LUKAS 2:25-28
LUKAS 2:25-28 Bybel vir almal (ABA)
Daar was 'n man in Jerusalem, sy naam was Simeon. Hy het gedoen wat die Here wil hê, en hy het die Here elke dag gedien. Hy het geweet die Here sal Iemand stuur om sy volk te kom red, en hy het elke dag vir Hom gewag. Die Heilige Gees was in Simeon. Die Heilige Gees het voorheen vir hom gesê hy sal Christus die Here sien voordat hy sterf. Die Heilige Gees het eendag vir Simeon gesê hy moet na die tempel gaan. Dit was toe Josef en Maria vir Jesus gebring het om met Hom te doen soos die Wette van Moses sê. Simeon het die Kindjie in sy arms gehou en hy het God geprys en gesê
LUKAS 2:25-28 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN daar was 'n man in Jerusalem met die naam van Símeon; en hierdie man was regverdig en vroom en het die vertroosting van Israel verwag, en die Heilige Gees was op hom. En aan hom was dit deur die Heilige Gees geopenbaar dat hy die dood nie sou sien voordat hy die Christus van die Here gesien het nie. En hy het deur die Gees in die tempel gekom; en toe die ouers die Kindjie Jesus inbring om met Hom te handel volgens die gebruik van die wet, het hy Hom in sy arms geneem en God geloof en gesê
LUKAS 2:25-28 Afrikaans 1983 (AFR83)
Daar het destyds 'n man met die naam Simeon in Jerusalem gewoon. Hy was getrou aan die wet en vroom, en het uitgesien na die koms van die Verlosser van Israel. Die Heilige Gees was op Simeon en het aan hom bekend gemaak dat hy nie sou sterwe voordat hy die Gesalfde van die Here gesien het nie. Deur die Gees gelei, het hy opgegaan na die tempel toe. Toe die ouers die Kindjie Jesus bring om vir Hom die gebruiklike bepaling van die wet na te kom, het Simeon Hom in sy arms geneem en God geprys en gesê
LUKAS 2:25-28 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
En kyk, in Jerusalem was daar 'n man met die naam Simeon. Hierdie man was wetsgehoorsaam en toegewyd, en het uitgesien na die herstel van Israel. Die Heilige Gees was met hom. Hy het deur die Heilige Gees 'n openbaring ontvang dat hy nie die dood sou sien voordat hy die Gesalfde van die Here gesien het nie. Gelei deur die Gees, het hy na die tempelterrein gegaan. Toe Jesus se ouers die Kindjie inbring, sodat hulle die gebruiklike voorskrif van die wet oor Hom kon nakom, het Simeon Hom in sy arms geneem en God geloof
LUKAS 2:25-28 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En kyk, daar was 'n man in Jerusalem met die naam van Simeon; en dieselfde man was regverdig en vroom en het gewag op die vertroosting van Israel, en die Heilige Gees was op hom. En dit is aan hom geopenbaar deur die Heilige Gees, dat hy die dood nie sou sien voordat hy die Here se Christus gesien het nie. En hy het deur die Gees in die tempel gekom, en toe die ouers die Kindjie Jesus inbring, om vir hom te doen volgens die gebruik van die wet, Toe neem hy hom in sy arms en loof God en sê
LUKAS 2:25-28 Die Boodskap (DB)
Daar het ’n man in Jerusalem gebly met die naam Simeon. Hy was ’n baie goeie man. Simeon het die wet van Moses streng gehoorsaam. Sy hele lewe lank het hy uitgesien na die koms van die Messias. Die Heilige Gees was by hom. Op ’n dag het die Gees ook vir hom gewys dat hy nie sou doodgaan voordat hy die Messias, die Gestuurde van die Here, gesien het nie. Op ’n dag het die Gees Simeon gelei om na die tempel toe te gaan. Dit was op presies dieselfde tydstip toe Jesus se ouers Hom in die tempel ingebring het om Hom aan God toe te wy. Toe Simeon vir Jesus sien, het hy na Hom toe gestap en Hom dadelik in sy arms opgetel. Hy het God geprys en gesê
LUKAS 2:25-28 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Daar was ’n man met die naam Simeon wat in Jerusalem gewoon het. Hy was wetsgetrou en baie toegewyd. Hy was met die Heilige Gees vervul en het gretig uitgesien na Israel se bevryding. Die Heilige Gees het aan hom bekendgemaak dat hy nie sou sterf voordat hy die Gesalfde van die Here gesien het nie. Daardie dag het die Gees hom na die tempel toe gelei. Toe Maria en Josef opdaag om die Kindjie Jesus aan die Here te wy, soos die wet vereis het, was Simeon daar. Hy het die Kind in sy arms geneem en God geprys