MATTEUS 11:2-6
MATTEUS 11:2-6 Afrikaans 1983 (AFR83)
Johannes het in die tronk gehoor wat Christus alles gedoen het, en het toe deur sy volgelinge 'n boodskap aan Hom gestuur om te vra: “Is U die Een wat sou kom, of moet ons 'n ander een verwag?” Jesus antwoord hulle: “Gaan vertel vir Johannes wat julle hoor en sien: Blindes sien, lammes loop, melaatses word gereinig, dowes hoor, dooies word opgewek, en aan armes word die evangelie verkondig. En gelukkig is elkeen wat nie aan My begin twyfel nie.”
MATTEUS 11:2-6 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Toe Johannes in die tronk verneem wat Christus alles doen, het hy sy dissipels gestuur om Hom te vra: “Is U die Een wat sou kom, of moet ons iemand anders verwag?” Jesus het hulle geantwoord: “Gaan vertel vir Johannes wat julle hoor en sien: “Blindes sien weer en verlamdes loop, melaatses word gereinig, dowes hoor, dooies word opgewek en aan armes word die goeie boodskap verkondig. “En gelukkig is die mens wat nie aan My aanstoot neem nie. ”
MATTEUS 11:2-6 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Johannes het in die tronk gehoor wat Jesus doen – werke soos dié wat die verwagte Messias sou doen. Hy stuur toe van sy dissipels om vir Jesus te vra: “Is U werklik die Messias wat sou kom, of moet ons tog iemand anders verwag?” Jesus het hulle geantwoord: “Gaan vertel vir Johannes wat julle hoor en sien – blindes sien en verlamdes loop, mense met ernstige velsiektes word gesond en dowes hoor, dooies word opgewek en armes hoor die Goeie Nuus. En sê vir hom: ‘Gelukkig is elkeen vir wie Ek nie ’n struikelblok is nie.’”
MATTEUS 11:2-6 Bybel vir almal (ABA)
Johannes die Doper was toe in die tronk en hy het gehoor wat Christus alles gedoen het. Johannes het 'n paar van sy dissipels na Jesus toe gestuur om vir Hom te vra: “Is U die Christus wat moes kom? Of moet ons vir 'n ander Een wag?” Jesus het vir hulle gesê: “Gaan terug na Johannes toe en vertel vir hom wat julle gehoor en gesien het. Sê vir hom: Blinde mense kan nou sien, kreupel mense kan nou loop, melaatse mense is gesond, dowe mense kan nou hoor, mense wat gesterf het, lewe weer, en arm mense hoor die goeie boodskap dat Jesus die Christus is. En God sal mense seën wat nie twyfel nie en wat aanhou om in My te glo.”
MATTEUS 11:2-6 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En Johannes het in die gevangenis gehoor van die werke van Christus, en twee van sy dissipels gestuur en vir Hom gesê: Is U die Een wat sou kom, of moet ons 'n ander een verwag? En Jesus het geantwoord en vir hulle gesê: Gaan vertel aan Johannes wat julle hoor en sien: blindes sien weer en kreupeles loop, melaatses word gereinig en dowes hoor, dooies word opgewek en aan armes word die evangelie verkondig. En salig is elkeen wat aan My nie aanstoot neem nie.
MATTEUS 11:2-6 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En toe Johannes in die gevangenis die werke van Christus gehoor het, het hy twee van sy dissipels gestuur, En hy sê vir hom: Is U die een wat sou kom, of soek ons 'n ander? Jesus antwoord en sê vir hulle: Gaan wys weer vir Johannes wat julle hoor en sien. Blindes word gesien en kreupeles loop, melaatses word gereinig en dowes hoor, dooies word opgewek en aan armes word die evangelie verkondig. En welgeluksalig is hy elkeen wat aan My nie aanstoot neem nie.
MATTEUS 11:2-6 Die Boodskap (DB)
Johannes was egter nie heeltemal seker wat besig was om te gebeur nie. Nuuskierig stuur hy toe van sy vriende na Jesus toe: “Is U regtig die Messias op wie ons gewag het?” vra hulle. “Sê ons asseblief eerlik. Ons wil nie ’n fout maak en dalk vir ’n verkeerde een wag nie.” Jesus het nie met ’n eenvoudige ja of nee geantwoord nie. Hy het vir hulle gesê: “Luister na my preke en kyk wat Ek alles doen. Gaan dan na Johannes toe en vertel hom: mense wat nie kon sien nie, sien nou weer; mense wat nooit kon loop nie, stap nou tussen ons rond; mense wat uit die dorpe gejaag is omdat hulle melaats was, staan nou weer in die tempel, heeltemal gesond; dowes hoor; mense wat dood was, leef, en mense op wie almal neersien, hoor nou skielik dat hulle vir God baie besonders is. “Gelukkig is hy wat nie begin twyfel of Ek regtig die Messias is nie.”