LUKAS 2:1-21

LUKAS 2:1-21 Afrikaans 1983 (AFR83)

In daardie tyd het keiser Augustus 'n bevel uitgevaardig dat 'n volkstelling in die hele ryk gehou moet word. Hierdie eerste volkstelling het plaasgevind toe Sirenius goewerneur was in die provinsie Sirië. Almal het gegaan om hulle te laat inskryf, elkeen na sy eie stad toe. Ook Josef het gegaan. Hy het van die dorp Nasaret in Galilea na Judea toe gegaan, na Betlehem, die stad van Dawid, omdat hy tot die huis en geslag van Dawid behoort het. Maria, sy verloofde, wat swanger was, het saamgegaan om ingeskryf te word. Terwyl hulle daar was, het die tyd gekom dat haar kind gebore moes word. Sy het haar Eerstelingseun in die wêreld gebring en Hom in doeke toegedraai en in 'n krip neergelê, omdat daar vir hulle geen plek in die herberg was nie. Daar was skaapwagters in daardie omgewing wat in die oop veld gebly en in die nag oor hulle skape wag gehou het. Meteens staan daar 'n engel van die Here by hulle, en die heerlikheid van die Here het rondom hulle geskyn. Hulle het baie groot geskrik. Toe sê die engel vir hulle: “Moenie bang wees nie, want kyk, ek bring vir julle 'n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is. Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here! En dit is vir julle die teken: julle sal 'n kindjie vind wat in doeke toegedraai is en in 'n krip lê.” Skielik was daar saam met die engel 'n menigte engele uit die hemel wat God prys en sê: “Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy 'n welbehae het!” Nadat die engele van hulle af weggegaan het na die hemel toe, sê die skaapwagters vir mekaar: “Kom ons gaan reguit Betlehem toe om te sien wat gebeur het, soos die Here dit aan ons bekend gemaak het.” Hulle gaan toe haastig daarheen en kry vir Maria en Josef, en die Kindjie wat in die krip lê. Toe hulle Hom sien, het hulle vertel wat oor hierdie Kindjie aan hulle gesê is. Almal wat dit gehoor het, was verwonderd oor wat die skaapwagters hulle vertel het. Maria het alles wat gesê is, onthou en telkens weer by haarself daaroor nagedink. Die skaapwagters het toe teruggegaan terwyl hulle God loof en prys oor alles wat hulle gehoor en gesien het. Dit was alles net soos dit vir hulle gesê is. Ag dae later, toe dit tyd was om die Kindjie te besny, het Hy die naam Jesus gekry, die naam wat deur die engel genoem is nog voordat Hy in die moederskoot ontvang is.

LUKAS 2:1-21 Bybel vir almal (ABA)

