LUKAS 11:1-23
LUKAS 11:1-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Eenmaal was Jesus êrens besig om te bid. Toe Hy klaar was, het een van sy dissipels na Hom gekom en gesê: “Here, leer ons om te bid, net soos Johannes sy dissipels geleer het.” Hy het geantwoord: “Dit is hoe julle moet bid: ‘Vader, laat u Naam geheilig word. Laat u koningsheerskappy begin. Gee ons die porsie brood wat ons vir elke dag nodig het. En vergewe ons ons sondes, net soos ons dié wat teen ons gesondig het, vergewe. En bring ons nie in die versoeking nie.’” Toe, om hulle meer van gebed te leer, het Hy hierdie voorbeeld gebruik: “Gestel jy gaan in die middel van die nag na ’n vriend se huis om drie brode te leen en jy sê vir hom: ‘’n Vriend van my het pas aangekom vir ’n besoek, en ek het niks vir hom om te eet nie,’ en hy sou uit sy slaapkamer antwoord: ‘Moet my nie pla nie. Die deur is gesluit vir die nag, en ons is almal in die bed. Ek kan jou nie nou help nie.’ Nee, Ek sê vir julle, al sou hy dit nie as vriend doen nie, as jy net lank genoeg aanhou klop, sal hy vanweë jou onbeskaamdheid opstaan en vir jou gee wat jy nodig het. “En so sê Ek vir julle, hou aan vra, en vir julle sal gegee word wat julle vra. Hou aan soek, en julle sal vind. Hou aan klop, en die deur sal oopgemaak word. Want enigeen wat vra, ontvang. Enigeen wat soek, vind. En die deur word oopgemaak vir enigeen wat klop. “Julle vaders – as julle kinders vir ’n vis vra, gee julle dan vir hulle ’n slang? Of as hulle ’n eier vra, gee julle dan vir hulle ’n skerpioen? Natuurlik nie! As julle sondige mense dan weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle hemelse Vader die Heilige Gees gee vir hulle wat Hom vra.” Eendag het Jesus ’n bose gees uit ’n man uitgedryf wat nie kon praat nie, en die man se stem het teruggekeer. Die skare was verstom, maar sommige het gesê: “Geen wonder Hy kan bose geeste uitdryf nie. Hy kry sy krag van Satan, die prins van bose geeste!” Om Jesus te toets het ander vir ’n wonderteken uit die hemel gevra om te sien of Hy van God kom. Hy het hulle gedagtes geken; daarom het Hy gesê: “Enige koninkryk wat teen homself stryd voer, is gedoem. En ’n verdeelde huis is ook gedoem. Julle sê mos Ek kry my mag deur die prins van bose geeste. Maar as Satan teen homself veg deur My mag te gee om bose geeste uit te dryf, hoe kan sy koninkryk voortbestaan? En as Ek deur die prins van bose geeste mag kry, wat van julle eie volgelinge? Hulle dryf ook bose geeste uit; dus sal hulle julle veroordeel vir wat julle gesê het. Maar as Ek bose geeste uitdryf deur die krag van God, dan het die koningsheerskappy van God tot by julle gekom. Want wanneer Satan, wat ten volle gewapen is, sy paleis bewaak, is dit veilig – totdat iemand wat sterker is, hom aanval en oorweldig en sy wapens afneem en wat hy van ander gesteel het, uitdeel. “Enigiemand wat My nie help nie, weerstaan My; en enigiemand wat nie saam met My die skape bymekaarmaak nie, is besig om hulle uitmekaar te jaag.”
