MATTEUS 6:5-8
MATTEUS 6:5-8 Die Boodskap (DB)
“As jy bid, moet jy nie soos die skynheiliges maak nie. Hulle bid graag voor ander mense tydens godsdienstige byeenkomste sodat hulle moet hoor hoe mooi hulle bid. God skuld sulke mense niks meer nie. Hulle het mos klaar hulle prys hier op aarde gekry. “As jy bid, gaan dan na ’n stil plek toe waar niemand jou kan sien nie. Trek die deur agter jou toe en praat daar eenkant opreg met jou hemelse Vader. Hy sal sorg dat jy jou hemelse beloning kry. “Moet ook nie dieselfde rympie oor en oor sê wanneer jy bid nie. Party mense wat God nie reg ken nie, bid so. Hulle dink dat hulle Hom met ’n stortvloed woorde kan ompraat om na hulle te luister. Moenie soos hulle maak nie. Onthou: jou Vader in die hemel weet presies wat jy nodig het. Nog voordat jy bid, weet Hy al lankal wat in jou kop aangaan.
MATTEUS 6:5-8 Bybel vir almal (ABA)
“Wanneer julle bid, dan moet julle nie soos die skynheilige mense bid nie. Hulle hou daarvan om in die sinagoges en op die hoeke van die strate te bid. Hulle doen dit sodat die mense hulle kan sien. Ek sê vir julle, en dit is seker: Hulle het al klaar gekry wat hulle wou gehad het. God sal nie vir hulle daaroor goed wees nie. Maar wanneer jy bid, moet jy na jou kamer gaan. Maak dan die deur toe sodat niemand jou kan sien nie, en bid tot jou Vader. En jou Vader wat alles kan sien wat die mense nie kan sien nie, sal goed wees vir jou. Wanneer julle bid, moenie 'n klomp woorde sê en weer en weer dieselfde dinge vra nie. Mense wat nie vir God ken nie, bid so. Hulle dink hulle afgode sal luister na hulle as hulle baie woorde gebruik en lank bid. Julle moenie soos hulle bid nie. Want julle Vader weet wat julle nodig het, Hy weet dit voordat julle dit vir Hom vra.
MATTEUS 6:5-8 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En wanneer jy bid, moet jy nie wees soos die geveinsdes nie; want hulle hou daarvan om in die sinagoges en op die hoeke van die strate te staan en bid, om deur die mense gesien te word. Voorwaar Ek sê vir julle dat hulle hul loon weg het. Maar jy, wanneer jy bid, gaan in jou binnekamer, sluit jou deur en bid jou Vader wat in die verborgene is; en jou Vader wat in die verborgene sien, sal jou in die openbaar vergelde. En as julle bid, gebruik nie 'n ydele herhaling van woorde soos die heidene nie, want hulle dink dat hulle deur hul baie woorde verhoor sal word. Moet dan nie soos hulle word nie, want jul Vader weet wat julle nodig het voordat julle Hom vra.
MATTEUS 6:5-8 Afrikaans 1983 (AFR83)
“Verder, as julle bid, moet julle nie soos die skynheiliges wees nie. Hulle hou daarvan om in die sinagoges en op die straathoeke te staan en bid sodat die mense hulle kan sien. Dit verseker Ek julle: Hulle het hulle beloning klaar weg. Nee, as jy bid, gaan na jou kamer toe, maak die deur toe en bid tot jou Vader wat jy nie kan sien nie. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon. “Wanneer julle bid, moet julle nie soos die heidene 'n stortvloed van woorde gebruik nie. Hulle verbeel hulle hulle gebede sal verhoor word omdat hulle baie woorde gebruik. Moet dan nie soos hulle maak nie, want julle Vader weet wat julle nodig het, nog voordat julle dit van Hom vra.
MATTEUS 6:5-8 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“En wanneer julle bid, moet julle nie soos die skynheiliges wees nie, want hulle hou daarvan om in die sinagoges en op die straathoeke te staan en bid, sodat hulle deur die mense gesien kan word. •Amen, Ek sê vir julle: Hulle het reeds hulle volle beloning ontvang. Maar jy, wanneer jy bid, gaan na jou binneste kamer, maak jou deur toe en bid tot jou Vader wat in die verborgenheid is, en jou Vader wat in die verborgenheid sien, sal jou beloon. “Wanneer julle bid, moet julle nie soos die heidene 'n stortvloed woorde gebruik nie, want hulle dink dat hulle op grond van hulle baie woorde verhoor sal word. Moenie soos hulle wees nie, want julle Vader weet wat julle nodig het nog voordat julle Hom vra.
MATTEUS 6:5-8 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En wanneer jy bid, moet jy nie wees soos die geveinsdes nie, want hulle bid graag staande in die sinagoges en op die hoeke van die strate, sodat hulle deur die mense gesien kan word. Voorwaar Ek sê vir julle, hulle het hul loon. Maar jy, wanneer jy bid, gaan in jou binnekamer, en sluit jou deur, bid tot jou Vader wat in die verborgene is; en jou Vader wat in die verborgene sien, sal jou in die openbaar vergelde. Maar wanneer julle bid, gebruik nie ydele herhalings soos die heidene doen nie, want hulle dink dat hulle verhoor sal word vanweë hulle baie woorde. Moet julle dan nie soos hulle wees nie, want julle Vader weet watter dinge julle nodig het voordat julle Hom vra.
MATTEUS 6:5-8 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“En nou wat die gebed betref: Moenie soos die skynheiliges wees wat daarvan hou om in die sinagoges en op die straathoeke te bid sodat die mense hulle kan sien nie. Ek verseker julle, dit is al beloning wat hulle ooit sal kry. Wanneer jy bid, gaan na die stilste vertrek in die huis en maak die deur agter jou toe sodat jy daar in jou alleenheid tot jou Vader kan bid. En jou Vader wat alles weet, sal jou beloon. “Wanneer julle bid, moenie met woorde mors soos die ongelowiges nie. Hulle dink hulle stortvloed woorde sal maak dat hulle gebede beantwoord word. Moenie soos hulle maak nie, want julle Vader weet presies wat julle behoeftes is, selfs nog voordat julle Hom vra!