MATTEUS 3:13-17
MATTEUS 3:13-17 Bybel vir almal (ABA)
Jesus het van die provinsie Galilea gekom en Hy het na die Jordaan-rivier gegaan. Hy het na Johannes toe gegaan en gesê Johannes moet Hom doop. Johannes wou dit nie doen nie. Hy het gesê: “Dit is nie reg dat ek vir Ú doop nie, U moet vir mý doop. Hoekom kom U na my toe?” Maar Jesus sê vir hom: “Doen wat Ek vra en doop My. Ons moet dit doen. Ons moet alles doen wat God wil hê ons moet doen.” Toe het Johannes gedoen wat Jesus gevra het, hy het Hom gedoop. Nadat Johannes vir Jesus gedoop het, het Jesus dadelik opgestaan uit die water. Toe gaan die hemel oop, en Jesus sien die Gees van God kom af na Hom toe soos 'n duif uit die lug afkom. Jesus het ook gehoor Iemand sê uit die hemel: “Dit is my Seun. Ek is lief vir Hom. Hy maak My bly.”
MATTEUS 3:13-17 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
TOE het Jesus van Galiléa na die Jordaan, na Johannes gekom om deur hom gedoop te word. Maar Johannes het Hom ernstig teëgegaan en gesê: Ek het nodig om deur U gedoop te word, en kom U na my toe? Maar Jesus het geantwoord en vir hom gesê: Laat dit nou toe, want só pas dit ons om alle geregtigheid te vervul. Daarna het hy Hom toegelaat. En nadat Jesus gedoop was, het Hy dadelik uit die water opgeklim, en meteens gaan die hemele vir Hom oop, en Hy sien die Gees van God soos 'n duif neerdaal en op Hom kom. En daar kom 'n stem uit die hemele wat sê: Dit is my geliefde Seun in wie Ek 'n welbehae het.
MATTEUS 3:13-17 Afrikaans 1983 (AFR83)
In daardie tyd het Jesus van Galilea af na Johannes toe by die Jordaan gekom om deur hom gedoop te word. Maar Johannes het dit probeer verhinder deur te sê: “Ek moet eintlik deur U gedoop word, en U kom na my toe?” Jesus het hom geantwoord: “Nogtans moet jy dit nou doen, want op hierdie manier moet ons aan die wil van God voldoen.” Daarna het Johannes ingestem. Jesus is toe gedoop en het dadelik daarna uit die water gekom. Meteens het die hemel bokant Hom oopgegaan, en Hy het die Gees van God soos 'n duif sien neerdaal en op Hom kom. Daar was ook 'n stem uit die hemel wat gesê het: “Dit is my geliefde Seun. Oor Hom verheug Ek My.”
MATTEUS 3:13-17 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Toe het Jesus van Galilea af by die Jordaan aangekom. Hy het na Johannes gegaan om deur hom gedoop te word. Maar Johannes het Hom probeer teengaan met die woorde: “Ek behoort deur U gedoop te word, en U kom na my?” Jesus het hom geantwoord: “Laat dit nou toe, want dit is goed dat ons op hierdie manier alle •geregtigheid vervul.” Johannes het toe ingestem. Nadat Jesus gedoop is, het Hy dadelik uit die water opgestaan. Meteens het die hemele vir Hom oopgegaan en Hy het die Gees van God soos 'n duif op Hom sien neerdaal. En meteens het 'n stem uit die hemele gesê: “Dit is my geliefde Seun oor wie Ek My verheug.”
MATTEUS 3:13-17 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Toe kom Jesus van Galilea na die Jordaan na Johannes om deur hom gedoop te word. Maar Johannes het hom verbied en gesê: Ek het nodig om deur U gedoop te word, en kom U na my toe? En Jesus antwoord en sê vir hom: Laat dit nou so wees, want so betaam dit ons om alle geregtigheid te vervul. Toe het hy hom gely. En toe Jesus gedoop is, het Hy dadelik uit die water opgegaan; en kyk, die hemele het vir Hom oopgegaan, en Hy het die Gees van God soos 'n duif sien neerdaal en op Hom steek. En daar is 'n stem uit die hemel wat sê: Dit is my geliefde Seun in wie Ek 'n welbehae het.
MATTEUS 3:13-17 Die Boodskap (DB)
In daardie tyd, terwyl Johannes besig was om te preek, het Jesus van Galilea af na die Jordaan toe gekom. Hy wou ook hê dat Johannes Hom moes doop. Maar Johannes wou dit nie doen nie. “Nooit nie! Ek behoort eintlik deur U gedoop te word!” het Johannes geskok gesê. “U is mos nie ’n sondaar soos al die ander mense wat ek doop nie. Hoekom kom U na my toe dat ek U moet doop?” Jesus wou nie nee vir ’n antwoord aanvaar nie. “Doop My nou dadelik!” het Hy Johannes beveel. “Want dit is wat God wil hê. So voldoen Ek en jy aan God se groot plan om die wêreld te red.” Toe Johannes dit hoor, het hy dadelik ingestem. Toe Jesus ná sy doop uit die water uitkom, het die hemel skielik oopgegaan. Johannes het gesien hoe die Gees van God soos ’n duif uit die hemel afkom en op Hom neerdaal. Toe praat ’n stem uit die hemel. Dit was God self. Hy het gesê: “Dit is my Seun vir wie Ek baie lief is. Hy verskaf My baie vreugde!”
MATTEUS 3:13-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Op ’n dag het Jesus van Galilea af by die Jordaanrivier aangekom om deur Johannes gedoop te word. Maar Johannes wou Hom keer. “Ú behoort mý tog veel eerder te doop,” het hy gesê. “Dit is ongehoord dat U nou na my toe kom!” Maar Jesus het hom geantwoord: “Wag nou! Ons moet God se wil juis op hierdie manier gehoorsaam.” Daarop het Johannes ingestem en Hom gedoop. Ná Jesus se doop het Hy dadelik uit die water geklim. Net daar gaan die hemel toe vir Hom oop, en Hy sien hoe die Gees van God soos ’n duif op Hom afdaal. Daar kom toe ’n stem uit die hemel wat sê: “Hý is my geliefde Seun, ’n Kind so na my hart.”