MATTEUS 27:27-44

MATTEUS 27:27-44 Bybel vir almal (ABA)

Die soldate het Jesus na die goewerneur se huis geneem. Hulle het al die ander soldate geroep om saam te gaan. Hulle het Jesus se klere uitgetrek en hulle het 'n pers bo-kleed om Hom gehang. Hulle het 'n kroon van doringtakke gevleg en hulle het dit op sy kop gesit. Hulle het 'n dik riet in sy regter-hand gesit. Die soldate het voor Hom gekniel en Hom gespot en gesê: “Ons groet jou, Koning van die Jode!” Hulle het op Hom gespoeg en hulle het die riet geneem en aangehou om Jesus daarmee op sy kop te slaan. Nadat hulle Jesus klaar gespot het, het hulle die pers bo-kleed uitgetrek en hulle het Jesus se eie klere vir Hom aangetrek. Die soldate het Jesus weggeneem sodat hulle Hom kon kruisig. Toe hulle uit Jerusalem uitgaan, het hulle 'n man van die stad Sirene gesien. Sy naam was Simon. Die soldate het vir Simon gesê hy moet Jesus se kruis dra. Hulle kom toe by die plek wat die mense Golgota noem. Golgota beteken “Plek van die kopbeen.” Hulle het vir Jesus wyn gegee wat hulle met gal gemeng het, maar toe Hy dit proe, wou Hy dit nie drink nie. Die soldate het vir Jesus gekruisig en elke soldaat het van Jesus se klere gevat. Hulle het lootjies getrek om te besluit watter klere elkeen moet kry. Daarna het hulle gaan sit en hulle het Hom daar opgepas. Hulle het bokant Jesus se kop op 'n plank geskryf hoekom hulle Hom gekruisig het. Hulle het geskryf: “Dit is Jesus, die koning van die Jode.” Die soldate het twee mense saam met Jesus gekruisig, een regs langs Hom, en die ander een links langs Hom. Hulle was mense wat teen die regering geveg het. Die mense wat daar verbygeloop het, wou vir Jesus verneder. Hulle het gewys dat hulle bly is oor wat met Hom gebeur het en hulle het gesê: “Jy het gesê jy sal die tempel afbreek en dit weer in drie dae bou. As jy die Seun van God is, red jouself nou en klim van die kruis af!” Die priesterleiers en die skrifgeleerdes en die familieleiers het ook so aangehou om vir Jesus te spot. Hulle het gesê: “Hy het ander mense gered, maar hy kan homself nie red nie! Hy sê hy is die Koning van Israel. Hy moet nou afklim van die kruis, dan sal ons in hom glo! Hy glo God sal hom red. God moet hom nou red as Hy dit wil doen, want Jesus het gesê: ‘Ek is die Seun van God.’ ” Die twee mense wat saam met Jesus aan die kruise gehang het, het ook vir Jesus op dieselfde manier gespot. Hulle was mense wat teen die regering geveg het.

MATTEUS 27:27-44 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Daarop neem die soldate van die goewerneur Jesus met hulle saam in die goewerneur se paleis en bring die hele leërafdeling teen Hom bymekaar. Toe trek hulle sy klere uit en werp 'n rooi mantel om Hom; en hulle vleg 'n kroon van dorings en sit dit op sy hoof, en 'n riet in sy regterhand; en hulle val op hul knieë voor Hom en bespot Hom en sê: Wees gegroet, Koning van die Jode! En hulle spuug op Hom en neem die riet en slaan Hom op sy hoof. En nadat hulle Hom bespot het, trek hulle Hom die mantel uit en trek Hom sy klere aan en lei Hom weg om gekruisig te word. EN toe hulle uitgaan, kry hulle 'n man van Ciréne, met die naam van Simon; hom het hulle gedwing om sy kruis te dra. En hulle het gekom op 'n plek wat Gólgota genoem word — dit beteken: Plek van die Hoofskedel — en vir Hom asyn, met gal gemeng, gegee om te drink; en toe Hy dit proe, wou Hy nie drink nie. En nadat hulle Hom gekruisig het, het hulle sy klere verdeel deur die lot te werp, sodat vervul sou word wat deur die profeet gespreek is: Hulle het my klere onder mekaar verdeel en oor my gewaad die lot gewerp. En hulle het gaan sit en Hom daar bewaak. En bokant sy hoof het hulle sy beskuldiging in skrif opgestel: DIT IS JESUS, DIE KONING VAN DIE JODE. Toe word daar saam met Hom twee rowers gekruisig, een aan die regter- en een aan die linkerkant. En die verbygangers het Hom gesmaad terwyl hulle hul hoofde skud en sê: U wat die tempel afbreek en in drie dae opbou, red Uself! As U die Seun van God is, kom af van die kruis! En so het ook die owerpriesters saam met die skrifgeleerdes en ouderlinge gespot en gesê: Ander het Hy verlos, Homself kan Hy nie verlos nie. As Hy die Koning van Israel is, laat Hom nou van die kruis afkom, en ons sal in Hom glo. Hy het op God vertrou; laat Hy Hom nou verlos as Hy behae in Hom het; want Hy het gesê: Ek is die Seun van God. En op dieselfde manier het die rowers wat saam met Hom gekruisig was, Hom ook beledig.

