LUKAS 9:1-27
LUKAS 9:1-27 Bybel vir almal (ABA)
Jesus het die twaalf dissipels geroep. Hy het vir hulle krag gegee om duiwels uit mense te jaag en siek mense gesond te maak. Hy het die dissipels gestuur om vir die mense te vertel God is Koning en Hy regeer. Die dissipels moes ook siek mense gesond maak. Jesus het vir die dissipels gesê: “Julle mag niks saamneem wanneer julle gaan nie. Julle mag nie 'n kierie of 'n rugsak of kos of geld saamneem nie. Julle mag net die klere saamneem wat julle aanhet. As mense julle uitnooi om in hulle huis te bly, dan moet julle daar bly totdat julle weggaan uit daardie stad. En as die mense julle nie daar wil laat bly nie, dan moet julle weggaan van daardie stad en julle moet die stof van julle voete afskud. So sal julle vir hulle waarsku dat God hulle sal straf.” Die dissipels het na al die dorpies gegaan en hulle het die goeie boodskap vir die mense gebring. Hulle het ook oral mense gesond gemaak. Koning Herodes het gehoor van al die dinge wat gebeur het. Hy het baie gewonder wie Jesus is, want die mense het baie verskillende dinge oor Jesus gesê. Party mense het gesê: “Jesus is Johannes die Doper. Johannes het gesterf, maar hy lewe weer.” Party mense het gesê: “Jesus is Elia wat nou gekom het.” Ander mense het gesê: “Jesus is 'n profeet, hy is een van die profete wat lank gelede gelewe het, en wat nou weer lewe.” Maar Herodes het gesê: “Nee, Ek het Johannes die Doper se kop laat afkap. Ek hoor al die dinge van hierdie man, maar ek weet nie wie hy is nie.” Herodes wou graag self vir Jesus sien. Toe die apostels terugkom, het hulle vir Jesus vertel wat hulle alles gedoen het. Daarna het Jesus gesê hulle moet saam met Hom gaan na die stad Betsaida sodat hulle alleen kon wees. Maar toe die mense hoor waarnatoe hulle gaan, het hulle ook daarnatoe gegaan. Jesus het vir hulle gewag. Toe praat Hy met hulle en sê vir hulle God is Koning en Hy regeer. Jesus het ook die mense gesond gemaak wat graag gesond wou word. Dit het laat geword, en die twaalf dissipels het na Jesus toe gekom en gesê: “Stuur die mense weg sodat hulle na die dorpies en plase hier naby kan gaan om slaapplek en kos te kry. Hier waar ons is, is niks kos nie.” Maar Jesus het vir hulle gesê: “Júlle moet vir hulle kos gee om te eet.” Die dissipels het gesê: “Ons het net vyf brode en twee visse. Ons kan nie vir al hierdie mense kos gee nie, ons sal moet gaan kos koop.” Daar was baie mense. Die mans was omtrent 5 000. Maar Jesus het vir sy dissipels gesê: “Sê vir die mense hulle moet in groepe van omtrent 50 bymekaar sit.” Die dissipels het dit gedoen en hulle het gesê al die mense moet sit. Toe het Jesus die vyf brode en twee visse geneem. Hy het opgekyk na die hemel en Hy het God geprys en dankie gesê vir die kos. Daarna het Hy die kos in stukke gebreek en Hy het dit vir die dissipels gegee. Die dissipels het dit vir die mense gegee. Almal het genoeg geëet. Toe die mense klaar geëet het, het die dissipels twaalf mandjies vol stukkies kos opgetel wat oorgebly het. Eendag was Jesus alleen, Hy was besig om te bid. Die dissipels was daar naby Hom. Jesus vra toe vir hulle: “Wat sê die mense, wie is Ek?” Die dissipels het vir Hom gesê: “Party mense sê U is Johannes die Doper, party mense sê U is Elia, en ander mense sê U is een van die profete wat lank gelede gelewe het en wat nou weer begin lewe het.” Jesus het vir hulle gevra: “Maar julle, wat sê