LUKAS 18:9-14
LUKAS 18:9-14 Afrikaans 1983 (AFR83)
Met die oog op mense wat seker was dat hulle eie saak met God reg is en wat op ander neergesien het, het Jesus hierdie gelykenis vertel: “Twee mense het na die tempel toe gegaan om te bid. Die een was 'n Fariseër en die ander een 'n tollenaar. Die Fariseër het gaan staan en by homself so gebid: ‘O God, ek dank U dat ek nie soos ander mense is nie: diewe, bedrieërs, egbrekers, en ook nie soos hierdie tollenaar nie. Ek vas twee keer in die week en ek gee 'n tiende van my hele inkomste.’ “Maar die tollenaar het daar ver bly staan en wou selfs nie na die hemel opkyk nie. Hy het bedroef op sy bors geslaan en gesê: ‘O God, wees my, sondaar, genadig.’ “Ek sê vir julle: Hierdie man, en nie die ander een nie, het huis toe gegaan as iemand wie se saak met God reg is. Elkeen wat hoogmoedig is, sal verneder word; en hy wat nederig is, sal verhoog word.”
LUKAS 18:9-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Toe het Jesus hierdie gelykenis vertel met die oog op sommige mense wat oortuig is dat hulle saak voor God reg is, maar die ander mense verag het: “Twee mense het na die tempel toe gegaan om te bid. Die een was ’n Fariseër en die ander ’n tollenaar. Die Fariseër het gaan staan en by homself gebid: ‘O God, ek is dankbaar teenoor U dat ek nie soos die ander mense is nie – diewe, onregverdiges, ontugtiges of ook soos hierdie tollenaar. Ek vas twee keer gedurende die week, en ek gee ’n tiende van alles wat ek verdien!’ “Die tollenaar het op ’n afstand bly staan en wou selfs nie na die hemel opkyk nie. Hy het vol skuldbesef op sy bors geslaan en gesê: ‘O God, wees my, sondaar, genadig!’ “Ek sê vir julle: Hierdie man, eerder as die eerste een, gaan huis toe as iemand wie se saak met God reg is. Elkeen wat homself verhef bo ander, sal verneder word, maar hy wat homself nederig ag, sal verhoog word.”
LUKAS 18:9-14 Bybel vir almal (ABA)
Daar was party mense wat gedink het alles wat hulle doen, is genoeg om hulle regverdig te maak. Hulle het ook gedink net húlle is belangrik. Maar Jesus het toe hierdie gelykenis vir daardie mense vertel. Hy het gesê: “Twee mans het na die tempel gegaan om te bid. Die een man was 'n Fariseër en die ander man was 'n tollenaar. Die Fariseër het gaan staan en hy het só gebid: ‘My God, baie dankie dat ek nie soos die ander mense is nie. Hulle steel, hulle lewe nie soos U wil hê nie, en hulle pleeg egbreuk. En dankie dat ek nie soos hierdie tollenaar is nie. Ek vas twee maal in 'n week, en ek gee tiendes van alles wat ek kry.’ “Maar die tollenaar het ver weg gaan staan. Hy wou nie opkyk na die hemel nie, want hy het gedink hy is nie goed genoeg nie. Hy het homself op die bors geslaan en gesê: ‘My God, ek is 'n sondaar. U moet asseblief jammer wees vir my en U moet my help.’ ” Daarna het Jesus gesê: “Ek sê vir julle, toe hierdie tollenaar weggaan van die tempel, was God tevrede met hom maar nie met die Fariseër nie. Want God sal elkeen verneder wat dink hy is belangrik, en God sal elkeen wat nederig is, belangrik maak.”
LUKAS 18:9-14 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN Hy het ook met die oog op sommige wat op hulleself vertrou dat hulle regverdig is en die ander verag, hierdie gelykenis vertel. Twee manne het na die tempel opgegaan om te bid, die een 'n Fariseër en die ander 'n tollenaar. En die Fariseër het gaan staan en by homself so gebid: O God, ek dank U dat ek nie soos die ander mense is nie — rowers, onregverdiges, egbrekers, of ook soos hierdie tollenaar nie. Ek vas twee keer in die week, ek gee tiendes van alles wat ek verkry. En die tollenaar het ver weg gestaan en wou selfs nie sy oë na die hemel ophef nie, maar het op sy bors geslaan en gesê: O God, wees my, sondaar, genadig! Ek sê vir julle, hierdie laaste een het geregverdig na sy huis gegaan eerder as die eerste een; want elkeen wat homself verhoog, sal verneder word, en hy wat homself verneder, sal verhoog word.
