Hy het geantwoord: “Nee, maar ek is die bevelvoerder van die leër van die HERE; daarom het ek gekom.” Josua het neergeval met sy gesig teen die grond, diep neergebuig, en vir hom gesê: “Wat wil my heer vir sy dienaar sê?” Die bevelvoerder van die leër van die HERE het Josua geantwoord: “Trek jou sandale van jou voete af, want die plek waarop jy staan, is heilig.” Josua het toe so gemaak.

JOSUA 5:1-15 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En dit het gebeur toe al die konings van die Amoriete wat aan die westekant van die Jordaan was, en al die konings van die Kanaäniete wat by die see was, hoor dat die HERE die waters van die Jordaan van voor af opgedroog het en die kinders van Israel, totdat ons deurgetrek het, dat hulle hart gesmelt het, en daar was geen gees meer in hulle nie, vanweë die kinders van Israel. In dié tyd het die HERE vir Josua gesê: Maak vir jou skerp messe en besny weer die kinders van Israel vir die tweede keer. En Josua het vir hom skerp messe gemaak en die kinders van Israel op die heuwel van die voorhuide besny. En dit is die oorsaak waarom Josua besny het: Al die mense wat uit Egipte uitgetrek het, wat manlik was, ja, al die krygsmanne, het gesterf in die woestyn op die pad, nadat hulle uit Egipte uitgetrek het. En al die volk wat uitgetrek het, is besny; maar al die volk wat in die woestyn op die pad gebore is toe hulle uit Egipte uitgetrek het, hulle het hulle nie besny nie. Want die kinders van Israel het veertig jaar in die woestyn gewandel totdat al die krygsmanne wat uit Egipte uitgetrek het, omgekom het, omdat hulle nie na die stem van die HERE geluister het nie; aan wie die HERE gesweer het dat Hy nie sou wou nie en wys hulle die land wat die HERE aan hulle vaders met 'n eed beloof het dat Hy ons sou gee, 'n land wat oorloop van melk en heuning. En hulle kinders wat Hy in hulle plek laat opstaan het, hulle het Josua besny, want hulle was onbesnede, omdat hulle hulle nie op die pad besny het nie. En toe hulle klaar was om die hele volk te besny, het hulle op hulle plekke in die laer gebly totdat hulle gesond was. Toe sê die HERE vir Josua: Vandag het Ek die smaad van Egipte van jou weggerol. Daarom word die naam van die plek Gilgal genoem tot vandag toe. En die kinders van Israel het laer opgeslaan in Gilgal en die pasga gehou op die veertiende dag van die maand teen die aand in die vlaktes van Jérigo. En hulle het die volgende dag ná die pasga van die ou koring van die land geëet, ongesuurde koeke en gebraaide koring op dieselfde dag. En die manna het die volgende dag opgehou nadat hulle van die ou koring van die land geëet het; en die kinders van Israel het nie meer manna gehad nie; maar hulle het daardie jaar van die vrugte van die land Kanaän geëet. En toe Josua by Jerigo was, slaan hy sy oë op en kyk, en kyk, daar staan 'n man teenoor hom met sy ontblote swaard in sy hand; en Josua het na hom gegaan en vir hom gesê, Is U vir ons of vir ons teëstanders? En hy sê: Nee; maar ek is nou as leërowerste van die HERE. Toe val Josua op sy aangesig na die aarde en aanbid en sê vir hom: Wat sê my heer aan sy dienaar? Toe sê die leërowerste van die HERE vir Josua: Maak jou skoen van jou voet af; want die plek waar jy op staan, is heilig. En Josua het so gedoen.

JOSUA 5:1-15 Die Boodskap (DB)

