Die embleem van die Bybeltoep
Soek-ikoon

MATTEUS 4:17-25 – Vergelyk alle weergawes

MATTEUS 4:17-25 AFR83 (Afrikaans 1983)

Van toe af het Jesus begin preek en gesê: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom.” Eendag toe Jesus langs die See van Galilea loop, sien Hy twee broers: Simon, wat ook Petrus genoem word, en sy broer Andreas. Hulle was besig om 'n werpnet in die see uit te gooi, want hulle was vissers van beroep. Hy sê toe vir hulle: “Kom hier! Kom saam met My, en Ek sal julle vissers van mense maak.” Hulle het dadelik die nette gelos en Hom gevolg. Toe Hy daarvandaan verder gaan, sien Hy twee ander broers: Jakobus 'n seun van Sebedeus, en sy broer Johannes. Hulle was in 'n skuit saam met hulle pa besig om hulle nette reg te maak. Jesus het hulle geroep, en hulle het dadelik die skuit en hulle pa verlaat en vir Jesus gevolg. Hy het toe in die hele Galilea rondgegaan en die mense in hulle sinagoges geleer, die evangelie van die koninkryk verkondig en elke soort siekte en kwaal onder die volk gesond gemaak. En berigte oor Hom het deur die hele provinsie Sirië versprei. Die mense het toe die siekes met allerhande kwale en pyne, dié wat in die mag van bose geeste was, geestelik versteurdes en verlamdes na Hom toe gebring, en Hy het hulle gesond gemaak. Groot menigtes uit Galilea, Dekapolis, Jerusalem, Judea en van oorkant die Jordaan af het Hom gevolg.

MATTEUS 4:17-25 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

Van toe af het Jesus begin om te preek en te sê: Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom. En terwyl Jesus langs die see van Galiléa loop, sien Hy twee broers, Simon wat genoem word Petrus, en Andréas, sy broer, besig om 'n net in die see uit te gooi; want hulle was vissers. En Hy sê vir hulle: Kom agter My aan, en Ek sal julle vissers van mense maak. En hulle het dadelik die nette laat staan en Hom gevolg. En toe Hy daarvandaan verder gaan, sien Hy twee ander broers, Jakobus, die seun van Sebedéüs, en Johannes, sy broer, in die skuit saam met hulle vader Sebedéüs, besig om hulle nette heel te maak; en Hy het hulle geroep. En hulle het dadelik die skuit en hulle vader verlaat en Hom gevolg. En Jesus het deur die hele Galiléa rondgegaan en in hulle sinagoges geleer en die evangelie van die koninkryk verkondig en elke siekte en elke kwaal onder die volk genees. En die gerug aangaande Hom is versprei oor die hele Sírië; en hulle het na Hom gebring almal wat ongesteld was, wat gekwel was deur allerhande siektes en pyne en wat van duiwels besete was, en maansiekes en verlamdes; en Hy het hulle gesond gemaak. En groot menigtes het Hom gevolg van Galiléa en Dekápolis en Jerusalem en Judéa en van oorkant die Jordaan af.

MATTEUS 4:17-25 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

Van toe af het Jesus begin om God se boodskap aan te kondig met die woorde: “Kom tot inkeer! God se koningsheerskappy gaan nou enige oomblik begin!” Op ’n dag toe Jesus langs die See van Galilea loop, sien Hy twee broers, Simon, ook bekend as Petrus, en sy broer Andreas. Hulle was besig om nette in die see uit te gooi. Hulle was vissers van beroep. Daarop sê Hy vir hulle: “Kom! Word my dissipels, en Ek sal julle vissers van mense maak.” Dadelik het hulle hulle nette gelos en Jesus se dissipels geword. ’n Entjie verder het Hy twee ander broers gesien: Jakobus, die seun van Sebedeus, en sy broer Johannes. Hulle was in die boot besig om saam met hulle pa aan hulle nette te werk. Daarop roep Hy hulle om ook te kom. Sommer net daar het hulle die boot en hulle pa gelos en Jesus se dissipels geword. Jesus het deur die hele Galilea rondgegaan. Hy het die mense in hulle sinagoges onderrig, die Goeie Nuus van God se koningsheerskappy aangekondig en elke siekte en kwaal onder die volk gesond gemaak. Kort voor lank het die nuus oor Hom oor die hele provinsie van Sirië versprei. Die mense het almal wat siek was na Hom toe gebring: dié wat geteister was deur allerhande siektes en pyne, dié in wie daar bose geeste was, epileptici, verlamdes – en Hy het hulle gesond gemaak. ’n Groot skare uit Galilea, Dekapolis, Jerusalem, Judea en die Transjordaan het Hom begin volg.