LUKAS 18:9-14 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Met die oog op sommige mense wat oortuig was van hulle eie regverdigheid en op ander neergesien het, het Jesus hierdie gelykenis vertel: “Twee mense het opgegaan na die tempelterrein om te bid. Die een was 'n •Fariseër en die ander 'n •tollenaar. Die Fariseër het gaan staan en só oor homself gebid, ‘God, ek dank U dat ek nie soos die ander mense is, wat roof, onreg doen en egbreuk pleeg nie, en ook nie soos hierdie tollenaar nie. Ek vas twee keer per week, en ek gee 'n tiende van alles wat ek verdien. ’ Die tollenaar het egter op 'n afstand bly staan, en wou selfs nie eers na die hemel opkyk nie, maar het op sy bors geslaan en gesê, ‘O God, wees my, die sondaar, genadig!’ Ek sê vir julle, hierdie man, eerder as die ander een, het na sy huis gegaan as iemand wie se saak met God reggestel is. Want elkeen wat homself verhoog, sal verneder word, maar elkeen wat homself verneder, sal verhoog word. ”
LUKAS 18:9-14 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En Hy het hierdie gelykenis vertel aan sommige wat op hulleself vertrou het dat hulle regverdig is, en ander verag: Twee manne het in die tempel opgegaan om te bid; die een 'n Fariseër en die ander 'n tollenaar. Die Fariseër het gaan staan en so by homself gebid: God, ek dank U dat ek nie soos ander mense is nie, rowers, onregverdiges, egbrekers, of selfs soos hierdie tollenaar. Ek vas twee keer in die week, ek gee tiendes van alles wat ek besit. En die tollenaar het ver gestaan en wou nie soveel as sy oë na die hemel opslaan nie, maar het op sy bors geslaan en gesê: God wees my, sondaar, genadig! Ek sê vir julle, hierdie man het geregverdig na sy huis afgegaan eerder as die ander; want elkeen wat homself verhoog, sal verneder word; en hy wat homself verneder, sal verhoog word.
LUKAS 18:9-14 Die Boodskap (DB)
Baie “godsdienstige” mense het gedink hulle saak met God is in orde omdat hulle allerhande godsdienstige wette streng gehoorsaam. Hierdie mense het op almal neergesien wat nie al dié wette gehou het nie. Jesus het net mooi niks van hierdie godsdienstige snobisme gehou nie. Hy het toe vir die mense die volgende verhaal vertel: “Op ’n dag het twee mans daar na die tempel in Jerusalem toe gegaan om God te aanbid. Die een was ’n Fariseër en die ander een ’n belastinggaarder. (Hierdie belastinggaarders was bekend as tollenaars. Hulle het nie die godsdienstige wette gehoorsaam nie. Daarom is hulle as groot sondaars beskou.) “Die Fariseër het toe begin bid: ‘God, ek sê vir U dankie dat ek nie ’n slegte mens is nie. Kyk net: ek steel nie ander mense se goed nie. Ek lieg en bedrieg nie. Ek slaap ook nie rond nie. Ja, en ek is ook nie so ’n groot sondaar soos hierdie tollenaar wat langs my staan nie. “‘O ja, kyk net wat doen ek alles: ek vas twee keer elke week. Ek gee ook ’n tiende van elke sent wat ek verdien.’ “Die tollenaar het daar eenkant gaan staan. Hy het so skaam gekry oor al sy sondes dat hy nie eens wou opkyk nie. Hy het sy kop laat sak, met sy hand op sy bors geslaan en gesê: ‘God, ek is ’n sondaar. Help my! Wees my genadig!’” Toe sê Jesus vir die mense wat na Hom luister: “Hierdie tollenaar se gebed is dadelik verhoor. God het sy lewe in ’n oogwink splinternuut gemaak. Maar die Fariseër het met leë hande daar weggestap. Hy het gedink hy lewe goed genoeg om ’n plek in die hemel te kry. Maar dit werk nie so nie. Almal wat te veel van hulleself dink om vir God te vra om hulle te red, sal nog baie spyt wees. Maar almal wat voor God kom buig en op Hom vertrou om hulle lewe splinternuut te maak, sal verhoog word.”