LUKAS 8:16-18
LUKAS 8:16-18 Bybel vir almal (ABA)
Jesus het ook gesê: “'n Mens steek nie 'n lamp op en sit dit dan onder 'n emmer of steek dit onder die bed weg nie. Nee, 'n mens sit 'n lamp op die lampstaander. Dan kan almal in die kamer die lig sien. God is Koning. Niemand kan hierdie geheim wegsteek nie. Almal sal daarvan weet en almal sal dit kan sien. Julle moet goed luister na die boodskap. Want as iemand verstaan en hy vertel vir almal dat God Koning is, dan sal God hom nog beter laat verstaan. Maar as iemand dit nie verstaan nie, dan sal God hom niks laat verstaan nie, ook as hy dink dat hy verstaan.”
LUKAS 8:16-18 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN niemand steek 'n lamp op en maak dit met iets toe of sit dit onder 'n bed nie; maar hy sit dit op 'n staander, sodat die wat inkom, die lig kan sien. Want daar is niks verborge wat nie openbaar sal word nie, of weggesteek wat nie bekend sal word en in die lig sal kom nie. Pas dan op hoe julle hoor; want elkeen wat het, aan hom sal gegee word; en elkeen wat nie het nie, van hom sal weggeneem word ook wat hy dink dat hy het.
LUKAS 8:16-18 Afrikaans 1983 (AFR83)
“Niemand steek 'n lamp op en maak dit dan met iets toe of sit dit onder 'n bed nie. Inteendeel, hy sit dit op 'n staander sodat die mense wat binnekom, die lig kan sien. Daar is niks geheim wat nie openbaar sal word nie, of weggesteek wat nie bekend sal word en aan die lig sal kom nie. “Pas dus op hoe julle luister, want wie het, vir hom sal daar nog meer gegee word, maar wie nie het nie, van hom sal ook wat hy dink dat hy het, weggevat word.”
LUKAS 8:16-18 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“ Niemand steek 'n lamp op en maak dit toe met 'n houer, of sit dit onder 'n bed nie. Trouens, 'n mens sit dit op 'n lampstaander, sodat die mense wat binnekom, die lig kan sien. Daar is niks verborge wat nie blootgelê sal word nie, en niks weggesteek wat nie bekend sal word en aan die lig sal kom nie. “Let daarom op hoe julle luister. Wie het, aan hom sal gegee word. En wie nie het nie, van hom sal selfs dit wat hy dink hy het, weggeneem word. ”
LUKAS 8:16-18 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Niemand wat 'n kers aangesteek het, bedek dit met 'n voorwerp of sit dit onder 'n bed nie; maar sit dit op 'n kandelaar, sodat die wat ingaan, die lig kan sien. Want niks is verborge wat nie openbaar sal word nie; ook niks wat verborge is wat nie bekend sal word en na buite sal kom nie. Pas dan op hoe julle hoor; want elkeen wat het, aan hom sal gegee word; en elkeen wat nie het nie, van hom sal weggeneem word ook wat hy skyn te hê.
LUKAS 8:16-18 Die Boodskap (DB)
Jesus sê toe: “Julle weet tog baie goed dat ’n mens nie ’n lig aanskakel en dit dan met ’n kombers toegooi nie. ’n Mens vat ook nie ’n lamp en gaan steek dit onder jou bed weg nie. Natuurlik nie. Nee, ’n mens sit ’n lamp in die middel van ’n kamer waar dit die beste lig kan gee. Dan kan almal sien wat om hulle aangaan. “’n Mens kan niks wegsteek wat jy doen nie. Geen woord of daad is so ’n groot geheim dat God nie daarvan weet nie. Alles sal aan die lig kom. Alles wat mense doen, sal uiteindelik bekend wees. “Luister na dit wat julle oor God hoor, en gaan doen dit. Hoe meer julle doen wat God sê, hoe meer sal sy ongelooflike goedheid in julle lewens instroom. Aan die ander kant, as julle nie luister na wat God sê nie, sal julle lewens op die ou end in chaos eindig. Dit help nie julle dink julle saak met God is in orde net omdat julle allerlei godsdienstige dinge doen nie. As julle lewens nie heeltemal verander nie, gaan julle alles verloor wat julle dink julle het.”
LUKAS 8:16-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Niemand steek ’n lamp op en maak dit dan met iets toe of sit dit onder ’n bed nie. Nee, lampe word op ’n lampstaander geplaas waar mense wat ’n huis binnekom, dit kan sien. Want alles wat weggesteek is, sal sigbaar word en alles wat geheim is, sal uiteindelik aan die lig kom vir almal om te sien. Gee daarom aandag aan wat jy hoor. Aan dié wat hulle oopstel vir my lering, sal groter begrip gegee word. Maar dié wat nie luister nie, van hulle sal selfs dit wat hulle dink hulle het, weggeneem word.”