LUKAS 11:1-13
LUKAS 11:1-13 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Op 'n keer het Jesus op 'n sekere plek gebid, en toe Hy klaar was, het een van sy dissipels vir Hom gesê: “Here, leer ons bid, soos ook Johannes sy dissipels geleer het. ” Hy het vir hulle gesê: “Wanneer julle bid, moet julle sê, “ ‘Vader, laat u Naam geheilig word. Laat u •koninkryk kom. Gee ons elke dag ons daaglikse brood en vergeef ons ons sondes; want ook ons vergeef elkeen wat teenoor ons skuldig staan. En bring ons nie in versoeking nie.’ ” Hierna het Hy vir hulle gesê: “Gestel een van julle het 'n vriend, en hy gaan om middernag na hom en sê vir hom, ‘Vriend, leen tog vir my drie brode, want 'n vriend van my wat op reis is, het by my aangekom en ek het niks om vir hom voor te sit nie.’ En daardie man antwoord van binne af, ‘Moet my nie pla nie! Die deur is al gesluit, en ek en my kindertjies is al in die bed. Ek kan nie opstaan om dit vir jou te gee nie.’ Ek sê vir julle, selfs al staan hy nie op om dit vir hom te gee omdat hy sy vriend is nie, sal hy tog opstaan en vir hom gee wat hy nodig het, omdat die man so onbeskaamd aanhou. Ek sê vir julle: “Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word. Want elkeen wat vra, ontvang; en wie soek, vind; en vir wie klop, sal oopgemaak word. “Watter vader onder julle sal, as sy seun hom 'n vis vra, hom 'n slang in plaas van 'n vis gee? Of as hy 'n eier vra, vir hom 'n skerpioen gee? As julle wat sleg is, dan weet om goeie geskenke aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal die hemelse Vader die Heilige Gees gee aan hulle wat Hom vra!”
LUKAS 11:1-13 Die Boodskap (DB)
Kort daarna het Jesus verder gereis. By een van die plekke waar hulle oorgebly het, het Hy gaan bid. Toe Jesus klaar gebid het, vra een van sy volgelinge Hom: “Here, leer ons asseblief ook om reg met God te praat. Weet U, Johannes die Doper leer sy volgelinge hoe om te bid.” Jesus sê toe vir hom: “Hier is ’n voorbeeld van hoe julle met God moet praat: “Ons Vader, laat almal op aarde groot eerbied vir u heilige Naam hê. Laat u nuwe wêreld tog gou aanbreek. Gee ons asseblief elke dag genoeg om van te leef. Vergeef ons waar ons nie doen wat U van ons vra nie, net soos ons almal vergewe wat nie reg teenoor ons optree nie. En help ons om nooit te swig voor versoekings nie.” Daarna het Jesus vir sy volgelinge ’n verhaal vertel: “Stel julle die volgende toneel voor: ’n vriend kom onverwags in die middel van die nag by ’n man se huis aan. Hy staan toe dadelik op en nooi hom in. Hy wou vir sy vriend iets te ete gee, maar ontdek toe daar is nie ’n krieseltjie kos in sy huis nie. Hy stap toe gou oor na ’n ander goeie vriend van hom en klop hom wakker. ‘Ag, ek is verskriklik jammer om jou so laat in die nag lastig te val. Maar ’n goeie vriend van my het uit die bloute daar by my aangekom. En my huis is dolleeg. Ek het nie ’n stukkie kos om hom aan te bied nie. Kan jy my nie met drie broodjies uithelp nie?’ Wel, wat dink julle was die reaksie van hierdie ander vriend toe hy in die middel van die nag wakker geklop is? Dink julle hy het daar uit sy bed geskree: ‘Gee pad! Die deur is gesluit. My vrou en kinders slaap lankal. Ek gaan definitief nie nou opstaan om vir jou ’n brood te gee nie’? “Nee, natuurlik nie. Goeie vriende help mekaar. Ek sê vir julle, hierdie man sal dadelik opstaan en vir sy vriend brood gee. Ook al doen hy dit nie omdat hulle vriende is nie, sal hy dit doen omdat hy die man jammer kry wat so laat in die nag kos kom soek. “Weet julle, God is net soos hierdie vriend. Daarom sê Ek vir julle: vra en God sal vir julle gee. Soek en julle sal kry. Klop aan God se hemelse deur en Hy sal vir julle kom oopmaak. Want elkeen wat vra, ontvang; elkeen wat soek, kry, en elkeen wat klop, tref uiteindelik ’n oop hemelse deur aan. “Wie van julle wat ’n pa is, sal vir julle kind ’n slang gee as hy julle ’n stukkie vis vra om te eet? As hy vir ’n eier vra, gee julle hom mos nie iets boos soos ’n skerpioen nie. Nou ja, God maak ook nie so met sy kinders nie. As julle klomp slegte mense net goeie dinge vir julle eie kinders gee, hoeveel te meer sal julle hemelse Vader dit dan nie doen nie? Ek verseker julle: Hy sal selfs die Heilige Gees met sy groot krag gee aan almal wat ernstig tot Hom bid.”
