LUKAS 18:1-8
LUKAS 18:1-8 Afrikaans 1983 (AFR83)
Jesus het vir hulle 'n gelykenis vertel om duidelik te maak dat 'n mens altyd moet aanhou bid sonder om moedeloos te word. Hy het gesê: “In 'n sekere stad was daar 'n regter wat geen eerbied vir God of agting vir 'n mens gehad het nie. En in dieselfde stad het 'n weduwee gewoon wat hom herhaaldelik kom vra het: ‘Doen aan my reg in my saak teen my teenparty.’ 'n Tyd lank wou hy nie, maar later het hy vir homself gesê: Vir God het ek wel geen eerbied nie, en aan 'n mens steur ek my nie, maar aangesien hierdie weduwee so aanhou om my lastig te val, sal ek haar in haar regsaak help, anders kom klap sy my op die ou end ook nog.” Toe sê die Here: “Hoor wat sê die onregverdige regter. Sal God dan nie aan sy uitverkorenes, wat dag en nag tot Hom roep, reg doen nie? Sal Hy hulle lank laat wag? Ek sê vir julle: Hy sal hulle help, en gou ook! “Maar sal die Seun van die mens by sy koms nog geloof op die aarde vind?”
LUKAS 18:1-8 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Hy het vir hulle 'n gelykenis vertel oor hoe nodig dit is om altyd te bid en nie moed te verloor nie. Hy het gesê: “Daar was 'n sekere regter in 'n bepaalde stad, wat nie ontsag vir God gehad het nie en hom aan geen mens gesteur het nie. Daar was ook 'n weduwee in daardie stad, wat hom bly opsoek het met die versoek, ‘Laat reg aan my geskied in my saak teen my opponent.’ 'n Tyd lank wou hy nie, maar naderhand het hy by homself gedink: Al het ek geen ontsag vir God en steur ek my aan geen mens nie, sal ek, omdat hierdie weduwee my moeite gee, tog maar reg aan haar laat geskied; anders gaan sy my tot aan die einde bly teister.” Toe sê die Here: “Luister na wat die onregverdige regter sê! Sal God dan nie reg laat geskied aan sy uitverkorenes wat bedags en snags na Hom roep nie? Sal Hy hulle lank laat wag? Ek sê vir julle, Hy sal baie gou aan hulle reg laat geskied. Die vraag is net: Sal die •Seun van die Mens, wanneer Hy kom, geloof op aarde vind?”
LUKAS 18:1-8 Die Boodskap (DB)
Jesus het vir sy volgelinge die volgende verhaal vertel om hulle te leer om aan te hou bid: “Eendag was daar ’n baie kwaai regsgeleerde. Hy was vir g’n mens in sy stad bang nie. Ook nie eens vir God nie. In dieselfde stad het daar ook ’n vrou gebly wie se man dood was. Sy was betrokke in ’n regsgeding met iemand anders. Sy het kort-kort na die hardkoppige regsgeleerde toe gekom en hom gesmeek om haar saak vir haar te hanteer. Maar hy het botweg geweier. Op ’n dag het hy egter vir homself gesê: ‘Ek weet nie wat met my aangaan nie. Ek’s vir niemand bang nie, nie eens vir God nie. En tog dink ek ek gaan daardie weduwee help. Wie weet, netnou maak sy my naam sleg, of dalk kom gee sy my sommer nog voor almal ’n oorveeg.’” Die Here Jesus sê toe: “Sien julle dat daardie hardkoppige regsgeleerde op die ou end bereid was om die vrou te help? Wat sal God dan nie alles doen vir sy kinders wat Hy persoonlik uitgekies het om in Hom te glo nie? Hy luister na almal wat dag en nag tot Hom bid. Hy sal uitkoms gee. En gou ook! Hou maar net aan om te bid. “Ek is egter oor een ding bekommerd. Glo julle regtig wat Ek sê? Sê nou Ek kom later terug na die wêreld toe en Ek vind dan uit dat julle nooit aanhou glo het nie? Glo en bid, want een van die dae breek God se nuwe wêreld aan.”
