Die embleem van die Bybeltoep
Soek-ikoon

MATTEUS 19:6-21 - Vergelyk alle weergawes | YouVersion

MATTEUS 19:6-21 AFR83 (Afrikaans 1983)

Hulle is dus nie meer twee nie, maar een. Wat God dan saamgevoeg het, mag 'n mens nie skei nie.” Hulle vra Hom toe: “Waarom het Moses dan bepaal dat, as iemand sy vrou 'n skeibrief gee, hy van haar kan skei?” Hy antwoord hulle: “Dit is oor die hardheid van julle harte dat Moses julle toegelaat het om van julle vrouens te skei, maar dit was nie van die begin af so nie. Ek sê vir julle: Elkeen wat van sy vrou skei, behalwe oor owerspel, en met 'n ander een trou, pleeg egbreuk.” Sy dissipels sê toe vir Hom: “As dit is hoe die saak met man en vrou staan, is dit beter om nie te trou nie.” Maar Hy sê vir hulle: “Wat julle nou sê, is nie vir almal moontlik nie, net vir dié aan wie dit gegee is. Daar is mense wat nie kan trou nie omdat hulle van hulle geboorte af so is, ander is deur mense so gemaak, en ander het self so gekies ter wille van die koninkryk van die hemel. “Wie dit kan doen, laat hy dit doen.” Die mense het kindertjies na Hom toe gebring dat Hy hulle die hande moet oplê en vir hulle moet bid. Sy dissipels het met hulle daaroor geraas. Maar Jesus het gesê: “Laat staan die kindertjies en moet hulle nie verhinder om na My toe te kom nie, want die koninkryk van die hemel is juis vir mense soos hulle.” Nadat Hy hulle die hande opgelê het, het Hy daarvandaan weggegaan. Daar het iemand na Hom toe gekom en gesê: “Meneer, watter goeie daad moet ek doen om die ewige lewe te verkry?” Hy het vir hom gesê: “Waarom vra jy My uit oor wat goed is? Daar is net Een wat goed is. Maar as jy die ewige lewe wil ingaan, onderhou die gebooie.” “Watter gebooie bedoel u?” het hy vir Hom gevra. Jesus het gesê: “Dit: Jy mag nie moord pleeg nie, jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie vals getuienis aflê nie, eer jou vader en jou moeder en: jy moet jou naaste liefhê soos jouself. ” “Dit alles het ek nagekom,” het die jongman gesê. “In watter opsig skiet ek nog te kort?” Jesus het hom geantwoord: “As jy volmaak wil wees, gaan verkoop jou besittings en gee die geld vir die armes, en jy sal 'n skat in die hemel hê. Kom dan terug en volg My.”

MATTEUS 19:6-21 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

sodat hulle nie meer twee is nie, maar een vlees? Wat God dan saamgevoeg het, mag geen mens skei nie. Hulle sê vir Hom: Waarom het Moses dan beveel om 'n skeibrief te gee en van haar te skei? Hy antwoord hulle: Omdat Moses weens die hardheid van jul harte julle toegelaat het om van julle vroue te skei; maar van die begin af was dit nie so nie. Maar Ek sê vir julle, elkeen wat van sy vrou skei, behalwe oor hoerery, en 'n ander een trou, pleeg egbreuk; en die wat die geskeie vrou trou, pleeg egbreuk. Sy dissipels sê vir Hom: As die saak van 'n man met 'n vrou so is, dan is dit nie wenslik om te trou nie. Maar Hy sê vir hulle: Almal vat hierdie woord nie, maar net dié aan wie dit gegee is. Want daar is persone wat onbekwaam is om te trou, wat van die moederskoot af so gebore is, en daar is persone wat deur die mense onbekwaam gemaak is, en daar is persone wat hulleself onbekwaam gemaak het ter wille van die koninkryk van die hemele. Wie dit kan vat, laat hom dit vat. TOE bring hulle kindertjies na Hom, dat Hy hulle die hande sou oplê en bid; en die dissipels het hulle bestraf. Maar Jesus sê: Laat die kindertjies staan en verhinder hulle nie om na My te kom nie; want aan sulkes behoort die koninkryk van die hemele. En Hy het hulle die hande opgelê en daarvandaan vertrek. EN daar kom een na Hom en sê vir Hom: Goeie Meester, watter goeie ding moet ek doen, dat ek die ewige lewe kan hê? En Hy sê vir hom: Waarom noem jy My goed? Niemand is goed nie, behalwe een, naamlik God. Maar as jy in die lewe wil ingaan, onderhou die gebooie. Hy vra Hom: Watter? En Jesus sê — dit: Jy mag nie doodslaan nie, jy mag nie egbreek nie, jy mag nie steel nie, jy mag geen valse getuienis gee nie; eer jou vader en moeder; en: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Die jongman sê vir Hom: Al hierdie dinge het ek onderhou van my jeug af. Wat kom ek nog kort? Jesus antwoord hom: As jy volmaak wil wees, gaan verkoop jou goed en gee dit aan die armes, en jy sal 'n skat in die hemel hê; en kom hier, volg My.