LUKAS 11:1-13 Bybel vir almal (ABA)
Eendag was Jesus besig om te bid. Toe Hy klaar gebid het, sê een van sy dissipels vir Hom: “Here, leer vir ons hoe ons moet bid, soos Johannes die Doper ook vir sy dissipels geleer het.” Jesus sê toe vir hulle: “Wanneer julle bid, dan moet julle sê: “Vader, ons bid dat al die mense u heilige Naam sal eer omdat U God is. Ons bid dat die tyd moet kom wanneer almal sal weet U is Koning. Gee vir ons die kos wat ons elke dag nodig het. En vergewe ons alles wat ons verkeerd gedoen het, want ons vergewe ook ander mense wat teen ons verkeerd gedoen het. Help ons dat niks sal gebeur wat ons verkeerd sal laat doen nie.” Jesus het vir hulle nog meer geleer oor gebed. Hy het gesê: “Dink aan 'n goeie vriend van jou, 'n vriend vir wie jy enige iets kan vra. Jy gaan in die middel van die nag na jou vriend toe en jy vra vir hom: ‘My vriend, leen asseblief vir my drie brode, want 'n ander vriend van my het nou skielik by my aangekom. Hy het ver geloop, en ek het niks wat ek vir hom kan gee om te eet nie.’ ” Jesus vra toe vir hulle: “Wat dink jy sal jou goeie vriend wat in sy huis is, antwoord? Sal hy sê: ‘Jy moenie vir my pla nie. Ek het al klaar die deur gesluit, en my kinders is saam met my in die bed. Ek kan nie nou opstaan en vir jou brood gee nie.’ Dink julle hy sal dit sê? Nee, Ek sê vir julle, hy sal dadelik opstaan en vir jou die brood gee. Hy sal opstaan en vir jou alles gee wat jy nodig het, omdat jy sy vriend is. Hy sal dit vir jou doen omdat jy sy vriend is. En as hy dit nie dáárom doen nie, dan sal hy dit doen omdat jy aangehou het om te vra. Daarom sê Ek vir julle: Julle moet aanhou bid, dan sal God vir julle gee. Julle moet aanhou soek, dan sal God vir julle gee wat julle soek. Julle moet aanhou klop, dan sal God die deur vir julle oopmaak. Elke mens wat aanhou bid, sal ontvang. Elke mens wat aanhou soek, sal kry. Elke mens wat aanhou klop, vir hom sal God die deur oopmaak. Wanneer 'n seun vir sy pa 'n vis vra, dan sal sy pa nie vir hom 'n slang gee nie. En wanneer die seun vir sy pa 'n eier vra, dan sal sy pa nie vir hom 'n skerpioen gee nie. Julle is slegte mense, maar julle weet om goeie dinge vir julle kinders te gee. Julle Vader in die hemel wil vir julle iets gee wat nog beter is. Hy wil die Heilige Gees uit die hemel gee vir die mense wat dit vir Hom vra.”
LUKAS 11:1-13 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN toe Hy op 'n sekere plek besig was om te bid, sê een van sy dissipels vir Hom nadat Hy opgehou het: Here, leer ons bid, soos Johannes ook sy dissipels geleer het. En Hy sê vir hulle: Wanneer julle bid, sê: Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde; gee ons elke dag ons daaglikse brood; en vergeef ons ons sondes, want ons vergewe ook elkeen wat aan ons skuldig is; en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose. EN Hy het vir hulle gesê: Wie van julle sal 'n vriend hê en sal middernag na hom gaan en vir hom sê: Vriend, leen my drie brode, want 'n vriend van my het van 'n reis by my aangekom, en ek het niks om aan hom voor te sit nie — en dié van binnekant sal antwoord en sê: Moenie my lastig val nie; die deur is al gesluit, en my kinders is saam met my al in die bed; ek kan nie opstaan om vir jou te gee nie. Ek sê vir julle, al sou hy ook nie opstaan en vir hom gee omdat hy sy vriend is nie, sal hy tog ter wille van sy onbeskaamdheid opstaan en hom gee soveel as hy nodig het. En Ek sê vir julle: Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word. Want elkeen wat bid, ontvang; en hy wat soek, vind; en vir hom wat klop, sal oopgemaak word. En vir watter vader onder julle sal sy seun brood vra, en hy sal hom 'n klip gee; of ook 'n vis, en hy sal hom in plaas van 'n vis 'n slang gee; of ook as hy 'n eier vra, hom 'n skerpioen gee? As julle dan wat sleg is, weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal die hemelse Vader die Heilige Gees gee aan die wat Hom bid?