In daardie tyd het keiser Augustus gesê al die mense oor wie hy regeer, moet hulle laat registreer. Sirenius was die goewerneur wat in daardie tyd oor die provinsie Sirië regeer het. Al die mense het gegaan om te registreer, elkeen het gegaan na die stad waar sy familie altyd gewoon het. Josef het in Nasaret in Galilea gewoon, maar hy moes na Betlehem gaan om te registreer. Betlehem was die stad van koning Dawid, en Josef was van die nageslag van koning Dawid. Josef was verloof aan Maria. Sy was swanger en sy het saam met Josef gegaan. Toe hulle in Betlehem was, het dit tyd geword dat Maria haar baba moes kry. Haar Seun is gebore. Hy was haar eerste kind. Sy het Hom toegedraai in doeke en Hom neergesit in 'n krip, want daar was nie vir Josef en Maria plek waar die ander mense gebly het nie. Daar was skaapwagters buite in die veld naby Betlehem. Hulle het in die nag hulle skape opgepas. 'n Engel van die Here het by hulle kom staan, en die lig van die Here het rondom hulle geskyn. Hulle was baie bang. Die engel het vir hulle gesê: “Moenie bang wees nie, want ek bring vir julle 'n goeie boodskap. Al die mense sal baie bly wees daaroor. Vandag is julle Redder in die stad van Dawid gebore. Hy is Christus die Here. Julle sal weet dit is Hy wanneer julle 'n baba sien wat toegedraai is en in 'n krip lê.” Skielik was daar saam met die engel nog baie ander engele uit die hemel. Hulle het God geprys en gesê: Prys God in die hoogste hemel. By die mense op die aarde sal daar vrede wees, by die mense vir wie Hy lief is. Die engele het van die skaapwagters weggegaan na die hemel. Toe het die skaapwagters vir mekaar gesê: “Kom ons gaan dadelik na Betlehem sodat ons kan sien wat gebeur het. Dan sal ons sien wat die Here vir ons vertel het.” Die skaapwagters het haastig daarnatoe gegaan en hulle het vir Maria en Josef gekry en ook die baba wat in die krip lê. Toe die skaapwagters dit alles sien, het hulle vir die mense vertel wat die engel vir hulle gesê het oor hierdie Kindjie. Almal wat dit gehoor het, was verbaas oor wat die skaapwagters vir hulle vertel het. Maar Maria het alles onthou en baie maal daaroor gedink. Die skaapwagters het teruggegaan. Hulle het God geloof en geprys oor alles wat hulle gehoor en gesien het. Dit het alles gebeur soos die engel vir hulle vertel het. Toe Jesus ag dae oud was, was dit die tyd om Hom te besny, en toe het hulle Hom Jesus genoem. Dit was die naam wat die engel vir Maria gesê het voordat sy swanger geword het.

LUKAS 2:1-21 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN in daardie dae het daar 'n bevel uitgegaan van keiser Augustus dat die hele wêreld ingeskryf moes word. Hierdie eerste inskrywing het plaasgevind toe Cirénius goewerneur van Sírië was. En almal het gegaan om ingeskryf te word, elkeen na sy eie stad. En Josef het ook opgegaan van Galiléa, uit die stad Násaret, na Judéa, na die stad van Dawid, wat Betlehem genoem word, omdat hy uit die huis en geslag van Dawid was, om hom te laat inskrywe saam met Maria, die vrou aan wie hy hom verloof het, wat swanger was. En terwyl hulle daar was, is die dae vervul dat sy moes baar; en sy het haar eersgebore Seun gebaar en Hom toegedraai in doeke en Hom in die krip neergelê, omdat daar vir hulle geen plek in die herberg was nie. EN daar was herders in dieselfde landstreek, wat in die oop veld gebly en in die nag oor hulle skape wag gehou het. En meteens staan daar 'n engel van die Here by hulle, en die heerlikheid van die Here het rondom hulle geskyn en groot vrees het hulle oorweldig. En die engel sê vir hulle: Moenie vrees nie, want kyk, ek bring julle 'n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk sal wees, dat vir julle vandag in die stad van Dawid gebore is die Saligmaker wat Christus, die Here, is. En dit is vir julle die teken: julle sal 'n Kindjie vind wat in doeke toegedraai is en wat in die krip lê. En skielik was daar saam met die engel 'n menigte van die hemelse leërskare wat God prys en sê: Eer aan God in die hoogste hemele en vrede op aarde, in die mense 'n welbehae! En toe die engele van hulle weggegaan het na die hemel, sê die herders vir mekaar: Laat ons dan na Betlehem gaan en hierdie ding sien wat gebeur het, wat die Here aan ons bekend gemaak het. En hulle het met haas gegaan en Maria en Josef gevind en die kindjie wat in die krip lê. En toe hulle dit gesien het, het hulle oral die woord bekend gemaak wat aan hulle van dié Kindjie vertel is. En almal wat dit gehoor het, was verwonderd oor wat deur die herders aan hulle vertel is; maar Maria het al hierdie woorde bewaar en in haar hart oordink. En die herders het teruggegaan en God verheerlik en geprys oor alles wat hulle gehoor en gesien het, net soos aan hulle gesê is. EN toe agt dae vervul was, dat hulle die Kindjie sou besny, het hulle Hom Jesus genoem, die naam wat deur die engel gegee is voor sy ontvangenis in die moederskoot.