MATTEUS 19:6-21 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

Hulle is dus nie meer twee nie, maar een liggaam. Wat God so saamgevoeg het, mag ’n mens nie uitmekaarskeur nie.” Hulle vra Hom: “Maar waarom het Moses dan gesê ’n man kan sommer net vir sy vrou ’n skeidokument gee en haar dan laat gaan?” Hy sê vir hulle: “Moses het egskeiding toegelaat as ’n toegewing aan die sondige hardheid van julle harte, maar dit was nie wat God oorspronklik bedoel het nie. Dít verseker Ek julle, ’n man wat van sy vrou skei oor enige ander rede as oor huweliksontrou en met iemand anders trou, is self skuldig aan huweliksontrou.” Sy dissipels sê vir Hom: “As dit met mans en vroue die geval is, moet ’n mens maar liewer nie trou nie!” “Nie almal sal met julle saamstem nie,” het Hy vir hulle geantwoord. “Daar is dié vir wie dit gegee is om nie te trou nie. Sommige is so van hulle geboorte af; ander is deur menslike mishandeling so gemaak; nog ander het ter wille van die koningsheerskappy van God self verkies om so te bly. Wie die nodige insig het, laat hy dit verwerk.” Op ’n dag is kindertjies na Jesus toe gebring sodat Hy sy hande op hulle kon plaas en vir hulle kon bid. Sy dissipels het hulle egter daaroor aangespreek. Maar Jesus se reaksie was: “Laat staan die kindertjies. Moenie hulle keer om na My toe te kom nie, want God se koninkryk is juis bedoel vir almal wat soos hulle is.” En Hy het sy hande op hulle koppe gesit en hulle geseën. Daarna het Hy vertrek. Iemand het na Jesus toe gekom met die vraag: “Leermeester, watter goeie ding moet ek doen om die ewige lewe te ontvang?” Hy het vir hom gesê: “Waarom vra jy My uit oor wat goed is? Net God is werklik goed. Maar om jou vraag te beantwoord – jy kan die ewige lewe verkry deur die gebooie te onderhou.” Hy vra vir Jesus: “Watter gebooie?” Jesus het geantwoord: “‘Jy mag nie moord pleeg nie. Jy mag nie ontrou wees in jou huwelik nie; jy mag nie steel nie; jy mag nie onwaar getuienis aflê nie; respekteer jou pa en ma; jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’” “Ek het al hierdie gebooie nagekom,” antwoord die jong man, “wat moet ek nóg doen?” Jesus het hom geantwoord: “As jy volmaak wil wees, gaan verkoop alles wat jy het, en gee die geld vir die armes. Dan sal jy ’n skat in die hemel hê. Kom dan en word my dissipel.”

