MATTEUS 11:25-30
MATTEUS 11:25-30 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
In daardie tyd het Jesus gesê: “Ek loof U, Vader, Here van hemel en aarde, dat U hierdie dinge vir slim en geleerde mense verberg en dit aan kindertjies bekend gemaak het. Ja, Vader, want so het U dit goedgevind. Alles is deur my Vader aan My toevertrou. En niemand ken die Seun nie, behalwe die Vader, en niemand ken die Vader nie, behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun Hom bekend wil maak. “ Kom na My toe, almal wat vermoeid en swaar belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle, en leer van My, omdat Ek sagmoedig en nederig van hart is, en julle sal rus vind vir julle gemoed. Want my juk is draaglik en my las is lig.”
MATTEUS 11:25-30 Bybel vir almal (ABA)
In daardie tyd het Jesus gebid en gesê: “Vader, Here van die hemel en die aarde, Ek sê vir U dankie, want U het kinders en gewone mense gehelp om u woorde en tekens te verstaan. Maar slim en geleerde mense het dit nie verstaan nie, want U het hulle nie gehelp om dit te verstaan nie. Ja, Vader, U het dit gedoen omdat U dit graag wou doen.” Jesus het ook gesê: “My Vader het alles vir My gegee. Niemand ken regtig vir My, die Seun van God nie, net die Vader ken My. En niemand ken regtig die Vader nie, net Ek, die Seun van God, ken die Vader. En watter mense ken die Vader? Net as die Seun vir mense help om te weet wie die Vader is, dan ken hulle ook die Vader. “Kom na My toe, julle almal wat moeg is en swaarkry omdat julle wil doen wat die Wette van Moses sê. Ek sal julle help sodat julle kan rus. Julle moet gehoorsaam wees en luister na wat Ek vir julle leer, want Ek het 'n sagte hart en Ek is nederig. Julle sal vir altyd by My kan rus. Die wette wat Ek vir julle gee, is nie moeilik nie, en as julle My volg, sal julle nie swaarkry nie.”
MATTEUS 11:25-30 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
IN daardie tyd het Jesus gespreek en gesê: Ek loof U, Vader, Here van die hemel en die aarde, dat U hierdie dinge verberg het vir wyse en verstandige mense en dit aan kindertjies geopenbaar het. Ja, Vader, want so was dit u welbehae. Alles is aan My oorgegee deur my Vader, en niemand ken die Seun nie, behalwe die Vader; ook ken niemand die Vader nie, behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun dit wil openbaar. Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; want my juk is sag en my las is lig.
MATTEUS 11:25-30 Afrikaans 1983 (AFR83)
Daardie tyd het Jesus gesê: “Ek prys U, Vader, Here van hemel en aarde, dat U hierdie dinge vir slim en geleerde mense verberg het en dit aan eenvoudiges bekend gemaak het. Ja, Vader, so was dit u genadige bedoeling. “My Vader het alles aan My toevertrou, en niemand ken die Seun nie, behalwe die Vader; en ook ken niemand die Vader nie, behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun Hom wil bekend maak. “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag en my las is lig.”
MATTEUS 11:25-30 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
In daardie tyd het Jesus geantwoord en gesê: Ek dank U, Vader, Here van hemel en aarde, dat U hierdie dinge vir wyse en verstandiges verberg het en dit aan kindertjies geopenbaar het. Net so, Vader, want so het dit goed gelyk in u oë. Alles is aan My oorgegee deur my Vader, en niemand ken die Seun nie, behalwe die Vader; ook ken niemand die Vader nie, behalwe die Seun, en aan wie die Seun hom ook al wil openbaar. Kom na My toe, almal wat vermoeid en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My; want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele. Want my juk is sag, en my las is lig.
MATTEUS 11:25-30 Die Boodskap (DB)
Jesus maak toe sy oë toe en begin bid. “Baie dankie, Vader, U wat oor die hemel en die aarde heers, dat u boodskap so duidelik en eenvoudig is. ’n Mens hoef nie jare op skoolbanke te sit of spesiale kursusse te loop om dit te verstaan nie. Dankie dat ’n ma die kind op haar skoot van U kan vertel en dat hy dit kan verstaan. Dankie ook, Vader, dat die sogenaamde slim mense van die wêreld wat dink hulle weet alles nie u boodskap met hulle geleerdheid kan stilmaak nie. Nee, al hulle ingewikkelde redenasies laat net hulle eie koppe draai. Uiteindelik begryp hulle minder van u boodskap as die kindertjies. Dankie, Vader, dat U besluit het om so duidelik en eenvoudig met ons te praat. Amen.” Na die gebed gesels Jesus toe verder met die mense: “My Vader het My gevra om al hierdie dinge op die aarde te kom doen. Hy het ook vir My alles gegee wat Ek nodig het om dit wel te kan doen. Ek en my Vader het geen geheime vir mekaar nie. Ons ken mekaar deur en deur. Niemand ken Ons soos Ons mekaar ken nie. Wil julle die Vader so leer ken? Ek kan julle aan Hom voorstel. “Daarom wil Ek julle uitnooi: Voel julle moeg vir hierdie lewe? Knak julle knieë onder al die probleme en verantwoordelikhede wat julle moet dra? Het julle godsdiens leeg geword sodat dit julle geestelike dors nie meer les nie? Kom dan na My toe! Ja, kom wy jou lewe aan My toe. By My sal jy weer die sin van die lewe ontdek. “Kom luister na wat Ek vir jou oor jou lewe wil leer. Ek sal jou leer dat geluk nie is om heeltyd net vir jouself te leef nie. Jy sal ontdek wat dit beteken om nog vir ander mense tyd en liefde oor te hê. “Kom ontdek watter vreugde dit bring om te leef soos God wil hê jy moet leef. “Dis nie moeilik om so te leef nie; om die waarheid te sê, as jy so begin leef, sal jy agterkom hoe lekker die lewe regtig kan wees.”
MATTEUS 11:25-30 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Toe het Jesus hierdie gebed gebid: “Vader, Here van die hemel en die aarde, Ek sê vir U dankie dat U die insig in hierdie dinge van die slimmes en intelligentes weerhou het en dit oopgemaak het vir hulle wat soos kinders geword het. Ja, Vader, want U verkies hierdie manier van doen! “My Vader het alles aan My toevertrou. Niemand ken die Seun nie, behalwe die Vader. En niemand ken die Vader nie, behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun die Vader wil bekendmaak. “Kom na My toe, julle almal wat moeg is en swaar laste moet dra, en Ek sal julle lewens verkwik. Neem my juk op julle skouers. Kom leer van My, want Ek is sag en nederig van hart, en julle sal rus en nuwe moed vir julle lewe kry. Want my juk sal sag op julle skouers rus en my las is lig om te dra.”