LUKAS 2:1-21 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

In daardie tyd het keiser Augustus 'n dekreet uitgevaardig dat die bevolking van die hele ryk geregistreer moet word. Dit was die eerste volkstelling wat gehou is toe Sirenius prokurator van Sirië was. Almal het gegaan om hulle te laat registreer, elkeen na sy eie dorp. Josef het ook gegaan. Hy het van die dorp Nasaret in Galilea na Judea gegaan, na die stad van Dawid, wat Betlehem genoem word, omdat hy van die huis en nageslag van Dawid afkomstig was. Hy het saam met sy verloofde, Maria, wat swanger was, gegaan om hom te laat registreer. Terwyl hulle daar was, het die tyd aangebreek dat haar kind gebore moes word, en sy het geboorte geskenk aan haar eerste kind, 'n seun. Sy het Hom in doeke toegedraai en in 'n krip neergelê, omdat daar nie vir hulle plek in die herberg was nie. Daar was skaapwagters in dieselfde omgewing wat in die oop veld gebly en snags hulle skaaptroppe opgepas het. 'n Engel van die Here het aan hulle verskyn, en die hemelse glans van die Here het rondom hulle geskyn. Hulle het geweldig groot geskrik. Toe sê die engel vir hulle: “Moenie bang wees nie. Kyk, ek bring vir julle 'n goeie boodskap wat vir die hele volk 'n bron van groot vreugde sal wees: Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid as Verlosser gebore, Christus die Here. Dit sal vir julle die teken wees: Julle sal 'n pasgebore kind vind wat in doeke toegedraai is en in 'n krip lê.” Skielik was daar saam met die engel 'n hemelse menigte wat God loof: “Eer aan God in die hoogste, en vrede op aarde vir die mense in wie God 'n welbehae het! ” Nadat die engele van hulle af na die hemel weggegaan het, sê die skaapwagters toe vir mekaar: “Kom ons gaan reguit na Betlehem en gaan kyk na wat gebeur het en wat die Here aan ons bekend gemaak het.” Hulle het toe haastig daarheen vertrek en Maria en Josef en die Kindjie wat in die krip lê, daar aangetref. Nadat hulle Hom gesien het, het hulle aan almal gaan vertel wat oor hierdie Kindjie aan hulle gesê is. Almal wat hiervan gehoor het, was verwonderd oor wat die skaapwagters aan hulle vertel het, maar Maria het al hierdie woorde gekoester en in haar hart daaroor bly nadink. Die skaapwagters het teruggekeer, terwyl hulle God verheerlik en prys oor alles wat hulle gehoor en gesien het – presies soos dit aan hulle meegedeel is. Ná verloop van agt dae moes die Kindjie besny word. En Hy is Jesus genoem, die naam wat deur die engel aangedui is voordat Hy in die moederskoot ontvang is.