Toe al die konings van die Amoriete wes van die Jordaan en al die konings van die Kanaäniete wat langs die Middellandse See gebly het, hoor dat die Here die Jordaan laat opdroog het sodat die Israeliete daardeur kon trek, het hulle moed in hulle skoene gesak. Hulle het baie bang geword. Hulle het nie meer moed gehad om teen die Israeliete te veg nie. In daardie tyd het die Here vir Josua gesê: “Maak vir julle messe van klip sodat julle weer die Israeliete kan begin besny.” Josua het toe klipmesse laat maak en die manlike Israeliete besny. Daarom word die plek die Heuwel van die Besnydenis genoem. Josua moes hulle besny, want toe Israel uit Egipte weg is, was al die mans reeds besny. Maar gedurende die 40 jaar wat dit hulle geneem het om deur die woestyn te trek, is nie een van die seuntjies wat toe gebore is, besny nie. Teen Josua se tyd was die Israeliete wat uit Egipte getrek het al dood omdat hulle aan die Here ongehoorsaam was. Daarom dat Hy gesê het dat hulle nie die ryk en vrugbare nuwe land sou sien wat Hy aan hulle voorouers beloof het nie. Dit is hierdie mense se seuns wat Josua nou besny het, omdat hulle nie op pad na die Beloofde Land toe besny is nie. Hulle moes nou hulle ouers se plek volstaan. Nadat die besnydenis afgehandel is, het hulle vir eers in die kamp gebly totdat hulle gesond was. Toe sê die Here vir Josua: “Vandag bevry Ek julle van die vernedering wat julle beleef het as slawe in Egipte.” Daarom is die plek Gilgal genoem, die naam wat dit nog steeds het. Terwyl die Israeliete nog by Gilgal op die vlakte naby Jerigo gekamp het, het hulle die paasfees op die aand van die veertiende dag van die maand gevier. Die dag na die paasfees het hulle vir die eerste keer kos van die Beloofde Land geëet: ongesuurde brood en gebraaide koring. Daardie oggend toe hulle van die kos van die land geëet het, het die manna vir altyd weggebly. Hulle het van toe af van hulle eie oeste in die land Kanaän geleef. Daar was nie weer manna nie. Op pad Jerigo toe het Josua skielik ’n man voor hom sien staan met sy swaard in sy hand. Josua stap toe na hom toe en vra: “Is jy ’n vriend of ’n vyand?” “Nie een van die twee nie,” antwoord hy. “Ek is die bevelvoerder van die Here se leër.” Josua het uit eerbied diep voor die man gebuig en gesê: “Ek is tot u diens. Wat wil u vir my sê?” Die bevelvoerder van die Here se leër sê toe vir Josua: “Trek uit jou skoene, want jy staan op ’n plek wat aan die Here toegewy is.” En Josua het dit gedoen.

JOSUA 5:1-15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Al die konings van die Amoriete wat wes van die Jordaan bly en al die konings van die Kanaäniete wat by die Middellandse See bly, het gehoor hoe die HERE die water van die Jordaan voor die Israeliete laat wegdroog het sodat hulle daar deur kon gaan. Hulle harte het gekrimp. Hulle het nie kans gesien om teen die Israeliete te veg nie. Op daardie stadium het die HERE vir Josua gesê: “Maak vir jou messe van klip. Besny die Israeliete weer ’n keer.” Josua het toe vir hom klipmesse gemaak. Hy het al die Israeliete besny by Gibeat-Haaralot. Josua moes almal besny omdat al die mans van die volk wat uit Egipte getrek het en wat oorlog kon gaan maak, langs die pad in die woestyn dood is. Almal wat destyds uit Egipte getrek het, was wel besny. Almal van die volk wat intussen langs die pad in die woestyn gebore is, was egter nie besny nie. Die Israeliete het 40 jaar lank in die woestyn rondgetrek, totdat almal wat uit Egipte weg is wat kon oorlog maak, uitgesterf het. Hulle wou nie na die HERE luister nie. Hy het daarom gesweer dat hulle nie die land sou sien wat Hy aan hulle voorouers beloof het nie. Dit is ’n baie vrugbare land. Josua het nou hulle kinders besny wat in hulle plek gekom het. Hulle was nog nie besny nie. Hulle is ook nie langs die pad besny nie. Nadat die hele nasie besny is, het hulle eers in die kamp gebly tot hulle weer gesond was. Die HERE het vir Josua gesê: “Ek het vandag julle vernedering van Egipte van julle af weggerol.” Josua het daardie plek toe Gilgal genoem. Dit is vandag nog sy naam. Toe hulle die Paasfees gevier het, was die Israeliete nog steeds by Gilgal op die vlakte by Jerigo. Hulle het dit op die veertiende dag van die maand teen die aand gevier. Die volgende oggend het hulle ongesuurde brood en gebraaide koring geëet wat in Kanaän geoes is. Op daardie dag dat hulle van die opbrengs van die land Kanaän begin eet het, het die manna opgehou. Die Israeliete sou nie meer manna eet nie. Van toe af het hulle die graan en vrugte begin eet wat in die land Kanaän geoes is. HERE Josua was in die omgewing van Jerigo toe hy skielik ’n man voor hom sien staan met ’n swaard in sy hand. Josua het na hom toe gegaan en vir hom gevra: “Is jy ons vriend of ons vyand?” “Nie een nie,” sê die man, “ek is die aanvoerder van die hemelse leër. Ek is nou hier vir julle.” Josua het op die grond neergeval in aanbidding. Hy vra vir die man: “Wat wil Meneer vir sy dienaar sê?” Die leëraanvoerder van die HERE se mag sê toe vir Josua: “Trek uit jou skoene. Jy staan op ’n heilige plek.” Josua het so gemaak.