MATTEUS 4:17-25 DB (Die Boodskap)

Van toe af het Jesus ook begin preek. Hy het vir die mense gesê: “Julle moet julle lewe radikaal verander, want God se nuwe wêreld is hier!” Eendag het Jesus by die See van Galilea gaan stap. Hy kom toe af op twee broers, Simon en Andreas. (Simon is later Petrus genoem.) Hulle twee was vissermanne. Hulle was juis besig om hulle nette in die see te gooi toe Jesus vir hulle sê: “Laat staan julle nette. Kom agter My aan! Word my volgelinge. Dan sal Ek julle wys hoe om op ’n nuwe manier vis te vang. Ek sal julle leer om van nou af mense te vang wat in sonde leef sodat hulle deel kan kry aan God se nuwe wêreld.” Dadelik het Simon en Andreas hulle visnette neergesit en agter Jesus begin aanstap. ’n Entjie verder het Jesus op nog twee broers afgekom, Johannes en Jakobus. Saam met hulle pa, Sebedeus, was hulle hard aan die werk om hulle visnette heel te maak. Jesus het by hulle gaan staan en ook vir hulle gesê om alles net so te los en sy volgelinge te word. Hulle het uit hulle boot geklim, hulle pa gegroet en agter Jesus aangestap. Nadat Jesus sy eerste dissipels geroep het, het Hy oral in Galilea begin preek. In die sinagoges waar die Jode bymekaargekom het om God te aanbid, het Hy die mense geleer. Jesus het baie goeie nuus vir hulle gehad: Hy het vir hulle gesê dat God se splinternuwe wêreld aangebreek het. Om te wys dat Hy die waarheid praat, het Jesus elke siekte en kwaal waaraan hulle gely het, gesond gemaak. Jesus was gou-gou groot nuus. Kort voor lank het omtrent almal in die provinsie Sirië van Hom geweet omdat Hy sulke groot wonderwerke gedoen het. Mense het hulle siekes na Hom toe gebring. Duiwelbesetenes, verstandelik versteurdes en verlamdes - almal wat na Jesus toe gebring is, het Hy gesond gemaak. Dwarsdeur Palestina het mense van Jesus begin praat. Hulle het in ’n groot massa na Hom toe gestroom: uit Galilea, uit die gebied van die Tien Stede daar oos van die Jordaan, uit Jerusalem en selfs uit die gebied van Judea ver oorkant die Jordaan.

MATTEUS 4:17-25 ABA (Bybel vir almal)

