MALEAGI 1:1-14

MALEAGI 1:1-14 Bybel vir almal (ABA)

Die Here het gepraat. Hy het met die Israeliete gepraat. Hy het Maleagi gestuur om vir hulle 'n boodskap te bring. Die Here sê: “Israeliete, Ek is lief vir julle. Maar julle vra vir My: ‘Hoe is U lief vir ons?’ ” Die Here sê: “Esau was Jakob se broer. Ek was lief vir Jakob maar Ek het nie van Esau gehou nie. Ek het Esau se nageslag, die Edomiete, weggevat van die berge waar hulle gewoon het en Ek het hulle land vir die jakkalse gegee. Die Edomiete sê: ‘Ons stede is verwoes, ons huise is nou net hope klippe, maar ons sal weer huise bou.’ “Maar dan sê Ek, die Here wat oor alles regeer: Hulle kan huise bou, maar Ek sal dit weer afbreek. Die mense sal sê die Edomiete se land is die land waar die slegte mense gewoon het, en die Here sal altyd kwaad bly vir hulle. Israeliete, julle sal dit self sien, en julle sal sê: ‘Die Here is groot en sterk, ook buite die land Israel.’ ” Die Here wat oor alles regeer, sê: “'n Seun eer sy pa, en 'n slaaf eer die man aan wie hy behoort. As Ek julle Vader is, hoekom eer julle My nie? As julle aan My behoort, hoekom respekteer julle My nie? Julle priesters het my Naam nie gerespekteer nie. Maar julle vra: ‘Hoe het ons u Naam nie gerespekteer nie?’ “Julle bring onrein offers na my altaar, en dan vra julle: ‘Hoekom sê U ons dink U is onrein? Wat het ons gedoen?’ “Julle doen dit wanneer julle sê julle respekteer nie die Here se altaar nie. Julle bring blinde diere om vir My te offer. Dink julle dit is reg? Dit is verkeerd. Julle offer vir My siek of lam diere. Dit is ook verkeerd. Wat sal gebeur as julle 'n siek of 'n lam dier gaan gee vir iemand wat oor julle regeer? Sal hy daarvan hou en vriendelik wees met julle? Nee.” Dit sê die Here wat oor alles regeer. “Julle sê: ‘As God nie vriendelik is met ons nie, dan moet ons iets doen sodat Hy weer vriendelik kan wees met ons.’ “Maar as julle hierdie verkeerde dinge doen, dan sal Hy nie vriendelik wees met julle nie.” Dit sê die Here wat oor alles regeer. “Dit sal beter wees as een van julle die tempel se deure toesluit en die vuur op die altaar doodmaak, want dit help niks dat die vuur brand nie. Ek hou nie van julle nie en Ek wil nie 'n offer van julle hê nie.” Dit sê die Here wat oor alles regeer. “Al die volke op die hele aarde dien My, en die mense bring oral vir My offers, rein offers. Ja, al die volke dien My.” Dit sê die Here wat oor alles regeer. “Maar julle wat priesters is, julle eer My nie. Julle sê die altaar van die Here is onrein, en julle respekteer nie die offers op die altaar nie. En julle sê dit is harde werk om offers te bring. Julle hou nie daarvan om dit te doen nie.” Dit sê die Here wat oor alles regeer. “Julle bring diere wat julle gesteel het of diere wat nie gesond is nie en julle offer dit vir My. Ek wil dit nie hê nie,” sê die Here. “As iemand 'n bul of 'n ram het en hy belowe om dit vir My te offer, maar hy bring 'n os of 'n hamel, dan is hy skelm en Ek vervloek hom. Ek is die Groot Koning, en al die volke eer My.” Dit sê die Here wat oor alles regeer.

