MIGA 1:6-15
MIGA 1:6-15 Bybel vir almal (ABA)
Die Here sê: “Ek sal Samaria heeltemal verwoes. Mense sal wingerde plant waar die stad was. Ek sal Samaria se geboue afbreek. Daar sal net 'n paar klippe oorbly. Die vyande sal die beelde in Samaria stukkend slaan en hulle sal die presente verbrand wat die mense na die tempel gebring het. Dit was presente vir tempel-prostitute, en die vyande sal dit gebruik om ander tempel-prostitute te betaal.” Ek, Miga, sal hartseer wees en treur wanneer die vyande Samaria verwoes, ek sal kaalvoet loop en my klere uittrek. Ek sal skree soos 'n jakkals, en kla soos 'n volstruis. Dit gaan baie sleg met Samaria. Dit gaan nou ook sleg met Juda hier in Jerusalem waar my volk woon. Moenie vir die mense van die stad Gat daarvan vertel nie, moenie daaroor huil nie. Gaan lê in die stof in die stad Bet-Leafra. Kom uit julle stad, mense van die stad Safir. Die vyande vang julle en vat julle weg. Die mense van die stad Saänan kom kaal uit hulle stad. Die mense van die stad Bet-Esel treur oor hulle mense wat dood is, die vyande het hulle stad verwoes. Die mense van die stad Marot het gedink dit sal goed gaan, maar die Here het dit sleg laat gaan met die stad Jerusalem. Mense van die stad Lakis, julle moet die perde inspan voor julle oorlogkarre. Dit is julle wat die mense van Jerusalem en Israel laat sonde doen het. Julle moet die mense van die stad Moreset-Gat groet, hulle moet ook gaan. Die mense wat in die stad Aksib woon, sal nie die konings van Israel kan help nie. Mense van die stad Maresa, die vyande sal na julle toe ook kom. Hulle sal tot by die stad Adullam kom, en niemand sal die Israeliete respekteer nie.
MIGA 1:6-15 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Daarom sal Ek Samaría 'n puinhoop maak op die veld, 'n plek om wingerdstokke te plant; en Ek sal haar klippe in die dal laat afrol en haar fondamente blootlê. En al haar gesnede beelde sal stukkend geslaan en al wat sy as hoereloon ontvang het, met vuur verbrand word, en al haar afgode sal Ek tot 'n verwoesting maak; want uit hoereloon het sy dit versamel, en tot hoereloon sal dit terugkeer. Daaroor wil ek rouklaag en huil, kaalvoet en naak loop. Ek wil klae soos die jakkalse en treur soos die volstruise. Waarlik, haar wonde is ongeneeslik; want dit het gekom tot by Juda, dit reik tot aan die poort van my volk, tot by Jerusalem. Moet dit nie in Gat vertel nie, ween daar ganselik nie! In Bet-Ofra het ek my in die stof gewentel! Trek weg in smadelike naaktheid, o inwoners van Safir! Die inwoners van Saänan trek nie uit nie. Die weeklagte van Bet-Haësel sal julle daar die verblyf ontneem. Want die inwoners van Marot wag in pyn op iets goeds, omdat onheil neerdaal van die HERE na die poort van Jerusalem. Span die perde voor die wa, o inwoners van Lagis! Dit was die begin van sonde vir die dogter van Sion, dat die oortredinge van Israel in jou gevind is. Daarom moet jy 'n afskeidsgeskenk gee aan Moréset-Gat; die huise van Agsib sal 'n teleurstelling wees vir die konings van Israel. Nogmaals sal Ek jou 'n veroweraar bring, o inwoner van Marésa; die adel van Israel sal tot by Adúllam kom.
