LEVITIKUS 23:6-8
LEVITIKUS 23:6-8 Bybel vir almal (ABA)
Die Fees van die Ongesuurde Brood begin op die vyftiende dag van dieselfde maand. Dan moet julle sewe dae lank ongesuurde brood eet. Julle moet op die eerste dag bymekaarkom en julle moet julleself wy. Julle mag nie julle werk doen wat julle altyd doen nie. Julle moet vir die Here 'n vuur-offer bring op elkeen van hierdie sewe dae. Op die sewende dag moet julle weer bymekaarkom en julle moet julleself wy. Julle mag dan nie die werk doen wat julle altyd doen nie.”
LEVITIKUS 23:6-8 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
en op die vyftiende dag van hierdie maand is die fees van die ongesuurde brode van die HERE; sewe dae lank moet julle ongesuurde brode eet. Op die eerste dag moet daar vir julle 'n heilige vierdag wees; géén beroepswerk mag julle doen nie. Maar julle moet sewe dae lank aan die HERE 'n vuuroffer bring. Op die sewende dag moet daar 'n heilige vierdag wees; géén beroepswerk mag julle doen nie.
LEVITIKUS 23:6-8 Afrikaans 1983 (AFR83)
Op die vyftiende van dieselfde maand begin die fees van ongesuurde brood tot eer van die Here. Sewe dae moet julle ongesuurde brood eet. Op die eerste dag moet julle 'n gewyde byeenkoms hou: julle mag dan geen werk doen nie. Sewe dae lank moet julle offers aan die Here bring. Die sewende dag moet julle weer 'n gewyde byeenkoms hou, en niemand mag werk nie.”
LEVITIKUS 23:6-8 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Op die vyftiende dag van hierdie maand begin die Fees van Ongesuurde Brood vir die HERE. Sewe dae lank moet julle ongesuurde brood eet. Op die eerste dag moet julle 'n heilige byeenkoms hou. Julle mag geen gewone take verrig nie. Sewe dae lank moet julle daagliks 'n offergawe vir die HERE bring. Op die sewende dag is daar 'n heilige byeenkoms. Julle mag geen gewone take verrig nie.’ ”
LEVITIKUS 23:6-8 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En op die vyftiende dag van dieselfde maand is die fees van die ongesuurde brode tot eer van die HERE; sewe dae lank moet julle ongesuurde brode eet. Op die eerste dag moet daar vir julle 'n heilige samekoms wees; geen dienswerk mag daarby doen nie. Maar sewe dae lank moet julle 'n vuuroffer aan die HERE bring; op die sewende dag is dit 'n heilige samekoms; geen dienswerk mag julle daarin doen nie.
LEVITIKUS 23:6-8 Die Boodskap (DB)
Op die volgende dag, die vyftiende dag, begin die fees van die brode waarin daar nie suurdeeg is nie. Sewe dae lank moet julle brood eet waarin daar nie suurdeeg is nie om die Here te vereer. Op die eerste dag van die fees moet julle ophou met alles waarmee julle besig was en voor die Here bymekaarkom. Op elkeen van die volgende sewe dae moet julle vir die Here ’n offer bring wat verbrand word. Op die sewende dag moet julle weer ophou met al julle werk en weer vir die Here bymekaarkom.”
LEVITIKUS 23:6-8 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die dag na die Paasfees begin die Fees van die Ongesuurde Brood. Die fees vir die HERE hou vir sewe dae lank aan en gedurende dié tyd mag julle net brood eet wat gemaak is sonder suurdeeg. Op die eerste dag van die fees moet die hele volk ophou werk en vir ’n heilige byeenkoms bymekaarkom. Op elk van die volgende sewe dae moet die volk ’n vuuroffer vir die HERE bring. Op die sewende dag moet die volk weer ophou werk om ’n heilige byeenkoms te hou.”