júlle? Wie sê júlle is Ek?” Petrus het geantwoord: “U is die Christus van God.” Jesus het toe vir sy dissipels gesê hulle mag nie vir ander mense vertel dat Hy die Christus is nie. Hy het ook gesê dat die familieleiers, die priesterleiers en die skrifgeleerdes baie slegte dinge sal doen aan Hom, die Seun van die mens. Hulle sal Hom nie aanvaar nie, hulle sal Hom doodmaak, maar op die derde dag sal God Hom weer laat lewe. Jesus het vir al die mense gesê: “As iemand saam met My wil kom, dan moet hy nie dink aan wat hy self graag wil hê nie. Hy moet elke dag lewe soos iemand wat weet hy sal aan 'n kruis sterf. Dit is hoe hy My moet volg. Want as iemand homself wil red, dan sal hy sy lewe verloor. Maar as iemand sy lewe verloor omdat hy lief is vir My, dan sal hy sy lewe red. As jy alles in die wêreld kry maar jy verloor jou lewe vir altyd, dan help dit jou niks. As iemand My nie wil ken nie en nie wil glo wat Ek sê nie, dan sal Ek, die Seun van die mens, hom ook nie wil ken nie. Ek sal hom nie wil ken nie wanneer Ek saam met die heilige engele kom en Koning is soos my Vader Koning is. Ek sê vir julle, en dit is seker: Party mense wat hier staan, sal sien dat God Koning is, hulle sal dit sien voordat hulle sterf.”
LUKAS 9:1-27 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN Hy het sy twaalf dissipels saamgeroep en aan hulle mag en gesag gegee oor al die duiwels en om siektes te genees. En Hy het hulle uitgestuur om die koninkryk van God te verkondig en die siekes gesond te maak en vir hulle gesê: Neem niks vir die pad nie, geen stokke of reissak of brood of geld nie, en geeneen van julle moet twee kledingstukke hê nie. En in watter huis julle ook mag ingaan, bly dáár en gaan dáárvandaan verder. En almal wat julle nie ontvang nie — as julle van daardie stad weggaan, skud selfs die stof van julle voete af, tot 'n getuienis teen hulle. En hulle het uitgegaan en dorp vir dorp deurgegaan en oral die evangelie verkondig en siekes gesond gemaak. HERODES, die viervors, hoor toe van al die dinge wat deur Hom gedoen is; en hy was met die saak verleë, omdat deur sommige gesê is: Johannes is uit die dode opgewek; en deur ander: Elía het verskyn; en deur ander: Een van die ou profete het opgestaan. En Herodes het gesê: Johannes het ek onthoof; maar wie is hierdie man van wie ek sulke dinge hoor? En hy het probeer om Hom te sien. EN toe die apostels terugkom en Hom alles vertel wat hulle gedoen het, het Hy hulle saamgeneem en in die eensaamheid gegaan na 'n verlate plek van 'n stad met die naam van Betsáida. Maar die skare het dit te wete gekom en Hom gevolg; en Hy het hulle ontvang en met hulle gespreek oor die koninkryk van God, en die wat genesing nodig gehad het, gesond gemaak. Toe die dag begin daal, kom die twaalf na Hom en sê vir Hom: Stuur die skare weg, sodat hulle na die dorpe en buitewyke in die omtrek kan gaan en herberg en voedsel kry; want ons is hier in 'n verlate plek. Maar Hy sê vir hulle: Gee julle vir hulle iets om te eet. Maar hulle antwoord: Ons het nie meer as vyf brode en twee visse nie, tensy ons voedsel gaan koop vir al hierdie mense. Want daar was omtrent vyfduisend manne. Maar Hy sê vir sy dissipels: Laat hulle in groepe van vyftig sit. En hulle het dit gedoen en almal laat sit. Toe neem Hy die vyf brode en die twee visse, en nadat Hy opgekyk het na die hemel, seën Hy dit en breek dit en gee dit aan die dissipels om