LUKAS 1:57-68
LUKAS 1:57-68 Bybel vir almal (ABA)
Toe Elisabet se baba later gebore is, was dit 'n seuntjie. Haar bure en familie het gehoor dat die Here goed was vir haar en hulle was baie bly saam met haar. Op die agste dag het die mense gekom om die kindjie te besny. Hulle wou hom Sagaria noem. Dit was ook sy pa se naam. Maar sy ma het gesê: “Nee, sy naam moet Johannes wees.” Die mense het vir haar gesê: “Daar is niemand in jou familie wat die naam Johannes het nie.” Hulle het met gebare vir Sagaria gevra wat hy die seuntjie wil noem. Sagaria het gesê hulle moet vir hom 'n skryfbordjie gee en hy het daarop geskryf: “Sy naam is Johannes.” Almal was verbaas. Sagaria kon dadelik weer praat, en hy het God geprys. Al die mense wat daar naby gewoon het, was verbaas en bang. Al die mense het gepraat oor alles wat gebeur het, ook die mense wat in die berge in die provinsie Judea gewoon het. Almal wat daarvan gehoor het, het daaroor gedink en gesê: “Ons wonder wat sal hierdie seuntjie eendag doen.” Almal kon sien die Here was by Johannes. Die Heilige Gees het gekom in Sagaria, Johannes se pa. Sagaria het gepraat soos die profete en hy het gesê: Ons prys die Here, die God van Israel, want Hy het na sy volk toe gekom en Hy het hulle vrygemaak.
LUKAS 1:57-68 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN die tyd dat sy moeder moes word, is vir Elisabet vervul, en sy het 'n seun gebaar. En toe haar bure en bloedverwante hoor dat die Here sy barmhartigheid aan haar groot gemaak het, was hulle saam met haar bly. En op die agtste dag het hulle gekom om die kindjie te besny, en hulle wou hom Sagaría noem, na die naam van sy vader. Toe antwoord sy moeder en sê: Nee, maar hy moet Johannes genoem word. En hulle sê vir haar: Daar is niemand in jou familie wat dié naam het nie. En hulle beduie vir sy vader hoe hy wou hê dat hy genoem moes word. Hy vra toe 'n skryfbordjie en skryf: Johannes is sy naam. En almal was verwonderd. En onmiddellik is sy mond geopen en het sy tong losgeraak, en hy het gepraat en God geloof. En daar het vrees gekom oor almal wat rondom hulle gewoon het, en daar is baie gepraat oor al hierdie dinge in die hele bergstreek van Judéa. En almal wat dit gehoor het, het dit ter harte geneem en gesê: Wat sal tog van hierdie kindjie word? En die hand van die Here was met hom. EN Sagaría, sy vader, is vervul met die Heilige Gees en het geprofeteer en gesê: Geloofd sy die Here, die God van Israel, omdat Hy sy volk besoek het en vir hulle verlossing teweeggebring het
LUKAS 1:57-68 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe die tyd gekom het dat Elisabet se kind gebore moes word, het sy 'n seun in die wêreld gebring. Haar bure en familie het gehoor dat die Here aan haar groot ontferming bewys het, en hulle was saam met haar bly. Op die agste dag het hulle gekom om die kindjie te besny, en hulle wou hom Sagaria noem na sy pa. Maar sy ma het gesê: “Nee! Hy moet Johannes genoem word.” Hulle sê vir haar: “Daar is niemand in jou familie wat die naam het nie!” Met gebare vra hulle toe sy pa hoe hy wil hê dat die kindjie genoem moet word. Hy vra toe 'n skryfbordjie en skryf daarop: “Johannes is sy naam.” En almal was verbaas. Onmiddellik het Sagaria sy spraak teruggekry en begin praat en God geprys. Almal wat rondom hulle gewoon het, is met ontsag vervul, en in die hele bergstreek van Judea is daar baie gepraat oor al hierdie dinge. Almal wat dit gehoor het, het daaroor nagedink en gevra: “Wat sal hierdie kindjie eendag word?” Dit was duidelik dat die Here by hom was. Sagaria, die kindjie se pa, is met die Heilige Gees vervul en het as profeet gesê: “Lofwaardig is die Here, die God van Israel, want Hy het sy volk in genade opgesoek en vir hulle verlossing bewerk.
LUKAS 1:57-68 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Toe die tyd aanbreek dat Elisabet geboorte moes gee, het sy 'n seun in die wêreld gebring. Haar bure en familie het gehoor dat die Here Hom uitsonderlik oor haar ontferm het, en hulle was saam met haar bly. Op die agtste dag het mense toe gekom om die kindjie te besny. Hulle wou hom vernoem na sy vader Sagaria. Maar sy moeder het gesê: “Nee, hy moet Johannes genoem word.” Hulle sê toe vir haar: “Maar daar is niemand in jou familie met dié naam nie.” Hulle het ook met behulp van gebare aan sy vader gevra wat hy wou hê die kindjie genoem moet word. Hy het 'n skryfbordjie gevra en geskryf: “Sy naam is Johannes.” En almal was verbaas. Skielik kon Sagaria sy mond en sy tong weer onbelemmerd gebruik, en hy het God begin prys. Almal wat in die omgewing woon, is toe met ontsag vervul, en in die hele bergstreek van Judea het die mense oor al hierdie gebeure gepraat. Almal wat hiervan gehoor het, het in hulle harte daaroor bly nadink en gewonder: “Waarvoor is hierdie kindjie bestem?” Die hand van die Here was werklik met hom. Sagaria, sy pa, is hierna met die Heilige Gees vervul en het geprofeteer en gesê: “Lofwaardig is die Here, die God van Israel, want Hy het omgesien na sy volk en hulle bevryding bewerkstellig.
