MALEAGI 2:10-12
MALEAGI 2:10-12 Bybel vir almal (ABA)
Ons het almal een Vader, een God het ons almal gemaak! Hoekom doen mense nie wat hulle vir mekaar belowe het nie en hoekom breek hulle die verbond wat God met ons voorvaders gemaak het? Die mense van Juda het nie gedoen wat hulle belowe het nie. Hulle het 'n baie verkeerde ding gedoen in die land Israel, in Jerusalem. Ja, hulle het die Here se tempel ontwy, die Here is lief vir die tempel. Mans het getrou met vroue wat gode van ander volke dien. Die Here sal elkeen wat dit doen, afsny van die Israeliete. Hy sal nie meer offers vir die Here kan bring nie, die Here wat oor alles regeer.
MALEAGI 2:10-12 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Het ons nie almal een Vader nie? Het een God ons nie geskape nie? Waarom handel ons dan troueloos met mekaar, deur die verbond van ons vaders te ontheilig? Juda het troueloos gehandel, en 'n gruwel is in Israel en in Jerusalem gepleeg; want Juda het die heiligdom van die HERE, wat Hy liefhet, ontheilig, en hy het die dogter van 'n uitlandse god getrou. Mag die HERE van die man wat so iets doen, uitroei hom wat roep en hom wat antwoord gee uit die tente van Jakob, en hom wat 'n offer aan die HERE van die leërskare bring.
MALEAGI 2:10-12 Afrikaans 1983 (AFR83)
Ons het tog almal een Vader, ons is tog deur een God geskep! Waarom is die een dan ontrou aan die ander en ontwy hulle die verbond van God met ons voorvaders? Juda was ontrou. Daar is iets afskuweliks gedoen in Israel, in Jerusalem. Juda het die heiligdom van die Here ontwy, die heiligdom waarvoor die Here lief is; die manne van Juda het met vrouens getrou wat in diens van 'n ander god staan. Mag die Here elkeen wat nog iets te doen wil hê met 'n man wat so 'n vrou trou, uit die gemeenskap van Jakob uitroei, ook al bring so 'n man nog offers vir die Here die Almagtige.
MALEAGI 2:10-12 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Het ons nie almal een Vader nie? Het een God ons nie geskep nie? Waarom is ons dan ontrou aan mekaar en ontheilig ons die verbond wat met ons voorouers gesluit is? Juda was ontrou, en iets afstootliks is in Israel en Jerusalem gedoen: Juda het die heiligdom van die HERE waarvoor Hy lief is, ontheilig. Juda het met dogters wat vreemde gode dien, getrou. Mag die HERE iemand wat dit doen, en wie hom beskerm en verdedig, uit die tente van Jakob uitroei – hy wat 'n offer bring vir die HERE, Heerser oor alle magte.
MALEAGI 2:10-12 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Het ons nie almal een vader nie? het nie een God ons geskape nie? waarom handel ons elkeen troueloos teen sy broer deur die verbond van ons vaders te ontheilig? Juda het troueloos gehandel, en 'n gruwel word in Israel en in Jerusalem gedoen; want Juda het die heiligheid van die HERE wat Hy liefgehad het, ontheilig en die dogter van 'n vreemde god getrou. Die HERE sal die man wat dit doen, die heer en die geleerde, uitroei uit die tente van Jakob, en hom wat 'n offer aan die HERE van die leërskare bring.
MALEAGI 2:10-12 Die Boodskap (DB)
Is ons nie almal een Pa se kinders nie? Het dieselfde God ons nie gemaak nie? Hoekom breek julle God se ooreenkoms met ons voorouers deur mekaar so te belieg en te bedrieg? Dit wat in Juda en Israel en in Jerusalem gebeur, is skandelik. Die mans van Juda trou met buitelandse vroue wat God glad nie dien nie, en dan kom hulle na die Here se heilige tempel toe om te kom offer asof daar niks mee verkeerd is nie. Mag die Here hierdie losbandige mense uit die gemeenskap wegvat en hulle nooit weer toelaat om deel van die gemeente van die Here te word nie.
MALEAGI 2:10-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Is ons nie kinders van dieselfde Vader nie? En is ons nie almal deur een God geskep nie? Hoekom bedrieg julle mekaar dan, verbreek julle die verbond wat God met ons voorouers gemaak het? In Israel en Jerusalem het iets afstootliks gebeur: Juda was ontrou! Die HERE het die tempel baie lief, maar die mans van Juda het dit ontheilig deur te trou met vroue wat vreemde gode aanbid. Mag die HERE alle mense wat so iets doen uit die gemeenskap van Israel verwyder, selfs al bring hulle gereeld offers aan die HERE, die Almagtige.