LUKAS 2:1-21 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En in daardie dae het 'n bevel van keiser Augustus uitgegaan dat die hele wêreld belas moes word. (En hierdie belasting is die eerste keer gedoen toe Cirénius goewerneur van Sirië was.) En almal het gegaan om belas te word, elkeen na sy eie stad. En Josef het ook opgetrek van Galiléa, uit die stad Nasaret, na Judéa, na die stad van Dawid, wat Betlehem genoem word; (omdat hy uit die huis en geslag van Dawid was:) Om saam met Maria, sy getroude vrou, belas te word, groot van swangerskap. En so was dit dat, terwyl hulle daar was, die dae verby was dat sy verlos sou word. En sy het haar eersgebore seun gebaar en hom in doeke toegedraai en hom in 'n krip neergelê; want daar was nie plek vir hulle in die herberg nie. En daar was in dieselfde land herders wat in die veld gebly het en in die nag oor hulle kudde gewaak het. En kyk, die Engel van die Here het oor hulle gekom, en die heerlikheid van die Here het rondom hulle geskyn, en hulle was baie bevrees. En die engel sê vir hulle: Moenie vrees nie, want kyk, ek bring vir julle 'n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk sal wees. Want vir julle is vandag in die stad van Dawid 'n Verlosser gebore, dit is Christus die Here. En dit sal vir julle 'n teken wees; Julle sal die kindjie vind wat in doeke toegedraai is en in 'n krip lê. En skielik was daar saam met die engel 'n menigte van die hemelse leërskare wat God prys en sê: Eer aan God in die hoogste hemele, en vrede op aarde, in die mense welbehae. En terwyl die engele van hulle weggegaan het na die hemel, sê die herders vir mekaar: Laat ons nou tot by Betlehem gaan en hierdie ding sien wat gebeur het, wat die Here aan ons bekend gemaak het. En hulle het haastig gekom en Maria en Josef en die kindjie gevind wat in 'n krip lê. En toe hulle dit sien, het hulle die woord wat hulle oor hierdie kindjie vertel is, in die buiteland bekend gemaak. En almal wat dit gehoor het, was verwonderd oor die dinge wat hulle deur die herders vertel is. Maar Maria het al hierdie dinge bewaar en in haar hart daaroor nagedink. En die herders het teruggekeer en God verheerlik en geprys vir alles wat hulle gehoor en gesien het, soos aan hulle gesê is. En toe agt dae verby was vir die besnydenis van die kind, is sy naam JESUS genoem, wat so genoem is deur die engel voordat hy in die moederskoot ontvang is.

LUKAS 2:1-21 Die Boodskap (DB)

In daardie tyd het Augustus, die Romeinse keiser, ’n bevel uitgereik dat ’n sensus gehou moet word om vas te stel hoeveel mense daar in die Romeinse Ryk bly. Hierdie sensus het plaasgevind toe Sirenius die Romeinse goewerneur van Sirië was. Almal moes in daardie tyd na hulle geboorteplek toe gaan om hulle daar te laat registreer. Daarom het Josef, Maria se verloofde, van Nasaret in Galilea na Betlehem in Judea, die stad van Dawid, gegaan. Hy het soontoe gegaan omdat hy uit Dawid se nageslag kom. Maria, wat in daardie stadium al lank swanger was, het saam met hom gegaan. Terwyl Josef en Maria daar in Betlehem was, het die tyd aangebreek dat haar Kind gebore moes word. Sy het toe ’n Seun in die wêreld gebring. Dit was haar eerste kind. Sy het Hom styf in doeke toegedraai en neergelê in ’n voerbak waaruit die diere hulle kos geëet het. Daar was geen ander plek vir Josef en Maria in Betlehem nie. Al die gastekamers en herberge was vol. Daar in die omgewing van Betlehem het ’n klompie skaapwagters gebly. Hulle het in die oop veld geslaap. Snags het hulle hulle skape opgepas. Een nag, uit die bloute, het ’n engel van die Here daar by hulle kom staan. Die Here se heerlikheid het alles om hulle helder verlig. Die skaapwagters het hulle doodgeskrik. Maar die engel het vir hulle gesê: “Moenie bang wees nie. Ek het baie goeie nuus vir julle; nuus waaroor julle nog baie lank gaan feesvier. Hierdie goeie nuus is ook vir die hele volk bedoel: vandag is die Redder in die stad van Dawid gebore; vir almal van julle. Dit is Hy wat julle van julle sondes sal vrymaak. Hy is die Messias en die Here oor almal. Gaan kyk! Gaan soek na ’n baba wat styf in doeke toegedraai is en in ’n voerbak lê. Dit is Hy!” Skielik het daar ’n groot skare engele uit die hemel by die engel aangesluit. Daar in die oop veld het ’n koor van hemelse stemme God geprys: “Eer aan God. Eer aan Hom wat in die hoogste hemel bly. En vrede vir almal hier op die aarde; vrede vir almal oor wie God nou feesvier.” Nadat die engele teruggekeer het na die hemel toe, het die skaapwagters opgewonde vir mekaar gesê: “Waarvoor wag ons nog? Kom ons gaan dadelik Betlehem toe. Kom ons gaan soek Hom van wie die Here ons pas vertel het.” Hulle het toe haastig soontoe gegaan. Daar het hulle vir Maria en Josef gekry, en die Kindjie wat in die krip lê. Die skaapwagters kon hulle oë nie glo nie. Hulle het dadelik vertel wat die engele vir hulle oor die Kindjie gesê het. Almal was aangegryp deur die skaapwagters se verhaal. Maria ook. Sy het die skaapwagters se woorde diep in haar binneste weggebêre en gereeld daaraan teruggedink. Later het die skaapwagters teruggegaan na hulle skape toe. Hulle harte het oorgeloop van dankbaarheid teenoor God. Hulle het sy Naam geloof oor alles wat hulle gehoor en gesien het. Alles was presies net soos die engel vir hulle gesê het. Toe die Kindjie agt dae oud was, die dag waarop alle Joodse seuntjies besny is, het Hy sy Naam gekry. Hy is Jesus genoem, soos die engel voor sy geboorte al vir Maria gesê het.

