LUKAS 13:1-8

LUKAS 13:1-8 Bybel vir almal (ABA)

Toe Jesus vir die mense gesê het dit is belangrik dat hulle moet lewe soos God wil hê, het party van hulle vir Hom vertel dat Pilatus 'n klomp mense in Galilea laat doodmaak het terwyl hulle offers gebring het vir God. Jesus het vir hulle gevra: “Hoekom het hierdie mense van Galilea so wreed gesterf? Dink julle hulle het meer sonde gedoen as al die ander mense in Galilea? Nee, Ek sê vir julle: Hulle het nie meer sonde gedoen as die ander mense nie. Maar as julle nie verander en lewe soos God wil hê nie, dan sal julle ook sterf. En onthou julle daardie 18 mense wat almal gesterf het toe die toring van Siloam op hulle geval het? Dink julle hulle het meer verkeerd gedoen as al die ander mense wat in Jerusalem woon? Nee, Ek sê vir julle: Hulle het nie meer verkeerd gedoen nie. Maar as julle nie verander en lewe soos God wil hê nie, dan sal julle ook sterf.” Toe vertel Jesus vir hulle hierdie gelykenis. Hy het gesê: “Iemand het 'n vyeboom gehad wat in sy wingerd gegroei het. Hy het gaan kyk of daar vye aan die boom is maar hy het niks vye gekry nie. Die man sê toe vir die man wat in die wingerd werk: ‘Dit is nou die derde jaar dat ek kom kyk of daar vye aan die boom is, maar elke jaar kry ek niks. Jy moet nou hierdie vyeboom uitkap, want dit maak net die grond droog.’ Toe sê die man wat in die wingerd werk: ‘Meneer, laat die vyeboom nog hierdie jaar staan. Ek sal die grond rondom die boom omspit en ek sal dit mis gee.

LUKAS 13:1-8 Die Boodskap (DB)

Die mense het vir Jesus kom vertel van ’n verskriklike ding wat Pontius Pilatus, die Romeinse goewerneur in Judea, aangevang het. Hy het ’n klomp mense uit Galilea doodgemaak terwyl hulle in Jerusalem ’n offer aan die Here wou bring. “Dié mense moes seker groot sondaars gewees het. Dis hoekom God dit met hulle laat gebeur het,” het hulle tussendeur bygevoeg. “Dink julle regtig daardie mense was groter sondaars as al die ander mense wat in Galilea bly?” het Jesus dadelik gevra. “Wel, as julle so dink, is julle verkeerd. Maar wag, julle spekuleer so lekker oor ander mense se sondes. Kyk eerder ’n slag na julleself. Julle is reguit op pad na die doderyk toe. Kom dadelik tot bekering. Anders is julle binnekort dood, net soos daardie Galileërs, en dan is dit vir altyd te laat. “Julle het dalk ook die nuus gehoor van die Siloamtoring wat in Jerusalem omgeval het. Agtien mense is in daardie ramp dood. Nou sal julle seker ook sê dat hulle groter sondaars was as al die ander inwoners van Jerusalem. Daarom het God hulle nou teruggekry. Ek sê weer ’n keer: God werk nie so nie. Hou op om allerhande uitsprake oor ander se lewe te maak. Kry liewer julle eie lewe in orde. Binnekort is julle ook dood. Dan is dit vir altyd te laat om julle saak met God reg te maak.” Daarna het Jesus vir die mense ’n verhaal vertel: “Eendag was daar ’n boer wat baie vyebome gehad het. Soos gewoonlik het hy elke jaar kom kyk hoe sy bome dra. Maar daar was een boom wat jaar na jaar nie ’n enkele vy aan gehad het nie. Hy sê toe vir sy tuinier wat die bome moes versorg: ‘Kyk, dis nou al drie jaar dat hierdie boom nie vye dra nie. Kap hom uit! Dit put net die grond uit. Kom ons plant liewer ’n ander boom in sy plek.’ “Toe sê die tuinier: ‘Ag, Meneer, kan ons nie maar nog ’n keer probeer nie? Kom ons gee die boom nog ’n jaar kans. Ek sal sorg dat hy hierdie jaar die beste bemesting en genoeg water kry. Dan behoort hy volgende jaar vrugte te dra.