MATTEUS 19:6-21 DB (Die Boodskap)

“In die huwelik bestaan daar nie meer twee mense in God se oë nie, maar net een. Hierdie band tussen man en vrou is onbreekbaar. As God dan twee mense op hierdie manier in die huwelik aan mekaar verbind het, mag niemand op aarde dit verbreek nie.” Die Fariseërs het vinnig daarop gereageer: “Maar wat dan van Moses? Waarom het hy nie ’n probleem daarmee gehad dat ons kan skei nie? Al wat hy wel vir ons gesê het, is om te sorg dat ons vir ons vrou ’n wettige skeibrief gee wanneer ons hulle die dag laat loop.” “Ja, dit is waar,” het Jesus geantwoord. “Maar dit is omdat julle koppe en julle harte so hard soos klip is dat hy toegelaat het dat julle kan skei. Dit is omdat julle nie na God se voorskrifte wou luister nie. Maar dit was nie van die begin af so nie. Egskeiding is glad nie deel van God se oorspronklike plan nie. Daarom sê Ek nou eens en vir altyd vir julle: jy mag glad nie skei nie. Glad nie! As jy van jou vrou skei en met ’n ander een trou, pleeg jy egbreuk. Want jou eerste huwelik bestaan nog steeds in God se oë. “Ek maak slegs een uitsondering: as jou vrou by ’n ander man slaap, mag jy van haar skei. Want dan het sy en daardie man liggaamlik een geword.” Na die tyd het Jesus se dissipels eenkant vir Hom kom sê: “Ons het gestaan en luister na wat U vir die Fariseërs oor die huwelik gesê het. Maar, Here, g’n mens kan dit wat U sê, nakom nie. Dis heeltemal te moeilik. Is dit dan nie maar beter om nie te trou nie?” “Ja, Ek weet dis nie maklik om te doen wat Ek vir julle sê nie,” het Jesus geantwoord. “Maar wanneer God met sy goedheid in julle lewens aan die werk is, kan julle doen wat Ek sê. Tog is dit nie vir almal moontlik om te trou nie. Daar is byvoorbeeld mense wat nie in staat is om te trou nie omdat hulle weens aangebore liggaamlike gebreke nie hulle normale seksuele funksies kan vervul nie. Daar is ook mans wat ontman is en nie in staat is om kinders te hê nie. En dan is daar ook mense wat self besluit het dat hulle nie wil trou nie sodat hulle al hulle tyd en energie aan God se diens kan wy. As julle egter kans sien om my voorskrifte oor die huwelik uit te voer, trou dan!” Kort daarna het ’n groep mense hulle kindertjies na Jesus toe gebring met die hoop dat Hy sy hande op hulle sou lê en vir hulle sou bid. Maar die dissipels het hulle verwilder. Hulle wou nie hê dat die mense Jesus onnodig moes lastig val nie. Toe Jesus dit sien, sê Hy dadelik vir sy dissipels: “Wag! Moenie die kindertjies wegjaag nie. Laat hulle na My toe kom. God se nuwe wêreld is juis vir almal soos hulle bedoel. By Hom is daar plek vir almal wat soos klein kindertjies afhanklik is van hulle hemelse Vader se sorg.” Jesus het toe sy hande op hulle geplaas en God se genade oor hulle afgebid. Daarna het Hy vertrek. Op ’n dag het ’n jongman vir Jesus kom sê: “Goeie Leermeester, U praat so baie oor God se nuwe wêreld. Ek wil ook bitter graag daar ’n plek kry. Sê my, watter goeie dinge moet ek doen sodat ek vir altyd daar kan gaan bly?” “Vir wat kom spreek jy My hier voor almal aan as ‘goeie Leermeester’?” het Jesus vinnig gereageer. “Jy weet mos dat daar net Een is wat regtig goed is: God. Maar nou ja, laat Ek jou vraag beantwoord. As jy vir altyd in God se nuwe wêreld wil bly, moet jy sy voorskrifte gehoorsaam. So eenvoudig is dit.” “Watter voorskrifte?” het die man gevra. “Die volgende,” antwoord Jesus. “Jy mag nie moord pleeg nie; jy mag nie met iemand buite jou huwelik ’n seksuele verhouding hê nie; jy mag nie steel nie; jy mag nie leuens vertel nie; jy moet respek vir jou pa en ma hê; en jy moet net soveel vir jou medemens omgee as vir jouself.” “Ag wat, ek doen daardie dinge al van kleins af,” sê die jongman toe. “Miskien is daar nog so ’n klein ietsie ekstra wat ek dalk kan doen, net om honderd persent seker te maak dat ek by God uitkom. Sê my, asseblief.” Hierop sê Jesus: “Nou goed. As jy God se voorskrifte een honderd persent wil hou, moet jy al jou besittings verkoop. Gee dan al daardie geld vir die armes. Los alles waarmee jy besig is en word een van my volgelinge. As jy dit alles doen, het jy vir jouself ’n kosbare skat in die hemel bymekaargemaak. Dan sal jy definitief ’n plek in God se nuwe wêreld kry.”

