Bible App logo
Soek-ikoon

MALEAGI 3:6-12 - Vergelyk alle weergawes | YouVersion

MALEAGI 3:6-12 AFR83 (Afrikaans 1983)

Ek, die Here, het nie verander nie, daarom het julle nie te gronde gegaan nie, nageslag van Jakob. Van julle voorvaders se tyd af het julle van my voorskrifte afgewyk en nie daarvolgens geleef nie. Bekeer julle tot My, dan sal Ek terugkom na julle toe, sê die Here die Almagtige. Maar julle vra: “Waarom moet ons ons bekeer?” Sal 'n mens werklik vir God beroof? Tog beroof julle My. Julle vra: “Waarvan beroof ons U?” Van tiendes en offergawes. Daar rus alreeds 'n vloek op julle en tog bly julle My beroof; die hele nasie doen dit. Bring die volle tiende na die voorraadkamer toe sodat daar iets te ete in my huis kan wees, en toets My hierin, sê die Here die Almagtige. Toets My of Ek nie die vensters van die hemel vir julle sal oopmaak en vir julle reën sal uitgiet, meer as wat julle kan gebruik nie. Ek sal die sprinkane keer dat hulle nie die oes op julle land vernietig nie, en dat julle wingerde nie sonder vrugte is nie, sê die Here die Almagtige. Dan sal al die nasies julle as gelukkige mense beskou; julle sal in 'n begeerlike land woon, sê die Here die Almagtige.

MALEAGI 3:6-12 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

Want Ek, die HERE, het nie verander nie; en julle, kinders van Jakob, is nie verteer nie. Sedert die dae van julle vaders het julle van my insettinge afgewyk en dit nie onderhou nie. Keer terug na My, en Ek wil na julle terugkeer, sê die HERE van die leërskare. Maar julle vra: Waarin moet ons terugkeer? Mag 'n mens God beroof? Want julle beroof My, en julle sê: Waarin het ons U beroof? In die tiendes en die offergawe. Met die vloek is julle belaai, en tog beroof julle My, julle, die hele nasie! Bring die hele tiende na die skathuis, sodat daar spys in my huis kan wees; en beproef My tog hierin, sê die HERE van die leërskare, of Ek vir julle nie die vensters van die hemel sal oopmaak en op julle 'n oorvloedige seën sal uitstort nie. Ek sal ook die sprinkaan vir julle afweer, sodat hy die opbrings van julle grond nie sal verwoes nie; ook die wynstok op die land sal vir julle nie onvrugbaar wees nie, sê die HERE van die leërskare. En al die nasies sal julle gelukkig prys, omdat julle die land van welbehae sal wees, sê die HERE van die leërskare.

MALEAGI 3:6-12 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

“Ek is die HERE, Ek verander nie. Daarom, nageslag van Israel, is julle nie heeltemal uitgewis nie. Van die tyd van julle voorouers af het julle afgewyk van my voorskrifte en hulle nie gehoorsaam nie.” Die HERE, die Almagtige, sê: “Keer terug na My toe en Ek sal na julle toe terugkeer. Maar julle vra: ‘Hoe moet ons terugkeer?’ “Sal mense God ooit besteel? Tog het julle My bedrieg! Julle vra: ‘Wat bedoel U? Wanneer het ons U ooit bedrieg?’ Julle het die tiendes en offerandes gesteel! Daar rus ’n vloek op julle, want julle hele volk besteel My.” Die HERE, die Almagtige, sê: “Bring al die tiendes na die stoorkamers sodat daar genoeg kos in my tempel kan wees. Toets My hierin of Ek nie vir julle die vensters van die hemel sal oopmaak nie. Ek sal voorspoed op julle laat reën wat meer as genoeg vir julle sal wees!” Die HERE, die Almagtige, sê: “Ek sal sorg dat insekte julle oes nie verwoes nie en julle wingerde op die landerye nie misluk nie. Dan sal al die nasies julle as geseënd beskou omdat julle land begeerlik is.” Dit is wat die HERE, die Almagtige, sê.

MALEAGI 3:6-12 DB (Die Boodskap)

Ek is die Here. Daarom het Ek nog nooit verander soos julle beweer nie. Maar julle het ook nog nooit verander nie. Julle bly nog steeds Jakob se kinders wat net soos hy altyd loop en bedrieg. Ten spyte daarvan het Ek julle nog nooit aan julleself oorgelaat nie. Julle is net soos julle voorouers. Hulle het ook die rug vir My gedraai en nie gedoen wat Ek van hulle gevra het nie. Wil julle nie omdraai en weer terugkom na My toe nie? Ek wil graag weer my hande na julle toe uitsteek en julle terugvat. Maar nou vra julle: “Hoekom moet ons terugkom as ons nog nooit weg was nie?” Sê nou vir My: Is dit reg om van God te steel? Natuurlik nie, maar tog steel julle van My! Moet nou nie so verbaas lyk en vra: “Wanneer het ons van U gesteel?” nie. Waar is die tiendes en die dankoffers wat julle moet bring sodat die gemeente die mense wat dit nodig het, daarmee kan versorg? Dit is die rede waarom dit so swaar gaan met julle, want die hele volk is besig om van My te steel. Bring julle volle tiende na die tempel se stoorkamers toe sodat daar genoeg kan wees om dié wat nie vir hulleself kan sorg nie te help. Probeer dit en kyk wat gebeur. As julle dit doen, sal julle sien dat julle my hande wat agter my rug vasgemaak was, losgemaak het, en dan sal Ek weer vir julle kan sorg na die beste van my vermoë. Ek sal sorg dat julle lande weer goeie oeste het en julle wingerde se druiwe volop sal wees, sê die Here van die oorvloed. Julle land sal so ’n wonderlike plek wees dat die mense van die ander lande sal sê: “Kyk hoe seën die Here hulle.”

