LUKAS 15:11-24
LUKAS 15:11-24 Afrikaans 1983 (AFR83)
Verder het Jesus gesê: “Daar was 'n man wat twee seuns gehad het. Die jongste het vir sy pa gesê: ‘Pa, gee my die deel van die besittings wat my toekom.’ Hy het toe die goed tussen hulle verdeel. “Nie lank daarna nie het die jongste seun alles tot geld gemaak en van die ouerhuis af na 'n ver land toe vertrek. Daar het hy sy geld verkwis deur losbandig te lewe. Nadat hy alles deurgebring het, het daar 'n kwaai hongersnood in daardie land gekom, en ook hy het begin gebrek ly. Hy het toe sommer by een van die mense van daardie land gaan bly, en dié het hom na sy plaas toe gestuur om varke op te pas. Daar het hy gewens hy kon sy honger stil met die peule wat die varke eet, maar niemand het hom daarvan gegee nie. “Toe kom hy tot inkeer en sê: ‘My pa het wie weet hoeveel dagloners, en hulle het almal oorgenoeg kos, en hier vergaan ek van die honger. Ek sal dadelik na my pa toe teruggaan en vir hom sê: Pa, ek het teen God en teen Pa gesondig! Ek is nie meer werd om Pa se seun genoem te word nie. Behandel my soos een van Pa se dagloners.’ En hy het sonder versuim na sy pa toe teruggegaan. “Toe hy nog ver aankom, het sy pa hom al gesien en hom innig jammer gekry. Hy hardloop hom tegemoet, omhels hom en soen hom. Toe sê die seun vir hom: ‘Pa, ek het teen God en teen Pa gesondig. Ek is nie meer werd om Pa se seun genoem te word nie.’ Maar sy pa roep sy werksmense: ‘Maak gou! Bring klere, die beste, en trek dit vir hom aan; sit vir hom 'n ring aan sy vinger en trek vir hom skoene aan! En bring die vetgemaakte kalf, slag hom, en laat ons eet en feesvier! Hierdie seun van my was dood, en hy lewe weer; hy was verlore, en ek het hom teruggekry.’ Toe het hulle begin feesvier.
LUKAS 15:11-24 Bybel vir almal (ABA)
Jesus het ook gesê: “'n Man het twee seuns gehad. Die jongste seun het vir sy pa gesê: ‘Pa, gee vir my die goed wat ek van Pa moet erf.’ Die pa het toe vir elke seun gegee wat hy moet kry. Kort daarna het die jongste seun al sy goed verkoop en hy het van die huis weggegaan na 'n ver land. Daar het hy wild gelewe en hy het sy geld uitgemors. Toe hy al sy geld uitgemors het, het daar 'n groot hongersnood in daardie land gekom. Die seun het begin swaarkry. Toe gaan werk hy by een van die mense van daardie land. Die man het hom gestuur om sy varke in die veld te laat wei. Die seun het gewens hy kan saam met die varke eet van die peule sodat hy nie meer honger is nie, maar niemand het dit vir hom gegee nie. Hy het toe ernstig begin dink oor sy lewe en hy het vir homself gesê: ‘My pa het baie mense wat vir hom werk, en hulle het almal genoeg kos. Maar ek? Hier sit ek en ek gaan amper dood van die honger. Ek sal opstaan en na my pa toe gaan en ek sal vir hom sê: Pa, ek het sonde gedoen teen God en teen jou. Ek is nie meer goed genoeg om jou seun te wees nie. Kan ek een van die mense wees wat vir jou werk?’ Hy het toe opgestaan en hy het na sy pa toe gegaan. Toe hy nog ver weg was, het sy pa hom gesien en sy pa was baie jammer vir hom. Hy het na sy seun toe gehardloop en hy het sy arms om sy seun se nek gesit en hom gesoen. Toe sê die seun vir sy pa: ‘Pa, ek het sonde gedoen teen God en teen jou. Ek is nie meer goed genoeg om jou seun te wees nie.’ Maar sy pa het vir die slawe gesê: ‘Bring gou die beste klere en trek dit vir hom aan. Sit 'n ring aan sy vinger en trek vir hom sandale aan. Bring die kalf wat ek vetgemaak het en slag dit, sodat ons kan eet en vrolik wees. Want hierdie seun van my was dood en hy lewe weer, hy was weg en ons het hom weer gekry.’ Hulle het toe begin om vrolik fees te vier.