LUKAS 18:1-8 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Jesus het vir hulle ’n gelykenis vertel om aan te toon dat hulle moet aanhou bid sonder om moedeloos te word. Hy het gesê: “In ’n sekere stad was daar ’n regter wat God nie geëer en sy medemens nie gerespekteer het nie. Daar was ook ’n weduwee in daardie stad wat aangehou het om hom te vra: ‘Laat aan my reg geskied in my saak teen my opponent.’ “Vir ’n tyd lank was hy onwillig, maar hy het naderhand vir homself gesê: ‘Al eer ek God nie en respekteer ek ook nie my medemens nie – omdat hierdie weduwee my so onophoudelik teister, sal ek haar saak behartig, anders sal sy my nog heeltemal gedaan maak.’” Toe sê die Here: “Luister net wat sê die onregverdige regter. Sal God dan nie reg laat geskied aan sy uitverkorenes nie – hulle wat dag en nag na Hom roep? Sal Hy aanhou om hulle geduld te toets? Ek sê vir julle: Hy sal aan hulle reg laat geskied, en baie gou ook! Nietemin, sal Ek, die Seun van die Mens, wanneer Ek kom, geloof op aarde vind?”
LUKAS 18:1-8 Bybel vir almal (ABA)
Jesus het toe vir die dissipels 'n gelykenis vertel. Hy wou hê hulle moet verstaan dat 'n mens moet aanhou bid en nie moedeloos moet word nie. Hy het gesê: “In 'n stad was daar 'n regter wat nie bang was vir God nie. Mense was ook nie vir hom belangrik nie. In dieselfde stad was daar 'n weduwee. Sy het na die regter toe gegaan en vir hom gesê: ‘Daar is iemand wat nie reg doen aan my nie. Jy moet my asseblief help.’ Die regter wou haar nooit help nie, maar ná 'n lang tyd het hy gedink: Ek is nie bang vir God nie en mense is nie vir my belangrik nie. Maar ek sal die weduwee help, want sy is lastig en sy sal my nog baie moeg maak as sy so aanhou vra dat ek haar moet help.” Toe sê die Here: “Het julle gehoor wat sê daardie slegte regter? Hy het gesê hy sal die weduwee help, maar God sal sy mense help, dit is seker. Hy het hulle gekies en hulle roep elke dag en nag na Hom. Dink julle Hy sal lank wag om hulle te help? Nee, Ek sê vir julle: Hy sal hulle dadelik help. Julle moet aanhou bid, sodat, wanneer die Seun van die mens kom, Hy mense op die aarde sal kry wat glo.”
LUKAS 18:1-8 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN Hy het ook aan hulle 'n gelykenis vertel met die oog daarop dat 'n mens gedurig moet bid en nie moedeloos word nie, en gesê: Daar was 'n regter in 'n stad wat God nie gevrees en geen mens ontsien het nie. En daar was in daardie stad 'n weduwee, en sy het gedurig na hom gekom en gesê: Doen reg aan my teenoor my teëparty. En 'n tyd lank wou hy nie; maar daarna het hy by homself gesê: Al vrees ek God ook nie en al ontsien ek geen mens nie, tog sal ek, omdat hierdie weduwee my moeite gee, aan haar reg doen, sodat sy nie eindelik kom en my in die gesig slaan nie. Toe sê die Here: Hoor wat die onregverdige regter sê. Sal God dan nie reg doen aan sy uitverkorenes wat dag en nag tot Hom roep nie, al is Hy ook lankmoedig in hulle geval? Ek sê vir julle dat Hy gou aan hulle reg sal doen; maar as die Seun van die mens kom, sal Hy wel die geloof op die aarde vind?
LUKAS 18:1-8 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En daarom het Hy vir hulle 'n gelykenis vertel dat die mense altyd moet bid en nie moedeloos word nie; en gesê: Daar was in 'n stad 'n regter wat God nie gevrees het nie en nie op 'n mens ag geslaan het nie; En daar was 'n weduwee in daardie stad; en sy het na hom gekom en gesê: Wreek my op my teëstander. En hy wou 'n tyd lank nie, maar daarna het hy by homself gesê: Al vrees ek God nie en ag ek geen mens nie; Maar omdat hierdie weduwee my pla, sal ek haar wreek, dat sy my nie vermoei deur haar voortdurende koms nie. En die Here het gesê: Hoor wat die onregverdige regter sê. En sal God nie sy eie uitverkorenes, wat dag en nag tot Hom roep, wreek, al verdra Hy hulle lank nie? Ek sê vir julle dat Hy hulle gou sal wreek. Maar wanneer die Seun van die mens kom, sal Hy geloof op die aarde vind?