MATTEUS 27:27-44 Afrikaans 1983 (AFR83)

Daarna vat die soldate van die goewerneur vir Jesus in die ampswoning in en bring die hele leërafdeling rondom Hom bymekaar. Hulle trek toe sy klere uit en gooi Hom 'n pers mantel om. Hulle vleg 'n doringkroon en sit dit op sy kop en gee Hom 'n stok in sy regterhand. Toe bespot hulle Hom deur voor Hom te buig en te sê: “Ons groet u, Koning van die Jode!” Hulle het op Hom gespoeg en die stok gevat en Hom oor die kop geslaan. Nadat hulle Hom klaar bespot het, het hulle die mantel uitgetrek en weer sy eie klere vir Hom aangetrek. Toe lei hulle Hom weg om Hom te kruisig. Toe hulle uitgaan, kry hulle 'n man van Sirene met die naam Simon, en hulle het hom gekommandeer om Jesus se kruis te dra. Hulle kom toe by 'n plek wat Golgota genoem word; dit beteken Kopbeenplek. Daar het hulle Hom 'n mengsel van wyn en gal gegee om te drink, maar toe Hy dit proe, wou Hy dit nie drink nie. Hulle het Hom gekruisig en sy klere verdeel deur te loot. Daarna het hulle gaan sit en by Hom wag gehou. Bokant sy kop het hulle die aanklag teen Hom in skrif aangegee: “Dit is Jesus, die koning van die Jode.” Saam met Hom het hulle ook twee rowers gekruisig, een regs en die ander een links van Hom. Die mense wat daar verbygeloop het, het Jesus gelaster. Hulle het die kop geskud en gesê: “Jy wat die tempel afbreek en in drie dae opbou! Red jouself as jy die Seun van God is, en kom van die kruis af!” Net so het die priesterhoofde saam met die skrifgeleerdes en die familiehoofde ook gespot en gesê: “Ander het hy gered, maar homself kan hy nie red nie. Hy is mos die koning van Israel! Laat hy nou van die kruis afkom en ons sal in hom glo. Hy het op God vertrou; laat God hom nou red as Hy dan behae in hom het. Hy het immers gesê hy is die Seun van God!” Op dieselfde manier het die rowers wat saam met Hom gekruisig is, Hom ook beledig.

MATTEUS 27:27-44 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Toe het die soldate van die prokurator vir Jesus na die pretorium saamgeneem, en die hele kohort soldate by Hom byeengebring. Hulle het sy klere uitgetrek en 'n helderrooi mantel om Hom gehang. Nadat hulle 'n kroon van doringtakkies gevleg het, het hulle dit op sy kop gesit, en 'n riet in sy regterhand. Hulle het voor Hom gekniel en met Hom die spot gedryf: “Gegroet, koning van die Jode!” Hulle het op Hom gespoeg en die riet geneem, en Hom herhaaldelik op sy kop geslaan. Nadat hulle met Hom gespot het, het hulle die mantel afgehaal, sy boklere vir Hom aangetrek en Hom weggelei om Hom te kruisig. Op pad na buite het hulle 'n man van Sirene met die naam Simon teëgekom. Hulle het hierdie man gedwing om Jesus se kruis te dra. Toe hulle by 'n plek kom met die naam Golgota, wat ‘Kopbeenplek’ beteken, het hulle vir Hom wyn, gemeng met 'n giftige kruid, gegee om te drink. En toe Hy dit proe, wou Hy dit nie drink nie. Nadat hulle Hom gekruisig het, het hulle sy boklere verdeel deur daaroor te loot. Daarna het hulle daar gaan sit en Hom bewaak. Bo sy kop het hulle die aanklag teen Hom aangebring, wat gelui het: “Hy is Jesus, die koning van die Jode. ” Toe is twee rowers saam met Hom gekruisig, een aan sy regterhand en een aan sy linkerhand. Die verbygangers het Hom gelaster, terwyl hulle hulle koppe skud en sê: “Jy wat die tempel afbreek en in drie dae opbou – as jy die •Seun van God is, red jouself, en kom af van die kruis!” Net so het ook die leierpriesters saam met die skrifkenners en familiehoofde die spot gedryf en gesê: “Ander het hy gered, homself kan hy nie red nie. Hy is die koning van Israel, laat hy nou afkom van die kruis, en ons sal in hom glo. Hy het op God vertrou, laat Hy hom nou red as Hy wil. Hy het immers gesê: Ek is die Seun van God. ” Op dieselfde manier het ook die rowers wat saam met Hom gekruisig is, Hom beledig.

