LUKAS 6:1-11

LUKAS 6:1-11 Bybel vir almal (ABA)

Jesus en sy dissipels het op 'n Sabbatdag deur 'n koringland geloop. Die dissipels het van die koring-are gepluk en hulle het die korrels met hulle hande uitgevryf en dit geëet. Toe vra party van die Fariseërs: “Hoekom doen julle iets wat 'n mens nie op die Sabbatdag mag doen nie?” Jesus het vir hulle gesê: “Het julle gelees wat Dawid gedoen het toe hy en sy manne honger was? Dawid het in 'n tempel ingegaan en hy het die brood geneem wat net die priesters mag eet. Dawid het dit geëet en hy het ook vir sy manne daarvan gegee.” Jesus sê toe vir hulle: “Ek, die Seun van die mens, is die Here wat besluit wat op die Sabbatdag mag gebeur.” Op 'n ander Sabbatdag het Jesus na die sinagoge gegaan en Hy het vir die mense geleer. Daar was 'n man, sy regter-hand was gebreklik. Die skrifgeleerdes en die Fariseërs het Jesus dopgehou om te kyk of Hy die man op die Sabbatdag gesond sal maak. As Jesus dit doen, dan wou hulle Hom beskuldig dat Hy verkeerd gedoen het. Maar Jesus het geweet wat hulle dink. Hy sê toe vir die man met die gebreklike hand: “Kom staan hier tussen die mense sodat almal jou kan sien.” Die man het gedoen wat Jesus gesê het. Jesus sê toe vir die skrifgeleerdes en die Fariseërs: “Sê vir My, mag 'n mens op die Sabbatdag goed doen of verkeerd doen? Mag 'n mens iemand se lewe red, of mag 'n mens hom doodmaak?” Jesus het na al die mense rondom Hom gekyk en Hy het vir die man gesê: “Steek jou hand uit.” Die man het dit gedoen, en toe was sy hand gesond. Die skrifgeleerdes en Fariseërs het baie kwaad geword, hulle was woedend. Hulle het planne gemaak en gedink wat hulle met Jesus kan doen.

LUKAS 6:1-11 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN op die tweede eerste sabbat het Hy deur die gesaaides geloop, en sy dissipels het die are gepluk en met hulle hande uitgevrywe en geëet. Toe sê sommige van die Fariseërs vir hulle: Waarom doen julle wat nie geoorloof is om op die sabbat te doen nie? En Jesus antwoord en sê vir hulle: Het julle dan nie gelees wat Dawid gedoen het nie — toe hy honger gehad het, hy en die wat by hom was — hoe hy in die huis van God gegaan en die toonbrode geneem en geëet het, en ook aan die wat by hom was, gegee het, wat hulle nie geoorloof was om te eet nie, maar net vir die priesters alleen? Toe sê Hy vir hulle: Die Seun van die mens is Here óók van die sabbat. EN op 'n ander sabbat het Hy in die sinagoge gegaan en geleer. En daar was 'n man, en sy regterhand was uitgedor. En die skrifgeleerdes en die Fariseërs het Hom in die oog gehou, of Hy op die sabbat gesond maak, sodat hulle 'n aanklag teen Hom kon vind. Maar Hy het hulle gedagtes geken en vir die man met die verdorde hand gesê: Staan op hier in hul midde. En hy het opgestaan. Toe sê Jesus vir hulle: Ek sal aan julle 'n vraag stel: wat is geoorloof op die sabbat — om goed te doen of kwaad te doen; om 'n lewe te red of óm te bring? En nadat Hy almal rondom aangekyk het, sê Hy vir die man: Steek jou hand uit! En hy het dit gedoen; en sy hand is herstel, gesond soos die ander een. En hulle is met uitsinnigheid vervul en het met mekaar gepraat wat hulle aan Jesus sou doen.

LUKAS 6:1-11 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Op 'n keer het Jesus op die Sabbat deur die gesaaides geloop. Sy dissipels het are gepluk en met hulle hande uitgevryf en geëet. Sommige van die •Fariseërs sê toe: “Waarom doen julle iets wat op die Sabbat nie toelaatbaar is nie?” Maar Jesus het hulle geantwoord: “Het julle nie gelees wat Dawid gedoen het toe hy en dié saam met hom honger geword het nie? Hoe hy die huis van God binnegegaan en die •vertoonbrode gevat en geëet het, en ook daarvan aan dié wat saam met hom was, gegee het, alhoewel niemand behalwe die priesters daarvan mag eet nie? ” Verder sê Hy vir hulle: “Die •Seun van die Mens – Hy is Heer van die Sabbat.” Op 'n ander Sabbat, toe Hy weer na die •sinagoge gegaan en daar onderrig gegee het, was daar 'n man wie se regterhand verdor was. Die skrifkenners en die •Fariseërs het Hom dopgehou om te sien of Hy op die Sabbat iemand gesond sou maak, sodat hulle iets kon hê waarvan hulle Hom kon aankla. Maar Hy het geweet wat in hulle gedagtes aangaan, en vir die man met die gebreklike hand gesê: “Kom staan hier tussen ons.” Die man het opgestaan en daar gaan staan. Toe sê Jesus vir hulle: “Ek vra julle, is dit toelaatbaar om op die Sabbat goed te doen, of sleg te doen, om 'n lewe te red, of dit ten gronde te laat gaan?” Nadat Hy in die rondte na hulle almal gekyk het, sê Hy vir die man: “Steek uit jou hand!” Hy het dit gedoen, en sy hand het gesond geword. Hulle was egter buite hulleself van woede, en het onder mekaar beraadslaag oor wat hulle met Jesus kon doen.