LUKAS 11:1-23 Bybel vir almal (ABA)
Eendag was Jesus besig om te bid. Toe Hy klaar gebid het, sê een van sy dissipels vir Hom: “Here, leer vir ons hoe ons moet bid, soos Johannes die Doper ook vir sy dissipels geleer het.” Jesus sê toe vir hulle: “Wanneer julle bid, dan moet julle sê: “Vader, ons bid dat al die mense u heilige Naam sal eer omdat U God is. Ons bid dat die tyd moet kom wanneer almal sal weet U is Koning. Gee vir ons die kos wat ons elke dag nodig het. En vergewe ons alles wat ons verkeerd gedoen het, want ons vergewe ook ander mense wat teen ons verkeerd gedoen het. Help ons dat niks sal gebeur wat ons verkeerd sal laat doen nie.” Jesus het vir hulle nog meer geleer oor gebed. Hy het gesê: “Dink aan 'n goeie vriend van jou, 'n vriend vir wie jy enige iets kan vra. Jy gaan in die middel van die nag na jou vriend toe en jy vra vir hom: ‘My vriend, leen asseblief vir my drie brode, want 'n ander vriend van my het nou skielik by my aangekom. Hy het ver geloop, en ek het niks wat ek vir hom kan gee om te eet nie.’ ” Jesus vra toe vir hulle: “Wat dink jy sal jou goeie vriend wat in sy huis is, antwoord? Sal hy sê: ‘Jy moenie vir my pla nie. Ek het al klaar die deur gesluit, en my kinders is saam met my in die bed. Ek kan nie nou opstaan en vir jou brood gee nie.’ Dink julle hy sal dit sê? Nee, Ek sê vir julle, hy sal dadelik opstaan en vir jou die brood gee. Hy sal opstaan en vir jou alles gee wat jy nodig het, omdat jy sy vriend is. Hy sal dit vir jou doen omdat jy sy vriend is. En as hy dit nie dáárom doen nie, dan sal hy dit doen omdat jy aangehou het om te vra. Daarom sê Ek vir julle: Julle moet aanhou bid, dan sal God vir julle gee. Julle moet aanhou soek, dan sal God vir julle gee wat julle soek. Julle moet aanhou klop, dan sal God die deur vir julle oopmaak. Elke mens wat aanhou bid, sal ontvang. Elke mens wat aanhou soek, sal kry. Elke mens wat aanhou klop, vir hom sal God die deur oopmaak. Wanneer 'n seun vir sy pa 'n vis vra, dan sal sy pa nie vir hom 'n slang gee nie. En wanneer die seun vir sy pa 'n eier vra, dan sal sy pa nie vir hom 'n skerpioen gee nie. Julle is slegte mense, maar julle weet om goeie dinge vir julle kinders te gee. Julle Vader in die hemel wil vir julle iets gee wat nog beter is. Hy wil die Heilige Gees uit die hemel gee vir die mense wat dit vir Hom vra.” Jesus was besig om 'n duiwel uit 'n man te jaag. Die duiwel het die man stom gemaak. Nadat die duiwel uitgegaan het, kon die man weer praat. Al die mense was verbaas. Maar party mense het gesê: “ Beëlsebul, die leier van die duiwels, help vir Jesus om die duiwels uit te jaag.” Ander mense wou vir Jesus toets, hulle wou hê Jesus moet bewys dat Hy van God kom. Hulle wou hê Hy moet vir hulle 'n wonderteken wys. Maar Jesus het geweet wat hulle dink, en daarom het Hy vir hulle gesê: “Vyande sal enige land oorwin waar die mense nie met mekaar kan saamwerk nie. Hulle sal al die huise afbreek, die een huis ná die ander huis. As die Satan teen homself is, dan kan hy niks meer doen nie en hy kan oor niemand regeer nie. Julle sê Beëlsebul help My om die duiwels uit te jaag. En as Beëlsebul My help om duiwels uit te jaag uit mense, wie help vir julle leerlinge om duiwels uit mense uit te jaag? Julle eie leerlinge bewys dat julle verkeerd is. Dit is die krag van God wat My help om duiwels uit te jaag. Dit bewys dat God die Koning is wat begin het om oor julle te regeer. 'n Sterk man wat baie wapens het en wat sy huis goed oppas, sy goed is veilig. Maar as 'n ander man wat sterker is, hom aanval en wen, dan vat die sterker man al die wapens wat die sterk man gedink het sal hom help en beskerm. Dan gee die sterker man alles wat hy gevat het, vir ander mense. Iemand wat nie vir My is nie, is teen My. Iemand wat My nie help om mense na God toe te bring nie, jaag die mense weg van Hom.”
