KLAAGLIEDERE 3:31-66

KLAAGLIEDERE 3:31-66 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die Here verstoot 'n mens nie vir altyd nie; as Hy beproewing oor 'n mens gebring het, ontferm Hy Hom weer, want sy liefde is groot: dit is teen sy sin dat Hy mense in ellende en beproewing bring. Dat al die gevangenes in die land mishandel word, dat iemand se reg vertrap word voor die Allerhoogste, dat 'n mens in 'n regsaak veronreg word – die Here sien dit raak! Wie kan iets beplan, en dit gebeur, as die Here nie die bevel gee nie? Is dit nie op bevel van die Allerhoogste dat die kwaad sowel as die goeie te voorskyn kom nie? Wat kla 'n mens oor sy lewe? Hy moet liewer sy sonde oorwin. Laat ons ons doen en late deeglik ondersoek en ons tot die Here bekeer, laat ons met ons hele hart ons hande na God in die hemel uitsteek en bely: “Ons het sonde gedoen en was opstandig; U het nie vergewe nie.” U toorn het ontvlam en U het ons agtervolg, U het 'n slagting aangerig en nie genade betoon nie. U het U met 'n wolk omhul sodat geen gebed na U kon deurkom nie, U het ons die uitvaagsel gemaak, die skuim onder die volke. Al ons vyande rek hulle mond oor ons; angs en benoudheid het oor ons gekom, verlatenheid en verwoesting. Die trane loop in strome uit my oë oor die vernietiging van my volk. My trane sal aanhou vloei, dit sal nie ophou nie, totdat die Here uit die hemel afkyk en dit raaksien. Wat my oë sien, maak my hartseer oor al die dogters van my stad. Mense het op my jag gemaak soos op 'n voël, hulle is sonder rede vyandig teenoor my, hulle het my in 'n put gegooi en klippe op my afgerol om my dood te maak; die water het tot by my kop gestyg, ek het gedink dit is klaar met my. Ek het na U geroep, Here, uit die dieptes uit. U het gehoor hoe ek smeek: “Moet tog nie afsydig staan nie, gee uitkoms en red my!” U het na my toe gekom toe ek geroep het, U het gesê: “Moenie bang wees nie!” U verdedig my saak, Here, U red my lewe. U sien die onreg teen my, Here, lewer tog uitspraak in my guns, U sien hoe hulle my haat, hoe hulle teen my saamspan. U hoor self hoe hulle my beledig, Here, hoe hulle teen my saamspan, hoe hulle heeldag oor my praat en spot. Of hulle sit en of hulle staan, hoor hoe sing hulle spotliedjies oor my. Straf hulle, Here, volgens wat hulle gedoen het, laat benoudheid hulle oorval, tref hulle met u vloek, agtervolg hulle in u toorn en verdelg hulle, weg onder u hemel uit.

KLAAGLIEDERE 3:31-66 Die Boodskap (DB)