dit aan die skare voor te sit. En hulle het geëet en is almal versadig, en van wat vir hulle van die brokstukke oorgebly het, is daar twaalf mandjies vol opgetel. EN toe Hy besig was om alleen te bid, was die dissipels by Hom, en Hy vra hulle en sê: Wie sê die skare is Ek? En hulle antwoord en sê: Johannes die Doper, en ander: Elía, en ander dat een van die ou profete opgestaan het. En Hy sê vir hulle: Maar julle, wie sê julle is Ek? En Petrus antwoord en sê: Die Christus van God! Toe gee Hy hulle 'n streng bevel en gebied hulle om dit aan niemand te vertel nie. En Hy sê: Die Seun van die mens moet baie ly en verwerp word deur die ouderlinge en owerpriesters en skrifgeleerdes en gedood word en op die derde dag opstaan. EN Hy sê vir almal: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis elke dag opneem en My volg. Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, hy sal dit red. Wat baat dit 'n mens tog as hy die hele wêreld win, maar homself verloor of skade aandoen? Want elkeen wat hom skaam vir My en my woorde, vir hom sal die Seun van die mens Hom skaam wanneer Hy kom in sy heerlikheid en dié van die Vader en van die heilige engele. Ek sê vir julle met waarheid: Daar is sommige van die wat hier staan, wat die dood sekerlik nie sal smaak voordat hulle die koninkryk van God gesien het nie.
LUKAS 9:1-27 Afrikaans 1983 (AFR83)
Jesus het die twaalf bymekaargeroep en aan hulle mag en gesag gegee om alle bose geeste uit te dryf en siektes te genees. Toe het Hy hulle uitgestuur om die koninkryk van God te verkondig en die siekes gesond te maak. Hy het vir hulle gesê: “Moet niks vir die pad saamvat nie, nie 'n kierie of 'n reissak of brood of geld of nog 'n kledingstuk nie. En as julle in 'n huis tuis gaan, bly dan in dieselfde huis totdat julle die reis voortsit. As daar mense is wat julle nie wil ontvang nie, moet julle van so 'n plek af weggaan en die stof van julle voete afskud as aanklag teen hulle.” Hulle het toe vertrek en van die een dorp na die ander gegaan om oral die evangelie te verkondig en siekes gesond te maak. Herodes, die heerser, het gehoor van al die dinge wat gebeur, en hy was in die war omdat party mense gesê het: “Johannes is uit die dood opgewek;” party: “Elia het verskyn,” en ander: “Een van die profete van die ou tyd het opgestaan.” Maar Herodes het gesê: “Johannes het ek self laat onthoof. Maar wie is hierdie man van wie ek sulke dinge hoor?” En hy het geprobeer om Hom te sien te kry. Toe die apostels terugkom, het hulle Jesus alles vertel wat hulle gedoen het. Daarna het Hy hulle saamgeneem in die rigting van die dorp Betsaida waar hulle alleen kon wees. Maar die mense het dit te wete gekom en agter Hom aan gegaan. Hy het hulle verwelkom en met hulle gepraat oor die koninkryk van God, en dié wat genesing nodig gehad het, het Hy gesond gemaak. Toe die son begin sak, kom die twaalf na Hom toe en sê: “Stuur die mense weg dat hulle by die dorpe en plase in die omtrek slaapplek en kos kan gaan soek, want ons is hier op 'n verlate plek.” “Gee julle vir hulle iets om te eet,” sê Hy toe vir hulle. Maar hulle antwoord: “Ons het hier niks meer as vyf brode en twee visse nie. Of moet ons self vir hierdie klomp mense gaan kos koop?” Net die mans bymekaar was al omtrent vyf duisend. Toe sê Jesus vir sy dissipels: “Laat die mense in groepe van sowat vyftig gaan sit om te eet.” Hulle het toe so gemaak en almal laat