LUKAS 2:21-24
LUKAS 2:21-24 Bybel vir almal (ABA)
Toe Jesus ag dae oud was, was dit die tyd om Hom te besny, en toe het hulle Hom Jesus genoem. Dit was die naam wat die engel vir Maria gesê het voordat sy swanger geword het. Moses het in sy wette geskryf wat 'n vrou moet doen om weer rein te word nadat sy 'n kind gekry het. Maria het dit alles gedoen en daarna het sy en Josef vir Jesus na Jerusalem gebring om Hom aan die Here te wy. Die wet van die Here sê: Julle moet die eerste seun van elke vrou aan die Here wy. Josef en Maria het ook 'n offer gebring, want die wet van die Here sê ook
LUKAS 2:21-24 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN toe agt dae vervul was, dat hulle die Kindjie sou besny, het hulle Hom Jesus genoem, die naam wat deur die engel gegee is voor sy ontvangenis in die moederskoot. En nadat die dae van haar reiniging volgens die wet van Moses vervul was, het hulle Hom na Jerusalem gebring om Hom aan die Here voor te stel, soos geskrywe is in die wet van die Here: Elke manlike kind wat die moederskoot open, sal heilig vir die Here genoem word; en om die offer te gee volgens wat gesê is in die wet van die Here: 'n paar tortelduiwe of twee jong duiwe.
LUKAS 2:21-24 Afrikaans 1983 (AFR83)
Ag dae later, toe dit tyd was om die Kindjie te besny, het Hy die naam Jesus gekry, die naam wat deur die engel genoem is nog voordat Hy in die moederskoot ontvang is. Toe die reinigingstyd soos deur die wet van Moses bepaal, vir hulle verby was, het hulle Hom na Jerusalem toe gebring om Hom tot beskikking van die Here te stel. In die wet van die Here staan immers geskrywe: “Elke eersteling van die manlike geslag moet vir die Here afgesonder word.” Hulle het ook die reinigingsoffer gebring volgens die voorskrif in die wet van die Here, naamlik “'n paar tortelduiwe of twee jong duiwe.”
LUKAS 2:21-24 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Ná verloop van agt dae moes die Kindjie besny word. En Hy is Jesus genoem, die naam wat deur die engel aangedui is voordat Hy in die moederskoot ontvang is. Ná afloop van hulle reinigingstyd wat die Wet van Moses voorskryf, het hulle Hom na Jerusalem geneem om Hom aan die Here te wy. Soos daar in die Wet van die Here geskryf staan: “Elke eerstelingseun wat gebore word, moet aan die Here gewy word.” Hulle het ook, soos die Wet van die Here voorskryf, 'n offer gebring: “twee tortelduiwe, of twee jong duiwe” .
LUKAS 2:21-24 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En toe agt dae verby was vir die besnydenis van die kind, is sy naam JESUS genoem, wat so genoem is deur die engel voordat hy in die moederskoot ontvang is. En toe die dae van haar reiniging volgens die wet van Moses verby was, het hulle hom na Jerusalem gebring om hom aan die Here voor te stel; (Soos geskrywe is in die wet van die Here: Elke manlike wat die moederskoot oopmaak, sal aan die Here heilig genoem word;) En om 'n offer te bring volgens wat in die wet van die Here gesê is: 'n paar tortelduiwe of twee jong duiwe.
LUKAS 2:21-24 Die Boodskap (DB)
Toe die Kindjie agt dae oud was, die dag waarop alle Joodse seuntjies besny is, het Hy sy Naam gekry. Hy is Jesus genoem, soos die engel voor sy geboorte al vir Maria gesê het. Toe Maria se reinigingstyd van 40 dae verby was (soos die wet van Moses voorgeskryf het vir vroue wat geboorte gegee het), het sy en Josef vir Jesus Jerusalem toe gevat. Daar het hulle Hom aan God gaan toewy soos die wet dit vereis. In die wet van die Here staan daar immers: “Elke seun wat eerste in ’n huisgesin gebore word, moet aan die Here toegewy word. Hy moet eenkant gesit word vir die Here se diens.” Daar by die tempel het hulle ook die voorgeskrewe offer gebring om vroue weer rein te maak nadat hulle geboorte geskenk het. Volgens die wet van die Here kon arm mense twee tortelduiwe of twee jong duiwe aan die Here offer. Dit het hulle dan ook gedoen.
LUKAS 2:21-24 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Agt dae later, toe die tyd aangebreek het om die kindjie te besny, is Hy Jesus genoem. Dit is die naam wat die engel nog voordat Hy verwek is aan Hom gegee het. Daarna was dit tyd vir die reinigingsoffer, soos die wet van Moses ná die geboorte van ’n kind vereis het; daarom het sy ouers Hom na Jerusalem toe gevat om Hom aan die Here te wy. Die wet van die Here sê: “As ’n vrou se eerste kind ’n seun is, moet hy aan die Here gewy word.” Hulle het ’n offer gebring volgens wat die wet van die Here vereis het: “óf ’n paar tortelduiwe óf twee jong duiwe.”