Die Here sluit ’n mens mos nie vir altyd uit nie. Hy maak ’n mens wel seer. Omdat sy liefde so groot is, kry Hy ons ook weer jammer. Die Here verneder nie graag mense nie. Hy laat hulle ook nie verniet seerkry nie. Die Here sien dit raak as gevangenes mishandel word. Hy sien wanneer mense verontreg word, teen die wil van die Allerhoogste. Hy kyk hoe mense in die hof onbillik behandel word. Kan enigiemand iets laat gebeur as die Here nie daarmee instem nie? Kom die slegte en die goeie dinge nie maar alles van God daar bo nie? Waaroor sal ’n mens kla wanneer hy lewe al het hy verkeerd gedoen? Kom ons gaan kyk hoe ons pad geloop het en dink ’n bietjie na oor wat ons gedoen het. Dan kan ons omdraai na die Here toe. Laat ons ons hart en ons hande na die Here in die hemel uitsteek. Laat ons met alles wat ons het tot Hom bid: “Here, U kan ons nie vergewe nie, want ons was hardkoppig en opstandig teenoor U. “U was so kwaad vir ons dat U ons agternagesit het om ons sonder genade dood te maak. U het agter die wolke ingegaan sodat nie een van ons gebede by U kon uitkom nie. U het ons die ashoop van die wêreld gemaak waarop al die gemors gegooi word. Al ons vyande beledig ons en sê van ons net wat hulle wil. Ons is bang en vasgekeer. Ons is verwoes en eenkant gegooi.” Ek huil lang trane omdat my volk in duie gestort het. Ek sal aanhou huil, ek sal nie ophou nie totdat die Here afkyk uit die hemel en my raaksien. Ek is baie hartseer as ek sien wat met die dogters in Jerusalem gebeur het. Mense wat sonder enige rede my vyande geword het, jaag my asof hulle ’n voël probeer vang. Hulle het my in ’n waterput gegooi om my te laat verdrink. Hulle het dit met klippe toegepak. Die water het oor my kop gegaan en ek het gedink: Nou is dit verby met my. Daar onder in die put het ek na U begin roep, Here. En U het gehoor toe ek roep: “Moet asseblief nie u ore toedruk wanneer ek roep dat U my moet kom help nie.” Die dag toe ek na U geroep het, het U vir my kom sê: “Hou nou op om bang te wees.” U het soos ’n prokureur in die hof vir my saak geveg en my lewe gered. Gee tog uitspraak in my guns, want U sien hoe hulle die wet verdraai om onreg aan my te doen. U sien tog al die plannetjies wat hulle maak om my terug te kry. U hoor watter planne hulle alles maak om my te beledig. Hulle wat teen my gekant is, sit heeldag en sleg praat oor my. Waar hulle ook al kom, sing hulle liedjies waarin hulle met my die spot dryf. Betaal hulle terug, Here, vir elke ding wat hulle aan my gedoen het. Laat hulle al slegter word en straf hulle dan daarvoor. Sit hulle agterna met u woede en roei hulle heeltemal uit op die aarde.

KLAAGLIEDERE 3:31-66 Bybel vir almal (ABA)

Want die Here los mense nie vir altyd nie. Hy laat mense swaarkry, maar Hy word weer jammer vir hulle, Hy doen altyd wat Hy belowe het. Ja, die Here doen dit nie graag met mense nie, Hy laat hulle nie graag swaarkry nie. Die Here sien wanneer mense slegte dinge doen aan die gevangenes in die land, die Hoogste God sien wanneer mense nie reg doen aan ander mense nie, die Here sien wanneer mense sê onskuldige mense is skuldig. Niemand kan sê dat iets moet gebeur nie, dit is die Here wat sê dat dit moet gebeur. Wanneer die Hoogste God dit sê, dan gebeur daar dinge, goed of sleg. Hoekom kla 'n mens wat lewe? 'n Mens wat lewe, moenie kla nie. Nee, hy moet sy sonde oorwin. Ons moet goed kyk hoe ons lewe, ons moet baie goed dink daaroor, en ons moet terugkom na die Here toe. Ons moet dink aan God, ons moet ons hande uitsteek, ons moet bid tot God in die hemel. Ons het sonde gedoen, ons was opstandig teen U, en U het ons nie vergewe nie. U was kwaad, U het ons gejaag, U was nie jammer vir ons nie, U het ons doodgemaak. U het Uself toegemaak met 'n wolk, sodat ons gebede nie by U kon kom nie. U het die ander volke laat dink dat ons niks beteken nie en dat ons stink. Al ons vyande is bly oor wat met ons gebeur het. Ons het bang geword, dit voel of ons in 'n gat geval het. Ons is alleen en ons is stukkend. Die trane vloei uit my oë soos waterstrome, ek huil omdat my volk stukkend is. My trane sal aanhou vloei, dit sal nie ophou nie. Ek sal aanhou huil totdat die Here uit die hemel afkyk en sien wat gebeur. Wanneer ek sien wat gebeur met al die vroue in my stad, dan word ek baie hartseer. Ek het niks verkeerd gedoen nie, maar my vyande het my gejag soos 'n mens voëls jag. Hulle het my lewendig in 'n put gegooi en hulle het klippe op my gegooi. Die water het oor my kop gespoel, ek het gedink ek sal nie uitkom nie. Here, ek het daar onder in die put geskree en gevra U moet my help. U het gehoor toe ek gebid het en gesê het: “U moenie u ore toehou wanneer ek skree en vra dat U my moet red nie!” Die dag toe ek geskree het, het U nader gekom en U het gesê: “Jy moenie bang wees nie.” Here, U het vir my geveg teen die mense wat my beskuldig het. U het my lewe gered. Here, U het gesien dat mense verkeerde dinge aan my gedoen het. U moet oordeel, U moet sê dat ek nie verkeerd gedoen het nie. U het alles gesien wat hulle met my wou doen. U weet van hulle planne teen my. Here, U het gehoor hoe hulle my spot, U weet van al hulle planne teen my. U weet hoe my vyande teen my praat, hulle fluister die hele dag oor my. U moet hoor, hulle sing en spot my. Hulle doen dit wanneer hulle sit en wanneer hulle staan. Here, U moet dieselfde doen met hulle soos hulle met my doen. U moet hulle straf oor wat hulle doen. U moet hulle verstand deurmekaar maak, U moet hulle vervloek. U moet kwaad bly vir hulle, U moet hulle jaag en U moet hulle doodmaak. Daar moet niks van hulle oorbly onder die hemel van die Here nie.