LUKAS 11:1-23 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN toe Hy op 'n sekere plek besig was om te bid, sê een van sy dissipels vir Hom nadat Hy opgehou het: Here, leer ons bid, soos Johannes ook sy dissipels geleer het. En Hy sê vir hulle: Wanneer julle bid, sê: Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde; gee ons elke dag ons daaglikse brood; en vergeef ons ons sondes, want ons vergewe ook elkeen wat aan ons skuldig is; en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose. EN Hy het vir hulle gesê: Wie van julle sal 'n vriend hê en sal middernag na hom gaan en vir hom sê: Vriend, leen my drie brode, want 'n vriend van my het van 'n reis by my aangekom, en ek het niks om aan hom voor te sit nie — en dié van binnekant sal antwoord en sê: Moenie my lastig val nie; die deur is al gesluit, en my kinders is saam met my al in die bed; ek kan nie opstaan om vir jou te gee nie. Ek sê vir julle, al sou hy ook nie opstaan en vir hom gee omdat hy sy vriend is nie, sal hy tog ter wille van sy onbeskaamdheid opstaan en hom gee soveel as hy nodig het. En Ek sê vir julle: Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word. Want elkeen wat bid, ontvang; en hy wat soek, vind; en vir hom wat klop, sal oopgemaak word. En vir watter vader onder julle sal sy seun brood vra, en hy sal hom 'n klip gee; of ook 'n vis, en hy sal hom in plaas van 'n vis 'n slang gee; of ook as hy 'n eier vra, hom 'n skerpioen gee? As julle dan wat sleg is, weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal die hemelse Vader die Heilige Gees gee aan die wat Hom bid? EN Hy het 'n duiwel uitgedryf, en dié was stom. En toe die duiwel uitgaan, het die stom man gepraat; en die skare het hulle verwonder. Maar sommige van hulle sê: Deur Beëlsebul, die owerste van die duiwels, dryf Hy die duiwels uit. En ander het Hom versoek en van Hom 'n teken uit die hemel begeer. Maar Hy het hulle gedagtes geken en vir hulle gesê: Elke koninkryk wat teen homself verdeeld is, word verwoes; en 'n huis wat teen homself is, val. En as die Satan ook teen homself verdeeld is, hoe sal sy koninkryk bly staan? Want julle sê dat Ek deur Beëlsebul die duiwels uitdryf. En as Ek deur Beëlsebul die duiwels uitdryf, deur wie dryf julle seuns hulle uit? Daarom sal hulle jul regters wees. Maar as Ek deur die vinger van God die duiwels uitdryf, dan het die koninkryk van God waarlik by julle gekom. Wanneer 'n sterk man wat goed gewapend is, sy huis bewaak, is sy besittings in veiligheid. Maar as een hom oorval wat sterker is as hy en hom oorwin, neem hy sy volle wapenrusting weg waar hy op vertrou het, en deel sy buit uit. Hy wat nie met My is nie, is teen My; en hy wat nie saam met My versamel nie, verstrooi.
LUKAS 11:1-23 Afrikaans 1983 (AFR83)
Jesus was êrens op 'n plek besig om te bid. Toe Hy klaar was, sê een van sy dissipels vir Hom: “Here, leer ons bid, soos Johannes ook sy volgelinge geleer het.” En Hy sê vir hulle: “Wanneer julle bid, sê dan: “Vader, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom. Gee ons elke dag ons daaglikse brood; en vergeef ons ons sondes, want ons vergewe ook elkeen wat teen ons oortree; en laat ons nie in versoeking kom nie.” Verder sê Hy vir hulle: “Sê nou een van julle het 'n vriend, en jy gaan in die middel van die nag na hom toe en jy vra: ‘Vriend, leen my bietjie drie brode, want 'n vriend van my wat op reis is, het by my aangekom, en ek het niks om vir hom voor te sit nie.’ En die ander antwoord van binne af: ‘Moet my nie lastig val nie! Die deur is al gesluit, en ek en my kinders is al in die bed. Ek kan nie opstaan om dit vir jou te gee nie ...’ Ek sê vir julle: Al sou hy nie opstaan en dit vir hom gee omdat hy sy vriend is nie, sal hy tog opstaan en hom alles gee wat hy nodig het, omdat hy hom nie skaam om aan te hou vra nie. “Ek sê vir julle: Vra, en vir julle sal gegee word. Soek, en julle sal kry. Klop, en vir julle sal oopgemaak word. Elkeen wat vra, ontvang, en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word. Is daar 'n pa onder julle wat as sy seun vir hom 'n vis vra, vir hom 'n slang sal gee in plaas van die vis? Of as hy 'n eier vra, vir hom 'n skerpioen sal gee? As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee – die Vader in die hemel nog baie meer! Hy sal die Heilige Gees gee vir dié wat vra.” Jesus het op 'n keer 'n bose gees uitgedryf uit iemand wat nie kon praat nie. Net nadat die bose gees uitgegaan het, het die stom man begin praat. Die mense het hulle verwonder, maar party van hulle het gesê: “Dit is met die hulp van Beëlsebul, die aanvoerder van die bose geeste, dat hy geeste uitdrywe.” Ander wou Hom op die proef stel deur van Hom 'n wonderteken uit die hemel te vra. Maar Hy het hulle gedagtes geken en vir hulle gesê: “Elke koninkryk wat onderling verdeeld is, gaan te gronde, en 'n huisgesin wat onderling verdeeld is, spat uitmekaar. As die Satan dan teen homself verdeeld is, hoe kan sy ryk bly staan? Julle sê mos Ek dryf bose geeste uit met die hulp van Beëlsebul. As Ek wel deur Beëlsebul bose geeste uitdryf, met wie se hulp doen julle eie volgelinge dit dan? Dus, hulle bewys self dat julle verkeerd is. Aangesien Ek dus deur die vinger van God bose geeste uitdryf, het die koninkryk van God inderdaad tot by julle gekom. “Wanneer 'n sterk man hom goed bewapen en sy huis bewaak, is al sy besittings veilig. Maar as daar een kom wat sterker as hy is en hom oorwin, neem hy al die wapens af waarop hy hom verlaat het, en hy verdeel sy besittings as buit. “Wie nie aan my kant is nie, is teen My. En wie nie saam met My die skape bymekaarmaak nie, jaag hulle uitmekaar.”