MALEAGI 1:1-14 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

GODSPRAAK. Die woord van die HERE aan Israel deur die diens van Maleági. Ek het julle liefgehad, sê die HERE. Nogtans vra julle: Waarin het U ons liefgehad? Is Esau nie die broer van Jakob nie? spreek die HERE. Tog het Ek Jakob liefgehad, maar Esau het Ek gehaat en sy gebergte 'n wildernis gemaak en sy erfdeel aan die jakkalse van die woestyn prysgegee. As Edom sê: Ons is wel verwoes, maar ons sal die puinhope weer opbou — dan sê die HERE van die leërskare dit: Laat hulle bou, Ek breek dit tog af; en die mense sal hulle noem: Grondgebied van goddeloosheid, en: Die volk waarop die HERE vertoornd is tot in ewigheid! En julle oë sal dit aanskou, en julle sal sê: Groot is die HERE oor die gebied van Israel! 'n Seun eer die vader, en 'n kneg sy heer. As Ek dan 'n Vader is, waar is my eer? En as Ek 'n Heer is, waar is die vrees vir My? sê die HERE van die leërskare aan julle, o priesters, wat my Naam verag! Maar julle sê: Waardeur het ons u Naam verag? Julle bring spys wat verontreinig is, op my altaar, en dan vra julle: Waardeur het ons U verontreinig? Deurdat julle sê: Die tafel van die HERE is veragtelik. En as julle 'n blinde dier bring om te offer, is dit geen kwaad nie! En as julle 'n lam of 'n siek dier bring, is dit geen kwaad nie! Bring dit tog vir jou goewerneur! Sal hy 'n welgevalle aan jou hê of jou goedgesind wees? sê die HERE van die leërskare. Smeek dan nou tog die aangesig van God, dat Hy ons genadig kan wees! Sulke dinge is deur julle gedoen — sal Hy dan om julle ontwil goedgesind wees? sê die HERE van die leërskare. Ag, was daar maar iemand onder julle wat die deure wou sluit, sodat julle nie tevergeefs vuur op my altaar kan aansteek nie! Ek het in julle geen welgevalle nie, sê die HERE van die leërskare, en in 'n offer uit julle hand het Ek geen behae nie. Want van die opgang van die son tot sy ondergang toe is my Naam groot onder die heidene; en in elke plek word tot eer van my Naam reukwerk gebring en 'n rein offer; want my Naam is groot onder die heidene, sê die HERE van die leërskare. Julle daarenteen ontheilig dit as julle sê: Die tafel van die HERE is verontreinig, en wat sy opbrings betref — sy spys is veragtelik. En julle sê: Kyk, wat 'n moeite! En julle verag dit, sê die HERE van die leërskare; en julle bring geroofde en lam en siek diere — so bring julle dan die offer! Kan Ek dit met welgevalle uit julle hand aanneem? sê die HERE. Vervloek is ook die bedrieër wat, terwyl daar onder sy kleinvee 'n manlike dier is, 'n gelofte doen en tog iets wat vermink is, aan die HERE offer; want Ek is 'n groot Koning, sê die HERE van die leërskare, en my Naam is gedug onder die heidene.

MALEAGI 1:1-14 Afrikaans 1983 (AFR83)

