Die embleem van die Bybeltoep
Soek-ikoon

MATTEUS 4:13-22 - Vergelyk alle weergawes | YouVersion

MATTEUS 4:13-22 AFR83 (Afrikaans 1983)

Hy het nie in Nasaret gaan bly nie, maar Hom gaan vestig in Kapernaum by die see, in die gebied van Sebulon en Naftali. So moes vervul word wat deur die profeet Jesaja gesê is: “Jy, gebied van Sebulon en gebied van Naftali, aan die seekant en oorkant die Jordaan, Galilea waar die heidene woon! Die volk wat in duisternis woon, het 'n groot lig gesien; hulle wat in die skemerland van die dood lewe, vir hulle het die lig opgegaan.” Van toe af het Jesus begin preek en gesê: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom.” Eendag toe Jesus langs die See van Galilea loop, sien Hy twee broers: Simon, wat ook Petrus genoem word, en sy broer Andreas. Hulle was besig om 'n werpnet in die see uit te gooi, want hulle was vissers van beroep. Hy sê toe vir hulle: “Kom hier! Kom saam met My, en Ek sal julle vissers van mense maak.” Hulle het dadelik die nette gelos en Hom gevolg. Toe Hy daarvandaan verder gaan, sien Hy twee ander broers: Jakobus 'n seun van Sebedeus, en sy broer Johannes. Hulle was in 'n skuit saam met hulle pa besig om hulle nette reg te maak. Jesus het hulle geroep, en hulle het dadelik die skuit en hulle pa verlaat en vir Jesus gevolg.

MATTEUS 4:13-22 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

En Hy het Násaret verlaat en gaan woon in Kapérnaüm aan die see, in die gebied van Sébulon en Náftali, sodat vervul sou word wat gespreek is deur Jesaja, die profeet, toe hy gesê het: Die land Sébulon en die land Náftali, na die see toe, oorkant die Jordaan, Galiléa van die heidene — die volk wat in duisternis sit, het 'n groot lig gesien, en die wat sit in die land en skaduwee van die dood, vir hulle het 'n lig opgegaan. Van toe af het Jesus begin om te preek en te sê: Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom. En terwyl Jesus langs die see van Galiléa loop, sien Hy twee broers, Simon wat genoem word Petrus, en Andréas, sy broer, besig om 'n net in die see uit te gooi; want hulle was vissers. En Hy sê vir hulle: Kom agter My aan, en Ek sal julle vissers van mense maak. En hulle het dadelik die nette laat staan en Hom gevolg. En toe Hy daarvandaan verder gaan, sien Hy twee ander broers, Jakobus, die seun van Sebedéüs, en Johannes, sy broer, in die skuit saam met hulle vader Sebedéüs, besig om hulle nette heel te maak; en Hy het hulle geroep. En hulle het dadelik die skuit en hulle vader verlaat en Hom gevolg.

MATTEUS 4:13-22 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

Hy het uit Nasaret weggetrek en gaan woon in Kapernaum aan die See van Galilea, in die gebied van Sebulon en Naftali. So is die woord van die profeet Jesaja vervul: “Die land van Sebulon en die land van Naftali langs die See van Galilea en die Transjordaan: Galilea waar so baie nie-Jode woon – die volk wat in die donker sit, het ’n helder lig gesien. En vir dié in die skemerland van die dood – vir hulle het ’n lig opgegaan.” Van toe af het Jesus begin om God se boodskap aan te kondig met die woorde: “Kom tot inkeer! God se koningsheerskappy gaan nou enige oomblik begin!” Op ’n dag toe Jesus langs die See van Galilea loop, sien Hy twee broers, Simon, ook bekend as Petrus, en sy broer Andreas. Hulle was besig om nette in die see uit te gooi. Hulle was vissers van beroep. Daarop sê Hy vir hulle: “Kom! Word my dissipels, en Ek sal julle vissers van mense maak.” Dadelik het hulle hulle nette gelos en Jesus se dissipels geword. ’n Entjie verder het Hy twee ander broers gesien: Jakobus, die seun van Sebedeus, en sy broer Johannes. Hulle was in die boot besig om saam met hulle pa aan hulle nette te werk. Daarop roep Hy hulle om ook te kom. Sommer net daar het hulle die boot en hulle pa gelos en Jesus se dissipels geword.

MATTEUS 4:13-22 DB (Die Boodskap)

Jesus het egter besluit om nie langer in Nasaret te bly nie. Sy nuwe woonplek was Kapernaum. Dit is by die See van Galilea, in die omgewing van Sebulon en Naftali. So het die profetiese woorde van Jesaja waar geword toe hy gesê het: “Sebulon en Naftali, wat op pad na die see toe lê, daar oorkant die Jordaan, daar by julle in Galilea bly baie volke. Maar hulle almal leef in die donker. Nou het hulle egter ’n groot lig gesien! Hulle bly in ’n land waar die dood se skaduwee oor almal val, maar nou het die son oor hulle opgekom.” Van toe af het Jesus ook begin preek. Hy het vir die mense gesê: “Julle moet julle lewe radikaal verander, want God se nuwe wêreld is hier!” Eendag het Jesus by die See van Galilea gaan stap. Hy kom toe af op twee broers, Simon en Andreas. (Simon is later Petrus genoem.) Hulle twee was vissermanne. Hulle was juis besig om hulle nette in die see te gooi toe Jesus vir hulle sê: “Laat staan julle nette. Kom agter My aan! Word my volgelinge. Dan sal Ek julle wys hoe om op ’n nuwe manier vis te vang. Ek sal julle leer om van nou af mense te vang wat in sonde leef sodat hulle deel kan kry aan God se nuwe wêreld.” Dadelik het Simon en Andreas hulle visnette neergesit en agter Jesus begin aanstap. ’n Entjie verder het Jesus op nog twee broers afgekom, Johannes en Jakobus. Saam met hulle pa, Sebedeus, was hulle hard aan die werk om hulle visnette heel te maak. Jesus het by hulle gaan staan en ook vir hulle gesê om alles net so te los en sy volgelinge te word. Hulle het uit hulle boot geklim, hulle pa gegroet en agter Jesus aangestap.

