MATTEUS 5:10-12
MATTEUS 5:10-12 Bybel vir almal (ABA)
Wanneer mense doen wat God wil hê, en ander mense doen slegte dinge aan hulle, dan is hulle gelukkige mense. God wat in die hemel is, is hulle Koning. “Julle is gelukkige mense wanneer ander mense julle beledig en slegte dinge doen aan julle omdat julle My dien. Julle is gelukkige mense wanneer hulle slegte stories oor julle vertel wat alles leuens is. Wanneer mense slegte dinge doen aan julle, dan moet julle baie bly wees, want in die hemel sal God vir julle baie goed wees. Die mense het ook slegte dinge gedoen aan die profete wat voor julle gelewe het.”
MATTEUS 5:10-12 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Salig is die wat vervolg word ter wille van die geregtigheid, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele. Salig is julle wanneer die mense julle beledig en vervolg en valslik allerhande kwaad teen julle spreek om My ontwil. Verbly en verheug julle omdat julle loon groot is in die hemele; want so het hulle die profete vervolg wat voor julle gewees het.
MATTEUS 5:10-12 Afrikaans 1983 (AFR83)
Geseënd is dié wat vervolg word omdat hulle doen wat reg is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel. “Geseënd is julle wanneer die mense julle ter wille van My beledig en vervolg en valslik al wat sleg is van julle sê. Wees bly en verheug, want julle loon is groot in die hemel. Hulle het immers die profete voor julle net so vervolg.”
MATTEUS 5:10-12 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Gelukkig is dié wat vervolg word ter wille van geregtigheid, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele. Gelukkig is julle wanneer die mense julle om My ontwil beledig en vervolg en vals beskuldig van alles wat sleg is. Wees bly en jubel, omdat julle beloning groot is in die hemele. Hulle het immers die profete vóór julle net so vervolg.”
MATTEUS 5:10-12 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Geseënd is die wat vervolg word ter wille van geregtigheid, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel. Geseënd is julle wanneer die mense julle beledig en vervolg en valslik allerhande kwaad teen julle spreek, om My ontwil. Verheug julle en wees baie bly, want julle loon is groot in die hemel; want so het hulle die profete vervolg wat voor julle was.
MATTEUS 5:10-12 Die Boodskap (DB)
“Gelukkig is almal wat deur ander mense beledig en vervolg word omdat hulle doen wat God vra. Hy sal sorg dat daar vir hulle plek is in sy nuwe wêreld. “Gelukkig is julle wanneer ander mense julle te lyf gaan, julle slegsê en ’n klomp leuens oor julle vertel omdat julle my volgelinge is. Wanneer dit gebeur, moet julle sommer baie bly wees. Spring op en dans rond van vreugde! Want dan wag daar ’n baie groot beloning op julle in die hemel. “Wanneer hierdie dinge met julle gebeur, moet julle nie moed opgee nie. Onthou: God se boodskappers het nog altyd deurgeloop onder ander mense se haat. Lank voor julle tyd is die profete al vervolg.”
MATTEUS 5:10-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Gelukkig is dié wat vervolg word ter wille van wat voor God reg is, want die koninkryk van die hemele is húlle deel. “Gelukkig is julle wanneer julle bespot en vervolg word en allerhande leuens oor julle versprei word omdat julle my dissipels is. Wees bly, ja, jubel daaroor, want God sal julle ryklik daarvoor beloon. Onthou, so het hulle die profete voor julle ook vervolg.”