LUKAS 2:1-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Gedurende daardie tyd het die Romeinse keiser Augustus ’n bevel uitgevaardig dat ’n sensus deur die hele Romeinse Ryk gehou moes word. Dit was die eerste sensus wat gehou is toe Sirenius goewerneur van Sirië was. Almal het teruggegaan na hulle eie dorpe om vir die sensus te registreer. En omdat Josef ’n afstammeling van koning Dawid was, moes hy vanaf die dorp Nasaret in Galilea na Judea gaan, na Betlehem, Dawid se tuisdorp. Hy het sy verloofde, Maria, wat swanger was, saamgeneem om te gaan registreer. Terwyl hulle daar was, het die tyd aangebreek dat haar kind gebore moes word. Sy het geboorte gegee aan haar eerste Kind, ’n seun. Sy het Hom in doeke toegedraai en Hom in ’n krip neergelê omdat daar vir hulle geen plek in die herberg was nie. Daardie nag was daar skaapwagters wat in die veld buite die dorpie hulle skape opgepas het. Skielik het ’n engel van die Here aan hulle verskyn en die glans van die Here het om hulle geskyn. Hulle het vreeslik bang geword, maar die engel het hulle gerusgestel: “Moenie bang wees nie!” het hy gesê. “Ek bring vir julle goeie nuus wat groot blydskap vir almal inhou! Die Verlosser – ja, die Messias, die Here – is vannag in Betlehem, die tuisdorp van Dawid, gebore! En dit is hoe julle Hom sal herken: Julle sal ’n Kindjie vind wat in ’n krip lê en in doeke toegedraai is!” Skielik was daar saam met die engel ’n groot menigte ander engele, ’n leërskare uit die hemel, wat God prys: “Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir almal in wie Hy ’n welbehae het.” Toe die engele teruggegaan het na die hemel, sê die skaapwagters vir mekaar: “Kom ons gaan Betlehem toe om te sien watter wonderlike ding gebeur het, soos die Here dit aan ons bekendgemaak het.” Hulle het toe na die dorp toe gehardloop en vir Maria en Josef gekry, en die Kindjie wat in die krip lê. Toe het die skaapwagters vir almal gaan vertel wat gebeur het, en wat die engel vir hulle oor die Kindjie gesê het. Almal wat die skaapwagters se verhaal gehoor het, was verbaas, maar Maria het stilweg hierdie dinge in haar hart bewaar en dikwels daaroor nagedink. Die skaapwagters het teruggegaan na die veld en hulle kuddes terwyl hulle God loof en prys oor wat die engele vir hulle vertel het, en omdat hulle die Kind gesien het, net soos die engel gesê het. Agt dae later, toe die tyd aangebreek het om die kindjie te besny, is Hy Jesus genoem. Dit is die naam wat die engel nog voordat Hy verwek is aan Hom gegee het.