KLAAGLIEDERE 3:31-66 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Kaf. Want die Here sal nie vir ewig verstoot nie. Maar as Hy bedroef het, ontferm Hy Hom na die grootheid van sy goedertierenhede; want nie van harte verdruk of bedroef Hy die mensekinders nie. Lamed. Dat hulle al die gevangenes van die aarde onder hul voete vertrap, dat hulle die reg van 'n man verdraai voor die aangesig van die Allerhoogste, dat hulle 'n mens onregverdig behandel in sy regsaak — het die HERE dit nie gesien nie? Mem. Wie spreek daar, en dit gebeur? Het die Here dit nie beveel nie? Gaan uit die mond van die Allerhoogste nie kwaad sowel as goed nie? Wat klaag 'n mens in sy lewe? Laat elkeen klaag oor sy sondes. Noen. Laat ons ons weë naspeur en deursoek en ons tot die HERE bekeer; laat ons ons hart saam met die hande ophef tot God in die hemel en sê: Óns het oortree en ons was wederstrewig — Ú het nie vergewe nie. Samek. U het U in toorn gehul en ons agtervolg, U het gedood sonder verskoning. U het Uself in 'n wolk gehul, sodat daar geen gebed kon deurdring nie; U het ons 'n uitvaagsel en 'n wegwerpsel onder die volke gemaak. Pe. Al ons vyande het hulle mond teen ons oopgerek; skrik en kuil het ons deel geword, ondergang en verbreking. My oog loop af in waterstrome oor die verbreking van die dogter van my volk. Ajin. My oog vloei rusteloos weg sonder ophou, totdat die HERE uit die hemel neersien en aanskou. My oog gee my pyn oor al die dogters van my stad. Sade. Hulle het my soos 'n voël rondgejaag, die wat sonder oorsaak my vyande is; hulle het my lewe in 'n kuil tot niet gemaak en klippe op my gegooi. Water het oor my hoof gestroom, ek het gesê: Dit is klaar met my! Kof. Ek roep u Naam aan, HERE, uit die onderste kuil. U hoor my stem; verberg u oor nie vir my ontboeseming, vir my hulpgeroep nie. U kom nader die dag as ek U aanroep, U sê: Wees nie bevrees nie! Resj. U, Here, verdedig my regsaak, U verlos my lewe. U sien, HERE, my verdrukking; verskaf my tog reg. U sien al hulle wraaksug, al hulle planne teen my. Sjin. U hoor hulle smaadrede, HERE, al hulle planne teen my, die lippe van my teëstanders en hulle bedenksels die hele dag teen my. Aanskou tog hulle sit en hulle opstaan, ek is hulle spotlied. Tau. U sal hulle vergeld vir wat hulle gedoen het, HERE. U sal hulle gee verblinding van hart, u vervloeking oor hulle. U sal hulle in toorn vervolg en hulle verdelg van onder die hemel van die HERE uit.

