LUKAS 15:17-21
LUKAS 15:17-21 Afrikaans 1983 (AFR83)
“Toe kom hy tot inkeer en sê: ‘My pa het wie weet hoeveel dagloners, en hulle het almal oorgenoeg kos, en hier vergaan ek van die honger. Ek sal dadelik na my pa toe teruggaan en vir hom sê: Pa, ek het teen God en teen Pa gesondig! Ek is nie meer werd om Pa se seun genoem te word nie. Behandel my soos een van Pa se dagloners.’ En hy het sonder versuim na sy pa toe teruggegaan. “Toe hy nog ver aankom, het sy pa hom al gesien en hom innig jammer gekry. Hy hardloop hom tegemoet, omhels hom en soen hom. Toe sê die seun vir hom: ‘Pa, ek het teen God en teen Pa gesondig. Ek is nie meer werd om Pa se seun genoem te word nie.’
LUKAS 15:17-21 Bybel vir almal (ABA)
Hy het toe ernstig begin dink oor sy lewe en hy het vir homself gesê: ‘My pa het baie mense wat vir hom werk, en hulle het almal genoeg kos. Maar ek? Hier sit ek en ek gaan amper dood van die honger. Ek sal opstaan en na my pa toe gaan en ek sal vir hom sê: Pa, ek het sonde gedoen teen God en teen jou. Ek is nie meer goed genoeg om jou seun te wees nie. Kan ek een van die mense wees wat vir jou werk?’ Hy het toe opgestaan en hy het na sy pa toe gegaan. Toe hy nog ver weg was, het sy pa hom gesien en sy pa was baie jammer vir hom. Hy het na sy seun toe gehardloop en hy het sy arms om sy seun se nek gesit en hom gesoen. Toe sê die seun vir sy pa: ‘Pa, ek het sonde gedoen teen God en teen jou. Ek is nie meer goed genoeg om jou seun te wees nie.’
LUKAS 15:17-21 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Maar hy het tot homself gekom en gesê: Hoe baie huurlinge van my vader het oorvloed van brood, en ek vergaan van honger! Ek sal opstaan en na my vader gaan, en ek sal vir hom sê: Vader, ek het gesondig teen die hemel en voor u, en ek is nie meer werd om u seun genoem te word nie; maak my soos een van u huurlinge. En hy het opgestaan en na sy vader gegaan. En toe hy nog ver was, het sy vader hom gesien en innig jammer vir hom gevoel en gehardloop en hom omhels en hartlik gesoen. En die seun sê vir hom: Vader, ek het gesondig teen die hemel en voor u en ek is nie meer werd om u seun genoem te word nie.
LUKAS 15:17-21 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“Toe het hy egter tot sy sinne gekom en gesê, ‘Hoeveel dagloners van my pa het oorgenoeg kos, en hier vergaan ek van die honger! Ek sal opstaan en na my pa gaan en vir hom sê: Vader, ek het gesondig teen die hemel en in u oë. Ek is nie langer werd om u seun genoem te word nie. Behandel my soos een van u dagloners.’ Hy het toe opgestaan en na sy vader gegaan. Hy was nog ver weg, toe het sy vader hom al gesien. Hy het hom innig jammer gekry, na hom gehardloop, hom omhels en hom gesoen. Die seun sê toe vir sy vader, ‘Vader, ek het gesondig teen die hemel en in u oë. Ek is nie meer werd om u seun genoem te word nie.’
LUKAS 15:17-21 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En toe hy by homself kom, sê hy: Hoeveel dagloners van my vader het brood genoeg en oor, en ek vergaan van honger! Ek sal opstaan en na my vader gaan en vir hom sê: Vader, ek het gesondig teen die hemel en voor U, En ek is nie meer werd om u seun genoem te word nie; maak my as een van u dagloners. En hy het opgestaan en na sy vader gekom. Maar toe hy nog ver was, het sy vader hom gesien en innig jammer gekry en gehardloop en hom om die nek geval en hom gesoen. En die seun sê vir hom: Vader, ek het gesondig teen die hemel en voor u oë, en ek is nie meer werd om u seun genoem te word nie.
LUKAS 15:17-21 Die Boodskap (DB)
“Op ’n dag sit die jongman toe by homself en dink: ‘Wat vang ek aan met my lewe? Selfs my pa se slawe daar op sy plaas het ’n beter lewe as ek. Hulle het almal oorgenoeg kos om te eet, maar ek het nie eens ’n stukkie droë brood om my honger te stil nie. Hier sit ek en sterf van ellende! Vandag nog gaan ek terug na my pa se huis toe. Ek sal vir hom sê: Pa, ek het baie lelik met Pa gemaak. Ek het ook nie na God geluister nie. Ek verdien nie om langer Pa se seun te wees nie. Vat my asseblief terug as ’n doodgewone werker hier op Pa se plaas.’ “Die jongman het toe teruggegaan na sy pa se huis toe. Toe hy nog ’n hele ent van die huis af was, het sy pa hom herken. Hy was so bly dat hy dadelik na hom toe gehardloop het. Toe hy by sy seun kom, het hy hom omhels en hom gesoen van blydskap. “Toe sê die seun vir sy pa: ‘Pa, ek het baie lelik met Pa gemaak. Ek het ook nie na God geluister nie. Ek verdien nie om langer Pa se seun genoem te word nie.’
LUKAS 15:17-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Toe hy uiteindelik tot sy sinne kom, het hy vir homself gesê: ‘By die huis het selfs die gehuurde werkers meer as genoeg kos, en hier is ek besig om van honger dood te gaan! Ek sal teruggaan na my pa toe en vir hom sê: Pa, ek het gesondig teen die hemel én teen Pa; ek is nie langer werd om Pa se seun genoem te word nie. Neem my asseblief in diens as ’n gehuurde werker.’ “Daarop het hy teruggegaan na sy pa toe. En toe hy nog ver weg was, het sy pa hom gesien aankom. Oorweldig met liefde en deernis het hy na sy seun toe gehardloop, hom omhels en gesoen. Sy seun het vir hom gesê: ‘Pa, ek het gesondig teen die hemel én teen Pa; ek is nie langer werd om Pa se seun genoem te word nie.’