LUKAS 16:1-13

LUKAS 16:1-13 Die Boodskap (DB)

Daarna het Jesus ook vir sy dissipels die volgende verhaal vertel: “Eendag was daar ’n ryk man wat ’n bestuurder aangestel het om sy besigheid te behartig. Na ’n ruk het die man agtergekom dat die bestuurder al sy geld uitmors. Hy stuur toe ’n boodskap aan sy bestuurder: ‘Ek is glad nie tevrede met die manier waarop jy my sake bestuur nie. Kom sien my dadelik. Begin ook maar solank uitkyk vir ’n ander werk.’ “Die bestuurder het besef hy is in die moeilikheid. Hy dink toe by homself: ‘Wat doen ek nou? Ek gaan definitief in die pad gesteek word. En werk is deesdae maar skaars. Ek sien regtig nie kans om in iemand se tuin te gaan werk of om met ’n bordjie om my nek in die straat te staan en geld bedel nie.’ “Die man kry toe ’n plan: ‘Ja, nou weet ek! Ek gaan ten minste sorg dat ek op goeie voet bly met al die sakemanne wat nog aan my baas geld skuld. Dalk het een van hulle vir my ’n werk.’ “Daar en dan het die bestuurder toe almal wat aan sy baas geld skuld, laat roep. Toe die eerste een daar opdaag, sê hy vir hom: ‘Ek sien jy betaal nie jou skuld nie. Sê my, hoeveel skuld jy aan my baas?’ “‘Ek het 100 vate olie by hom op skuld geneem,’ antwoord die man. “Toe sê die bestuurder: ‘Wel, ek verminder jou skuld nou dadelik met die helfte na net 50 vate olie.’ “Die bestuurder roep toe die volgende persoon in en vra vir hom: ‘Hoeveel skuld jy aan my baas?’ “‘Ek het ’n groot klomp koring by hom op skuld gekoop. Ek skuld hom 100 bale koring.’ “‘Jy is baie gelukkig,’ sê die bestuurder toe. ‘Want ek verminder jou skuld van vandag na 80 bale koring. Dis al wat jy nou moet terugbetaal.’ “Die ryk man het intussen gehoor wat sy skelm bestuurder doen. Toe hulle twee later die dag ontmoet, het hy hom egter nie afgedank nie, maar sommer daar op die plek gelukgewens met sy goeie plan. Almal in die dorp het immers nou gepraat oor hoe barmhartig die ryk man is.” Toe sê Jesus: “Weet julle, so gaan dit dikwels in die sakewêreld. Baie sakemense wat hulle nie aan die Here steur nie, is partymaal besig met skelmstreke. Hulle help mekaar om ander mense te verkul sodat hulle gou ryk kan word. Natuurlik kan julle by sakemense leer hoe om op te tree. Maar moet egter nie saam met skelms agter geld aanhardloop nie. “Julle moet eerlik wees, selfs ook in die heel kleinste dingetjies wat julle doen. As julle vertrou kan word met kleingeld, sal julle ook vertrou kan word met ’n hele sak vol geld. Aan die ander kant, as julle nie eens vertrou kan word met ’n paar sent nie, hoe sal julle dan eerlik wees wanneer julle besigheid doen? Moenie toelaat dat die geldgod julle in sy kloue beetkry nie. Dan gaan julle ander mense probeer uitbuit. As julle nie eerlik kan wees met geld in hierdie oneerlike wêreld waarin julle leef nie, hoe sal Ek dan ooit my nuwe wêreld aan julle sorg kan toevertrou? “Maak ’n keuse vir wie julle wil werk: óf vir God, óf vir die geldgod. Julle kan nie vir albei tegelyk werk nie. Net soos dit onmoontlik is om twee voltydse werke te hê, is dit onmoontlik om voor twee here te buig. So, kies!”

LUKAS 16:1-13 Bybel vir almal (ABA)

