LUKAS 8:40-56
LUKAS 8:40-56 Bybel vir almal (ABA)
Jesus het teruggegaan na die provinsie Galilea. Baie mense het na Hom toe gekom, want almal het vir Hom gewag om te kom. 'n Man het na Jesus toe gekom. Sy naam was Jaïrus. Hy was 'n belangrike man in die sinagoge. Hy het voor Jesus op die grond gekniel en hy het vir Jesus gesoebat om na sy huis te kom. Jaïrus se enigste dogtertjie was baie siek, sy was naby haar dood. Sy was twaalf jaar oud. Jesus het na haar toe gegaan. Daar was so baie mense dat hulle teen Jesus gedruk het. Daar was 'n vrou wat twaalf jaar lank siek was. Sy het aangehou bloei. Sy het al haar geld gebruik om die dokters te betaal, maar niemand kon haar gesond maak nie. Die vrou het van agter gekom en sy het aan die soom van Jesus se klere geraak. Sy het toe dadelik opgehou bloei. Jesus het gevra: “Wie het aan My geraak?” Almal het gesê hulle het nie aan Hom geraak nie. Petrus het gesê: “Here, hier is baie mense wat teen U druk.” Maar Jesus het gesê: “Iemand het aan My geraak, want Ek het gevoel daar gaan krag uit My.” Die vrou het gesien Jesus weet van haar. Sy het gebewe en sy het nader gekom en voor Jesus gekniel. Toe vertel sy daar voor al die mense hoekom sy aan Hom geraak het en dat sy dadelik gesond geword het. Jesus het vir haar gesê: “Mevrou, jy het nou gesond geword, want jy het geglo. Gaan nou huis toe, dit sal goed gaan met jou.” Een van Jaïrus se mense het daar aangekom terwyl Jesus besig was om te praat. Die man het vir Jaïrus gesê: “Jou dogtertjie is dood. Jy moenie die Meneer nog pla nie.” Maar Jesus het dit gehoor en Hy het vir Jaïrus gesê: “Jy moenie bang wees nie. Jy moet net glo, dan sal God jou dogter red.” Toe Jesus by Jaïrus se huis kom, wou Hy nie hê die ander mense moet saam met Hom in die huis ingaan nie. Hy het net vir Petrus en Johannes en Jakobus en die ouers van die kind saamgeneem. Die mense het almal gehuil en getreur oor die dogtertjie. Maar Jesus het gesê: “Julle moenie huil nie, want die dogtertjie is nie dood nie, sy slaap.” Die mense het vir Jesus gelag, want hulle het geweet die dogtertjie is dood. Toe neem Jesus haar hand en Hy sê: “Kind, staan op.” Die dogtertjie het weer begin lewe en sy het dadelik opgestaan. Jesus het toe gesê hulle moet vir haar iets gee om te eet. Haar ouers was baie bly, maar Jesus het vir hulle gesê hulle mag glad nie vir iemand vertel wat gebeur het nie.
LUKAS 8:40-56 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN toe Jesus terugkom, het die skare Hom verwelkom; want almal was Hom te wagte. En daar kom 'n man wie se naam Jaïrus was, en hy was 'n owerste van die sinagoge; en hy val voor die voete van Jesus neer en smeek Hom om na sy huis te kom; want sy enigste dogter van omtrent twaalf jaar het op sterwe gelê. En terwyl Hy gaan, het die skare Hom verdring. En 'n vrou wat twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het, en wat haar hele vermoë aan geneeshere uitgegee het en deur niemand gesond gemaak kon word nie, het van agter af gekom en die soom van sy kleed aangeraak, en haar bloedvloeiing het onmiddellik opgehou. Daarop sê Jesus: Wie is dit wat My aangeraak het? En toe almal dit ontken, sê Petrus en die wat by hom was: Meester, die skare druk en verdring U, en U sê: Wie is dit wat My aangeraak het? Maar Jesus antwoord: Iemand het My aangeraak, want Ek het gemerk dat krag van My uitgegaan het. En toe die vrou sien dat sy nie verborge gebly het nie, kom sy bewende en val voor Hom neer en vertel Hom voor die hele volk om watter rede sy Hom aangeraak het en hoe sy onmiddellik gesond geword het. En Hy sê vir haar: Hou goeie moed, dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede. Terwyl Hy nog spreek, kom daar iemand van die owerste van die sinagoge se huis en sê vir hom: U dogter is dood, moenie die Meester lastig val nie. Maar toe Jesus dit hoor, antwoord Hy hom en sê: Moenie vrees nie. Glo net, en sy sal gered word. En toe Hy in die huis kom, het Hy niemand toegelaat om in te gaan nie, behalwe Petrus en Jakobus en Johannes en die vader en die moeder van die meisie. En almal het gehuil en oor haar rou bedryf. Maar Hy sê: Moenie huil nie; sy is nie dood nie, maar slaap. En hulle het Hom uitgelag, want hulle het geweet dat sy dood was. En toe Hy almal na buite uitgejaag het, gryp Hy haar hand en roep uit en sê: Dogtertjie, staan op! En haar gees het teruggekom, en sy het onmiddellik opgestaan; en Hy het beveel dat hulle haar iets te ete moes gee. En haar ouers was verbaas, maar Hy het hulle bevel gegee om aan niemand te sê wat gebeur het nie.