MATTEUS 27:27-44 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Toe het die soldate van die goewerneur Jesus in die gemeenskaplike saal geneem en die hele bende soldate by Hom bymekaargeroep. En hulle het hom uitgetrek en hom 'n bloedrooi kleed aangetrek. En toe hulle 'n doringkroon gevleg het, het hulle dit op sy hoof gesit en 'n riet in sy regterhand; en hulle het die knie voor hom gebuig en met Hom gespot en gesê: Wees gegroet, Koning van die Jode! En hulle het op hom gespoeg en die riet geneem en hom op die kop geslaan. En nadat hulle Hom gespot het, het hulle Hom die kleed uitgetrek en Hom sy eie klere aangetrek en Hom weggelei om Hom te kruisig. En toe hulle uitkom, kry hulle 'n man van Cirene met die naam van Simon; hom het hulle gedwing om sy kruis te dra. En toe hulle by 'n plek kom met die naam van Golgota, dit wil sê, 'n plek van 'n skedel, Hulle het vir hom asyn gegee om te drink, gemeng met gal, en toe hy daarvan geproe het, wou hy nie drink nie. En hulle het Hom gekruisig en sy klere verdeel deur die lot te werp, sodat vervul sou word wat deur die profeet gespreek is: Hulle het my klere onder mekaar verdeel, en oor my gewaad het hulle die lot gewerp. En hulle het gaan sit en hom daar dopgehou; En hy het sy beskuldiging bo-oor sy hoof geskryf: DIT IS JESUS, DIE KONING VAN DIE JODE. Toe is daar twee diewe saam met Hom gekruisig, een aan die regterkant en een aan die linkerkant. En die wat verbygegaan het, het hom uitgeskel terwyl hulle hul hoofde swaai, en gesê: Jy wat die tempel afbreek en dit in drie dae bou, red jouself. As U die Seun van God is, kom af van die kruis. Net so het ook die owerpriesters saam met die skrifgeleerdes en die ouderlinge met Hom gespot: Hy het ander gered; homself kan hy nie red nie. As hy die Koning van Israel is, laat hom nou van die kruis afkom, en ons sal hom glo. Hy het op God vertrou; laat hy hom nou verlos as hy dit wil hê, want hy het gesê: Ek is die Seun van God. Ook die diewe wat saam met Hom gekruisig is, het dit in sy tande gegooi.

MATTEUS 27:27-44 Die Boodskap (DB)