Jesus het vir die dissipels gesê: “'n Ryk man het 'n bestuurder gehad wat gekyk het dat dit goed gaan met sy geld en sy besigheid. Maar die werkers het vir die ryk man gaan vertel dat die bestuurder die ryk man se geld mors. Toe roep die ryk man sy bestuurder en hy sê vir hom: ‘Ek hoor slegte stories oor jou. Bring al die boeke vir my sodat ek kan sien wat jy gedoen het. As die stories waar is, dan kan jy nie meer my bestuurder wees nie.’ Die bestuurder het toe gedink: Wat sal ek doen? Ek dink my hoof gaan my wegjaag. Ek kan nie goed werk met my hande nie, en ek is te skaam om te bedel. Ek weet wat ek sal doen sodat mense my na hulle huise sal uitnooi nadat die hoof my weggejaag het. Toe het die bestuurder al die mense laat roep wat vir sy hoof iets skuld. Hy het vir die eerste man gevra: ‘Hoeveel skuld jy vir my hoof?’ Die man het geantwoord: ‘Ek skuld 100 vate olyf-olie.’ Die bestuurder sê toe: ‘Neem jou rekening en verander dit gou na 50 vate.’ Daarna het die bestuurder vir 'n ander man gevra: ‘En jy, hoeveel skuld jy?’ Die man het geantwoord: ‘Ek skuld 100 sakke koring.’ Die bestuurder het gesê: ‘Neem jou rekening en verander dit na 80 sakke.’ Toe die hoof dit hoor, het hy gesê die bestuurder het 'n slim ding gedoen. Hy het gesê die skelm mense in die wêreld weet beter hoe hulle vir mekaar moet sorg. Hulle weet dit beter as die mense wat vir God dien.” Toe sê Jesus vir sy dissipels: “Ek sê vir julle, die mense van die wêreld gebruik baie maal hulle geld en hulle goed verkeerd, maar julle moet julle geld en julle goed reg gebruik, julle moet ander mense help. Dan sal julle welkom wees in God se ewige huis wanneer die aarde se tyd verby is en mense nie meer iets sal hê nie. Iemand wat goed werk met iets wat nie kosbaar is nie, sal ook goed werk met die dinge wat kosbaar is, die dinge wat God gee. Maar iemand wat sleg werk met iets wat nie kosbaar is nie, sal ook sleg werk met die dinge wat kosbaar is, die dinge wat God gee. As julle die geld en goed verkeerd gebruik wat God in hierdie wêreld gee, dan sal God nie vir julle dinge gee wat kosbaar is nie. En as julle nie reg werk met ander mense se goed nie, dan sal God ook nie vir julle iets gee wat aan julle kan behoort nie. 'n Werker kan nie vir twee persone werk nie, want hy sal niks hou van die een persoon nie en hy sal baie hou van die ander persoon, óf hy sal hard werk vir die een persoon en hy sal niks wil doen vir die ander persoon nie. Julle kan nie vir God dien en óók dink geld en goed is ook so belangrik soos Hy nie.”

LUKAS 16:1-13 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN Hy het ook aan sy dissipels gesê: Daar was 'n ryk man wat 'n bestuurder gehad het; en hy is by hom aangeklaag as een wat sy besittings verkwis. En hy het hom geroep en vir hom gesê: Wat is dit wat ek van jou hoor? Gee verslag van jou bestuur van sake; want jy sal nie meer bestuurder kan wees nie. Toe sê die bestuurder by homself: Wat sal ek doen? Want my heer neem die bestuurderskap van my weg. Spit kan ek nie; om te bedel, skaam ek my. Ek weet wat ek sal doen, sodat wanneer ek van die bestuurderskap afgesit is, hulle my in hulle huise kan ontvang. Toe roep hy die skuldenaars van sy heer, een vir een, en sê vir die eerste: Hoeveel skuld jy aan my heer? En hy antwoord: Honderd vat olie. En hy sê vir hom: Neem jou skuldbewys, gaan sit en skryf gou vyftig. Daarna sê hy vir 'n ander een: En jy, hoeveel skuld jy? En hy antwoord: Honderd mud koring. Toe sê hy vir hom: Neem jou skuldbewys en skryf tagtig. En die heer het die onregverdige bestuurder geprys, omdat hy verstandig gehandel het; want die kinders van hierdie wêreld is verstandiger teenoor hulle geslag as die kinders van die lig. En Ek sê vir julle: Maak vir julle vriende deur die onregverdige Mammon, sodat wanneer julle die lewe verlaat, hulle jul in die ewige tente kan ontvang. Hy wat getrou is in die minste, is ook in die grote getrou; en hy wat onregverdig is in die minste, is ook in die grote onregverdig. As julle dan nie getrou was in die onregverdige Mammon nie, wie sal julle die ware goed toevertrou? En as julle nie getrou was in 'n ander se goed nie, wie sal aan julle jul eie gee? Geen huiskneg kan twee here dien nie; want hy sal òf die een haat en die ander een liefhê, òf die een aanhang en die ander een verag. Julle kan nie God én Mammon dien nie.