LUKAS 8:40-56 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe Jesus van die oorkant af terugkom, het die mense Hom verwelkom, want almal was Hom te wagte. Skielik kom daar 'n man aan. Dit was Jaïrus, 'n raadslid van die sinagoge. Hy het op sy knieë voor Jesus se voete geval en Hom gesmeek om na sy huis toe te kom, want sy enigste dogter het op sterwe gelê. Sy was omtrent twaalf jaar oud. Op pad daarheen het die mense om Jesus saamgedrom. Onder hulle was 'n vrou wat al twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het. Sy het alles wat sy gehad het aan dokters uitgegee, maar niemand kon haar gesond maak nie. Sy het nader gekom en van agter af aan die soom van sy klere geraak, en haar bloedvloeiing het onmiddellik opgehou. Jesus vra toe: “Wie het My aangeraak?” Toe almal ontken dat dit hulle is, sê Petrus: “Here, die mense dring tog rondom U saam en druk teen U.” Maar Jesus sê: “Iemand het My aangeraak, want Ek het agtergekom dat daar krag van My uitgegaan het.” Toe die vrou sien Hy weet dit is sy, het sy van angs gebewe en voor Hom kom neerval. Daar voor al die mense vertel sy Hom toe waarom sy Hom aangeraak het en hoe sy onmiddellik gesond geword het. Toe sê Hy: “Dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede!” Terwyl Hy nog praat, kom daar iemand van die raadslid van die sinagoge se huis af om te sê: “U dogter is al dood. Moenie nog ons Leermeester lastig val nie.” Maar Jesus het dit gehoor en sê vir hom: “Moet jou nie ontstel nie. Glo net, en sy sal gered word.” Toe Jesus by die huis kom, het Hy niemand toegelaat om saam met Hom in te gaan nie, behalwe Petrus, Johannes en Jakobus, en die kind se pa en ma. Die mense daar het almal gehuil en oor haar rou bedryf. Maar Jesus sê: “Moenie huil nie, want sy is nie dood nie, sy slaap net.” Hulle het Hom uitgelag, want hulle was seker dat sy dood is. Maar Jesus het haar hand gevat en uitgeroep: “Dogtertjie, staan op!” Haar lewe het teruggekom, en sy het onmiddellik opgestaan. Toe gee Jesus opdrag dat hulle vir haar iets te ete moet gee. Haar ouers was stom van verbasing, en Jesus het hulle verbied om vir iemand te vertel wat gebeur het.
LUKAS 8:40-56 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Met Jesus se terugkoms het die skare Hom verwelkom, omdat almal vir Hom gewag het. Kyk, daar kom toe 'n man aan met die naam Jaïrus. Hy was 'n leier van die •sinagoge. Hy het voor Jesus se voete neergeval en Hom gesmeek om na sy huis te kom, omdat sy enigste dogter, ongeveer twaalf jaar oud, op sterwe gelê het. Op pad daarheen het die skares Jesus verdring. Onder hulle was daar 'n vrou wat al twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het en reeds alles wat sy besit, aan dokters bestee het, maar sy kon deur niemand genees word nie. Sy het van agter af nader gekom en die soom van sy bokleed aangeraak – en haar bloedvloeiing het onmiddellik opgehou. “Wie het My aangeraak?” het Jesus gevra. Toe almal dit ontken, het •Petrus gesê: “Meester, die skare dring tog rondom U saam en druk teen U aan.” Maar Jesus het gesê: “Iemand het My aangeraak, want Ek het agtergekom dat daar krag uit My vloei.” Toe die vrou besef dat haar optrede nie ongemerk verbygegaan het nie, het sy bewend voor Hom kom neerval. Sy het toe voor die hele volk vertel waarom sy Hom aangeraak het en hoe sy onmiddellik gesond geword het. Toe sê Hy vir haar: “Dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede! ” Terwyl Hy nog praat, kom daar iemand van die leier van die sinagoge se huis af en sê: “U dogter is nou net dood. Moenie die leermeester langer lastig val nie.” Maar Jesus het dit gehoor en vir hom gesê: “Moenie ontsteld wees nie. Glo net, en sy sal gered word.” Toe Jesus by die huis aankom, het Hy niemand toegelaat om saam met Hom in te gaan nie, behalwe Petrus, Johannes, Jakobus, en die kind se vader en moeder. Almal het gehuil en gerou oor haar. Maar Jesus het gesê: “Moenie huil nie, want sy het nie gesterf nie, maar slaap net.” Hulle het Hom egter uitgelag, omdat hulle geweet het dat sy gesterf het. Maar Jesus het haar aan die hand geneem en uitgeroep: “Meisie, word wakker!” Haar gees het teruggekeer, en sy het dadelik opgestaan. Jesus het beveel dat hulle vir haar iets te ete moet gee. Haar ouers was oorstelp van blydskap, maar Jesus het hulle opdrag gegee om vir niemand te vertel wat gebeur het nie.