LUKAS 11:1-13 Afrikaans 1983 (AFR83)
Jesus was êrens op 'n plek besig om te bid. Toe Hy klaar was, sê een van sy dissipels vir Hom: “Here, leer ons bid, soos Johannes ook sy volgelinge geleer het.” En Hy sê vir hulle: “Wanneer julle bid, sê dan: “Vader, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom. Gee ons elke dag ons daaglikse brood; en vergeef ons ons sondes, want ons vergewe ook elkeen wat teen ons oortree; en laat ons nie in versoeking kom nie.” Verder sê Hy vir hulle: “Sê nou een van julle het 'n vriend, en jy gaan in die middel van die nag na hom toe en jy vra: ‘Vriend, leen my bietjie drie brode, want 'n vriend van my wat op reis is, het by my aangekom, en ek het niks om vir hom voor te sit nie.’ En die ander antwoord van binne af: ‘Moet my nie lastig val nie! Die deur is al gesluit, en ek en my kinders is al in die bed. Ek kan nie opstaan om dit vir jou te gee nie ...’ Ek sê vir julle: Al sou hy nie opstaan en dit vir hom gee omdat hy sy vriend is nie, sal hy tog opstaan en hom alles gee wat hy nodig het, omdat hy hom nie skaam om aan te hou vra nie. “Ek sê vir julle: Vra, en vir julle sal gegee word. Soek, en julle sal kry. Klop, en vir julle sal oopgemaak word. Elkeen wat vra, ontvang, en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word. Is daar 'n pa onder julle wat as sy seun vir hom 'n vis vra, vir hom 'n slang sal gee in plaas van die vis? Of as hy 'n eier vra, vir hom 'n skerpioen sal gee? As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee – die Vader in die hemel nog baie meer! Hy sal die Heilige Gees gee vir dié wat vra.”
LUKAS 11:1-13 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En terwyl Hy op 'n sekere plek besig was om te bid, het een van sy dissipels, toe Hy opgehou het, vir Hom gesê: Here, leer ons bid, soos Johannes ook sy dissipels geleer het. En Hy sê vir hulle: Wanneer julle bid, sê: Onse Vader wat in die hemele is, laat U Naam geheilig word. U koninkryk kom. U wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons dag vir dag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes; want ons vergewe ook elkeen wat aan ons skuldig is. En lei ons nie in versoeking nie; maar verlos ons van die bose. En Hy sê vir hulle: Wie van julle sal 'n vriend hê, en sal middernag na hom toe gaan en vir hom sê: Vriend, leen my drie brode; Want 'n vriend van my op sy reis het na my toe gekom, en ek het niks om hom voor te gee nie? En hy sal van binne antwoord en sê: Verontrust my nie; die deur is nou gesluit, en my kinders is saam met my in die bed; Ek kan nie opstaan en jou gee nie. Ek sê vir julle, al sal hy nie opstaan en hom gee nie, omdat hy sy vriend is, maar weens sy belediging sal hy opstaan en hom soveel gee as wat hy nodig het. En Ek sê vir julle: Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word. Want elkeen wat bid, ontvang; en hy wat soek, vind; en vir hom wat klop, sal oopgemaak word. As 'n seun van een van julle wat 'n vader is, brood vra, sal hy vir hom 'n klip gee? of as hy 'n vis vra, sal hy vir 'n vis vir hom 'n slang gee? Of as hy 'n eier vra, sal hy vir hom 'n skerpioen aanbied? As julle dan wat sleg is, weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle hemelse Vader die Heilige Gees gee aan die wat Hom bid?
LUKAS 11:1-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Eenmaal was Jesus êrens besig om te bid. Toe Hy klaar was, het een van sy dissipels na Hom gekom en gesê: “Here, leer ons om te bid, net soos Johannes sy dissipels geleer het.” Hy het geantwoord: “Dit is hoe julle moet bid: ‘Vader, laat u Naam geheilig word. Laat u koningsheerskappy begin. Gee ons die porsie brood wat ons vir elke dag nodig het. En vergewe ons ons sondes, net soos ons dié wat teen ons gesondig het, vergewe. En bring ons nie in die versoeking nie.’” Toe, om hulle meer van gebed te leer, het Hy hierdie voorbeeld gebruik: “Gestel jy gaan in die middel van die nag na ’n vriend se huis om drie brode te leen en jy sê vir hom: ‘’n Vriend van my het pas aangekom vir ’n besoek, en ek het niks vir hom om te eet nie,’ en hy sou uit sy slaapkamer antwoord: ‘Moet my nie pla nie. Die deur is gesluit vir die nag, en ons is almal in die bed. Ek kan jou nie nou help nie.’ Nee, Ek sê vir julle, al sou hy dit nie as vriend doen nie, as jy net lank genoeg aanhou klop, sal hy vanweë jou onbeskaamdheid opstaan en vir jou gee wat jy nodig het. “En so sê Ek vir julle, hou aan vra, en vir julle sal gegee word wat julle vra. Hou aan soek, en julle sal vind. Hou aan klop, en die deur sal oopgemaak word. Want enigeen wat vra, ontvang. Enigeen wat soek, vind. En die deur word oopgemaak vir enigeen wat klop. “Julle vaders – as julle kinders vir ’n vis vra, gee julle dan vir hulle ’n slang? Of as hulle ’n eier vra, gee julle dan vir hulle ’n skerpioen? Natuurlik nie! As julle sondige mense dan weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle hemelse Vader die Heilige Gees gee vir hulle wat Hom vra.”