LUKAS 12:1-8
LUKAS 12:1-8 Bybel vir almal (ABA)
Toe Jesus met die Fariseërs en die skrifgeleerdes gepraat het, het daar ander mense ook gekom. Daar was so baie mense dat hulle mekaar raakgetrap het. Jesus praat toe eers met sy dissipels. Hy het gesê: “Julle moet oppas vir die Fariseërs, hulle is vals. Hulle is soos suurdeeg, 'n mens sien nie dat dit werk nie. Mense kan probeer om dit weg te steek dat hulle vals is, maar God sal dit vir almal wys. Mense doen nou dinge in die geheim, maar God sal vir almal sê wat dit is. Dieselfde sal gebeur wanneer julle die goeie boodskap oor My vir die mense bring. Alles wat julle nou oor My in die donker sê omdat julle bang is, sal God vir almal laat weet wanneer dit lig is. En alles wat julle nou oor My vir iemand in 'n huis saggies fluister in sy oor, sal God vir almal laat weet. Mense sal dan op die huise se dakke staan en skree en dit vir almal sê.” “Julle is my vriende. Daarom sê Ek vir julle dat julle nie bang moet wees vir mense nie. Hulle kan net julle liggame doodmaak. Maar daarna kan hulle niks meer aan julle doen nie. Ek sal vir julle wys vir wie julle bang moet wees. Julle moet net vir God bang wees, want wanneer julle dood is, dan kan Hy julle in die hel laat brand. Ja, Ek sê vir julle, julle moet vir Gód bang wees. 'n Mens kan vyf mossies vir net twee sent verkoop. Hulle is baie goedkoop, maar God vergeet nie een van daardie klein voëltjies nie. Julle is vir God baie belangriker as baie mossies. God weet presies hoeveel hare op elke mens se kop is. Daarom moet julle nie bang wees vir mense nie.” Jesus het ook gesê: “Ek sê vir julle, as iemand nie bang is om vir mense te sê hy behoort aan My nie, dan sal Ek, die Seun van die mens, ook vir God se engele sê daardie persoon behoort aan My.
LUKAS 12:1-8 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
TOE duisende van die skare ondertussen saamkom, sodat hulle mekaar vertrap het, begin Hy aan sy dissipels te sê: Pas veral op vir die suurdeeg van die Fariseërs, dit is geveinsdheid. En daar is niks bedek wat nie geopenbaar sal word nie, en verborge wat nie bekend sal word nie. Daarom, alles wat julle in die donker gesê het, sal in die lig gehoor word; en wat julle in die oor gepraat het in die binnekamers, sal op die dakke verkondig word. EN Ek sê vir julle, my vriende: Moenie vrees vir die wat die liggaam doodmaak en daarna niks meer kan doen nie; maar Ek sal julle wys wie julle moet vrees: vrees Hom wat, nadat Hy doodgemaak het, by magte is om in die hel te werp; ja, Ek sê vir julle, vrees Hom! Word vyf mossies nie vir twee stuiwers verkoop nie? En nie een van hulle is voor God vergeet nie. Maar selfs die hare van julle hoof is almal getel. Wees dan nie bevrees nie: julle is meer werd as baie mossies. En Ek sê vir julle: Elkeen wat My sal bely voor die mense, hom sal die Seun van die mens ook bely voor die engele van God.
LUKAS 12:1-8 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die mense het intussen by die duisende saamgedrom en mekaar vertrap. Toe het Jesus begin praat en Hom in die eerste plek tot sy dissipels gerig: “Pas op vir die suurdeeg van die Fariseërs, dit is hulle huigelary. Daar is niks bedek wat nie onthul sal word nie, en niks geheim wat nie bekend sal word nie. Daarom, alles wat julle in die donker gesê het, sal in die daglig gehoor word; en wat julle agter geslote deure vir iemand in die oor gefluister het, sal van die dakke af uitgebasuin word.” “Aan julle, my vriende, sê Ek: Moenie bang wees vir dié wat die liggaam doodmaak en daarna niks verder kan doen nie. Ek sal vir julle sê vir wie julle bang moet wees: vir Hom wat mag het om, ná die dood, in die hel te werp. Ja, Ek sê vir julle, Hóm moet julle vrees. “Word vyf mossies nie vir twee sent verkoop nie? Tog word nie een van hulle deur God vergeet nie. Selfs die hare op julle kop is almal getel. Moenie bang wees nie. Julle is meer werd as baie mossies.” “Ek sê vir julle: Elkeen wat hom voor die mense openlik vir My uitspreek, vir hom sal die Seun van die mens Hom ook openlik uitspreek voor die engele van God.
