LEVITIKUS 16:29-34
LEVITIKUS 16:29-34 Bybel vir almal (ABA)
Julle moet altyd dit doen: Julle moenie eet of werk op die tiende dag van die sewende maand nie, die Israeliete moenie werk nie en ook nie die vreemdelinge wat by julle woon nie. Hoekom? Want op hierdie dag moet die hoëpriester vir julle versoening doen en so moet hy julle reinig van julle sonde, sodat julle rein kan wees voor die Here. Hierdie dag moet vir julle 'n spesiale Sabbatdag wees, en julle mag dan nie eet nie. Dit moet altyd so wees. Die priester wat gesalf is om hoëpriester te wees ná sy pa, moet sy linne-klere aantrek, die gewyde klere. Hy moet versoening doen vir die tempel, vir die gewyde kamer, vir die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn, vir die altaar, vir die priesters en vir die hele volk wat daar bymekaar is. Dit moet elke jaar gebeur. Die hoëpriester moet versoening doen vir die Israeliete, sodat die Here al hulle sondes sal vergewe.” Aäron het gedoen soos die Here vir Moses gesê het.
LEVITIKUS 16:29-34 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En dit moet vir julle 'n ewige insetting wees: in die sewende maand, op die tiende van die maand, moet julle jul verootmoedig en géén werk doen nie — die kind van die land sowel as die vreemdeling wat onder julle vertoef. Want op hierdie dag moet hy vir julle versoening doen om julle te reinig; van al julle sondes moet julle voor die aangesig van die HERE rein word. 'n Dag van volkome rus moet dit vir julle wees, en julle moet jul verootmoedig. Dit is 'n ewige insetting. En die priester wat gesalf en aangestel sal word om in die plek van sy vader die priesteramp te bedien, moet die versoening doen; en hy moet die linneklere, die heilige klere, aantrek en versoening doen vir die Allerheiligste; ook moet hy vir die tent van samekoms en die altaar versoening doen, en vir die priesters en die hele volk van die vergadering moet hy versoening doen. En dit moet vir julle 'n ewige insetting wees om vir die kinders van Israel weens al hulle sondes een maal in die jaar versoening te doen. En hy het gedoen soos die HERE Moses beveel het.
LEVITIKUS 16:29-34 Afrikaans 1983 (AFR83)
Julle moet dit as 'n vaste instelling handhaaf dat julle almal, die gebore Israeliete en die vreemdelinge wat by julle woon, moet vas en alle werk moet staak op die tiende dag van die sewende maand, want op dié dag moet daar vir julle versoening gedoen word sodat julle rein kan wees. Julle moet in die teenwoordigheid van die Here gereinig word van al julle sonde. Dit moet 'n plegtige rusdag wees, 'n dag waarop julle vas, 'n vaste instelling. Die priester wat gesalf is en in die plek van sy vader as hoëpriester georden is, moet die versoening doen. Hy moet die gewyde linneklere aantrek, die Allerheiligste, die tent van ontmoeting en die altaar reinig en versoening doen vir die priesters en die hele gemeente. Die versoening vir die sonde van die Israeliete moet 'n vaste instelling wees. Dit moet elke jaar plaasvind.” Aäron het toe gedoen wat die Here vir Moses beveel het.
LEVITIKUS 16:29-34 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“ Dit is 'n voorskrif wat altyd vir julle geld: Die tiende dag van die sewende maand moet julle julle verootmoedig en nie julle daaglikse werk doen nie, die gebore Israeliete sowel as die •vreemdelinge wat tussen julle woon. Want op daardie dag moet Aäron vir julle versoening doen om julle te reinig van al julle sondes. Voor die HERE moet julle rein wees. Dit geld vir julle as 'n buitengewone Sabbat. Julle moet julle verootmoedig. Dit is 'n voorskrif wat altyd geld. Die priester wat in die plek van sy vader as priester gesalf en gewy is, moet die versoening doen. Hy moet linneklere aantrek, die klere van die heiligdom, en vir die Allerheiligste versoening doen. Vir die Tent van Ontmoeting en die altaar moet hy versoening doen. Hy moet ook vir die priesters en al die mense van die geloofsgemeenskap versoening doen. Dit is 'n voorskrif wat altyd vir julle geld: Een keer per jaar moet daar vir die Israeliete versoening gedoen word vir al hulle sondes.” Aäron het toe gedoen wat die HERE Moses beveel het.