LUKAS 11:1-23 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Op 'n keer het Jesus op 'n sekere plek gebid, en toe Hy klaar was, het een van sy dissipels vir Hom gesê: “Here, leer ons bid, soos ook Johannes sy dissipels geleer het. ” Hy het vir hulle gesê: “Wanneer julle bid, moet julle sê, “ ‘Vader, laat u Naam geheilig word. Laat u •koninkryk kom. Gee ons elke dag ons daaglikse brood en vergeef ons ons sondes; want ook ons vergeef elkeen wat teenoor ons skuldig staan. En bring ons nie in versoeking nie.’ ” Hierna het Hy vir hulle gesê: “Gestel een van julle het 'n vriend, en hy gaan om middernag na hom en sê vir hom, ‘Vriend, leen tog vir my drie brode, want 'n vriend van my wat op reis is, het by my aangekom en ek het niks om vir hom voor te sit nie.’ En daardie man antwoord van binne af, ‘Moet my nie pla nie! Die deur is al gesluit, en ek en my kindertjies is al in die bed. Ek kan nie opstaan om dit vir jou te gee nie.’ Ek sê vir julle, selfs al staan hy nie op om dit vir hom te gee omdat hy sy vriend is nie, sal hy tog opstaan en vir hom gee wat hy nodig het, omdat die man so onbeskaamd aanhou. Ek sê vir julle: “Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word. Want elkeen wat vra, ontvang; en wie soek, vind; en vir wie klop, sal oopgemaak word. “Watter vader onder julle sal, as sy seun hom 'n vis vra, hom 'n slang in plaas van 'n vis gee? Of as hy 'n eier vra, vir hom 'n skerpioen gee? As julle wat sleg is, dan weet om goeie geskenke aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal die hemelse Vader die Heilige Gees gee aan hulle wat Hom vra!” Op 'n dag het Jesus 'n demoon wat stom was, uit 'n man gedryf. Nadat die demoon hom verlaat het, het die stomme begin praat. Die skare was verwonderd, maar sommige van hulle het beweer: “Dit is deur Beëlsebul, die aanvoerder van die demone, dat hy die demone uitdryf.” Ander weer het van Hom 'n teken uit die hemel gevra om Hom te toets. Maar Hy het hulle gedagtes geken en vir hulle gesê: “Elke koninkryk wat teen homself verdeeld is, gaan ten gronde, en 'n huis wat verdeeld is, kom tot 'n val. As ook Satan teen homself verdeeld is, hoe sal sy koninkryk dan staande bly? Tog beweer julle dat Ek deur Beëlsebul demone uitdryf. As Ek wel deur Beëlsebul demone uitdryf, deur wie dryf julle seuns hulle dan uit? Daarom sal hulle regters oor julle wees. Maar as Ek deur die vinger van God demone uitdryf, dan het die •koninkryk van God julle bereik. Wanneer 'n sterk, goed bewapende man sy eie huis bewaak, is sy besittings veilig. Maar as daar iemand aankom wat sterker as hy is, en hom oorrompel, neem so iemand die volle wapenrusting af waarop die sterk man vertrou het, en verdeel die buit. Wie hulle nie by My skaar nie, is teen My , en wie nie saam met My bymekaarmaak nie, verstrooi.”