LUKAS 16:1-13 Afrikaans 1983 (AFR83)

Jesus het vir sy dissipels ook gesê: “'n Ryk man het 'n bestuurder in diens gehad, en dié is by hom aangekla omdat hy sy geld verkwis het. Hy ontbied hom toe en sê vir hom: ‘Wat is dit wat ek van jou hoor? Gee verslag van jou bestuur van sake, want jy kan nie langer bestuurder wees nie.’ Die bestuurder dink toe by homself: wat moet ek nou doen, want my werkgewer neem die bestuurderskap van my af weg. Vir handearbeid sien ek nie kans nie; en om te bedel, skaam ek my. Maar wag, nou weet ek wat ek sal doen sodat daar mense sal wees wat my in hulle huise sal ontvang as ek uit die bestuurderskap ontslaan is. Toe roep hy die skuldenaars van sy werkgewer een vir een en vra vir die eerste: ‘Hoeveel skuld jy my werkgewer?’ Hy antwoord: ‘Honderd vate olyfolie.’ Toe sê hy vir hom: ‘Vat jou skuldbewys, gaan sit en skryf gou vyftig.’ Daarna vra hy vir 'n ander een: ‘En jy, hoeveel skuld jy?’ Hy antwoord: ‘Honderd sak koring.’ En hy sê vir hom: ‘Vat jou skuldbewys en skryf tagtig.’ “Die werkgewer het die oneerlike bestuurder geprys vir die slim ding wat hy gedoen het. Die mense van hierdie wêreld tree onder mekaar slimmer op as die mense van die lig. “En Ek sê vir julle: Gebruik die oneerlike mammon om vir julle vriende te maak sodat wanneer die geld nie meer kan help nie, hulle julle in die ewige wonings sal ontvang. “Wie in die kleinste dinge betroubaar is, is ook in die groot dinge betroubaar; en wie in die kleinste dinge oneerlik is, is ook in groot dinge oneerlik. As julle dan nie betroubaar is in die hantering van die oneerlike mammon nie, wie sal die ware rykdom aan julle toevertrou? As julle met 'n ander man se goed nie betroubaar is nie, wie sal dan iets aan julle gee om as julle eie te besit? “Geen huisbediende kan vir twee base tegelyk werk nie, want hy sal óf die een minder ag en die ander een hoër, óf vir die een meer oorhê en die ander een afskeep. Julle kan nie God én Mammon dien nie.”

LUKAS 16:1-13 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Jesus het ook vir sy dissipels gesê: “Daar was 'n ryk man wat 'n bestuurder gehad het, en dié is by hom daarvan aangekla dat hy sy besittings verkwis. Hy het hom toe ingeroep en vir hom gesê, ‘Wat is dit wat ek van jou hoor? Doen verslag van jou bestuur van sake, want jy kan nie langer my bestuurder wees nie.’ Die bestuurder het by homself gedink: Wat moet ek doen, noudat my eienaar my bestuurderskap van my wegneem? Spit kan ek nie, en ek is te skaam om te bedel. Ek weet wat ek gaan doen, sodat die mense my in hulle huise sal ontvang wanneer ek as bestuurder ontslaan is. Hy het toe sy eienaar se skuldenaars een vir een ingeroep. Vir die eerste een het hy gevra, ‘Hoeveel skuld jy my eienaar?’ En hy het geantwoord, ‘Honderd bat olyfolie.’ Hy sê toe vir hom, ‘Vat jou skuldbrief en gaan sit en skryf gou vyftig.’ Hierna het hy vir 'n ander een gevra, ‘En jy, hoeveel skuld jy?’ Hy antwoord, ‘Honderd kor koring.’ Vir hom sê hy, ‘Vat jou skuldbrief en skryf tagtig.’ Die eienaar het die oneerlike bestuurder toe geprys, omdat hy verstandig opgetree het, want die kinders van hierdie wêreld tree verstandiger teenoor mekaar op as die kinders van die lig. Ek sê vir julle, ‘Maak vir julle vriende deur middel van die oneerlike Mammon, sodat, wanneer dit tot 'n einde kom, hulle julle in die ewige wonings mag ontvang.’ Wie in die geringste betroubaar is, is ook betroubaar waar dit om baie gaan, en wie in die geringste oneerlik is, is ook oneerlik waar dit om baie gaan. As julle dan nie betroubaar was wat die oneerlike Mammon betref nie, wie sal julle met die ware rykdom vertrou? En as julle nie betroubaar was met 'n ander se goed nie, wie sal vir julle gee wat julle toekom? Geen huiskneg kan twee base dien nie, want hy sal óf die een haat en die ander een liefhê, óf hy sal aan die een lojaal wees en die ander een verag. Julle kan nie God én Mammon dien nie.”