KLAAGLIEDERE 3:31-66 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

My Heer verwerp beslis nie die mens vir ewig nie; maar as Hy iemand bedroef het, ontferm Hy Hom met die volle omvang van sy troue liefde. Hy verdruk en bedroef mensekinders teen sy sin. Dat al die gevangenes van die aarde vertrap word; dat die reg van 'n mens voor die Allerhoogste geskend word; dat enige mens se regsaak verydel word – sien my Heer dit nie? Wie sê iets en dit gebeur as my Heer dit nie gebied het nie? Kom sowel die goeie as die slegte nie uit die mond van die Allerhoogste nie? Wat kla 'n mens terwyl hy nog leef, 'n jong man oor die straf op sy sonde? Laat ons ons handelswyse ondersoek en toets, en laat ons na die HERE terugkeer. Laat ons ons harte saam met ons hande ophef na God in die hemel. Ons het oortree; ons was opstandig. U het ons nie vergewe nie. U het U in toorn gehul en ons agtervolg; U het genadeloos doodgemaak. U het U afgeskerm met 'n wolk waardeur geen gebed kan dring nie. Uitvaagsels en vullis het U ons gemaak onder die volke. Al ons vyande het hulle mond vol oor ons. Angs en afgrond het ons lot geword, verwoesting en ineenstorting. Uit my oë vloei strome water oor die ineenstorting van die dogter van my volk. Sonder onderbreking, sonder einde, bly my trane loop, totdat die HERE uit die hemel neerkyk en dit sien. Hoe pynlik om al die dogters van my stad so te sien! Verbete en sonder rede het my vyande my soos 'n voël gejag. Hulle het my lewe in 'n opgaarput uitgedoof en klippe op my gegooi. Die water het tot oor my kop gestyg en ek het gedink ek is verlore. Ek roep u naam, o HERE, uit die diepste put. U het my stem gehoor. Moet tog nie u ore sluit vir my geroep om uitkoms nie. U het na my toe gekom op die dag toe ek na U geroep het. U het gesê: “Moenie bang wees nie.” U, my Heer, het my regsaak behartig; U het my lewe gered. U, HERE, het die onreg wat my aangedoen is, gesien; lewer 'n regverdige uitspraak oor my. U het al hulle wraakgierigheid gesien, al hulle planne vir my. U het hulle uittarting gehoor, HERE, al hulle planne teen my, alles wat oor my teenstanders se lippe kom, en hulle geskinder oor my die hele dag. Of hulle sit en of hulle opstaan, kyk tog, hulle spotlied gaan oor my. U, o HERE, sal hulle volgens die werke van hulle hande vergeld. U maak hulle harte onbeskaamd; mag u vloek oor hulle kom! U sal hulle in toorn vervolg en hulle uitroei onder die hemel van die HERE.