regsit. Daarna het Hy die vyf brode en die twee visse geneem, na die hemel opgekyk en die seën gevra. Toe breek Hy dit en gee dit vir die dissipels om aan die mense voor te sit. Almal het geëet en genoeg gekry. Wat oorgebly het, het hulle bymekaargemaak, twaalf mandjies vol. Op 'n keer terwyl Jesus eenkant besig was om te bid, het sy dissipels by Hom saamgekom. Toe vra Hy hulle: “Wie, sê die mense, is Ek?” Hulle antwoord: “Johannes die Doper; party sê weer: Elia, en party: 'n profeet van die ou tyd het opgestaan.” “Maar julle,” het Hy gevra, “wie, sê julle, is Ek?” Toe antwoord Petrus: “Die Gesalfde van God.” Jesus het hulle uitdruklik belet om dit vir ander mense te vertel, “want,” het Hy gesê, “die Seun van die mens moet baie ly, deur die familiehoofde, priesterhoofde en skrifgeleerdes verwerp word, en Hy moet doodgemaak word, en op die derde dag opgewek word.” Toe het Hy vir almal gesê: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, elke dag sy kruis opneem en My volg, want elkeen wat sy lewe wil behou, sal dit verloor, maar elkeen wat sy lewe om my ontwil verloor, sal dit behou. “Wat help dit 'n mens as hy die hele wêreld as wins verkry, maar homself verloor of te gronde gaan? Elkeen wat hom vir My en my woorde skaam, vir hom sal die Seun van die mens Hom skaam wanneer Hy kom, beklee met sy heerlikheid en die heerlikheid van die Vader en van die heilige engele. Ek sê vir julle die waarheid: Daar is party van dié wat hier staan wat beslis nie sal sterf voordat hulle die koninkryk van God gesien het nie.”
LUKAS 9:1-27 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Jesus het die twaalf bymekaargeroep, en aan hulle mag en gesag oor alle demone gegee en om siektes te genees. Toe het Hy hulle uitgestuur om die •koninkryk van God te verkondig en om die siekes gesond te maak, en vir hulle gesê: “Moet niks vir die pad saamneem nie, nie 'n wandelstok of 'n reissak of brood of geld of twee kledingstukke nie. Watter huis julle ook al binnegaan, bly daar oor totdat julle weer daarvandaan vertrek. En as enigiemand julle nie verwelkom nie – wanneer julle daardie dorp verlaat, skud die stof van julle voete af as getuienis teen hulle.” Hulle het toe vertrek en die land van een dorpie na die ander deurreis, terwyl hulle die evangelie verkondig en oral siekes gesond maak. Herodes, die tetrarg, het van al hierdie gebeurtenisse gehoor en was verward, omdat sommige mense sê dat Johannes uit die dood opgewek is, terwyl ander beweer dat Elia verskyn het, en nog ander dat een van die profete van ouds opgestaan het. Herodes het gesê: “Johannes het ek onthoof, maar wie is hierdie persoon van wie ek sulke dinge hoor?” En hy het probeer om Hom te siene te kry. Die •apostels het teruggekeer en vir Jesus vertel wat hulle alles gedoen het. Toe het Hy, met net hulle by Hom, na 'n dorp gegaan wat Betsaida genoem word. Maar die skare het dit agtergekom en Hom daarheen gevolg. Hy het hulle verwelkom, en met hulle gepraat oor die •koninkryk van God, en diegene wat genesing nodig gehad het, het Hy gesond gemaak. Dit het al skemer begin raak. Toe het die twaalf nader gekom en vir Hom gesê: “Stuur die skare weg na die dorpies en plase in die omgewing om slaapplek en kos te gaan soek, want ons is hier op 'n verlate plek.” Hy sê toe vir hulle: “Gee julle vir hulle iets te ete.” Maar hulle antwoord: “Ons het niks meer nie as net vyf brode en twee visse, tensy