MATTEUS 19:6-21 ABA (Bybel vir almal)

“Daarom is hulle nie meer twee mense nie, maar een. As God 'n man en 'n vrou saamgebind het, dan mag hulle nie skei nie.” Die Fariseërs vra toe vir Jesus: “ Maar Moses het 'n wet gemaak dat 'n man vir sy vrou 'n skeibrief moet gee wanneer hy van haar skei. Hoekom het hy dit gedoen?” Jesus het hulle geantwoord: “Dit is omdat julle so hardkoppig is. Daarom het Moses gesê julle mag van julle vroue skei. Maar in die begin toe God die mense gemaak het, was dit nie so nie. Ek sê vir julle: As 'n man van sy vrou skei, en met 'n ander vrou trou, dan pleeg hy egbreuk. 'n Man kan net van sy vrou skei as sy seks gehad het met 'n ander man.” Jesus se dissipels sê toe vir Hom: “As dit so is met 'n man en 'n vrou wat met mekaar getroud is, dan is dit beter om nie te trou nie.” Maar Jesus antwoord hulle: “Dit is nie al die mense wat kan verstaan wat Ek gesê het nie, net die mense vir wie God help, kan dit verstaan. Daar is mans wat nie kan trou nie omdat hulle so gebore is. Daar is ook mans wat nie kan trou nie omdat ander mense hulle ontman het. En daar is mans wat nie trou nie sodat hulle kan doen wat God wil hê, God, die Koning wat in die hemel is. Elkeen wat dit kan verstaan, moet dit doen.” Toe het die mense kindertjies na Jesus toe gebring sodat Hy sy hande op hulle kon sit en vir hulle kon bid. Maar die dissipels het met hulle geraas. Jesus sê toe vir hulle: “Laat die kinders na My toe kom en moenie hulle keer nie, want God wat in die hemel is, is Koning oor mense soos hulle.” Jesus het sy hande op die kindertjies gesit en Hy het daar weggegaan. Iemand het na Jesus toe gekom en vir Hom gevra: “Meneer, watter goeie ding moet ek doen om die ewige lewe te kry?” Maar Jesus het vir hom gesê: “Hoekom vra jy vir My wat is goed? Daar is net Een wat goed is, en dit is God. Maar as jy die ewige lewe wil kry, dan moet jy gehoorsaam wees aan God se wette.” Die man sê toe: “Watter wette?” Jesus het vir hom gesê: “ Jy mag nie iemand doodmaak nie, jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie oor ander mense lieg nie, jy moet jou ouers respekteer,” en “ jy moet lief wees vir jou naaste soos jy lief is vir jouself.” Die jongman sê toe vir Jesus: “Ek het alles gedoen wat God se wette sê. Wat moet ek nóg doen?” Jesus het vir hom gesê: “As jy waarlik alles wil doen wat God se wette sê, dan moet jy alles gaan verkoop wat jy het en jy moet die geld vir die arm mense gee. As jy dit doen, dan sal jy ryk wees in die hemel. Kom dan hier en gaan saam met My.”