'n Uitspraak van die Here. 'n Woord van die Here aan Israel deur Maleagi. Ek het julle lief, sê die Here. Maar julle vra: “Hoe het U ons lief?” Esau was tog Jakob se broer, sê die Here, en tog het Ek vir Jakob liefgehad en vir Esau gehaat. Ek het sy bergland 'n verlate plek gemaak, sy woongebied vir die woestynjakkalse gegee. As Edom sou sê: “Ons is verpletter maar ons sal die puinhope weer opbou,” sal die Here die Almagtige sê: Laat hulle maar bou, Ek sal weer afbreek. Hulle sal bekend staan as die goddelose land, die volk op wie die Here se toorn vir altyd rus. Julle sal dit met julle eie oë sien en julle sal sê: “Die Here is groot, ook buite die grense van Israel.” 'n Seun eer sy vader en 'n slaaf sy eienaar. As Ek dan vader is, waar is die eer wat My toekom? En as Ek Here is, waar is die eerbied vir My dan? Dit is wat Ek, die Here die Almagtige, vir júlle vra, priesters, júlle wat My met minagting behandel. Maar julle vra: “Hoe het ons U met minagting behandel?” Julle bring onrein voedsel op my altaar, en dan vra julle: “Hoe het ons U te na gekom?” Julle doen dit wanneer julle dink: “Die altaar van die Here kan maar met minagting behandel word.” Wanneer julle 'n blinde ding bring om te offer, is dit dan nie verkeerd nie? En wanneer julle 'n siek of 'n lam ding bring, is dit nie verkeerd nie? Bring bietjie so iets vir jou goewerneur! Sal hy ingenome met jou wees of jou vriendelik ontvang? Dit is wat die Here die Almagtige sê. En dan sê julle: “Maak God dan tog nou goedgesind dat Hy ons genadig kan wees!” As julle só optree, sal Hy een van julle se versoek toestaan? Dit is wat die Here die Almagtige sê. Was daar maar iemand onder julle wat die tempel se deure wou toesluit, sodat julle nie my altaar tevergeefs aan die brand hou nie! Ek hou nie van julle nie, sê die Here die Almagtige, en Ek wil nie 'n offer van julle hê nie. Van waar die son opkom tot waar hy ondergaan, word Ek deur die nasies geëer. Oral word daar vir My offers gebring, rein offers. Ek word deur die ander nasies geëer, sê die Here die Almagtige, maar júlle doen my Naam oneer aan. Julle dink die altaar van die Here kan maar ontwy word en die offers daarop met minagting behandel word. En dan sê julle nog dis 'n klomp moeite en julle trek die neus daarvoor op. Dit is wat die Here die Almagtige sê. Julle bring gesteelde, lam, siek diere, julle bring dit as offers! Moet Ek ingenome wees daarmee dat julle vir My sulke goed bring? vra die Here. Daar rus 'n vloek op elke skelm wat 'n bul of 'n ram in sy kudde het en 'n gelofte doen en dan 'n verminkte ding aan die Here offer! Ek is die Grootkoning, sê die Here die Almagtige, vir My het die nasies ontsag.