LUKAS 8:40-56 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En toe Jesus terugkom, het die mense Hom met blydskap ontvang, want almal het Hom gewag. En kyk, daar kom 'n man met die naam van Jaïrus, en hy was 'n owerste van die sinagoge; en hy het voor Jesus se voete neergeval en Hom gesmeek om in sy huis te kom. Want hy het een enigste dogter gehad, omtrent twaalf jaar oud, en sy het op sterwende gelê. Maar terwyl hy gegaan het, het die mense hom saamgedrom. En 'n vrou wat twaalf jaar lank bloedvloeiing gehad het, wat haar hele lewe aan geneeshere deurgebring het, en van niemand genees kon word nie, Hy het agter hom aangekom en die rand van sy kleed aangeraak, en dadelik het sy bloedvloeiing verdrink. En Jesus sê: Wie het My aangeraak? Toe almal dit ontken, sê Petrus en die wat saam met hom was: Meester, die skare drom U en druk U, en U sê: Wie het My aangeraak? En Jesus sê: Iemand het My aangeraak, want ek sien dat deug uit My uitgegaan het. En toe die vrou sien dat sy nie weggesteek is nie, het sy bewend gekom en voor hom neergeval en aan hom voor die hele volk vertel waarom sy hom aangeraak het en hoe sy dadelik genees is. En hy sê vir haar: Dogter, wees gerusstellend; jou geloof het jou gered; gaan in vrede. Terwyl hy nog spreek, kom daar een van die owerste van die sinagoge se huis en sê vir hom: Jou dogter is dood; moeilikheid nie die Meester nie. Maar toe Jesus dit hoor, antwoord Hy hom en sê: Moenie vrees nie; glo net, en sy sal gesond word. En toe Hy in die huis kom, het Hy niemand toegelaat om in te gaan nie, behalwe Petrus en Jakobus en Johannes en die vader en die moeder van die meisie. En almal het geween en haar beween, maar hy het gesê: Moenie huil nie; sy is nie dood nie, maar slaap. En hulle het hom uitgelag, omdat hulle geweet het dat sy dood was. En hy het hulle almal uitgesit en haar aan die hand gegryp en geroep en gesê: Meisie, staan op! En haar gees het teruggekom, en sy het dadelik opgestaan, en hy het bevel gegee om haar spys te gee. En haar ouers was verbaas, maar hy het hulle bevel gegee om vir niemand te sê wat gebeur het nie.
LUKAS 8:40-56 Die Boodskap (DB)
Toe Jesus weer in Galilea aankom, het ’n skare mense Hom ingewag. Hulle was baie bly om Hom te sien. ’n Man met die naam Jaïrus, een van die hoofde van die sinagoge waar die Jode God aanbid het, het haastig tussen die mense deurgevleg en voor Jesus op die grond kom neerval. Hy het Jesus gesmeek om dadelik na sy huis toe te kom omdat sy twaalfjarige dogter op sterwe gelê het. Dit was sy enigste dogter. Jesus het ingestem, maar daar was so baie mense om Hom dat Hy skaars kon beweeg. Intussen was daar ook ’n vrou in die skare wat al twaalf jaar lank aan ’n menstruele kwaal gely het. Dit het gemaak dat sy nie kon deelneem aan die normale godsdienstige aktiwiteite nie omdat sy as onrein beskou is. Geen dokter kon die arme vrou gesond kry nie. Hierdie vrou het tussen die skare deurgeskuur totdat sy reg agter Jesus was. Toe steek sy haar hand vinnig uit en vat aan die soom van sy klere. Daar en dan was sy gesond. Jesus het dit dadelik agtergekom en gevra: “Wie het nou net aan My geraak?” Maar almal het net die kop geskud en gesê: “Nie ek nie.” Petrus was so ’n bietjie uit die veld geslaan deur Jesus se vraag. “Here, daar is baie mense om U. Hulle almal skuur tog teen U verby en stamp teen U.” “Kyk, iemand het met ’n baie spesifieke rede aan My gevat,” het Jesus geantwoord. “Ek kon voel hoe krag uit My vloei.” Nou was die vrou in ’n hoek. Sy kon nie langer stilbly nie. Doodbang het sy voor Jesus kom neerval. Daar voor almal vertel sy toe hoekom sy aan Jesus kom