LEVITIKUS 16:29-34 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En dit moet vir julle 'n ewige insetting wees: dat julle in die sewende maand, op die tiende dag van die maand, julle siele moet verdruk en geen werk doen nie, of dit een van julle land of 'n vreemdeling is en wat onder julle vertoef: Want op dié dag moet die priester vir julle versoening doen om julle te reinig, sodat julle rein kan word van al julle sondes voor die aangesig van die HERE. Dit moet vir julle 'n sabbat van rus wees, en julle moet julle siele verdruk volgens 'n ewige insetting. En die priester wat hy sal salf en wat hy moet wy om die priesteramp in die plek van sy vader te bedien, moet versoening doen en die linneklere aantrek, naamlik die heilige klere. En hy moet versoening doen vir die heilige heiligdom, en hy moet versoening doen vir die tent van samekoms en vir die altaar, en hy moet versoening doen vir die priesters en vir die hele volk van samekoms. En dit moet vir julle 'n ewige insetting wees om een maal in die jaar vir die kinders van Israel versoening te doen vir al hulle sondes. En hy het gedoen soos die HERE Moses beveel het.
LEVITIKUS 16:29-34 Die Boodskap (DB)
“Julle moet elke jaar op die tiende dag van die sewende maand ’n dag hê waarop julle niks eet nie. Julle moet op daardie dag julle gedagtes laat gaan oor al die dinge wat julle verkeerd gedoen het. Niemand van julle, selfs ook mense wat van ander plekke kom en by julle bly, mag op daardie dag werk nie. Op daardie dag word daar vir julle sondes betaal. Julle word vrygemaak van al die skuld van julle sonde en daar kom weer vrede tussen julle en die Here. Dit is ’n dag vir die Here waarop julle alles net so moet laat staan om te vas en julle voor God te verneder. Dit is ’n afspraak tussen julle en die Here wat vir elke jaar vas staan. Die dienaar wat die Here daarvoor aangestel het en sy seuns wat hom later opvolg in die diens van die Here, moet elke jaar al hierdie dinge doen om vrede met die Here te maak. Hy moet vir dié geleentheid sy spesiale klere aantrek en gaan vrede maak in die deel agter die gordyn wat vir die Here afgesonder is. Hy moet gaan vrede maak vir die hele tent waar die Here julle ontmoet en vir die altaar wat voor die tent staan. Hy moet ook vrede maak by die Here vir die mense wat by die tent werk en vir die hele volk. “Dit moet ’n vaste datum op julle kalender wees dat daar een maal elke jaar ’n dag van vergewing van sonde en vrede vir Israel sal wees.” Moses het presies gedoen soos die Here gesê het.
LEVITIKUS 16:29-34 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Op die tiende dag van die sewende maand moet julle vas en geen werk doen nie. Dit is ’n permanente wet vir julle en dit is van toepassing op alle gebore Israeliete en ook vir die vreemdelinge wat tussen julle woon. Op dié dag sal daar versoening vir julle gedoen word en julle sal van al julle sondes voor die HERE gereinig word. Dit sal ’n Sabbatdag van totale rus wees en julle sal die dag deurbring deur te vas. Dit is ’n permanente wet vir julle. In die toekoms sal die versoeningshandeling gedoen word deur die gesalfde hoëpriester wat in die plek van Aäron sal dien. Hy sal heilige linneklere aantrek, die Allerheiligste plek, die tent van ontmoeting en die altaar reinig en versoening doen vir die priesters en die hele volk. Om een keer elke jaar versoening te doen vir die Israeliete is ’n permanente wet vir julle.” Moses het al hierdie instruksies wat die HERE vir hom gegee het, gevolg.