ons gaan kos koop vir al hierdie mense.” Daar was ongeveer vyfduisend mans. Hy sê toe vir sy dissipels: “Laat hulle gaan sit in groepe van ongeveer vyftig.” Hulle het so gemaak en almal laat sit. Hy het die vyf brode en die twee visse geneem, na die hemel opgekyk en die seëngebed uitgespreek. Hy het dit toe in stukke gebreek en vir sy dissipels gegee om aan die skare uit te deel. Almal het geëet en het versadig geword, en van die stukke wat oorgebly het, is daar twaalf mandjies vol opgetel. Op 'n keer, toe Jesus alleen gebid het, met slegs sy dissipels by Hom, het Hy hulle gevra: “Wie sê die mense is Ek?” En hulle het geantwoord: “Johannes die Doper, maar ander sê Elia, en ander weer dat een van die profete van ouds opgestaan het.” Hy sê toe vir hulle: “Maar julle, wie sê julle is Ek?” •Petrus het geantwoord: “Die Christus van God.” Jesus het hulle opdrag gegee om dit aan niemand te vertel nie, “want,” het Hy gesê, “die •Seun van die Mens moet baie ly, deur die familiehoofde, leierpriesters en die skrifkenners verwerp en doodgemaak en op die derde dag opgewek word.” Toe het Hy vir almal gesê: “As iemand My wil navolg, moet hy homself verloën, en elke dag sy kruis opneem en My volg; want wie sy lewe wil red, sal dit verloor, maar wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit red. Want wat help dit 'n mens as hy die hele wêreld as wins bekom het, maar homself verloor of skade aangedoen het? Wie hom vir My en my woorde skaam, vir hom sal die •Seun van die Mens Hom ook skaam wanneer Hy kom in sy heerlikheid en dié van die Vader en die heilige engele. Ek verseker julle: Sommige van dié wat hier staan, sal beslis nie die dood smaak voordat hulle die koningsheerskappy van God gesien het nie.”
LUKAS 9:1-27 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Toe het Hy sy twaalf dissipels bymekaargeroep en aan hulle mag en gesag gegee oor al die duiwels en om siektes te genees. En Hy het hulle gestuur om die koninkryk van God te verkondig en die siekes te genees. Toe sê Hy vir hulle: Neem niks vir julle reis nie, geen stokke of skei of brood of geld nie; ook nie twee jasse elk nie. En in watter huis julle ook al ingaan, bly daar en vertrek daarvandaan. En elkeen wat julle nie ontvang nie, as julle uit daardie stad uitgaan, skud die stof van julle voete af as 'n getuienis teen hulle. En hulle het weggetrek en deur die stede gegaan en die evangelie verkondig en oral genees. En Herodes, die viervors, het gehoor van alles wat deur hom gedoen is; En van sommige, dat Elía verskyn het; en van ander, dat een van die ou profete opgestaan het. En Herodes sê: Johannes het ek onthoof, maar wie is Hy van wie ek sulke dinge hoor? En hy wou hom sien. En toe die apostels terugkom, het hulle Hom alles vertel wat hulle gedoen het. En hy het hulle geneem en alleen opsy gegaan na 'n verlate plek wat aan die stad behoort wat Betsáida genoem word. En toe die volk dit weet, het hulle Hom gevolg; en Hy het hulle aangeneem en met hulle oor die koninkryk van God gespreek en die wat genesing nodig gehad het, gesond gemaak. En toe die dag begin aanbreek het, kom die twaalf en sê vir hom: Stuur die skare weg, dat hulle na die stede en omstreke kan gaan en vernag en voedsel kry; want ons is hier in 'n woestyn plek. Maar Hy sê vir hulle: Gee julle vir hulle om te eet. En hulle sê: Ons het net vyf brode en twee visse; behalwe dat ons vir al hierdie volk moet gaan