MALEAGI 1:1-14 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

'n Profesie. Dit is die woord van die HERE tot Israel by monde van Maleagi. “Ek het julle lief,” sê die HERE, maar julle vra: “Hoe het U ons lief?” Die uitspraak van die HERE is: “Is Esau nie Jakob se broer nie? Tog het Ek Jakob lief, maar van Esau het Ek 'n afkeer en Ek het van sy bergland 'n verlate plek gemaak, sy erfdeel 'n plek vir die woestynjakkalse.” Ja, Edom sê: “Ons is verpletter, maar ons sal weer die puinhope opbou.” Maar so sê die HERE, Heerser oor alle magte: “Húlle kan maar bou, maar Ék sal afbreek. Hulle sal die goddelose gebied genoem word, en die volk vir wie die HERE vir altyd vervloek het.” Met julle eie oë sal julle dit sien en julle sal self erken: “Die HERE is groot buite die grense van Israel.” “'n Seun respekteer 'n vader, en 'n dienaar sy heer. As Ek dan 'n vader is, waar is die respek wat My toekom? As Ek die Opperheer is, waar is die ontsag vir My?” Die HERE, Heerser oor alle magte, sê: “Dit geld vir julle, priesters, wat my Naam minag! Maar julle vra, ‘Hoe minag ons u Naam?’ Julle bied besoedelde voedsel aan op my altaar en dan vra julle nog, ‘Hoe het ons U verwerp?’ Omdat julle dink dat die tafel van die HERE maar geminag kan word! As julle 'n blinde dier as offer aanbied, is dit mos nie verkeerd nie, en as julle 'n mank of siek dier aanbied, is dit mos nie verkeerd nie! Bied so iets vir jou •streekgoewerneur aan! Sal hy jou aanvaar, sal hy goedgesind wees teenoor jou?” vra die HERE, Heerser oor alle magte. Sou julle God dan nou gunstig stem dat Hy ons genadig kan wees, terwyl julle so iets doen? Sal Hy deur júlle toedoen goedgesind wees? Die HERE, Heerser oor alle magte het dit gesê. “Was daar maar iemand onder julle wat die tempeldeure kon toesluit, sodat julle nie die vuur op my altaar verniet aan die brand steek nie. Ek is julle nie goedgesind nie,” sê die HERE, Heerser oor alle magte. “'n Offer uit julle hand is nie vir My aanvaarbaar nie. Immers, van waar die son opkom tot waar hy ondergaan, is my Naam groot onder die nasies en op elke plek word reukwerk en 'n rein offer aangebied vir my Naam, want my Naam is groot onder die nasies,” sê die HERE, Heerser oor alle magte. “Maar julle ontheilig my Naam aangesien julle dink, die tafel van die Heer is besoedel, en oor wat dit bied, dink julle, sy voedsel kan maar geminag word. En dan sê julle, ‘Kyk, watter moeite is dit nie!’ En julle skat dit gering, ” sê die HERE, Heerser oor alle magte. “Julle bring diere wat geroof en mank en siek is, en bied dit as 'n offergawe aan! Moet Ek dit uit julle hand aanvaar?” vra die HERE. “Vervloek is iemand wat bedrieg deur 'n gelofte af te lê, maar 'n verminkte dier aan die Heer offer, terwyl daar 'n manlike dier in sy kudde is. Ek is immers die groot Koning,” sê die HERE, Heerser oor alle magte, “en my Naam wek ontsag by die nasies. ”

MALEAGI 1:1-14 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Die las van die woord van die HERE aan Israel deur Maleagi. Ek het jou liefgehad, spreek die HERE. Maar julle sê: Waarin het U ons liefgehad? Was Esau nie Jakob se broer nie? spreek die HERE, maar Ek het Jakob liefgehad, En ek het Esau gehaat en sy berge en sy erfdeel verwoes vir die jakkalse van die woestyn. Terwyl Edom sê: Ons is verarm, maar ons sal terugkeer en die verlate plekke bou; so sê die HERE van die leërskare: Hulle sal bou, maar Ek sal afbreek; en hulle sal hulle noem: Die grens van goddeloosheid en: Die volk op wie die HERE vir ewig toornig is. En julle oë sal dit sien, en julle sal sê: Groot sal die HERE wees van die grens van Israel af. 'n Seun eer sy vader en 'n dienskneg sy heer; as ek dan 'n vader is, waar is my eer? en as ek 'n meester is, waar is my vrees? spreek die HERE van die leërskare aan julle, o priesters, wat my Naam verag. En julle sê: Waarin het ons u Naam verag? Julle bring besoedelde brood op my altaar; en julle sê: Waarmee het ons U verontreinig? Deurdat julle sê: Die tafel van die HERE is veragtelik. En as julle die blindes as offer bring, is dit nie sleg nie? en as julle die kreupeles en siekes offer, is dit nie sleg nie? Bied dit nou aan jou goewerneur; Sal hy 'n welbehae in jou hê, of jou persoon aanneem? spreek die HERE van die leërskare. En nou, bid ek julle, smeek God dat Hy ons genadig sal wees; spreek die HERE van die leërskare. Wie is daar selfs onder julle wat die deure verniet sal sluit? en julle steek nie verniet vuur op my altaar aan nie. Ek het geen behae in julle nie, spreek die HERE van die leërskare, en Ek sal geen offer uit julle hand aanneem nie. Want van die opgang van die son af tot by sy ondergang sal my Naam groot wees onder die heidene; en op elke plek sal vir my Naam reukwerk en 'n rein offer gebring word, want my Naam sal groot wees onder die nasies, spreek die HERE van die leërskare. Maar julle het dit ontheilig deurdat julle sê: Die tafel van die HERE is ontheilig; en die vrug daarvan, ja, sy spys is veragtelik. Julle het ook gesê: Kyk, wat 'n moegheid is dit! en julle het dit uitgeblus, spreek die HERE van die leërskare; en julle het verskeurde en kreupeles en siekes gebring; so het julle 'n offer gebring; moet ek dit van julle hand aanneem? spreek die HERE. Maar vervloek is die bedrieër wat in sy kudde 'n mannetjie het en 'n gelofte beloof en aan die HERE 'n verdorwe ding offer; want Ek is 'n groot Koning, spreek die HERE van die leërskare, en my Naam is verskriklik onder die nasies.

