LUKAS 10:33-42

LUKAS 10:33-42 Bybel vir almal (ABA)

'n Samaritaan het daar aangekom op dieselfde pad. Toe hy by die man kom en hom sien, was hy baie jammer vir hom. Hy het nader gegaan, hy het die man se seerplekke toegedraai, en olyf-olie en wyn daarop gegooi. Die Samaritaan het sy donkie nader gebring. Hy het die man op die donkie laat ry en hy het hom na 'n herberg geneem. Daar het hy goed vir hom gesorg. Die volgende dag het hy twee silwer geldstukke uitgehaal, en hy het dit vir die eienaar van die herberg gegee. Hy het vir hom gesê: ‘Jy moet goed sorg vir die man, en as hierdie geld nie genoeg is nie, dan sal ek vir jou nog gee wanneer ek weer hier verbykom.’ ” Jesus vra toe vir die skrifgeleerde: “Wat dink jy? Wie van hierdie drie mense het 'n naaste geword van die man vir wie daardie manne aangeval het?” Die skrifgeleerde het gesê: “Daardie man wat jammer was vir hom en wat hom gehelp het.” Toe sê Jesus vir die skrifgeleerde: “Gaan, en doen wat die Samaritaan gedoen het.” Jesus en sy dissipels het verder gegaan. Hulle kom toe by 'n dorpie. 'n Vrou het Hom genooi om in haar huis te kom. Die vrou se naam was Marta. Haar suster se naam was Maria. Maria het by die voete van die Here gaan sit en sy het geluister na alles wat Hy sê. Maar Marta was baie besig om vir al die mense in die huis kos te gee. Sy kom toe na Jesus toe en sê: “Here, my suster los my alleen om al die mense te bedien. Dink U dit is reg? Sê vir haar sy moet my kom help.” Maar die Here het vir haar gesê: “Marta, Marta, jy is bekommerd oor so baie dinge en jy maak jou moeg daaroor. Maar daar is een ding wat belangriker is as alles, en Maria het hierdie een ding gekies, en niemand sal dit wegneem van haar nie.”