vleis koop. Want hulle was omtrent vyfduisend man. En Hy sê vir sy dissipels: Laat hulle vyftig in 'n geselskap sit. En hulle het so gedoen en hulle almal laat sit. Toe neem Hy die vyf brode en die twee visse, kyk op na die hemel, seën dit en breek dit en gee aan die dissipels om voor die skare voor te sit. En hulle het geëet en almal versadig geword, en van die brokstukke wat vir hulle oorgebly het, is twaalf mandjies opgetel. En terwyl Hy alleen besig was om te bid, was sy dissipels by Hom; en Hy het hulle gevra en gesê: Wie sê die volk is Ek? Hulle antwoord en sê: Johannes die Doper; maar sommige sê: Elía! en ander sê, dat een van die ou profete opgestaan het. Hy sê vir hulle: Maar wie sê julle is Ek? Petrus antwoord en sê: Die Christus van God. En hy het hulle streng bevel gegee en hulle beveel om dit aan niemand te vertel nie; en gesê: Die Seun van die mens moet baie ly en deur die ouderlinge en owerpriesters en skrifgeleerdes verwerp word en gedood word en op die derde dag opgewek word. En Hy sê vir almal: As iemand agter My aan wil kom, laat hom homself verloën en sy kruis elke dag opneem en My volg. Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe ter wille van My verloor, hy sal dit red. Want wat baat 'n mens as hy die hele wêreld win en homself verloor of verwerp word? Want elkeen wat hom vir My en my woorde skaam, vir hom sal die Seun van die mens hom skaam wanneer Hy kom in sy eie heerlikheid en in dié van sy Vader en van die heilige engele. Maar Ek sê vir julle voorwaar, daar staan sommige hier wat die dood nie sal smaak voordat hulle die koninkryk van God sien nie.
LUKAS 9:1-27 Die Boodskap (DB)
Kort daarna het Jesus sy twaalf dissipels bymekaargeroep. Hy sê toe vir hulle: “Ek maak julle nou sterker as al die bose magte. Ek gee ook aan julle die krag om siekes gesond te maak. Gaan dan nou uit en vertel vir die mense dat God se nuwe wêreld hier is. Maak ook die siekes gesond.” Jesus het ook vir die dissipels vertel presies hoe hulle te werk moet gaan. “Moenie ’n groot tas saamvat, of ’n klomp padkos of ’n dik beursie vol geld nie. Een stel klere is meer as genoeg. “Wanneer julle in ’n huis goed ontvang word, bly daar oor totdat dit tyd is dat julle na ’n volgende plek toe moet gaan. Maar as die mense julle nie vriendelik ontvang nie, gee dadelik pad. Moenie verder sukkel nie. Gaan dan na ’n ander dorp toe. Maar skud eers in die openbaar al die stof van daardie dorp uit julle klere uit. So wys julle dat hulle hulle kans verspeel het om deel te word van God se nuwe wêreld.” Die dissipels het gedoen wat Jesus vir hulle gesê het. Hulle het van dorp tot dorp vir die mense van God se nuwe wêreld gaan vertel en die siekes gesond gemaak. Herodes Antipas, die heerser oor Galilea, het intussen te hore gekom van al die groot dinge wat Jesus doen. Hy was bekommerd daaroor, want party mense het gesê: “Jesus is Johannes die Doper wat weer lewend geword het.” Ander het gesê: “Nee, ons dink hy is die profeet Elia wat weer na ons toe gekom het.” Nog ander het gesê: “Hy is een van die ander profete wat weer lewendig geword het.” Herodes het toe vir sy raadgewers gesê: “Vergeet nou maar die storie dat hierdie man Johannes die Doper is. Kyk, ek het Johannes se kop laat afkap. Hy is morsdood. Maar wie is hierdie man dan? Ek moet hom eenvoudig te sien kry!” Intussen het die twaalf dissipels van Jesus teruggekeer van hulle sending en