MALEAGI 1:1-14 Die Boodskap (DB)

Hierdie is ’n boodskap vir Israel deur Maleagi uit die hart van die Here uit. Ek het julle baie lief, sê die Here, maar julle sê heel verbaas: Regtig? Waar is die bewys dat U ons liefhet? Kom Ek antwoord julle so: Ek het my liefde vir julle bewys deur Jakob lief te hê. Esau het Ek aan homself oorgelaat, al was hy Jakob se broer. Daarom is sy bergland vandag soos ’n kaal vlakte en is dit nie sy kinders wat daar bly nie, maar net ’n klomp woestynjakkalse. Sy kinders daar in Edom sou natuurlik kon sê: “Al lyk dit nou sleg, ons sal weer voor begin!” Vir hulle sê Ek, die God vir wie niks onmoontlik is nie, julle kan soveel huise bou as wat julle wil, dit sal nooit ’n stad word nie. Om die waarheid te sê, julle sal eerder op ’n bynaam genoem word: die goddelose dorp en mense vir wie die Here vir altyd kwaad is. Julle sal dit met julle eie oë sien en dan sal julle nie anders kan nie as om te sê: “Maar die Here is in beheer selfs tot anderkant Israel se grense.” ’n Kind respekteer tog sy pa en ’n werknemer sy hoof. Julle noem My julle Vader en julle Here, maar waar is die eer en respek wat Ek dan moet kry? Dit wil Ek, wat die Grootkoning is, by julle weet, priesters, want julle maak My belaglik voor die mense. En tog vra julle ewe onskuldig: “Wanneer het ons U ooit belaglik gemaak?” Kyk ’n bietjie na die soort offers wat julle vir My bring. Julle gee nie om hoe hierdie offers lyk nie. En dan vra julle nog: “Wanneer het ons U nie gerespekteer nie?” Deur nie te bring wat Ek wil hê nie, is net so goed as om jou neus vir My op te trek en te sê: “Vat wat jy kry.” Is daar niks mee verkeerd as julle ’n blinde of ’n lam of ’n siek dier vir My kom offer nie? Probeer ’n bietjie so iets met julle goewerneur en kyk hoe baie hy daarvan gaan hou. Tog hou julle aan vra dat Ek, die Here, vir julle goed moet wees, maar solank julle so aangaan, sal Ek nie julle gebede verhoor nie, en dis net julle eie skuld. Ek wens iemand wil liewer die tempel se deur toesluit. Dan kon julle ten minste nie al hierdie nuttelose offers vir My bring nie. Ek is nie beïndruk met wat julle doen nie. Moenie dink dat Ek maar met enigiets tevrede moet wees nie. Onthou, Ek is die Here, die enigste God. Mense oor die hele wêreld eer My. Die offers wat hulle vir My bring, is aanvaarbaar, want hulle bedoel dit uit die hart uit. Op hierdie manier bewys hulle dat hulle respek het vir My as die Here aan wie alles behoort. Julle optrede is sonder respek. Julle nooi My as ’n gas, maar dit waarmee julle die tafel vir My dek, is goed wat julle self nie eens wil hê nie. En dan trek julle nogal die neus vir My op en sug oor hoe moeilik dit is om die Here tevrede te stel. Gaan kyk ’n bietjie wat bring julle vir My as offers: gesteelde, lam en siek diere; dis mos nie aanvaarbaar nie. As iemand belowe het om vir My die beste te gee wat hy het en hy kom dan later daar aan met iets minderwaardigs, moet hy weet dit sal baie swaar met hom gaan. Want Ek laat My nie bedrieg nie. Ek is die Grootkoning, die Here aan wie alles behoort. Die volke van die wêreld het respek vir My.