raak het. “En,” het sy gesê, “ek was op die plek gesond.” Toe sê Jesus vir die vrou: “Jy het gewys hoe groot jou geloof is toe jy aan My kom raak het. Daarom is jy nou gesond. Gaan in vrede.” Terwyl Jesus nog besig was om te praat, kom daar iemand van die huis van die hoof van die sinagoge af en sê vir hom: “Ek het baie slegte nuus: jou dogter is nou net dood. Los maar die Leermeester uit. Hy kan nou niks meer vir haar doen nie.” Maar Jesus het dit gehoor. Hy sê toe vir die hoof van die sinagoge: “Moenie jou ontstel nie. Hou maar net aan glo. Jou dogter sal regkom.” Toe Jesus daar by sy huis aankom, het Hy vir die mense wat saam met Hom gestap het, gesê om buite te wag. Hy het net vir Petrus, Johannes en Jakobus toegelaat om saam met Hom na die dogter toe gaan; ook haar pa en ma. Toe Jesus in die huis kom, was almal aan die huil. Hy sê toe vir hulle: “Toemaar, dis nie nodig om te huil nie. Die dogtertjie is glad nie dood nie. Sy slaap maar net.” Die mense het Jesus uitgelag: “Jy weet nie waarvan jy praat nie. Ons het met ons eie oë gesien sy is dood.” Maar Jesus het hulle geïgnoreer en na die dogtertjie toe gestap. Hy het haar hand gevat en uitgeroep: “Dogtertjie, staan op! Word lewendig!” Dadelik het die lewe in haar teruggekom. Sy het opgestaan. Toe sê Jesus vir die omstanders: “Gee vir haar iets om te eet.” Haar ouers was stom van verbasing oor wat gebeur het. Maar Jesus wou nie hê dat hulle vir ander mense daarvan moes vertel nie.
LUKAS 8:40-56 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
By sy terugkeer het die skares Jesus met ope arms ontvang omdat hulle vir Hom gewag het. ’n Man met die naam Jaïrus, ’n leier van die plaaslike sinagoge, het gekom en voor Jesus se voete neergeval en Hom gesoebat om saam met hom na sy huis te gaan. Sy enigste kind, ’n dogter van twaalf, was sterwend. Terwyl Jesus saam met hom gegaan het, is Hy deur skares omring. Daar was ’n vrou in die skare wat twaalf jaar lank aan chroniese bloeding gely het. Sy het alles wat sy gehad het, aan dokters bestee, maar kon nie genees word nie. Sy het van agter na Jesus gekom en die soom van sy kleed aangeraak. Onmiddellik het die bloeding gestop. “Wie het My aangeraak?” het Jesus gevra. Almal het dit ontken, en Petrus het gesê: “Meneer, die hele skare stoot en druk voortdurend teen U.” Maar Jesus het vir hom gesê: “Nee, iemand het My opsetlik aangeraak, want Ek het genesende krag uit My voel vloei.” Toe die vrou besef dat Jesus weet, het sy begin bewe en op haar knieë voor Hom neergeval. Die hele skare het haar hoor vertel waarom sy Hom aangeraak het en hoe sy onmiddellik gesond geword het. “Dogter,” het Hy vir haar gesê, “jou geloof het jou genees. Gaan in vrede.” Terwyl Hy nog met haar praat, het ’n boodskapper van Jaïrus se huis af gekom met die nuus: “Jou dogter is dood. Dis nie meer nodig om die Leermeester te pla nie.” Maar toe Jesus hoor wat gebeur het, sê Hy vir Jaïrus: “Moenie jou ontstel nie. Vertrou My net en dit sal goed gaan met haar.” Toe hulle by die huis aankom, wou Jesus niemand saam met Hom laat ingaan nie, behalwe Petrus, Jakobus en Johannes, en die dogtertjie se pa en ma. Die huis was vol mense wat gehuil en getreur het, maar Jesus sê: “Hou op huil! Sy is nie dood nie; sy slaap net.” Die skare het Hom uitgelag, want almal het geweet sy is dood. Jesus vat haar toe aan die hand en sê hardop: “Staan op, my kind!” En op daardie oomblik het die lewe in haar teruggekom, en sy het onmiddellik opgestaan! Jesus vra hulle toe om haar iets te ete te gee. Haar ouers was oorstelp, maar Jesus het daarop aangedring dat hulle niemand vertel wat gebeur het nie.