LUKAS 11:1-23 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En terwyl Hy op 'n sekere plek besig was om te bid, het een van sy dissipels, toe Hy opgehou het, vir Hom gesê: Here, leer ons bid, soos Johannes ook sy dissipels geleer het. En Hy sê vir hulle: Wanneer julle bid, sê: Onse Vader wat in die hemele is, laat U Naam geheilig word. U koninkryk kom. U wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons dag vir dag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes; want ons vergewe ook elkeen wat aan ons skuldig is. En lei ons nie in versoeking nie; maar verlos ons van die bose. En Hy sê vir hulle: Wie van julle sal 'n vriend hê, en sal middernag na hom toe gaan en vir hom sê: Vriend, leen my drie brode; Want 'n vriend van my op sy reis het na my toe gekom, en ek het niks om hom voor te gee nie? En hy sal van binne antwoord en sê: Verontrust my nie; die deur is nou gesluit, en my kinders is saam met my in die bed; Ek kan nie opstaan en jou gee nie. Ek sê vir julle, al sal hy nie opstaan en hom gee nie, omdat hy sy vriend is, maar weens sy belediging sal hy opstaan en hom soveel gee as wat hy nodig het. En Ek sê vir julle: Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word. Want elkeen wat bid, ontvang; en hy wat soek, vind; en vir hom wat klop, sal oopgemaak word. As 'n seun van een van julle wat 'n vader is, brood vra, sal hy vir hom 'n klip gee? of as hy 'n vis vra, sal hy vir 'n vis vir hom 'n slang gee? Of as hy 'n eier vra, sal hy vir hom 'n skerpioen aanbied? As julle dan wat sleg is, weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle hemelse Vader die Heilige Gees gee aan die wat Hom bid? En hy was besig om 'n duiwel uit te dryf, en dit was stom. En toe die duiwel uitgegaan het, het die stomme gepraat; en die mense het gewonder. Maar sommige van hulle het gesê: Hy dryf die duiwels uit deur Beëlsebul, die hoof van die duiwels. En ander het Hom versoek en by Hom 'n teken uit die hemel gesoek. Maar hy het hulle gedagtes geken en vir hulle gesê: Elke koninkryk wat teen homself verdeeld is, word verwoes; en 'n huis wat teen 'n huis verdeeld is, val. As die Satan ook teen homself verdeeld is, hoe sal sy koninkryk bly staan? omdat julle sê dat Ek deur Beëlsebul duiwels uitdryf. En as Ek deur Beëlsebul duiwels uitdryf, deur wie dryf julle seuns hulle uit? daarom sal hulle julle regters wees. Maar as Ek met die vinger van God duiwels uitdryf, het die koninkryk van God ongetwyfeld oor julle gekom. Wanneer 'n sterk gewapende man sy paleis bewaak, is sy besittings in vrede; Maar wanneer 'n sterker as hy hom oorval en hom oorwin, neem hy van hom al sy wapenrusting waarop hy vertrou het, en deel sy buit. Hy wat nie by my is nie, is teen my; en hy wat nie saam met my versamel nie, verstrooi.
LUKAS 11:1-23 Die Boodskap (DB)
Kort daarna het Jesus verder gereis. By een van die plekke waar hulle oorgebly het, het Hy gaan bid. Toe Jesus klaar gebid het, vra een van sy volgelinge Hom: “Here, leer ons asseblief ook om reg met God te praat. Weet U, Johannes die Doper leer sy volgelinge hoe om te bid.” Jesus sê toe vir hom: “Hier is ’n voorbeeld van hoe julle met God moet praat: “Ons Vader, laat almal op aarde groot eerbied vir u heilige Naam hê. Laat u nuwe wêreld tog gou aanbreek. Gee ons asseblief elke dag genoeg om van te leef. Vergeef ons waar ons nie doen wat U van ons vra nie, net soos ons almal vergewe wat nie reg teenoor ons optree nie. En help ons om nooit te swig voor versoekings nie.” Daarna het Jesus vir sy volgelinge ’n verhaal vertel: “Stel julle die volgende toneel voor: ’n vriend kom onverwags in die middel van die nag by ’n man se huis aan. Hy staan toe dadelik op en nooi hom in. Hy wou vir sy vriend iets te ete gee, maar ontdek toe daar is nie ’n krieseltjie kos in sy huis nie. Hy stap toe gou oor na ’n ander goeie vriend van hom en klop hom wakker. ‘Ag, ek is verskriklik jammer om jou so laat in die nag lastig te val. Maar ’n goeie vriend van my het uit die bloute daar by my aangekom. En my huis is dolleeg. Ek het nie ’n stukkie kos om hom aan te bied nie. Kan jy my nie met drie broodjies uithelp nie?’ Wel, wat dink julle was die reaksie van hierdie ander vriend toe hy in die middel van die nag wakker geklop is? Dink julle hy het daar uit sy bed geskree: ‘Gee pad! Die deur is gesluit. My vrou en kinders slaap lankal. Ek gaan definitief nie nou opstaan om vir jou ’n brood te gee nie’? “Nee, natuurlik nie. Goeie vriende help mekaar. Ek sê vir julle, hierdie man sal dadelik opstaan en vir sy vriend brood gee. Ook al doen hy dit nie omdat hulle vriende is nie, sal hy dit doen omdat hy die man jammer kry wat so laat in die nag kos kom soek. “Weet julle, God is net soos hierdie vriend. Daarom sê Ek vir julle: vra en God sal vir julle gee. Soek en julle sal kry. Klop aan God se hemelse deur en Hy sal vir julle kom oopmaak. Want elkeen wat vra, ontvang; elkeen wat soek, kry, en elkeen wat klop, tref uiteindelik ’n oop hemelse deur aan. “Wie van julle wat ’n pa is, sal vir julle kind ’n slang gee as hy julle ’n stukkie vis vra om te eet? As hy vir ’n eier vra, gee julle hom mos nie iets boos soos ’n skerpioen nie. Nou ja, God maak ook nie so met sy kinders nie. As julle klomp slegte mense net goeie dinge vir julle eie kinders gee, hoeveel te meer sal julle hemelse Vader dit dan nie doen nie? Ek verseker julle: Hy sal selfs die Heilige Gees met sy groot krag gee aan almal wat ernstig tot Hom bid.” Daarna het die mense ’n man na Jesus toe gebring wat in die mag van die duiwel was. Hy kon nie ’n enkele woord praat nie. Maar Jesus het die duiwel gou uitgedryf. Toe kon hy weer praat. Dit het die omstanders diep geraak. Party was egter nie beïndruk nie. “Nee wat, moenie julle so maklik laat kul nie. Hierdie man is goeie vriende met die duiwel self. Daarom luister die bose geeste na hom.” ’n Groep ander mense sê toe vir Jesus: “Doen gou vir ons ’n teken. Ons wil heeltemal seker maak dat jy aan God se kant staan soos jy sê.” Maar Jesus het geweet wat hulle dink. Daarom sê Hy toe vir hulle: “Wanneer ’n klomp soldate gedurig onder mekaar aan die baklei is, sal hulle mos nooit ’n oorlog teen ’n ander leër wen nie. Net so sal ’n gesin waarin almal van vroeg tot laat aan die stry is, ook nooit gelukkig bly nie. Die een of ander tyd sal hulle uitmekaarspat. Nou ja, met Satan is dit nie anders nie. As Satan teen homself oorlog verklaar en homself oral uitdryf, waar gaan hy eindig? Kort voor lank stort sy hele koninkryk in duie. Dit is presies wat sal gebeur as Ek en die duiwel sulke groot vriende is soos julle spul dink. “Maar wag, party van julle dryf ook mos demone uit. As julle nou sê Ek doen dit omdat Ek die duiwel se groot vriend is, wat dan van julle? Wie se vriende is julle dan? Toe, laat julle mense self vir julle die antwoord gee! As julle die regte antwoord gekry het, sal julle moet erken dat Ek die demone in God se groot krag wegjaag. Dan sal julle ook besef: oral waar Ek onder julle aan die werk is, is God aan die werk. Daar raak God se vinger grond. Daar kan julle sien hoe God se nuwe wêreld lyk. “Kom Ek verduidelik dit met ’n beeld. Dink julle ’n mens kan sommer by die huis van ’n groot man wat ’n klomp wapens in sy kluis het, instap en sy goed gaan steel? Natuurlik nie. Hy sal jou mos vinnig op jou plek sit. Behalwe natuurlik as jy sterker as hy is. Dan kan jy hom oorrompel en al sy goed vat en dit verdeel. “Wat sê hierdie beeld vir julle? Dít: julle kan mos duidelik sien aan wie se kant Ek staan. Nou moet julle ’n keuse maak: óf julle kom staan aan my kant óf julle gaan staan aan my vyand se kant; óf julle help My om mense na God se nuwe wêreld toe te lei óf julle jaag hulle weg.