MATTEUS 4:23-25
MATTEUS 4:23-25 Afrikaans 1983 (AFR83)
Hy het toe in die hele Galilea rondgegaan en die mense in hulle sinagoges geleer, die evangelie van die koninkryk verkondig en elke soort siekte en kwaal onder die volk gesond gemaak. En berigte oor Hom het deur die hele provinsie Sirië versprei. Die mense het toe die siekes met allerhande kwale en pyne, dié wat in die mag van bose geeste was, geestelik versteurdes en verlamdes na Hom toe gebring, en Hy het hulle gesond gemaak. Groot menigtes uit Galilea, Dekapolis, Jerusalem, Judea en van oorkant die Jordaan af het Hom gevolg.
MATTEUS 4:23-25 Bybel vir almal (ABA)
Jesus het deur die hele provinsie Galilea gegaan. Hy het vir die mense geleer in die sinagoges en vir hulle vertel van die goeie boodskap dat God Koning is oor almal. Hy het ook al die mense gesond gemaak wat siek was. Al die mense in die provinsie Sirië het gehoor wat Jesus gedoen het. Toe het hulle al die siek mense, mense met verskillende soorte pyne, na Hom toe gebring. Daar was ook duiwels in party van die mense, party mense het epileptiese aanvalle gekry, en party mense was verlam. Jesus het hulle gesond gemaak. Baie mense het saam met Jesus gegaan. Hulle het gekom van die provinsie Galilea, van Dekapolis, van Jerusalem, en van die provinsie Judea en van die ander kant van die Jordaan-rivier.
MATTEUS 4:23-25 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En Jesus het deur die hele Galiléa rondgegaan en in hulle sinagoges geleer en die evangelie van die koninkryk verkondig en elke siekte en elke kwaal onder die volk genees. En die gerug aangaande Hom is versprei oor die hele Sírië; en hulle het na Hom gebring almal wat ongesteld was, wat gekwel was deur allerhande siektes en pyne en wat van duiwels besete was, en maansiekes en verlamdes; en Hy het hulle gesond gemaak. En groot menigtes het Hom gevolg van Galiléa en Dekápolis en Jerusalem en Judéa en van oorkant die Jordaan af.
MATTEUS 4:23-25 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
En Jesus het in die hele Galilea rondgegaan, in hulle •sinagoges geleer, die evangelie van die koninkryk verkondig, en elke siekte en elke kwaal onder die volk genees. Die nuus oor Hom het deur die hele Sirië versprei. Hulle het almal wat ongesteld was, dié wat deur allerlei siektes en pyne geteister is, na Hom gebring, ook almal wat deur demone besete en maansiek was, en verlamdes – en Hy het hulle genees. Groot skares het Hom gevolg, uit Galilea en Dekapolis en Jerusalem en Judea en van oorkant die Jordaan af.
MATTEUS 4:23-25 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En Jesus het deur die hele Galilea rondgegaan en in hulle sinagoges geleer en die evangelie van die koninkryk verkondig en alle siektes en alle kwale onder die volk genees. En sy roem het deur die hele Sirië gegaan, en hulle het al die siekes na hom gebring wat deur allerhande siektes en pynigings geneem is, en die wat van duiwels besete was, en die wat kranksinniges en die wat verlam was; en Hy het hulle gesond gemaak. En groot menigte mense het Hom gevolg van Galilea en Dekapolis en Jerusalem en Judéa en van oorkant die Jordaan.
MATTEUS 4:23-25 Die Boodskap (DB)
Nadat Jesus sy eerste dissipels geroep het, het Hy oral in Galilea begin preek. In die sinagoges waar die Jode bymekaargekom het om God te aanbid, het Hy die mense geleer. Jesus het baie goeie nuus vir hulle gehad: Hy het vir hulle gesê dat God se splinternuwe wêreld aangebreek het. Om te wys dat Hy die waarheid praat, het Jesus elke siekte en kwaal waaraan hulle gely het, gesond gemaak. Jesus was gou-gou groot nuus. Kort voor lank het omtrent almal in die provinsie Sirië van Hom geweet omdat Hy sulke groot wonderwerke gedoen het. Mense het hulle siekes na Hom toe gebring. Duiwelbesetenes, verstandelik versteurdes en verlamdes - almal wat na Jesus toe gebring is, het Hy gesond gemaak. Dwarsdeur Palestina het mense van Jesus begin praat. Hulle het in ’n groot massa na Hom toe gestroom: uit Galilea, uit die gebied van die Tien Stede daar oos van die Jordaan, uit Jerusalem en selfs uit die gebied van Judea ver oorkant die Jordaan.
MATTEUS 4:23-25 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Jesus het deur die hele Galilea rondgegaan. Hy het die mense in hulle sinagoges onderrig, die Goeie Nuus van God se koningsheerskappy aangekondig en elke siekte en kwaal onder die volk gesond gemaak. Kort voor lank het die nuus oor Hom oor die hele provinsie van Sirië versprei. Die mense het almal wat siek was na Hom toe gebring: dié wat geteister was deur allerhande siektes en pyne, dié in wie daar bose geeste was, epileptici, verlamdes – en Hy het hulle gesond gemaak. ’n Groot skare uit Galilea, Dekapolis, Jerusalem, Judea en die Transjordaan het Hom begin volg.