LUKAS 6:1-11 Die Boodskap (DB)

Een sabbatdag het Jesus deur ’n koringland geloop. Sy dissipels het honger geword. Hulle het toe van die ryp koringare afgepluk, die kaf gou uitgevryf en die koring geëet. ’n Paar Fariseërs wat hulle soos valke dopgehou het, het dit dadelik raakgesien. “En wat is hier aan die gang?” wou hulle weet. “Julle weet mos ’n mens mag nie kos op die sabbat bymekaarmaak nie.” Jesus het hulle geantwoord: “Ken julle dan nie julle Bybel nie? Onthou julle nie wat Dawid en sy manne gedoen het toe hulle honger geword het nie? Het julle vergeet hoe hy die reëls oortree het deur in die huis van God in te gaan en van die brood op die altaar te vat en te eet wat spesiaal vir God opsy gesit is? Net die priesters is mos toegelaat om dit te eet. “Wel, nou is Ek, die Seun van die mens, hier by julle. En Ek is baie belangriker as die sabbat. Ek sê nou wat op die sabbat gedoen mag word en wat nie.” Op ’n ander sabbatdag het Jesus na ’n Joodse sinagoge toe gegaan waar die mense bymekaargekom het om God te dien. Hy het hulle daar geleer. Daar was ’n man wie se regterhand heeltemal misvorm was. Dit was ineengetrek sodat hy dit glad nie kon gebruik nie. Die skrifkenners en die Fariseërs het Jesus fyn dopgehou. Hulle wou sien of Hy dit sou waag om iemand op die sabbat gesond te maak sodat hulle Hom kon aankla dat Hy God se wet oortree. Jesus het geweet hulle hou Hom dop, maar Hy het Hom nie aan hulle gesteur nie. Hy het vir die man met die misvormde hand gesê: “Kom staan hier!” Die man het dadelik opgestaan en na Jesus toe gekom. Toe vra Jesus vir die godsdienstige leiers: “Sê ’n bietjie vir My: Moet ’n mens op die sabbat goed doen, of moet ’n mens slegte dinge doen? Moet ’n mens iemand anders se lewe red, of moet jy hom doodmaak?” Jesus het om Hom gekyk, maar niemand het dit gewaag om iets te antwoord nie. Toe sê Hy vir die man: “Steek jou hand uit.” Hy het dit gedoen. Dit was gesond, so goed soos nuut. Die godsdienstige leiers was briesend daaroor. Dadelik het hulle begin planne maak hoe hulle van Hom ontslae kon raak.

LUKAS 6:1-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Een Sabbatdag toe Jesus deur graanlande loop, het sy dissipels koringare afgebreek, dit in hulle hande uitgevryf en die koringkorrels geëet. Maar sommige Fariseërs het gesê: “Julle moenie dit doen nie! Dis teen die wet om op die Sabbat te werk en graan te oes.” Jesus het geantwoord: “Het julle nooit in die Skrif gelees wat koning Dawid gedoen het toe hy en sy manskappe honger was nie? Hy het selfs in die huis van God ingegaan en die offerbrood wat vir die priesters alleen bedoel was, geëet en daarvan vir sy manskappe gegee. Daardeur is die wet mos ook verbreek. “En,” voeg Jesus by, “Ek, die Seun van die Mens, is Here oor die Sabbat.” Op ’n ander Sabbatdag was daar ’n man met ’n gebreklike regterhand in die sinagoge terwyl Jesus die mense geleer het. Die skrifkenners en Fariseërs het Jesus fyn dopgehou om te sien of Jesus die man op die Sabbat sou genees, want hulle was gretig om ’n klag teen Hom te lê. Maar Jesus het geweet wat hulle dink. Hy sê toe vir die man met die misvormde hand: “Kom staan hier waar almal jou kan sien.” Die man het toe vorentoe gegaan. Toe sê Jesus vir sy kritici: “Ek het ’n vraag om aan julle te stel. Is dit wetlik reg om goeie dade op die Sabbat te doen, of is dit ’n dag om kwaad te doen? Is hierdie ’n dag om lewens te red of om dit te vernietig?” Hy het hulle almal in die rondte aangekyk en sê toe vir die man: “Steek jou hand uit.” Die man het sy hand uitgesteek en dit het weer normaal geword! Hieroor was Jesus se vyande buite hulleself van woede en het onder mekaar bly redeneer oor wat om met Hom te doen.