LUKAS 15:11-24 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
HY het ook gesê: 'n Man het twee seuns gehad. En die jongste van hulle het vir sy vader gesê: Vader, gee my die deel van die eiendom wat my toekom. En hy het die goed tussen hulle verdeel. En nie baie dae daarna nie het die jongste seun alles bymekaargemaak en weggereis na 'n ver land. En daar het hy sy eiendom verkwis deur losbandig te lewe. En toe hy alles deurgebring het, kom daar 'n swaar hongersnood in daardie land, en hy het begin gebrek ly. Toe het hy hom by een van die burgers van daardie land gaan voeg. En dié het hom in sy veld gestuur om varke op te pas. En hy het verlang om sy maag te vul met die peule wat die varke eet, en niemand het dit aan hom gegee nie. Maar hy het tot homself gekom en gesê: Hoe baie huurlinge van my vader het oorvloed van brood, en ek vergaan van honger! Ek sal opstaan en na my vader gaan, en ek sal vir hom sê: Vader, ek het gesondig teen die hemel en voor u, en ek is nie meer werd om u seun genoem te word nie; maak my soos een van u huurlinge. En hy het opgestaan en na sy vader gegaan. En toe hy nog ver was, het sy vader hom gesien en innig jammer vir hom gevoel en gehardloop en hom omhels en hartlik gesoen. En die seun sê vir hom: Vader, ek het gesondig teen die hemel en voor u en ek is nie meer werd om u seun genoem te word nie. Maar die vader sê vir sy diensknegte: Bring die beste kleed en trek hom dit aan, en gee 'n ring vir sy hand en skoene vir sy voete. En bring die vetgemaakte kalf en slag dit, en laat ons eet en vrolik wees. Want hierdie seun van my was dood en het weer lewendig geword; en hy was verlore en is gevind. En hulle het begin vrolik word.
LUKAS 15:11-24 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Verder het Hy gesê: “'n Man het twee seuns gehad. Die jongste een van hulle het vir sy vader gesê, ‘Vader, gee my die deel van die eiendom wat my toekom.’ Hy het toe die besittings tussen hulle verdeel. Nie lank daarna nie het die jongste seun al sy goed in geld omgesit en na 'n ver land gereis, en daar alles wat hy besit het, deur sy losbandige leefwyse verkwis. Teen die tyd dat hy alles uitgegee het, het daar 'n baie ernstige hongersnood in daardie land uitgebreek, en hy het begin gebrek ly. Hy gaan werk toe by een van daardie land se inwoners, wat hom na sy boerdery gestuur het om sy varke op te pas. Hy het gewens dat hy sy honger kon stil met die peule wat die varke gewoonlik gevreet het, maar niemand het vir hom daarvan gegee nie. “Toe het hy egter tot sy sinne gekom en gesê, ‘Hoeveel dagloners van my pa het oorgenoeg kos, en hier vergaan ek van die honger! Ek sal opstaan en na my pa gaan en vir hom sê: Vader, ek het gesondig teen die hemel en in u oë. Ek is nie langer werd om u seun genoem te word nie. Behandel my soos een van u dagloners.’ Hy het toe opgestaan en na sy vader gegaan. Hy was nog ver weg, toe het sy vader hom al gesien. Hy het hom innig jammer gekry, na hom gehardloop, hom omhels en hom gesoen. Die seun sê toe vir sy vader, ‘Vader, ek het gesondig teen die hemel en in u oë. Ek is nie meer werd om u seun genoem te word nie.’ Maar sy vader het sy slawe opdrag gegee, ‘Bring gou 'n lang stola, die beste een, en trek dit vir hom aan. Gee vir hom 'n ring vir sy vinger en sandale vir sy voete. Bring vir ons die vetgemaakte kalf, slag dit en laat ons eet en feesvier, want hierdie seun van my was dood en het weer lewendig geword, hy was verlore en is weer gevind.’ Toe het hulle begin feesvier.
LUKAS 15:11-24 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En hy sê: 'n Sekere man het twee seuns gehad. En die jongste van hulle sê vir sy vader: Vader, gee my die deel van die goed wat my toekom. En hy het sy lewensonderhoud aan hulle verdeel. En nie baie dae daarna het die jongste seun almal bymekaargekom en na 'n ver land gereis en daar sy besittings vermors met 'n oproerige lewe. En toe hy alles uitgedien het, het daar 'n geweldige hongersnood in daardie land ontstaan; en hy het begin gebrek ly. En hy het gegaan en hom by 'n burger van daardie land aangesluit; en hy het hom na sy veld gestuur om varke te wei. En hy sou graag sy buik gevul het met die doppe wat die varke geëet het, en niemand het dit aan hom gegee nie. En toe hy by homself kom, sê hy: Hoeveel dagloners van my vader het brood genoeg en oor, en ek vergaan van honger! Ek sal opstaan en na my vader gaan en vir hom sê: Vader, ek het gesondig teen die hemel en voor U, En ek is nie meer werd om u seun genoem te word nie; maak my as een van u dagloners. En hy het opgestaan en na sy vader gekom. Maar toe hy nog ver was, het sy vader hom gesien en innig jammer gekry en gehardloop en hom om die nek geval en hom gesoen. En die seun sê vir hom: Vader, ek het gesondig teen die hemel en voor u oë, en ek is nie meer werd om u seun genoem te word nie. Maar die vader sê vir sy dienaars: Bring die beste kleed uit en trek hom dit aan; en sit 'n ring aan sy hand en skoene aan sy voete. En bring die vetgemaakte kalf hierheen en slag dit; en laat ons eet en vrolik wees: Want hierdie seun van my was dood en het weer lewendig geword; hy was verlore, en word gevind. En hulle het vrolik begin word.
