Die embleem van die Bybeltoep
Soek-ikoon

LUKAS 15:1-10 - Vergelyk alle weergawes | YouVersion

LUKAS 15:1-10 AFR83 (Afrikaans 1983)

Die tollenaars en sondaars het almal die gewoonte gehad om na Jesus te kom luister. Hierteen het die Fariseërs en die skrifgeleerdes beswaar gemaak en gesê: “Hierdie man ontvang sondaars en eet selfs saam met hulle.” Toe vertel Jesus vir hulle hierdie gelykenis: “Sê nou een van julle het honderd skape en een van hulle raak weg. Wat doen hy dan? Hy laat die nege en negentig in die veld staan en gaan agter die een aan wat weg is, totdat hy hom kry. En as hy hom kry, is hy bly en tel hom op sy skouers. As hy by die huis kom, roep hy sy vriende en bure bymekaar en sê vir hulle: ‘Wees saam met my bly, want ek het my skaap wat weg was, weer gekry.’ Ek sê vir julle: Net so sal daar ook in die hemel blydskap wees oor een sondaar wat hom bekeer, eerder as oor nege en negentig mense wat reg doen en nie bekering nodig het nie.” “Of watter vrou wat tien silwermuntstukke het en een raak weg, steek nie 'n lamp op en vee die huis uit en soek sorgvuldig totdat sy dit kry nie? En as sy dit kry, roep sy haar vriendinne en buurvroue bymekaar en sê: ‘Wees saam met my bly, want ek het my geld wat weggeraak het, weer gekry.’ Ek sê vir julle: Net so is daar blydskap onder die engele van God oor een sondaar wat hom bekeer.”

LUKAS 15:1-10 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

EN al die tollenaars en sondaars het die gewoonte gehad om na Hom te kom en na Hom te luister. En die Fariseërs en die skrifgeleerdes het baie gemurmureer en gesê: Hierdie man ontvang sondaars en eet saam met hulle. Toe vertel Hy aan hulle hierdie gelykenis en sê: Watter man onder julle wat honderd skape het en een van hulle verloor, laat nie die negen-en-negentig in die woestyn staan en gaan agter die een aan wat verlore is totdat hy dit kry nie? En as hy dit kry, sit hy dit met blydskap op sy skouers. En as hy by die huis kom, roep hy sy vriende en bure bymekaar en sê vir hulle: Wees saam met my bly, want ek het my skaap gekry wat verlore was. Ek sê vir julle dat daar net so blydskap sal wees in die hemel oor een sondaar wat hom bekeer, meer as oor negen-en-negentig regverdiges wat die bekering nie nodig het nie. Of watter vrou wat tien pennings het, as sy een penning verloor, steek nie 'n lamp op en vee die huis uit en soek sorgvuldig totdat sy dit kry nie? En as sy dit kry, roep sy haar vriendinne en buurvroue bymekaar en sê: Wees saam met my bly, want ek het die penning gekry wat ek verloor het. So, sê Ek vir julle, is daar blydskap voor die engele van God oor een sondaar wat hom bekeer.

LUKAS 15:1-10 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

Tollenaars en ander sondaars het dikwels na Jesus se onderrig kom luister. Fariseërs en wetskenners het beswaar gemaak dat Hy met veragtelike mense geassosieer het – en selfs saam met hulle geëet het! Jesus het toe hierdie gelykenis vertel: “As jy 100 skape het en een het verdwaal en verlore geraak, sal jy nie die 99 ander net daar laat staan en die een gaan soek tot jy hom kry nie? En dan sal jy hom met blydskap op jou skouers huis toe dra. Wanneer jy tuis is, sal jy jou vriende en bure roep om saam bly te wees omdat jy jou verlore skaap gevind het. Net so sal die hemel blyer wees oor een sondaar wat tot inkeer kom as oor 99 ander wat regverdig is en nie nodig het om tot inkeer te kom nie!” “Of veronderstel ’n vrou het tien waardevolle silwermuntstukke en verloor een daarvan. Sal sy nie ’n lamp opsteek en die huis van hoek tot kant uitvee totdat sy dit kry nie? En wanneer sy dit kry, roep sy haar vriende en bure om saam bly te wees omdat sy haar muntstuk gevind het. Net so is daar blydskap onder God se engele as net een sondaar tot inkeer kom.”

LUKAS 15:1-10 DB (Die Boodskap)

Teen daardie tyd was dit mode vir die godsdienstige leiers van die Jode om na Jesus te kom luister en Hom dan te kritiseer oor alles wat Hy sê en doen. Op ’n dag was hulle juis weer vies vir Hom omdat Hy saam met ’n klomp mense geëet het wat in hulle oë onrein was omdat hulle nie al die Joodse godsdienstige reëls en wette nagekom het nie. Jesus sê toe vir hulle: “Sê My, wat sal julle maak as julle 100 skape het en een raak weg? Sal julle nie die ander 99 net daar in die veld laat staan en daardie een gaan soek wat weg is nie? Wanneer julle daardie skaap uiteindelik kry, sal julle so bly wees dat julle hom net daar op julle skouers sal tel en terugdra na die ander toe. Later sal julle dan julle vriende en familie oornooi om saam met julle te kom feesvier oor die skaap wat teruggevind is. Julle sal vir hulle sê: ‘Wees bly saam met my, want ek het my skaap wat weg was weer gekry. Hy is nou veilig terug tussen al die ander skape.’ “Weet julle, in God se wêreld gaan dit net so. Daar is groot vreugde in die hemel as een sondaar na God toe terugkom. Ja, daar is groter blydskap oor een mens wat van die verkeerde pad af terugkom as oor al God se kinders wat elke dag doen wat Hy van hulle vra.” “Nog ’n voorbeeld: ’n vrou wat net ’n klein bietjie geld op haar naam het en dit dan iewers in haar huis laat lê, sal dadelik daarna begin soek. Sy sal die huis van hoek tot kant fynkam. As sy die geld uiteindelik kry, is sy verskriklik bly. Dan nooi sy al haar vriendinne oor om saam met haar fees te vier: ‘Kom wees saam met my bly, want ek het my geld gekry wat weggeraak het.’ “Net so is daar groot vreugde in die hemel wanneer een sondaar terugkom op die regte pad. Dan vier al die engele voor God se troon fees.”