LUKAS 12:1-8 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Terwyl die skare in hulle duisende saamdrom, sodat hulle mekaar byna vertrap, begin Jesus toe eers met sy dissipels praat: “Wees op julle hoede vir die suurdeeg van die •Fariseërs, dit is, hulle skynheiligheid. Daar is niks bedek wat nie openbaar sal word nie, en niks verborge wat nie bekend sal word nie. Daarom sal alles wat julle in die donker sê, in die lig gehoor word; en wat julle vir mekaar in julle slaapkamers in die oor fluister, sal van die dakstoepe af verkondig word.” “My vriende, Ek sê vir julle: Moenie hulle vrees wat die liggaam doodmaak, en daarna niks verder kan doen nie. Maar Ek sal vir julle aantoon wie julle moet vrees: Vrees Hom wat, nadat Hy doodgemaak het, die mag het om iemand in Gehenna te werp. Ja, Ek sê vir julle, Hom moet julle vrees. Word vyf mossies nie vir twee assarius verkoop nie? En nie een van hulle is vergete voor God nie. Selfs die hare op julle kop is almal getel. Moenie bang wees nie – julle is meer werd as baie mossies. ” “Ek sê vir julle, elkeen wat My voor die mense bely, hom sal die •Seun van die Mens ook bely voor die engele van God.
LUKAS 12:1-8 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Intussen, toe daar 'n ontelbare menigte mense bymekaar was, sodat hulle op mekaar getrap het, het Hy eerstens vir sy dissipels begin sê: Pas op vir die suurdeeg van die Fariseërs, dit is skynheiligheid. Want daar is niks bedek wat nie geopenbaar sal word nie; ook nie weggesteek nie, wat nie bekend sal word nie. Daarom, alles wat julle in die duisternis gespreek het, sal in die lig gehoor word; en wat julle in die oor in die binnekamer gespreek het, sal op die dakke verkondig word. En ek sê vir julle, my vriende: Wees nie bevrees vir die wat die liggaam doodmaak en daarna niks meer het wat hulle kan doen nie. Maar Ek sal julle vooraf waarsku vir wie julle moet vrees: Vrees Hom wat, nadat Hy doodgemaak het, mag het om in die hel te werp; ja, Ek sê vir julle: Vrees hom. Word vyf mossies nie vir twee rande verkoop en nie een van hulle is voor God vergeet nie? Maar selfs die hare van julle hoof is almal getel. Wees dan nie bevrees nie: julle is meer werd as baie mossies. Ek sê ook vir julle: Elkeen wat My sal bely voor die mense, hom sal die Seun van die mens ook bely voor die engele van God.
LUKAS 12:1-8 Die Boodskap (DB)
Intussen het duisende mense na Jesus toe gestroom. Tussen die gedrang deur sê Hy vir sy dissipels: “Julle moet lig loop vir die Fariseërs. Met hulle skewe leerstellings maak hulle almal heeltemal deurmekaar. Hulle is ’n klomp skynheiliges. “Gelukkig kan mense se leuens nooit die waarheid in ’n bottel toeskroef nie. Die een of ander tyd sal die waarheid uitkom. Onthou: wat julle ook al in die geheim sê, sal wel bekend word. Kort voor lank word julle diepste geheime sommer nog van die dakke af uitbasuin. Wees daarom baie versigtig wat julle sê.” “Sê My, vir wie dink julle moet ’n mens die bangste wees, vir mense of vir God? Kyk ’n bietjie: Mense kan miskien jou liggaam doodmaak, maar dis al. God kan baie meer as dit doen: Hy kan jou in die doderyk gooi. En dit is regtig iets om voor bang te wees! “Wat dink julle sal iemand vir vyf mossies betaal? Hoogstens ’n paar sent. Hulle is nie veel werd nie. Maar tog gee God vir hulle om. Weet julle, God gee nog baie meer vir julle om. Van kop tot tone is julle vir Hom belangrik. Ja, Hy gee so baie vir julle om dat Hy elke haar op julle elkeen se kop getel het. Moet daarom nie bang wees nie. Julle is kosbaar vir God. “Hou aan om oor My te praat in die wêreld. Dan sal Ek julle ’n baie groot eer aandoen. Dan sal Ek, die Seun van die mens, ook oor julle praat daar in die hemel waar God se engele is.
LUKAS 12:1-8 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Intussen het die skares aangegroei tot duisende wat rondgemaal en mekaar vertrap het. Jesus het Hom eerstens tot sy dissipels gerig en hulle gewaarsku: “Pas op vir die suurdeeg van die Fariseërs, naamlik hulle skynheiligheid. Die tyd kom dat alles openbaar sal word; alles wat geheim gehou word, sal onthul word. Wat julle ook al in die donker gesê het, sal in die lig gehoor word, en wat julle agter geslote deure gefluister het, sal van die dakke af geskree word vir almal om te hoor!” “Ek sê vir julle, my vriende, moenie bang wees vir dié wat julle wil doodmaak nie. Hulle kan net die liggaam doodmaak; hulle kan niks meer aan julle doen nie. Maar Ek sal julle sê wie om te vrees: Julle moet ontsag hê vir God wat die mag het om mense dood te maak en hulle daarna in die hel te gooi. Ja, Ek sê vir julle, Hóm moet julle vrees. “Wat kos vyf mossies? ’n Paar sent? Tog vergeet God nie één van hulle nie. Selfs die hare op julle kop is almal getel. Moet dus nie bang wees nie; julle is vir Hom meer werd as ’n hele swerm mossies.” “En Ek verseker julle hiervan: As enigiemand My openlik hier op aarde erken, sal Ek, die Seun van die Mens, daardie persoon openlik voor God se engele erken.