MATTEUS 12:46-50
MATTEUS 12:46-50 Bybel vir almal (ABA)
Jesus was besig om met mense te praat wat bymekaar was in 'n huis. Sy ma, Maria, en sy broers het buite die huis gestaan. Hulle wou met Jesus praat. Een van die mense sê toe vir Jesus: “Kyk, jou ma en jou broers is daar buite, hulle wil met jou praat.” Maar Jesus het vir hom gevra: “Wie is my ma en wie is my broers?” Jesus wys toe met sy hand na sy dissipels en Hy sê: “Hierdie mense is my ma en my broers. Elkeen wat doen wat my Vader in die hemel wil hê, daardie persoon is my broer of my suster of my ma.”
MATTEUS 12:46-50 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN terwyl Hy nog met die skare spreek, staan sy moeder en broers daarbuite en wou graag met Hom praat. Toe sê iemand vir Hom: Dáár staan u moeder en u broers buite en wil graag met U praat. Maar Hy antwoord en sê vir die een wat Hom dit vertel het: Wie is my moeder? En wie is my broers? En Hy steek sy hand oor sy dissipels uit en sê: Dáár is my moeder en my broers. Want elkeen wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is, dié is my broer en suster en moeder.
MATTEUS 12:46-50 Afrikaans 1983 (AFR83)
Terwyl Jesus nog besig was om met die mense te praat, het sy moeder en broers buite gestaan, en hulle wou met Hom praat. Iemand sê toe vir Hom: “U moeder en u broers staan daar buite en wil met U praat.” Maar Hy sê vir die man wat dit vir Hom gesê het: “Wie is my moeder, en wie is my broers?” Toe wys Hy met sy hand na sy dissipels en sê: “Daar is my moeder en my broers! Elkeen wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is, dié is my broer en my suster en my moeder.”
MATTEUS 12:46-50 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Terwyl Jesus nog met die skare praat, het sy moeder en broers onverwags buite gestaan en wou met Hom praat. Iemand het vir Hom gesê: “Kyk, u moeder en broers staan buite en wil met U praat.” Maar Hy het die een wat dit vir Hom gesê het, geantwoord: “Wie is my moeder en wie is my broers?” Toe het Hy sy hand na sy dissipels uitgesteek met die woorde: “Kyk, hier is my moeder en my broers. Want elkeen wat die wil doen van my Vader in die •hemele, dié is my broer en suster en moeder.”
MATTEUS 12:46-50 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Terwyl hy nog met die volk gepraat het, het sy moeder en sy broers daar buite gestaan en wou met hom praat. Toe sê een vir hom: Kyk, jou moeder en jou broers staan buite en begeer om met jou te praat. Maar hy antwoord en sê vir hom wat hom dit vertel het: Wie is my moeder? en wie is my broers? En Hy het sy hand na sy dissipels uitgesteek en gesê: Hier is my moeder en my broers! Want elkeen wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is, dit is my broer en suster en moeder.
MATTEUS 12:46-50 Die Boodskap (DB)
Jesus was nog aan die praat toe sy ma en broers daar opdaag. Hulle wou iets vir Hom sê. Iemand het hulle opgemerk. “Jou ma en broers is hier buite. Hulle wil met jou praat.” Jesus se antwoord was: “Kan julle vir My sê wie my regte familie is? Wie is regtig my ma en wie is regtig my broers?” Hy wys toe na die mense wat Hom met oorgawe volg. “Sulke mense is my regte familie; hulle is vir My my ma, my broers en susters. Almal wat lewe soos my hemelse Vader van hulle verwag, is ’n lid van my familie. Hulle is regtig my broers, my susters, my ma.”
MATTEUS 12:46-50 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Jesus was nog besig om met die skare te praat, toe staan sy ma en sy broers buitekant. Hulle wou met Hom praat. Iemand sê toe vir Jesus: “U ma en broers staan hier buite en hulle wil met U praat.” Hy antwoord die een wat met Hom praat: “Weet julle wie is my ma en wie is my broers?” Daarop wys Hy na sy dissipels en sê: “Daar is my ma en my broers. Elkeen wat aan die wil van my hemelse Vader gehoorsaam is, is my eintlike gesinslede.”