Die goewerneur se soldate het Jesus in Pilatus se paleis ingevat en ’n klomp ander soldate geroep. Hulle pluk toe sy klere van Hom af en trek vir Hom pers klere aan. Hulle vleg ook ’n kroon van doringtakkies en druk dit op sy kop. In sy regterhand stop hulle ’n stok. Dit was kamma sy septer. Toe begin hulle met Hom gekskeer. Hulle buig voor Hom en sê spottend: “Goeiedag, U Edele, o koning van die Jode!” Hulle het Hom ook bespoeg en Hom met sy “septer” oor die kop geslaan. Nadat hulle hulle genoeg vermaak het met die spottery, het hulle die pers klere teruggevat en weer sy eie klere vir Hom aangetrek. Daarna het hulle die pad gevat na die plek toe waar hulle gewoonlik die mense gekruisig het. Op pad kry hulle vir Simon. Hy het uit Sirene in Afrika gekom. Voor hy hom kom kry, moes hy Jesus se kruis verder dra. So is hulle na die plek wat Golgota, oftewel “Plek van die Kopbeen”, genoem is. Hulle wou vir Jesus wyn wat met galbitter kruie gemeng is as pynstiller gee. Toe Jesus dit proe, wou Hy dit nie drink nie. Hulle het Jesus toe daar gekruisig. Die soldate het Jesus se klere onder mekaar verdeel deur lootjies te trek. Daarna het hulle naby die kruis gaan sit en wag. Bokant Jesus se kop was ’n nota vasgesit: “Dit is Jesus, die koning van die Jode.” Twee terroriste is ook saam met Hom gekruisig, een aan elke kant van Hom. Die mense wat daar verbygeloop het, het net hulle kop geskud. Hulle het Jesus bespot en die lelikste dinge oor Hom gesê. “Jy het so gespog dat jy die tempel sal afbreek en in drie dae weer sal opbou. Toe, wys nou wat daar in jou steek! As jy regtig die Seun van God is, red jouself. Klim daar van die kruis af, as jy natuurlik kan.” Die Joodse leiers en geleerdes het ook lekker saamgespot: “Hy het ander gered. Nou is hy self in die moeilikheid en kan skielik niks doen nie. Ja-nee, dit is nou vir jou die ‘koning van Israel’, nè! As hy nou daar van die kruis afkom, sal ons sowaar in hom glo. Hy was so seker dat God aan sy kant is. Hy het selfs beweer dat hy die Seun van God is. Wel, laat ons nou sien. God sal hom mos kom help as al hierdie dinge waar is.” Die terroriste langs Hom het ook nie op hulle laat wag nie. Hulle het Jesus lekker saam met die ander gekoggel.

MATTEUS 27:27-44 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die goewerneur se soldate het Jesus toe na hulle hoofkwartier geneem en die hele regiment teen Hom bymekaargemaak. Hulle stroop Hom toe van sy klere en hang vir Hom ’n pers mantel om. Hulle het ook ’n krans van dorings gevleg en dit op sy kop gesit, en ’n rietsepter in sy regterhand. Toe maak hulle kniebuigings voor Hom en roep spottend: “Ons groet u, o Koning van die Jode!” Boonop het hulle Hom bespoeg en die riet by Hom gegryp en Hom daarmee teen die kop geslaan. Toe hulle moeg geword het van spot dryf met Hom, het hulle die mantel uitgetrek en vir Hom weer sy eie klere aangetrek. Toe vat hulle Hom weg om Hom te gaan kruisig. Op pad kom hulle ’n man met die naam Simon teë. Hy was van Sirene afkomstig. Hulle het hom opgekommandeer om Jesus se kruis te dra. Hulle kom toe by die plek aan wat Golgota genoem word – dit beteken Kopbeenkoppie. Hulle gee toe vir Hom ’n mengsel van wyn en bitter kruie om te drink, maar toe Hy dit proe, wou Hy dit nie drink nie. Nadat hulle Jesus gekruisig het, het die soldate sy klere verdeel deur die gooi van dobbelsteentjies. Hulle het daar rondgesit en Hom bewaak. Hulle het ’n plakkaat, met die rede vir Jesus se kruisiging daarop, bokant sy kop vasgesit. Dit het gelui: “Dit is Jesus, die Koning van die Jode.” Daarop het hulle saam met Jesus ook twee kriminele gekruisig, een aan elke kant. Die verbygangers het net spottend hulle koppe geskud en Hom toegesnou: “Toe nou, jy kan mos die tempel afbreek en dit weer in drie dae opbou! As jy dan God se Seun is, red jouself en kom van die kruis af!” Die priesterhoofde tesame met die skrifkenners en die familiehoofde het ook gespot en gesê: “Foeitog, hy het ander gered, maar hy kan homself nie red nie. Hy is mos die Koning van Israel. Laat hy nou afkom van die kruis! Dan sal ons in hom glo! Hy het mos op God staatgemaak – as God so danig lief is vir hom, laat Hy dit nou bewys deur hom te red! Hy het tog self beweer: ‘Ek is God se Seun!’” In hierdie selfde trant het selfs die kriminele wat saam met Hom gekruisig is, Hom beledig.