LUKAS 24:50-53
LUKAS 24:50-53 Bybel vir almal (ABA)
Toe het Jesus gesê die apostels moet saam met Hom gaan. Hy het hulle geneem tot by die stad Betanië. Jesus het sy hande uitgesteek en Hy het hulle geseën. Hy het hulle geseën terwyl Hy weggegaan het van hulle. God het Hom na die hemel geneem. Die apostels het Jesus aanbid en daarna het hulle teruggegaan na Jerusalem. Hulle was baie bly. Hulle het elke dag na die tempel gegaan en hulle het God geprys.
LUKAS 24:50-53 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN Hy het hulle uitgelei tot by Betánië. En Hy het sy hande opgehef en hulle geseën. En terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle geskei en is in die hemel opgeneem. En hulle het Hom aanbid en na Jerusalem teruggegaan met groot blydskap. En hulle was gedurig in die tempel en het God geprys en gedank. Amen.
LUKAS 24:50-53 Afrikaans 1983 (AFR83)
Daarna het Hy hulle uit die stad uitgelei tot by Betanië. Daar het Hy sy hande opgehef en hulle geseën. Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan en is Hy in die hemel opgeneem. Hulle het Hom aanbid en met groot blydskap na Jerusalem toe teruggegaan. Daar het hulle die hele tyd by die tempel gebly en God geprys.
LUKAS 24:50-53 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Daarna het Jesus hulle uit die stad gelei, tot by Betanië. Hy het sy hande opgehef en hulle geseën. Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan, en is in die hemel opgeneem. Hulle het Hom aanbid, en met groot blydskap na Jerusalem teruggekeer. En hulle het God voortdurend in die tempelterrein bly prys.
LUKAS 24:50-53 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En hy het hulle uitgelei tot by Betanië, en hy het sy hande opgehef en hulle geseën. En dit het gebeur, terwyl Hy hulle seën, is Hy van hulle geskei en na die hemel opgeneem. En hulle het Hom aanbid en met groot blydskap na Jerusalem teruggekeer. En hulle was voortdurend in die tempel en het God geprys en geseën. Amen.
LUKAS 24:50-53 Die Boodskap (DB)
’n Rukkie later het Jesus sy apostels na Betanië toe gevat. Daar het Hy sy hande oor hulle uitgestrek en God se seën oor hulle afgebid. Terwyl Hy nog besig was om hulle te seën, het Hy na die hemel toe vertrek. Die apostels het op hulle knieë neergeval en Jesus aanbid terwyl Hy van hulle af weggegaan het. Daarna het hulle na Jerusalem toe teruggestap. Hulle was baie opgewonde oor alles wat hulle gesien en beleef het. In Jerusalem het hulle elke dag na die tempel toe gegaan om God te dien en te eer.
LUKAS 24:50-53 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Daarna het Jesus hulle uitgelei tot by Betanië. En Hy het sy hande opgehef en hulle geseën. Terwyl Hy nog besig was om hulle te seën, het Hy van hulle af weggegaan en is Hy in die hemel opgeneem. Hulle het toe neergeval en Hom aanbid. Daarna het hulle met groot vreugde teruggegaan na Jerusalem toe. Daar het hulle al hulle tyd in die tempel deurgebring en God geloof.