MALEAGI 3:6-12 ABA (Bybel vir almal)

“Ek, die Here, het nie verander nie, daarom het Ek julle nie almal doodgemaak nie, julle Israeliete wat die nageslag van Jakob is. Van die tyd toe julle voorvaders gelewe het, was julle nie gehoorsaam nie, julle het nie gedoen wat Ek vir julle gesê het nie.” Die Here wat oor alles regeer, sê: “Kom terug na My toe, dan sal Ek terugkom na julle toe. Maar julle vra: ‘Hoe moet ons terugkom?’ ” Die Here vra vir julle: “Mag 'n mens iets van God steel? Julle steel van My, maar julle vra: ‘Hoe het ons van U gesteel?’ Julle steel wanneer julle nie al die tiendes en die presente bring wat julle moet gee nie. Ek het opgehou om julle te seën, maar julle hou aan om van My te steel. Al die Israeliete doen dit.” Die Here wat oor alles regeer, sê: “Julle moet al julle tiendes na die tempel bring sodat daar kos in my tempel kan wees. Julle moet My toets en kyk of Ek julle sal seën. Ek sal die vensters van die hemel oopmaak en vir julle baie reën gee, meer as genoeg. Ek sal die sprinkane wegjaag sodat hulle nie meer julle koring opvreet nie, en die druiwe in julle wingerde sal nie meer afval nie.” Dit sê die Here wat oor alles regeer. “Al die volke sal dink dat julle gelukkige mense is, want julle sal 'n wonderlike land hê. Die ander mense sal graag julle land wil hê.” Dit sê die Here wat oor alles regeer.

MALEAGI 3:6-12 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

“Ek, die HERE, het immers nie verander nie. Maar julle Jakobskinders kry nie end nie. Sedert die tyd van julle voorouers wyk julle van my voorskrifte af en kom dit nie na nie. Keer terug na My, dan sal Ek na julle terugkeer,” sê die HERE, Heerser oor alle magte. “Maar julle vra, ‘Hoe moet ons terugkeer?’ Mag 'n mens God besteel? Maar julle besteel My! En dan vra julle nog, ‘Hoe besteel ons U?’ Van tiendes en •wydingsgeskenke! Daar rus 'n vloek op julle, maar vir My bly julle beroof, julle hele nasie. Bring die volle tiende na die voorraadkamer sodat daar voedsel in my huis kan wees. Toets My hierin,” sê die HERE, Heerser oor alle magte, “of Ek nie vir julle die vensters van die hemel sal oopmaak en oorvloedige seën oor julle sal uitstort nie. Ek sal vir julle die sprinkane berispe, sodat hulle nie die opbrengs van julle landerye verwoes nie, en die druiwestok in die wingerd sal vir julle nie sonder vrugte wees nie,” sê die HERE, Heerser oor alle magte. “En al die nasies sal julle gelukkig noem, omdat julle 'n begeerlike land sal wees,” sê die HERE, Heerser oor alle magte.

MALEAGI 3:6-12 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

Want Ek is die HERE, Ek verander nie; daarom is julle seuns van Jakob nie verteer nie. Selfs van die dae van julle vaders af het julle van my verordeninge af weggegaan en dit nie onderhou nie. Keer terug na My toe, en Ek sal na julle terugkeer, spreek die HERE van die leërskare. Maar julle het gesê: Waarin sal ons terugkeer? Sal 'n man God beroof? Tog het julle my beroof. Maar julle sê: Waarin het ons U beroof? In tiendes en offergawes. Vervloek is julle met 'n vloek, want julle het My beroof, ja, hierdie hele nasie. Bring al die tiendes na die skathuis, dat daar spys in my huis kan wees, en beproef My nou hiermee, spreek die HERE van die leërskare, as Ek nie vir julle die vensters van die hemel sal oopmaak en vir julle 'n seën sal uitstort nie, dat daar sal nie genoeg plek hê om dit te ontvang nie. En Ek sal die eter om julle ontwil bestraf, en hy sal die vrugte van julle grond nie vernietig nie; en julle wingerdstok sal sy vrugte nie voor die tyd in die veld gooi nie, spreek die HERE van die leërskare. En al die nasies sal julle geseënd noem, want julle sal 'n lieflike land wees, spreek die HERE van die leërskare.