LUKAS 15:11-24 Die Boodskap (DB)
Toe vertel Jesus nog ’n verhaal: “Eendag was daar ’n man met twee seuns. Die jongste seun kom toe op ’n dag by sy pa en sê vir hom: ‘Pa, ek wil nou dadelik my erfporsie hê. Ek wil nie wag tot Pa eers dood is nie.’ “Die pa het sy goed verdeel en vir elke seun sy erfporsie gegee. ’n Paar dae later het die jongste seun sy goed gevat en padgegee. Hy het in ’n ander land gaan bly. Daar het hy sy erfporsie uitgemors. Hy het die een wilde partytjie na die ander gehou en gedoen net wat sy hart begeer. Kort voor lank was al sy geld op. Toe breek daar ’n groot hongersnood in die land uit sodat die jongman niks gehad het om te eet nie. Hy het later gaan werk vir iemand wat in daardie land bly. Al werk wat hy vir die jongman gehad het, was om varke op te pas. Later was die arme man so honger dat hy selfs bereid was om die varke se kos te eet. Maar die eienaar het geweier. “Op ’n dag sit die jongman toe by homself en dink: ‘Wat vang ek aan met my lewe? Selfs my pa se slawe daar op sy plaas het ’n beter lewe as ek. Hulle het almal oorgenoeg kos om te eet, maar ek het nie eens ’n stukkie droë brood om my honger te stil nie. Hier sit ek en sterf van ellende! Vandag nog gaan ek terug na my pa se huis toe. Ek sal vir hom sê: Pa, ek het baie lelik met Pa gemaak. Ek het ook nie na God geluister nie. Ek verdien nie om langer Pa se seun te wees nie. Vat my asseblief terug as ’n doodgewone werker hier op Pa se plaas.’ “Die jongman het toe teruggegaan na sy pa se huis toe. Toe hy nog ’n hele ent van die huis af was, het sy pa hom herken. Hy was so bly dat hy dadelik na hom toe gehardloop het. Toe hy by sy seun kom, het hy hom omhels en hom gesoen van blydskap. “Toe sê die seun vir sy pa: ‘Pa, ek het baie lelik met Pa gemaak. Ek het ook nie na God geluister nie. Ek verdien nie om langer Pa se seun genoem te word nie.’ “Maar die pa het gou vir sy werkers gesê: ‘Gaan haal die beste stel klere in my kas en bring dit vir my seun. Vat ook ’n ring en ’n paar goeie skoene en gee dit vir hom. Ja, en gaan slag gou-gou daardie kalf wat ons lankal vetmaak vir ’n spesiale geleentheid. Vandag gaan daar feesgevier word. Ons gaan eet en lag en bly wees, want my seun is terug! Ek het gedink hy’s al dood, maar kyk, hy leef! Hy was weg, maar nou’s hy terug waar hy hoort: in sy pa se huis.’
LUKAS 15:11-24 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Om dié punt verder te verklaar, het Jesus vir hulle die volgende verhaal vertel: “’n Man het twee seuns gehad. Die jongste het vir sy pa gesê: ‘Ek wil my deel van die boedel nou hê, eerder as om te wag tot Pa doodgaan.’ Die pa het toe ingestem om sy goed tussen sy twee seuns te verdeel. “’n Paar dae later het hierdie jonger seun al sy besittings in geld omskep, na ’n ver land gereis, en daar al sy geld verkwis met ’n uitspattige lewe. Teen die tyd dat sy geld opgeraak het, het ’n groot hongersnood oor die land gekom en hy het begin honger ly. Hy kry toe werk by ’n plaaslike boer en dié het hom die veld ingestuur om varke op te pas. Die seun het só honger geword dat selfs die peule wat die varke gevreet het, vir hom smaaklik gelyk het. Maar niemand het hom enigiets gegee om te eet nie. “Toe hy uiteindelik tot sy sinne kom, het hy vir homself gesê: ‘By die huis het selfs die gehuurde werkers meer as genoeg kos, en hier is ek besig om van honger dood te gaan! Ek sal teruggaan na my pa toe en vir hom sê: Pa, ek het gesondig teen die hemel én teen Pa; ek is nie langer werd om Pa se seun genoem te word nie. Neem my asseblief in diens as ’n gehuurde werker.’ “Daarop het hy teruggegaan na sy pa toe. En toe hy nog ver weg was, het sy pa hom gesien aankom. Oorweldig met liefde en deernis het hy na sy seun toe gehardloop, hom omhels en gesoen. Sy seun het vir hom gesê: ‘Pa, ek het gesondig teen die hemel én teen Pa; ek is nie langer werd om Pa se seun genoem te word nie.’ “Maar sy pa sê vir die bediendes: ‘Gou, bring die mooiste mantel in die huis en trek dit vir hom aan. Kry ’n ring vir sy vinger en sandale vir sy voete. En slag die vetgemaakte kalf. Ons moet feesvier, want hierdie seun van my was dood en hy het nou teruggekeer na die lewe. Hy was verlore, maar nou is hy gevind.’ Toe het hulle begin feesvier.