LUKAS 16:1-13 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En Hy sê ook vir sy dissipels: Daar was 'n sekere ryk man wat 'n rentmeester gehad het; en hy is by hom beskuldig dat hy sy goed gemors het. En hy het hom geroep en vir hom gesê: Hoe hoor ek dit van jou? gee rekenskap van jou rentmeesterskap; want jy mag dalk nie meer rentmeester wees nie. Toe sê die bestuurder by homself: Wat moet ek doen? want my heer neem die rentmeesterskap van my weg; ek kan nie grawe nie; om te smeek ek skaam my. Ek is vasbeslote wat om te doen, sodat, wanneer ek uit die rentmeesterskap geskors word, hulle my in hul huise kan ontvang. Hy het toe elkeen van sy heer se skuldenaars na hom geroep en vir die eerste gesê: Hoeveel skuld jy aan my heer? En hy sê: Honderd mat olie. En hy sê vir hom: Neem jou rekening en gaan sit gou en skryf vyftig. Toe sê hy vir 'n ander: En hoeveel skuld jy? En hy sê: Honderd mate koring. En hy sê vir hom: Neem jou rekening en skryf tagtig. En die Here het die onregverdige bestuurder geprys, omdat hy wys gehandel het, want die kinders van hierdie wêreld is in hulle geslag wyser as die kinders van die lig. En Ek sê vir julle: Maak vir julle vriende van die Mammon van ongeregtigheid; sodat, wanneer julle misluk, hulle julle in ewige wonings kan ontvang. Hy wat getrou is in die minste, is ook in die grote getrou; en hy wat in die geringste onregverdig is, is ook in die grote onregverdig. As julle dan nie getrou was in die onregverdige Mammon nie, wie sal die ware rykdom aan julle toevertrou? En as julle nie getrou was in wat 'n ander man s'n is nie, wie sal aan julle wat aan julle behoort, gee? Geen dienskneg kan twee here dien nie, want óf hy sal die een haat en die ander liefhê; anders sal hy die een vashou en die ander een verag. Julle kan nie God en Mammon dien nie.

LUKAS 16:1-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Jesus het hierdie verhaal aan sy dissipels vertel: “’n Ryk man het ’n bestuurder in diens gehad om sy sake te behartig, maar gou het ’n gerug die rondte gedoen dat die bestuurder sy baas se besittings verkwis. Sy werkgewer roep hom toe in en sê: ‘Wat hoor ek van jou? Stel jou verslag op, want jy gaan ontslaan word.’ “Die bestuurder het by homself gedink: ‘Wat nou? Dis klaarpraat met my hier; ek het nie die krag om te gaan slote grawe nie en ek is te trots om te gaan bedel. Ek het die oplossing! Dit gaan vir my boonop nog baie vriende besorg wat na my sal omsien as ek hier padgee!’ “Hy het toe elke persoon wat aan sy werkgewer geld geskuld het, ingeroep om die situasie te bespreek. Hy het vir die eerste een gevra: ‘Hoeveel skuld jy hom?’ Die man het geantwoord: ‘Ek skuld hom 100 vate olyfolie.’ Die bestuurder sê toe: ‘Skeur op daardie skuldbrief en teken ’n ander een vir 50.’ “‘En hoeveel skuld jy my werkgewer?’ het hy vir die volgende persoon gevra. ‘100 sakke koring,’ was die antwoord. ‘Hier,’ het die bestuurder gesê, ‘vat jou skuldbrief en vervang dit met een vir 80 sakke.’ “Die ryk man moes tog die oneerlike bestuurder prys omdat hy so uitgeslape was. En dit is waar dat die mense van hierdie wêreld onder mekaar vindingryker is as die godvresende mense. Ek sê vir julle, gebruik julle wêreldse bronne tot voordeel van ander, en maak só vriende. Op dié manier sal julle vrygewigheid vir julle ’n beloning in die hemel verseker.” “As julle in klein sake getrou is, sal julle ook in groot sake getrou wees. As jy selfs ’n klein bietjie oneerlik is, sal jy nie eerlik wees met groot verantwoordelikhede nie. En as julle onbetroubaar is met wêreldse rykdom, wie sal julle vertrou met die werklike rykdom van die hemel? En as julle nie betroubaar is met ander mense se geld nie, waarom sal julle met julle eie geld vertrou word? “Niemand kan twee eienaars dien nie. Want jy sal die een haat en die ander liefhê, of die een aanhang en die ander verag. Julle kan nie God én geld dien nie.”