MATTEUS 4:13-22 ABA (Bybel vir almal)

Jesus het weggegaan van die stad Nasaret waar Hy eers gewoon het. Hy het gaan woon in die stad Kapernaum, by die See van Galilea. Kapernaum was in die deel van die land waar die stamme Sebulon en Naftali voorheen gewoon het. Dit het gebeur sodat dit waar kan word wat die profeet Jesaja gesê het: “ Land van Sebulon en Naftali, langs die pad na die See van Galilea, naby die Jordaan-rivier, Galilea, land van mense wat nie Jode is nie. Julle is die volk wat in die donker lewe, maar julle het 'n groot lig gesien. Julle wat woon in die skaduwee van die dood, julle het gesien dit word lig.” Van toe af het Jesus begin preek en gesê: “Julle moet nou begin lewe soos God wil hê, want God wat in die hemel is, is Koning oor almal, en van nou af sal almal dit weet.” Jesus het langs die See van Galilea geloop. Hy sien toe twee broers, Simon en Andreas. Simon se ander naam was Petrus. Hulle was vissermanne en hulle het hulle visnet in die see gegooi. Jesus sê toe vir hulle: “Kom hier, kom saam met My, Ek sal julle lewens verander: Julle sal nog vissermanne wees, maar julle sal nie meer visse vang nie, julle sal mense bymekaarmaak vir God.” Simon en Andreas het dadelik hulle visnette gelos en hulle het saam met Jesus gegaan. Jesus het verder gegaan en toe sien Hy twee ander broers, Jakobus en Johannes. Hulle was die seuns van Sebedeus. Hulle was in die boot saam met hulle pa en hulle was besig om hulle visnette reg te maak. Jesus het hulle geroep om saam met Hom te kom. Hulle het dadelik die boot en hulle pa daar gelos en hulle het saam met Jesus gegaan.

MATTEUS 4:13-22 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

Hy het Nasaret verlaat en in Kapernaum by die see gaan woon, in die gebied van Sebulon en Naftali, sodat die woorde vervul sou word wat deur die profeet Jesaja gesê is: “Land van Sebulon en land van Naftali, die pad langs die see, oorkant die Jordaan, Galilea van die heidene: Die volk wat in duisternis woon het 'n groot lig gesien; vir hulle wat in die gebied en die skadu van die dood leef, het 'n lig opgegaan.” Van toe af het Jesus met sy verkondiging begin en gesê: “Bekeer julle, want die •koninkryk van die hemele is op hande.” Terwyl Jesus langs die See van Galilea loop, het Hy twee broers gesien, Simon, wat •Petrus genoem word, en Andreas, sy broer. Hulle was besig om 'n treknet in die see uit te gooi, want hulle was vissers. Hy sê vir hulle: “Volg My, en Ek sal julle vissers van mense maak!” Hulle het onmiddellik hulle nette gelos en Hom gevolg. Hy het van daar af verder geloop en twee ander broers gesien: Jakobus, die seun van Sebedeus, en sy broer Johannes. Hulle was saam met hulle vader Sebedeus in die boot besig om hulle nette heel te maak, en Hy het hulle geroep. Hulle het onmiddellik die boot en hulle vader verlaat en Hom gevolg.

MATTEUS 4:13-22 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

En toe hy Nasaret verlaat het, het hy gekom en gaan woon in Kapernaum, wat aan die seekus is, in die grense van Sabulon en Neftali. Sodat vervul sou word wat deur die profeet Jesaja gespreek is deur te sê: Die land Sabulon en die land van Nefthalim, langs die see, anderkant die Jordaan, Galilea van die heidene; Die volk wat in die duisternis gesit het, het groot lig gesien; en vir die wat in die streek en doodskaduwee sit, het lig opgegaan. Van toe af het Jesus begin preek en sê: Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom. En Jesus, wat by die see van Galilea loop, sien twee broers, Simon wat Petrus genoem word, en Andreas, sy broer, besig om 'n net in die see uit te gooi, want hulle was vissers. En Hy sê vir hulle: Volg My, en Ek sal julle vissers van mense maak. En hulle het dadelik hul nette gelos en Hom gevolg. En daarvandaan het hy nog twee broers gesien, Jakobus, die seun van Sebedeüs, en Johannes, sy broer, in 'n skip saam met hulle vader Sebedeüs, besig om hulle nette reg te maak; en hy het hulle geroep. En hulle het dadelik die skip en hul vader verlaat en hom gevolg.