MATTEUS 19:6-21 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

sodat hulle nie meer twee is nie, maar een liggaam. Daarom, wat God saamgevoeg het, moet 'n mens nie skei nie.” Toe vra hulle Hom: “Waarom het Moses dan bepaal dat 'n man sy vrou 'n skeibrief moet gee om sodoende van haar te skei?” Hy antwoord hulle: “Moses het julle weens julle harde harte toegelaat om van julle vroue te skei, maar van die begin af was dit nie so nie. Ek sê vir julle dat wie van sy vrou skei, behalwe weens owerspel, en met 'n ander trou, egbreuk pleeg.” Sy dissipels sê toe vir Hom: “As dit die stand van sake tussen man en vrou is, is dit beter om nie te trou nie. ” Hy het egter vir hulle gesê: “Nie almal kan hierdie saak begryp nie – slegs hulle aan wie dit gegee is. Daar is inderdaad eunugs wat so gebore is, daar is eunugs wat deur mense so gemaak is, en daar is eunugs wat hulleself so gemaak het ter wille van die •koninkryk van die hemele. Laat enigeen wat kan, dit begryp.” Toe is kindertjies na Jesus gebring, sodat Hy hulle die hande kon oplê en vir hulle bid. Maar die dissipels het hulle berispe. Jesus het egter gesê: “Laat die kindertjies begaan, en moet hulle nie langer verhinder om na My te kom nie, want die •koninkryk van die hemele behoort aan mense soos hulle.” Hy het hulle toe die hande opgelê en daarvandaan vertrek. En kyk, iemand het na Jesus gekom en gevra: “Meester, watter goeie ding moet ek doen sodat ek die ewige lewe kan verkry?” Hy het hom geantwoord: “Hoekom vra jy My uit oor wat goed is? Daar is net Een wat goed is. As jy die lewe wil binnegaan, moet jy die gebooie nakom. ” Hy vra Hom: “Watter?” Jesus antwoord: “Jy mag nie moord pleeg nie, jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie vals getuig nie, eer jou vader en jou moeder,” en “jy moet jou naaste liefhê soos jouself. ” Die jong man sê vir Hom: “Dit alles het ek nagekom – wat kom ek dan nog kort?” Jesus het vir hom gesê: “As jy volmaak wil wees, gaan verkoop jou besittings en gee dit vir die armes, en jy sal 'n skat in die hemele hê. En jy, kom hier, volg My.”

MATTEUS 19:6-21 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

Daarom is hulle nie meer twee nie, maar een vlees. Wat God dan saamgevoeg het, mag geen mens skei nie. Hulle sê vir hom: Waarom het Moses dan bevel gegee om 'n skeibrief te gee en haar weg te gooi? Hy sê vir hulle: Moses het weens die hardheid van julle harte aan julle toegelaat om van julle vroue te skei; maar van die begin af was dit nie so nie. En Ek sê vir julle: Elkeen wat van sy vrou skei, behalwe oor hoerery, en 'n ander een trou, pleeg egbreuk; Sy dissipels sê vir Hom: As die man so met sy vrou is, is dit nie goed om te trou nie. Maar Hy sê vir hulle: Almal kan hierdie woord nie aanneem nie, behalwe hulle aan wie dit gegee is. Want daar is sommige eunugs wat so uit die skoot van hul moeder gebore is, en daar is sommige eunugs wat eunugs van mense gemaak is, en daar is eunugs wat hulself eunug gemaak het ter wille van die koninkryk van die hemele. Wie dit kan ontvang, laat hom dit ontvang. Toe is kindertjies na Hom gebring, dat Hy hulle die hande oplê en bid; en die dissipels het hulle bestraf. Maar Jesus sê: Laat die kindertjies toe en verhinder hulle nie om na My toe te kom nie, want aan sulkes behoort die koninkryk van die hemele. En hy het hulle die hande opgelê en daarvandaan weggegaan. En kyk, een het gekom en vir hom gesê: Goeie Meester, watter goeie ding moet ek doen, dat ek die ewige lewe kan hê? En hy sê vir hom: Waarom noem jy my goed? daar is niemand goed nie, behalwe een, dit is God; maar as jy in die lewe wil ingaan, onderhou die gebooie. Hy sê vir hom: Watter? Jesus het gesê: Jy mag geen moord pleeg nie, jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag geen valse getuienis gee nie, Eer jou vader en jou moeder, en: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Die jongman sê vir hom: Al hierdie dinge het ek bewaar van my jeug af; wat kort my nog? Jesus sê vir hom: As jy volmaak wil wees, gaan verkoop wat jy het en gee aan die armes, en jy sal 'n skat in die hemel hê; en kom volg My.