LUKAS 1:57-68 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Nou het Elisabeth se volle tyd gekom dat sy verlos sou word; en sy het 'n seun gebaar. En haar bure en haar niggies het gehoor hoe die Here groot genade aan haar bewys het; en hulle was saam met haar bly. En dit het gebeur dat hulle op die agtste dag gekom het om die seuntjie te besny; en hulle het hom Sagaria genoem, na die naam van sy vader. En sy moeder antwoord en sê: Nie so nie; maar hy sal Johannes genoem word. En hulle sê vir haar: Daar is niemand van jou familie wat hierdie naam genoem word nie. En hulle het vir sy vader tekens gemaak hoe hy hom wou laat roep. En hy het 'n skryftafel gevra en geskryf en gesê: Sy naam is Johannes. En hulle het almal verwonder. En dadelik is sy mond geopen, en sy tong het losgegaan, en hy het gespreek en God geprys. En vrees het gekom oor almal wat rondom hulle gewoon het, en al hierdie woorde is opgehef in die hele gebergte van Judéa. En almal wat dit gehoor het, het dit in hulle harte opgelê en gesê: Watter kind sal dit wees? En die hand van die Here was met hom. En sy vader Sagaria is vervul met die Heilige Gees en het geprofeteer en gesê: Geloofd sy die Here, God van Israel; want Hy het sy volk besoek en verlos
LUKAS 1:57-68 Die Boodskap (DB)
Kort daarna het Elisabet ’n seun gehad. Haar vriende en familie was baie bly saam met haar. “Die Here was baie goed vir haar,” het hulle almal gesê. Agt dae na sy geboorte het Sagaria en Elisabet hulle kindjie laat besny. Die res van die familie wou hom Sagaria noem. Maar Elisabet het hulle gekeer. “Nee, wag! Sy naam moet Johannes wees.” “Hoekom? Daar is dan niemand in jou familie met die naam Johannes nie,” het hulle haar verbaas gevra. “Kom ons vind uit wat Sagaria dink,” het hulle toe gesê. Hulle het met handgebare vir hom gevra hoe hy sy seun genoem wou hê. Sagaria het beduie dat iemand vir hom ’n stukkie papier en ’n skryfding moet bring. Daarop skryf hy toe: “Sy naam is Johannes.” Almal was uit die veld geslaan daaroor. Terwyl almal nog verwonderd rondstaan, het Sagaria se stem skielik teruggekeer. Hy kon nou weer praat. Dadelik het hy God se Naam begin loof en prys. Die hele omgewing is diep geraak deur alles wat met Sagaria en Elisabet gebeur het. Almal was bewus van God se grootheid. Hulle kon eenvoudig nie ophou praat oor hierdie wonderwerk nie. “Wat lê nog alles vir hierdie kind voor?” het die mense onder mekaar gevra. Almal kon sien dat God by Johannes was. Die Heilige Gees het Sagaria vervul. Hy het toe oor God se verlossingsplan begin praat en sy Naam grootgemaak: “Loof die Here, die God van Israel! Hy het na sy volk toe gekom. Hy het hulle kom verlos. God het ’n magtige Redder na ons toe gestuur.
LUKAS 1:57-68 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Toe die tyd aangebreek het vir Elisabet se kind om gebore te word, het sy ’n seun in die wêreld gebring. Die nuus het vinnig onder haar bure en familie versprei dat die Here Hom oor haar ontferm het en almal was saam met haar bly. Toe die kindjie agt dae oud was, het al die familie en vriende bymekaargekom vir sy besnydenis. Hulle wou hom Sagaria noem, na sy pa. Maar Elisabet het gesê: “Nee! Sy naam is Johannes!” “Maar daar is dan niemand in jou familie met die naam nie,” het hulle gesê. Met gebare vra hulle toe die kindjie se pa. Daarop beduie hy dat ’n skryfbordjie gebring moet word, en tot almal se verbasing skryf hy: “Sy naam is Johannes!” Hy kon dadelik weer praat, en hy het God onmiddellik begin prys. Die hele buurt is met ontsag vervul en die nuus oor wat gebeur het, het oral deur die Judese heuwelland versprei. Almal wat daarvan gehoor het, het daaroor nagedink en gevra: “Wat sal eendag van hierdie kindjie word?” Want die hand van die Here was duidelik op hom. Sy pa, Sagaria, is hierna met die Heilige Gees vervul en het as profeet gesê: “Prys die Here, die God van Israel, want Hy het sy volk opgesoek en hulle gered.