Van toe af het Jesus begin preek en gesê: “Julle moet nou begin lewe soos God wil hê, want God wat in die hemel is, is Koning oor almal, en van nou af sal almal dit weet.” Jesus het langs die See van Galilea geloop. Hy sien toe twee broers, Simon en Andreas. Simon se ander naam was Petrus. Hulle was vissermanne en hulle het hulle visnet in die see gegooi. Jesus sê toe vir hulle: “Kom hier, kom saam met My, Ek sal julle lewens verander: Julle sal nog vissermanne wees, maar julle sal nie meer visse vang nie, julle sal mense bymekaarmaak vir God.” Simon en Andreas het dadelik hulle visnette gelos en hulle het saam met Jesus gegaan. Jesus het verder gegaan en toe sien Hy twee ander broers, Jakobus en Johannes. Hulle was die seuns van Sebedeus. Hulle was in die boot saam met hulle pa en hulle was besig om hulle visnette reg te maak. Jesus het hulle geroep om saam met Hom te kom. Hulle het dadelik die boot en hulle pa daar gelos en hulle het saam met Jesus gegaan. Jesus het deur die hele provinsie Galilea gegaan. Hy het vir die mense geleer in die sinagoges en vir hulle vertel van die goeie boodskap dat God Koning is oor almal. Hy het ook al die mense gesond gemaak wat siek was. Al die mense in die provinsie Sirië het gehoor wat Jesus gedoen het. Toe het hulle al die siek mense, mense met verskillende soorte pyne, na Hom toe gebring. Daar was ook duiwels in party van die mense, party mense het epileptiese aanvalle gekry, en party mense was verlam. Jesus het hulle gesond gemaak. Baie mense het saam met Jesus gegaan. Hulle het gekom van die provinsie Galilea, van Dekapolis, van Jerusalem, en van die provinsie Judea en van die ander kant van die Jordaan-rivier.

MATTEUS 4:17-25 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

Van toe af het Jesus met sy verkondiging begin en gesê: “Bekeer julle, want die •koninkryk van die hemele is op hande.” Terwyl Jesus langs die See van Galilea loop, het Hy twee broers gesien, Simon, wat •Petrus genoem word, en Andreas, sy broer. Hulle was besig om 'n treknet in die see uit te gooi, want hulle was vissers. Hy sê vir hulle: “Volg My, en Ek sal julle vissers van mense maak!” Hulle het onmiddellik hulle nette gelos en Hom gevolg. Hy het van daar af verder geloop en twee ander broers gesien: Jakobus, die seun van Sebedeus, en sy broer Johannes. Hulle was saam met hulle vader Sebedeus in die boot besig om hulle nette heel te maak, en Hy het hulle geroep. Hulle het onmiddellik die boot en hulle vader verlaat en Hom gevolg. En Jesus het in die hele Galilea rondgegaan, in hulle •sinagoges geleer, die evangelie van die koninkryk verkondig, en elke siekte en elke kwaal onder die volk genees. Die nuus oor Hom het deur die hele Sirië versprei. Hulle het almal wat ongesteld was, dié wat deur allerlei siektes en pyne geteister is, na Hom gebring, ook almal wat deur demone besete en maansiek was, en verlamdes – en Hy het hulle genees. Groot skares het Hom gevolg, uit Galilea en Dekapolis en Jerusalem en Judea en van oorkant die Jordaan af.

MATTEUS 4:17-25 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

Van toe af het Jesus begin preek en sê: Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom. En Jesus, wat by die see van Galilea loop, sien twee broers, Simon wat Petrus genoem word, en Andreas, sy broer, besig om 'n net in die see uit te gooi, want hulle was vissers. En Hy sê vir hulle: Volg My, en Ek sal julle vissers van mense maak. En hulle het dadelik hul nette gelos en Hom gevolg. En daarvandaan het hy nog twee broers gesien, Jakobus, die seun van Sebedeüs, en Johannes, sy broer, in 'n skip saam met hulle vader Sebedeüs, besig om hulle nette reg te maak; en hy het hulle geroep. En hulle het dadelik die skip en hul vader verlaat en hom gevolg. En Jesus het deur die hele Galilea rondgegaan en in hulle sinagoges geleer en die evangelie van die koninkryk verkondig en alle siektes en alle kwale onder die volk genees. En sy roem het deur die hele Sirië gegaan, en hulle het al die siekes na hom gebring wat deur allerhande siektes en pynigings geneem is, en die wat van duiwels besete was, en die wat kranksinniges en die wat verlam was; en Hy het hulle gesond gemaak. En groot menigte mense het Hom gevolg van Galilea en Dekapolis en Jerusalem en Judéa en van oorkant die Jordaan.