opgewonde vir Hom kom vertel van alles wat hulle gedoen het. Toe sê Hy vir hulle: “Kom saam met My daar na die omgewing van Betsaida toe. Ek wil graag ’n bietjie alleen wees.” Die mense het gou uitgevind waar Jesus is en het soontoe gestroom. Jesus het hulle vriendelik ontvang en met hulle gepraat oor God se nuwe wêreld. Hy het ook al die siekes tussen hulle gesond gemaak. Later die middag toe dit begin donker word, het die dissipels Jesus eenkant toe geroep en vir Hom gesê: “U moet asseblief nou klaar praat. Stuur die mense weg om vir hulle iewers in die omgewing ’n slaapplek en iets te ete te kry. Ons is hier tussen niks en nêrens. Hier is nie kos of blyplek vir hulle nie.” Toe sê Jesus vir sy dissipels: “Gee julle vir hulle iets om te eet.” “Wat? Dis onmoontlik,” het hulle almal tegelyk geantwoord. “Ons het net vyf brode en twee visse vir ons en vir U saamgebring. Dis al! Ons sal iewers moet gaan kos koop vir hierdie groot skare.” Net die mans alleen in die skare was by die 5 000. “Laat die mense gou in groepe van 50 sit,” het Jesus gesê. Die dissipels het dadelik aan die werk gespring en die skare in groepe laat sit. Toe almal ’n sitplek gehad het, vat Jesus die vyf brode en die twee visse, sê vir God daarvoor dankie, spreek sy seën daaroor uit en begin dit in kleiner stukkies breek. Hy het dit aan die dissipels gegee om aan die skare uit te deel. Almal het genoeg te ete gekry. Op die ou end was daar te veel kos. Na die tyd is twaalf mandjies vol kos opgetel wat oorgebly het. Daarna het Jesus alleen gaan bid. Net die twaalf dissipels was by Hom. Hy vra toe vir hulle: “Wie sê hulle is Ek?” “Johannes die Doper,” het hulle dadelik geantwoord. “Of Elia. Ja, selfs een van die profete uit die ou dae wat weer lewendig geword het.” “En julle?” vra Jesus vir hulle. “Wie sê julle is Ek?” Petrus het nie ’n oomblik gehuiwer nie: “U is die Een wat deur God na ons toe gestuur is. U is die Messias.” “Julle mag dit vir niemand gaan vertel nie,” het Jesus gesê. “Ek is die Seun van die mens van wie die Bybel praat. En Ek gaan nog baie swaarkry. Al die godsdienstige leiers van die volk gaan een van die dae hulle rug vir My draai. Dan gaan Ek doodgemaak word. Maar moenie julle bekommer nie, Ek is sterker as die dood. Ek sal op die derde dag weer deur God lewendig gemaak word.” Later het Jesus vir die mense gesê: “Dit is baie moeilik om een van my volgelinge te wees. Om dit reg te kry moet jy jou eie belange tweede stel. Jy moet as’t ware jou doodsvonnis teken deur elke dag jou kruis op te tel en agter My aan te stap. As jy egter kies om vir jouself te leef, gaan jy op die ou end alles verloor. Maar as jy bereid is om alles prys te gee ter wille van My, sal jy vir altyd lewe. “As jy net vir jouself leef, kan jy dalk die hele wêreld aan jou voete hê. Maar wat help dit alles? Want uiteindelik beland jy in die hel. Dan het jy regtig alles verloor: vir altyd. “Moenie maak asof julle My nie ken wanneer julle tussen ander mense is nie. Moenie dan skielik anders praat en anders optree nie. Dan gaan Ek presies dieselfde met julle doen wanneer Ek eendag na die aarde toe terugkeer. Wanneer Ek as die Seun van die mens in heerlikheid terugkom en omring is met my Vader se heerlikheid en met al die heilige engele, sal Ek ook maak of Ek julle nie ken nie. Weet julle, party van julle wat hier staan, sal nie doodgaan voordat julle God se nuwe wêreld self gesien het nie.”
