MIGA 1:1-5
MIGA 1:1-5 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die woord van die Here wat gekom het tot Miga van Moreset tydens die regering van die Judese konings Jotam, Agas en Hiskia. Dit handel oor Samaria en Jerusalem. Luister, alle volke! Gee aandag, aarde met al jou bewoners! Die Here my God wil teen julle getuig, die Here wil uit sy heilige tempel getuig. Die Here kom uit sy woonplek uit, Hy kom af, Hy kom oor die hoë plekke van die aarde. Berge smelt weg onder Hom, laagtes skeur oop. Soos was in vuur smelt, so smelt die berge, hulle loop teen die hellings af soos water. Dit alles gebeur oor die sonde van Jakob, oor die oortredings van die volk Israel. Wat is die sonde van Jakob? Samaria! Wat is Juda se afgodshoogte? Jerusalem!
MIGA 1:1-5 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die woord van die HERE wat tot Miga van Morêset gekom het in die tyd van Jotam, Agas en Hiskia, die konings van Juda, wat aan hom geopenbaar is oor Samaria en Jerusalem. Luister, alle volke! Let op, aarde en almal wat daarop woon! My Heer, die HERE, gaan teen julle getuig, die Heer uit sy heilige paleis. Kyk, die HERE kom uit sy woonplek; Hy daal neer en trap op die hoogtes van die aarde. Die berge smelt onder Hom en die valleie skeur oop, soos was wat voor vuur smelt, soos water wat teen 'n berghang afstroom. Oor Jakob se oortreding gebeur al hierdie dinge, oor die sondes van die huis van Israel.
MIGA 1:1-5 Die Boodskap (DB)
Die Here het aan Miga boodskappe gegee wat oor Samaria en Jerusalem gegaan het. Miga was van Moreset afkomstig. Hy het hierdie boodskappe wat die Here vir hom gegee het, gekry in die tyd toe Jotam, Agas en Hiskia onderskeidelik koning in Juda was. Die eerste boodskap klink so: “Luister, asseblief! Alle volke en mense wat op die aarde bly, kyk mooi wat gaan gebeur! Die Here is Koning en Hy maak ’n regsaak teen julle. Meer as dit nog, Hy sal teen julle getuig. Die Here is in sy tempel, maar Hy wil hê julle moet hoor wat Hy te sê het. “Kyk, Hy gaan weg van sy hemelse paleis af en kom aarde toe. Hy loop op die hoë bergtoppe. Almal sal weet Hy het gekom, want die aarde wys dit. Die berge smelt weg en die valleie skeur oop. Dit lyk net soos wanneer ’n mens kerswas in ’n vuur sou smelt. Die was word loperig van die hitte en loop net soos water teen die kante van die berge af. Dit is soos vuurwarm lawa wat afloop. Hoekom gebeur dit? Omdat die hele Israel opstandig is teen die Here en verkeerde dinge doen. Wie moet die blaam dra dat die mense van die noordelike koninkryk opstandig is? Die hoofstad, Samaria, natuurlik! En waar is offerplekke vir afgode in die suidelike koninkryk gebou? Binne-in Jerusalem.
MIGA 1:1-5 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Gedurende die bewind van Jotam, Agas en Hiskia het die HERE boodskappe vir Miga van Moreset gegee. Hy het visioene gesien wat bestem was vir Samaria en Jerusalem. Let op, nasies van die wêreld, julle wat die aarde bewoon! Die oppermagtige HERE kla julle aan. Die HERE sal getuig uit sy heilige tempel. Kyk, die HERE is op pad! Hy verlaat sy troon en kom af aarde toe. Hy kom loop hier op die hoë plekke. Die berge smelt onder Hom. Soos was wat smelt, vloei hulle die valleie binne; soos water wat afvloei teen die heuwels. Hoekom gebeur dit? Omdat Israel en Juda sonde doen en opstandig is. Wie moet die blaam dra vir Israel se opstand? Is dit nie Samaria nie? Waar in Juda is die offerplekke vir die afgode? Is dit nie Jerusalem nie?
MIGA 1:1-5 Bybel vir almal (ABA)
Die Here het met Miga gepraat. Miga het van die stad Moreset gekom. Dit was in die tyd toe Jotam koning van Juda was. Ná Jotam was Agas koning, en ná Agas was Hiskia koning. Die Here het vir Miga gewys wat met Samaria en Jerusalem sal gebeur. Al die volke moet luister. Almal wat op die aarde woon, moet luister. Die Here sal sê wat julle verkeerd gedoen het. Hy kom uit sy gewyde tempel, Hy kom van die plek waar Hy woon. Hy kom af uit die hemel en Hy trap die offer-plekke in die land plat. Wanneer Hy kom, dan smelt die berge en die valleie onder Hom. Hulle verdwyn soos iets wat smelt in vuur, soos water wat afloop teen 'n heuwel. Die Here kom omdat die Israeliete, die nageslag van Jakob, sonde gedoen het. Samaria is die plek waar die Israeliete sonde gedoen het, Jerusalem is die offer-plek waar die mense van Juda offer.
MIGA 1:1-5 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
DIE woord van die HERE wat tot Miga, die Morastiet, gekom het, in die dae van Jotam, Agas, Hiskía, konings van Juda; wat hy gesien het aangaande Samaría en Jerusalem. O Volke, luister almal saam! O Aarde en sy volheid, let op! Sodat die Here HERE getuie teen julle kan wees, die Here uit sy heilige paleis. Want kyk, die HERE gaan uit sy woonplek uit, en Hy daal neer en betree die hoogtes van die aarde. En die berge smelt onder Hom, en die laagtes skeur oop, soos was voor die vuur, soos water wat langs 'n helling afstroom! Dit alles vanweë die oortreding van Jakob en vanweë die sondes van die huis van Israel. Wie is die oorsaak van die oortreding van Jakob? Is dit nie Samaría nie? En wie is die oorsaak van die hoogtes van Juda? Is dit nie Jerusalem nie?
MIGA 1:1-5 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Die woord van die HERE wat tot Miga die Morastiet gekom het in die dae van Jotam, Agas en Hiskia, die konings van Juda, wat hy gesien het aangaande Samaria en Jerusalem. Luister, alle volke; luister, o aarde en alles wat daarop is, en laat die HERE HERE getuie wees teen jou, die HERE vanuit sy heilige tempel. Want kyk, die HERE gaan uit sy plek uit, en Hy sal afkom en op die hoogtes van die aarde trap. En die berge sal onder hom gesmelt word, en die valleie sal gekloof word, soos was voor die vuur en soos die waters wat op 'n skuins plek afgegooi word. Want die oortreding van Jakob is dit alles en oor die sondes van die huis van Israel. Wat is die oortreding van Jakob? is dit nie Samaria nie? en wat is die hoogtes van Juda? is hulle nie Jerusalem nie?