LUKAS 22:41-44
LUKAS 22:41-44 Bybel vir almal (ABA)
Jesus het 'n bietjie verder van die dissipels gaan staan, omtrent so ver soos 'n mens met 'n klip kan gooi. Hy het gekniel en gebid en gesê: “Vader, as U dit wil doen, neem asseblief hierdie swaarkry weg van My, moenie vir My hierdie beker gee om te drink nie. Maar U moenie doen wat Ek wil hê nie, U moet doen wat U wil hê.” Toe kom daar 'n engel uit die hemel. Hy het aan Jesus verskyn en vir Hom krag gegee. Daarna het Jesus baie bang geword en Hy het baie ernstig gebid. Sy sweet het soos bloeddruppels geword en dit het op die grond gedrup.
LUKAS 22:41-44 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En Hy het Hom van hulle afgesonder omtrent so ver as 'n mens met 'n klip kan gooi, en neergekniel en gebid en gesê: Vader, as U tog maar hierdie beker van My wil wegneem! Laat nogtans nie my wil nie, maar u wil geskied! En 'n engel uit die hemel het aan Hom verskyn en Hom versterk. En toe Hy in 'n sware stryd kom, het Hy met groter inspanning gebid, en sy sweet het geword soos bloeddruppels wat op die grond val.
LUKAS 22:41-44 Afrikaans 1983 (AFR83)
Hy het Hom toe van hulle afgesonder omtrent so ver as 'n mens met 'n klip kan gooi. Daar het Hy gekniel en gebid: “Vader, as U wil, neem tog hierdie lydensbeker van My af weg. Laat nogtans nie my wil nie maar u wil geskied!” 'n Engel uit die hemel het aan Hom verskyn en Hom versterk. Hy het in doodsangs geraak en het nog ernstiger gebid. Sy sweet het soos bloeddruppels geword wat op die grond val.
LUKAS 22:41-44 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Hy het toe 'n entjie van hulle af weggestap, ongeveer 'n klipgooi ver, gekniel en gebid: “Vader, as U wil, neem hierdie beker van My af weg. Laat nogtans nie my wil nie, maar u wil geskied. ” Daar het 'n engel uit die hemel aan Hom verskyn en Hom versterk. Hy is deur intense angs oorval, en het nog ernstiger gebid. Sy sweet het soos druppels bloed op die grond geval.
LUKAS 22:41-44 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En hy is van hulle teruggetrek omtrent 'n klipgooi, en het neergekniel en gebid: en gesê: Vader, as U wil, neem hierdie beker van My weg; laat nogtans nie my wil nie, maar u wil geskied. En 'n engel het uit die hemel aan hom verskyn wat hom versterk het. En terwyl hy in angs was, het hy ernstiger gebid, en sy sweet was soos groot druppels bloed wat op die grond geval het.
LUKAS 22:41-44 Die Boodskap (DB)
Jesus het toe ’n ent van hulle af weggestap, omtrent so ver as wat ’n mens met ’n klip kan gooi. Daar het Hy op sy knieë neergeval en begin bid: “My Vader, kan U nie asseblief u planne verander sodat Ek nie meer die pad wat vir My voorlê, hoef te loop nie? Is daar nie dalk ’n ander uitweg nie? Maar Ek probeer nie nou self allerhande planne maak nie. Maak U die planne! Ek val daarby in.” Terwyl Jesus nog bid, het ’n engel daar na Hom toe gekom om Hom krag te gee vir alles wat op Hom gewag het. Jesus was nou in ’n geweldige stryd gewikkel. Hy het so ernstig gebid dat Hy later papnat van die sweet was. Dit het soos bloeddruppels van Hom afgeloop en op die grond geval.
LUKAS 22:41-44 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Jesus het Hom toe van hulle afgesonder, ongeveer ’n klipgooi ver. Daar het Hy gekniel en gebid: “Vader, as U wil, neem hierdie beker van My af weg. Laat nogtans nie my wil nie, maar u wil geld!” Daar het ’n engel uit die hemel aan Jesus verskyn en Hom versterk. Terwyl Hy intense angs beleef, het Jesus nog ernstiger gebid. Sy sweet het soos druppels bloed geword wat op die grond drup.