LUKAS 15:1-10 ABA (Bybel vir almal)

Al die tollenaars en sondaars het na Jesus toe gekom om na Hom te luister. Maar die Fariseërs en skrifgeleerdes het begin kla en hulle het gesê: “Hierdie man kuier by sondaars en hy eet saam met hulle.” Toe vertel Jesus vir hulle hierdie gelykenis: “As daar 'n man by julle is wat 100 skape het, en een van die skape raak weg, wat doen die man? Hy los die 99 skape in die veld en hy gaan soek die skaap wat weggeraak het totdat hy dit kry. En as die man die skaap kry, dan is hy baie bly en hy tel dit op sy skouers. Wanneer hy by die huis kom, dan roep hy sy vriende en bure en sê vir hulle: ‘Julle moet saam met my bly wees, want ek het my skaap gekry wat weg was.’ Ek sê vir julle, so sal almal in die hemel bly wees wanneer een sondaar verander en doen wat die Here wil hê. Hulle sal blyer wees oor hierdie één sondaar as oor 99 mense wat dink hulle lewe reg en dink dit is nie nodig om te verander nie.” “En as daar 'n vrou is wat tien geldstukke het en sy verloor een, wat doen sy? Sy maak lig met 'n lamp, sy vee die huis uit en soek oral totdat sy dit kry. As sy die geldstuk kry, roep sy haar vriendinne en bure bymekaar en sê: ‘Julle moet saam met my bly wees, want ek het die geldstuk gekry wat ek verloor het.’ Ek sê vir julle, so sal die engele van God bly wees oor een sondaar wat verander en doen wat God wil hê.”

LUKAS 15:1-10 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

Al die •tollenaars en die sondaars het dikwels nader gekom om na Hom te luister. Die •Fariseërs en die skrifkenners het onder mekaar gemor: “Hierdie man ontvang sondaars en eet saam met hulle.” Toe het Hy vir hulle hierdie gelykenis vertel: “Wie van julle wat honderd skape het en hy verloor een van hulle, laat nie die nege-en-negentig in die woestyn agter, en gaan agter die verlore een aan totdat hy hom kry nie? En as hy hom gekry het, tel hy hom met blydskap op sy skouers, en gaan huis toe en roep sy vriende en bure bymekaar en sê vir hulle, ‘Wees saam met my bly, want ek het my skaap wat verlore was, weer gekry.’ Ek sê vir julle, so sal daar in die hemel blydskap wees oor een sondaar wat hom bekeer het, eerder as oor die nege-en-negentig •regverdiges wat nie nodig het om tot bekering te kom nie.” “Of watter vrou wat tien dragmes het, en een dragme verloor, steek nie 'n lamp op, vee die huis uit en soek deeglik totdat sy dit kry nie? En as sy dit gekry het, roep sy haar vriendinne en bure bymekaar en sê, ‘Wees saam met my bly, omdat ek die dragme wat ek verloor het, weer gekry het.’ So, sê Ek vir julle, is daar blydskap onder God se engele oor een sondaar wat hom bekeer.”

LUKAS 15:1-10 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

Toe het al die tollenaars en sondaars na Hom gekom om na Hom te luister. En die Fariseërs en skrifgeleerdes het gemurmureer en gesê: Hierdie man neem sondaars aan en eet saam met hulle. En Hy het hierdie gelykenis aan hulle vertel en gesê: Watter man van julle wat honderd skape het, as hy een van hulle verloor, laat nie die nege en negentig in die woestyn agter en gaan agter wat verlore is totdat hy dit kry nie? En as hy dit kry, lê hy dit met blydskap op sy skouers. En as hy by die huis kom, roep hy sy vriende en bure bymekaar en sê vir hulle: Wees saam met my bly; want ek het my skape gevind wat verlore was. Ek sê vir julle dat daar net so blydskap in die hemel sal wees oor een sondaar wat hom bekeer, meer as oor nege en negentig regverdiges wat geen bekering nodig het nie. Of watter vrou wat tien silwerstukke het, as sy een stuk verloor, steek nie 'n kers op en vee die huis uit en soek ywerig totdat sy dit kry nie? En as sy dit kry, roep sy haar vriende en haar bure bymekaar en sê: Wees saam met my bly; want ek het die stuk gevind wat ek verloor het. Net so sê Ek vir julle, daar is blydskap in die teenwoordigheid van die engele van God oor een sondaar wat hom bekeer.