KLAAGLIEDERE 3:31-66 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Want die HERE sal nie vir ewig verstoot nie. Maar al veroorsaak hy droefheid, tog sal hy medelye hê volgens die grootheid van sy barmhartighede. Want Hy verdruk die mensekinders nie gewillig en bedroef nie. Om al die gevangenes van die aarde onder sy voete te verbrysel, Om die reg van 'n man af te wyk voor die aangesig van die Allerhoogste, Om 'n man in sy saak te ondermyn, keur die HERE nie goed nie. Wie is dit wat sê, en dit gebeur as die HERE dit nie beveel nie? Uit die mond van die Allerhoogste kom nie kwaad en goed nie? Waarom kla 'n lewende mens, 'n mens oor die straf van sy sondes? Laat ons ons weë deursoek en beproef, en ons bekeer ons weer tot die HERE. Laat ons ons hart met ons hande ophef tot God in die hemel. Ons het oortree en in opstand gekom; U het nie vergewe nie. U het met toorn bedek en ons vervolg; U het gedood, U het U nie ontferm nie. U het uself met 'n wolk bedek, dat ons gebed nie sou deurgaan nie. U het ons gemaak as 'n afskuur en 'n vullis onder die volk. Al ons vyande het hulle monde teen ons oopgemaak. Vrees en 'n strik kom oor ons, verwoesting en verwoesting. My oog loop af in waterstrome vir die vernietiging van die dogter van my volk. My oog druppel af en hou nie op sonder enige onderbreking nie, Totdat die HERE afkyk en uit die hemel aanskou. My oog tref my hart vanweë al die dogters van my stad. My vyande het my seer gejaag, soos 'n voël, sonder oorsaak. Hulle het my lewe in die kerker afgesny en 'n klip op my gegooi. Waters het oor my kop gevloei; toe sê ek: Ek is uitgeroei. Ek het u Naam aangeroep, o HERE, uit die lae put. U het my stem gehoor; verberg u oor nie vir my asem, vir my geroep nie. U het nader gekom op die dag dat ek u aangeroep het; u het gesê: Moenie vrees nie. O HERE, U het die sake van my siel bepleit; U het my lewe verlos. O HERE, U het my onreg gesien; oordeel my saak. U het al hulle wraak en al hulle verbeelding teen My gesien. U het hulle smaad gehoor, o HERE, en al hulle versinsels teen my; Die lippe van die wat teen my opgestaan het, en hulle plan teen my die hele dag. Kyk hoe hulle gaan sit en hulle opstaan; Ek is hulle musiek. Gee hulle 'n vergelding, o HERE, volgens die werk van hulle hande. Gee hulle droefheid van hart, u vloek vir hulle. Vervolg en vernietig hulle in toorn onder die hemel van die HERE.

KLAAGLIEDERE 3:31-66 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Want die Here laat ’n mens nie vir altyd eenkant nie. Hy bring wel hartseer, maar Hy het ook medelye omdat sy troue liefde so groot is. Hy geniet dit nie wanneer mense seerkry of hartseer is nie. Die leiers van sy volk het gevangenes mishandel. Hulle het mense se regte vertrap in die teenwoordigheid van die Allerhoogste. Hulle behandel mense in die hof onbillik. Hulle dink Hy sien dit nie raak nie. Kan daar iets gebeur as die Here dit nie toelaat nie? Is dit nie die Allerhoogste wat een mens help en ’n ander vernietig nie? Waaroor sal ons kla wanneer ons gestraf word omdat ons oortree het? Laat ons eerder gaan kyk na wat ons gedoen het en daaroor nadink sodat ons kan omdraai na die HERE toe. Laat ons ons harte en hande uitsteek na God daarbo en sê: “Ons was opstandig teen U en het nie na U geluister nie. U het ons nie vergewe nie. “U was so kwaad vir ons dat U ons agternagesit het om ons genadeloos uit te roei. U het agter wolke gaan staan sodat ons gebede U nie kon bereik nie. Tussen die nasies het U ons gemors en vullis gemaak. Al ons vyande rek hulle monde oor ons. Ons is bang. Ons sit vasgehok. Ons is verwoes en eenkant toe gegooi.” Ek huil omdat my volk vernietig is. Ek huil onophoudelik. Dit sal nie ophou voordat die HERE my van bo af raaksien nie. Ek is ontsteld oor die vroue van Jerusalem. My vyande het jag gemaak op my, sonder rede. Hulle wou my vang soos ’n voël. Hulle wou my in ’n waterput verdrink. Hulle het klippe van bo af op my gegooi. Waters het oor my kop gegaan en ek het gedink: “Dit is verby met my.” Van onder in die put, o HERE, het ek na U begin roep. U het my hoor roep: “Moet asseblief nie u ore toedruk wanneer ek roep dat U my moet kom help nie.” Toe ek na U geroep het, het U nadergekom en gesê: “Moenie bang wees nie!” U het my saak verdedig en my lewe gered. U het gesien ek is veronreg. Gee tog uitspraak in my guns! U het gesien watter planne hulle teen my smee. U het gehoor hoe hulle my beledig. U weet van al die planne wat hulle teen my gesmee het. Hulle sit heeldag en sleg praat oor my. Oral waar hulle kom, sing hulle spotliedjies oor my. Betaal hulle terug in eie munt, o HERE, vir alles wat aan my gedoen is. Maak hulle hardkoppig en straf hulle dan daarvoor. Vervolg hulle in u woede. Roei hulle uit van die aarde af.