LUKAS 9:57-62
LUKAS 9:57-62 Afrikaans 1983 (AFR83)
Terwyl hulle op pad was, sê iemand vir Hom: “Ek sal U volg waar U ook al gaan.” Toe sê Jesus vir hom: “Jakkalse het gate en voëls het neste, maar die Seun van die mens het nie eens 'n rusplek vir sy kop nie.” Aan 'n ander een sê Hy: “Volg My.” Maar hy antwoord: “Here, laat my toe om eers terug te gaan om my pa te begrawe.” Toe sê Jesus vir hom: “Laat die dooies hulle eie dooies begrawe, maar gaan verkondig jy die koninkryk van God.” Nog een het gesê: “Ek sal U volg, Here, maar laat my toe om eers my familie by die huis te gaan groet.” Toe sê Jesus: “Iemand wat die hand aan die ploeg slaan en aanhou omkyk na wat agter is, is nie geskik vir die koninkryk van God nie.”
LUKAS 9:57-62 Die Boodskap (DB)
Langs die pad het iemand vir Jesus gesê: “Here, ek is bereid om u volgeling te wees. Maak nie saak waar U gaan nie, ek sal by U bly.” Toe sê Jesus vir hom: “Jy moet baie mooi dink wat jy sê, want Ek wat die Seun van die mens is, kan nie eens vanaand vir jou ’n ordentlike slaapplek aanbied nie. Selfs die voëls en die jakkalse in die veld is beter daaraan toe as Ek. Hulle het ten minste ’n blyplek van hulle eie.” Jesus draai toe na een van die ander mense wat ook saam met Hom gestap het en sê vir hom: “Volg My!” Die man antwoord vinnig: “Ek doen dit graag, maar ek moet net eers gou my pa gaan begrawe.” Maar Jesus was nie tevrede nie. “Los die dooies uit. Hulle het hulle kans gehad. Daar is in elk geval genoeg ander mense wat vinnig op pad is na die doderyk toe wat sal sorg dat jou pa begrawe word. Ek stuur jou nou na mense toe wat nog lewe. Gaan sê vir hulle God se nuwe wêreld is hier.” Iemand anders wat gehoor het wat Jesus alles sê, sê toe vir Hom: “Here, U hoef my nie te vra om U te volg nie. Ek bied sommer self aan om u volgeling te word. Ek wil net gou my familie gaan groet en hulle in kennis stel van my besluit.” Toe sê Jesus vir hom: “Daar’s nie nog tyd oor om jou familie te gaan groet nie. Los dit. Nou moet jy saam met My stap. As jy een van my volgelinge wil wees, moet jy al die ander dinge in jou lewe tweede stel, ook jou familie en vriende. Anders is daar nie vir jou plek in God se nuwe wêreld nie.”
LUKAS 9:57-62 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Terwyl hulle op pad was, het iemand vir Jesus gesê: “Ek sal U volg, maak nie saak waar U gaan nie.” Maar Jesus het geantwoord: “Jakkalse het gate om in te bly, en voëls het neste, maar Ek, die Seun van die Mens, het nie eers ’n plek om my kop neer te lê nie.” Hy het vir ’n ander persoon gesê: “Kom, wees my dissipel.” Die man het ingestem, maar gesê: “Here, laat ek net eers huis toe gaan en my pa begrawe.” Jesus het geantwoord: “Laat dié wat geestelik dood is, omsien na hulle eie dooies. Jou plig is om die begin van die koningsheerskappy van God te gaan verkondig.” ’n Ander een het gesê: “Ja, Here, ek sal U volg, maar ek wil eers my familie gaan groet.” Maar Jesus het vir hom gesê: “Enigiemand wat die hand aan die ploeg slaan en dan terugkyk, is nie geskik vir die koninkryk van God nie.”
LUKAS 9:57-62 Bybel vir almal (ABA)
Toe Jesus en sy dissipels besig was om na Jerusalem te gaan, het iemand vir Jesus gesê: “Ek sal saam met U gaan, oral waar U gaan.” Jesus sê toe vir hom: “Jakkalse woon in gate, en voëls het neste. Maar Ek, die Seun van die mens, het nie 'n plek waar Ek kan woon nie.” Jesus het vir iemand anders gesê: “Kom saam met My.” Maar die man het gesê: “Here, ek sal saam met U gaan, maar ek moet eers wag tot my pa dood is sodat ek hom kan begrawe.” Maar Jesus het vir hom gesê: “Dit is belangriker om My te volg as om te wag totdat jy jou pa begrawe het. Jy moet vir die mense gaan vertel God is Koning.” Iemand anders het ook vir Jesus gesê: “Ek sal saam met U gaan, maar ek wil asseblief eers vir my familie gaan totsiens sê.” Maar Jesus het vir hom gesê: “Iemand wat begin ploeg en aanhou om agtertoe te kyk, is nie gereed om vir God te werk nie, God wat Koning is.”
LUKAS 9:57-62 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN terwyl hulle op reis was, sê iemand op die pad vir Hom: Here, ek sal U volg, waar U ook mag gaan! Toe sê Jesus vir hom: Die jakkalse het gate en die voëls van die hemel neste, maar die Seun van die mens het geen plek waar Hy sy hoof kan neerlê nie. En Hy sê aan 'n ander een: Volg My. Maar hy antwoord: Here, laat my toe om eers my vader te gaan begrawe. En Jesus sê vir hom: Laat die dooies hul eie dooies begrawe; maar gaan jy en verkondig die koninkryk van God. En 'n ander een het ook gesê: Here, ek sal U volg, maar laat my eers toe om afskeid te neem van die wat in my huis is. En Jesus antwoord hom: Niemand wat sy hand aan die ploeg slaan en agtertoe kyk, is geskik vir die koninkryk van God nie.
LUKAS 9:57-62 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Terwyl hulle op pad was, het iemand vir Hom gesê: “Ek sal U volg, waar U ook al gaan.” Maar Jesus het hom geantwoord: “Die jakkalse het gate en die voëls van die hemel neste, maar die •Seun van die Mens het geen plek waar Hy sy kop kan neerlê nie.” Vir 'n ander een het Hy gesê: “Volg My!” Maar hy het geantwoord: “Here, laat my toe om eers my vader te gaan begrawe.” En Jesus het vir hom gesê: “Laat die dooies hulle eie dooies begrawe; maar jy, gaan verkondig jy die •koninkryk van God.” Nog 'n ander een het gesê: “Ek sal U volg, Here, maar laat my toe om net eers van my huismense afskeid te neem. ” En Jesus het vir hom gesê: “Niemand wat sy hand aan die ploeg slaan en dan omkyk, is geskik vir die koninkryk van God nie.”
LUKAS 9:57-62 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En terwyl hulle op die pad gegaan het, het 'n sekere man vir Hom gesê: Here, ek sal U volg waar U ook al gaan. En Jesus sê vir hom: Jakkalse het gate en voëls van die hemel neste; maar die Seun van die mens het geen plek om sy hoof neer te lê nie. En hy sê vir 'n ander: Volg My. Maar hy sê: Here, laat my toe om eers my vader te gaan begrawe. Jesus sê vir hom: Laat die dooies hul dooies begrawe, maar gaan heen en verkondig die koninkryk van God. En 'n ander het ook gesê: Here, ek sal U volg; maar laat ek hulle eers gaan groet, wat tuis by my huis is. En Jesus sê vir hom: Niemand wat sy hand aan die ploeg slaan en terugkyk, is geskik vir die koninkryk van God nie.