LUKAS 9:1-27 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Eendag het Jesus sy twaalf apostels bymekaargeroep en hulle mag en gesag oor bose geeste gegee asook om alle siektes te genees. Toe het Hy hulle uitgestuur om almal te gaan vertel van die koningsheerskappy van God, en om siekes te genees. “Moenie eers ’n kierie saamvat nie,” het Hy gesê, “of ’n reissak of kos of geld nie; nie eers boklere nie. Wanneer julle in ’n dorp kom, bly dan in die eerste die beste huis. As die mense van die dorp by julle aankoms nie julle boodskap aanvaar nie, skud dan die stof van julle voete af by julle vertrek. Dit is ’n teken dat julle daardie dorp aan sy eie lot oorlaat.” So het hulle dan na die dorpies vertrek, die Goeie Nuus verkondig en die siekes gesond gemaak. Toe Herodes Antipas hoor van Jesus se wonders, was hy bekommerd en in die war, want sommige mense het gesê: “Johannes die Doper het uit die dood opgestaan.” Ander het gesê: “Dit is Elia of een van die vroeëre profete wat uit die dood opgestaan het.” “Vir Johannes het ek laat onthoof,” het Herodes gesê. “Maar wie is hierdie man van wie ek sulke vreemde dinge hoor?” En hy het Hom te sien probeer kry. Toe die apostels terugkom, het hulle vir Jesus alles vertel wat hulle gedoen het. Toe is Hy stilletjies saam met hulle na die dorp Betsaida. Maar die skare het uitgevind waarheen Hy op pad was en Hom gevolg. Hy het hulle verwelkom en hulle onderrig oor die koningsheerskappy van God, en dié wat siek was, gesond gemaak. Laatmiddag het die twaalf apostels na Hom gekom en gesê: “Stuur die mense na die omliggende dorpe en plase om daar kos en verblyf vir die nag te kry. Hier is niks te eet in hierdie verlate plek nie.” Maar Jesus sê: “Gee júlle vir hulle kos.” “Dis onmoontlik!” het hulle beswaar gemaak. “Ons het net vyf brode en twee visse. Of verwag U dat ons genoeg kos moet gaan koop vir hierdie hele skare?” Want daar was omtrent 5 000 mans bymekaar. “Sê net hulle moet op die grond gaan sit in groepe van omtrent 50 elk,” het Jesus geantwoord. Toe het al die mense gaan sit. Jesus het die vyf brode en twee visse geneem, opgekyk na die hemel, en God se seën daarop gevra. Hy het toe aangehou om die brood in stukke te breek en dit saam met die vis aan sy dissipels gegee om aan die mense te gee. Almal het soveel geëet as wat hulle wou en hulle het twaalf mandjies vol oorskiet opgetel. Eendag ná Jesus alleen in gebed was, het Hy na sy dissipels gekom en gevra: “Wie sê die mense is Ek?” “Wel,” het hulle geantwoord, “sommige sê Johannes die Doper, sommige sê Elia, en ander sê U is een van die vroeëre profete wat uit die dood opgestaan het.” Toe vra Hy vir hulle: “Wie, sê julle, is Ek?” Petrus het geantwoord: “U is die Messias wat deur God gestuur is!” Jesus het hulle gewaarsku om dit vir niemand te vertel nie. “Want Ek, die Seun van die Mens, moet baie dinge ly,” het Hy gesê. “Ek sal deur die familiehoofde, die priesterhoofde en die skrifkenners verwerp word. Ek sal doodgemaak word, maar drie dae later sal Ek uit die dood opgewek word.” Toe het Hy vir die skare gesê: “As julle my volgelinge wil wees, moet julle julle eie ek prysgee, elke dag julle kruis opneem en My volg. As julle probeer om julle lewe vir julleself te bewaar, sal julle dit verloor. Maar as julle julle lewe ter wille van My prysgee, sal julle dit juis bewaar. Wat sal dit jou tog help as jy alles in die lewe bereik, maar in die proses jouself vernietig of skade aandoen? As iemand skaam is vir My of my boodskap, sal Ek, die Seun van die Mens, My vir hom skaam wanneer Ek terugkeer in my heerlikheid, en die heerlikheid van my Vader en die heilige engele. En Ek verseker julle dat sommige wat nou hier staan, nie sal sterf voor julle die koningsheerskappy van God gesien het nie.”