MALEAGI 1:1-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die HERE het vir Maleagi ’n boodskap gegee om aan Israel oor te dra. HERE Die HERE sê: “Ek het julle lief.” Julle reaksie was: “Hoe het U ons liefgehad?” Hierop het die HERE geantwoord: “Is Esau nie Jakob se broer nie? Tog het Ek Jakob liefgehad, maar Esau verwerp. Ek het sy heuwelagtige grondgebied verlate gemaak en sy erfdeel verander in ’n woestyn, bestem vir jakkalse.” Toe het Esau se afstammelinge, die mense van Edom hierop gereageer en gesê: “Ons is platgeslaan, maar ons sal die bouvalle weer opbou.” Die HERE, die Almagtige, het so daarop geantwoord: “Hulle kan maar probeer om herstelwerk te doen. Ek sal dit net weer vernietig! Hulle land sal bekend staan as ‘Die Land van Boosheid’ en die volk as ‘Die volk vir wie die HERE vir altyd kwaad sal wees’. As julle die vernietiging met julle eie oë sien, sal julle sê: ‘Die grootheid van die HERE strek baie verder as ons landsgrense!’” Vir die priesters sê die HERE, die Almagtige: “’n Seun eer sy pa en ’n slaaf sy meester. Ek is julle Vader en julle Meester, maar waar is die eer en respek wat My toekom? Julle het My geminag! Maar julle vra: ‘Op watter wyse het ons U geminag?’ Julle bring vir My offers van voedsel wat besoedeld is. Dan vra julle: ‘Hoe het ons u offer onrein gemaak?’ Julle het dit gedoen deur te sê die HERE se altaar kan maar geminag word.” Die HERE, die Almagtige, sê: “Is dit nie verkeerd as julle blinde diere bring om te offer nie? Is dit nie ook verkeerd om lam en siek diere te offer nie? Bring ’n bietjie sulke geskenke vir julle goewerneur en kyk of hy daarmee tevrede sal wees en julle vriendelik sal ontvang! Roep God aan en smeek Hom om julle genadig te wees! Maar as dit die soort offers is wat julle bring, hoekom sal Ek julle goedgesind wees?” vra die HERE, die Almagtige. “Ek wens iemand van julle wil die tempeldeure toesluit sodat julle nie meer nuttelose offers kan bring nie! Ek is glad nie tevrede met julle nie. Ek stel nie in julle offers belang nie,” sê die HERE, die Almagtige. “Daar is nasies wat My eer van waar die son opkom tot waar dit weer ondergaan. Oral eer hulle My deur wierookoffers en rein offers te bring. Die nasies het groot ontsag vir my Naam,” sê die HERE, die Almagtige. “Julle bewys nie respek deur dit wat julle doen nie. Met die veragtelike offers wat julle bring, sê julle eintlik dat julle die altaar van die Here minag. Julle sê: ‘Dit is moeilik om Hom te dien’ en dan trek julle ook nog julle neuse daarvoor op,” sê die HERE, die Almagtige! “Julle bring gesteelde, lam en siek diere en bied dit as offers aan! Moet Ek nou tevrede wees met dit wat julle bring?” vra die HERE. “Daar rus ’n vloek op die bedrieërs wat beloof om ’n ram uit hulle kudde te gee, maar dan ’n verminkte dier aan die Here offer.” Die HERE, die Almagtige, sê: “Is Ek nie ’n groot Koning nie? Selfs die nasies het groot ontsag vir My!”