MATTEUS 5:17-18
MATTEUS 5:17-18 Bybel vir almal (ABA)
“Moenie dink Ek het gekom om te sê die Wette van Moses en die boeke van die profete is nie meer belangrik nie. Ek het nie gekom om te sê dit is nie belangrik nie, Ek het gekom om te wys wat Moses en die profete bedoel het. Ek sê vir julle, en dit is seker: Die hemel en die aarde sal verdwyn, maar niks in die Wette van Moses sal verdwyn nie, nie die kleinste letter of letter-strepie nie. Alles wat daar geskryf is, moet eers gebeur.
MATTEUS 5:17-18 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
MOENIE dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul. Want voorwaar Ek sê vir julle, voordat die hemel en die aarde verbygaan, sal nie een jota of een titteltjie van die wet ooit verbygaan totdat alles gebeur het nie.
MATTEUS 5:17-18 Afrikaans 1983 (AFR83)
“Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete ongeldig te maak nie. Ek het nie gekom om hulle ongeldig te maak nie, maar om hulle hulle volle betekenis te laat kry. Dit verseker Ek julle: Die hemel en die aarde sal eerder vergaan as dat een letter of letterstrepie van die wet sal wegval voordat alles voleindig is.
MATTEUS 5:17-18 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“Moenie eers daaraan dink dat Ek gekom het om die Wet of die Profete af te skaf nie. Ek het nie gekom om af te skaf nie, maar om te vervul. •Amen, Ek sê vir julle: Totdat die hemel en die aarde tot niet gaan, sal daar beslis geen jota of tittel van die Wet tot niet gaan nie, totdat alles vervul is.
MATTEUS 5:17-18 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie; Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul. Want voorwaar Ek sê vir julle, totdat die hemel en die aarde verbygaan, sal nie een jota of een titteltjie van die wet verbygaan totdat alles vervul is nie.
MATTEUS 5:17-18 Die Boodskap (DB)
“Moenie dink Ek is hier om die wet van Moses en die profete af te skaf nie. Glad nie! Ek is juis hier sodat julle presies kan weet hoe julle die wet moet gehoorsaam. Ek sê weer: Ek kom nie om God se wet tot niet te maak nie. Dit sal altyd bly voortbestaan, tot aan die einde van die tyd; elke stukkie daarvan. So lank as wat hier nog mense op aarde is en daar nog sterre in die hemelruim is, sal die wet van God bly bestaan. So belangrik is dit.
MATTEUS 5:17-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Julle moenie die rede vir my koms misverstaan nie. Ek het nie gekom om ’n streep deur die wet of die profete te trek nie. Ek het gekom om die ware bedoeling van God se wet te laat uitkom. Ek verseker julle, al sou die hemel en aarde ophou bestaan, sal die wet definitief tot in sy fynste detail geldig bly totdat God se bedoeling daarmee bereik is.