MIGA 1:6-15 Afrikaans 1983 (AFR83)
Daarom sal Ek Samaria 'n puinhoop in die oop veld maak, 'n plek om wingerde te plant. Ek sal sy bouklip in die laagte afgooi, sy fondamente oopgrawe. Al sy afgodsbeelde sal stukkend geslaan word, sy verdienste uit prostitusie sal verbrand word. Ek sal al sy afgode vernietig, want hy het hulle bymekaargemaak met sy verdienste uit prostitusie. Hulle sal die pad gaan van verdienste uit prostitusie. Daarom sal ek rou en huil, sal ek kaalvoet en sonder klere rondloop. Ek sal skreeu soos 'n jakkals, klaag soos 'n volstruis. Samaria se sweer is ongeneeslik, dit het gesprei tot by Juda: dit raak al aan my volk se stadspoort, aan Jerusalem. Moet dit nie in Gat vertel nie, moenie daaroor huil nie, gaan rol liewer in die stof in Bet-Leafra. Gee pad, jy wat in Safir woon, jy is kaal uitgetrek. Jy wat woon in Saänan, kan nie uitkom nie, die mense van Bet-Esel treur, hy kan julle nie meer help nie. Jy wat in Marot woon, is siek van angs, daar het onheil van die Here af gekom tot by die poorte van Jerusalem. Span die perde voor die strydwa, jy wat in Lakis woon! In Lakis het die sonde van Sion begin, die oortredings van Israel is daar gevind. Daarom is 'n trougeskenk aan Moreset-Gat gegee. Die huise van Aksib is 'n teleurstelling vir die konings van Israel. Jy wat in Maresa woon, die Here laat een wat verower, na jou toe kom. Die trots van Israel sal tot by Adullam kom.
MIGA 1:6-15 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Daarom sal Ek van Samaria 'n puinhoop maak, 'n stuk veld vir die aanplant van wingerd. Ek sal haar klippe in die vallei laat afrol, haar fondamente blootlê. Al haar afgodsbeelde sal stukkend geslaan word, alles wat sy verdien het, sal in die vuur verbrand word, al haar afgode sal Ek vernietig; want met die loon van 'n prostituut het sy dit bymekaargemaak, en dit sal weer die verdienste van 'n prostituut word.” Hieroor wil ek weeklaag en huil; ek wil kaalvoet en sonder klere loop; ek wil tjank soos woestynjakkalse en brom soos steenuile; want Samaria se wonde is ongeneeslik, ja, dit strek tot by Juda; dit raak aan die poort van my volk, aan Jerusalem. Moet dit nie in Gat vertel nie, moet glad nie daaroor huil nie! In Bet-Leafra rol hulle in die stof! Trek weg, inwoners van Safir, naak en in skaamte. Die inwoners van Saänan ruk nie op nie. Daar word gerou in Bet-Haesel; Hy neem sy bystand van julle weg. Ja, die inwoners van Marot wag angstig op iets goeds, want die kwaad wat van die HERE kom, het afgegaan tot by die poort van Jerusalem. Span die perde voor die strydwa, inwoners van Lagis! Dit was die begin van die dogter van Sion se sonde; ja, in jou is die oortredings van Israel gevind. Daarom moet jy afskeidsgeskenke gee aan Morêset-Gat. Die huise by Agsib sal 'n droë fontein vir die konings van Israel wees. Ek sal weer 'n veroweraar na julle bring, inwoners van Maresa; hy sal tot by Adullam kom. Trots van Israel
MIGA 1:6-15 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Daarom sal Ek Samaria maak soos 'n hoop veld en soos aanplantings van 'n wingerd; en Ek sal sy klippe in die dal afgooi en die fondamente daarvan ontdek. En al sy gesnede beelde sal stukkend geslaan word, en al sy lone sal met vuur verbrand word, en al sy drekgode sal Ek 'n woesteny maak; want sy het dit bymekaargemaak uit die loon van 'n hoer, en hulle sal terugkeer na die huur van 'n hoer. Daarom sal ek huil en huil, gestroop en naak sal ek gaan; ek sal huil soos die jakkalse en treur soos die uile. Want haar wond is ongeneeslik; want dit het na Juda gekom; hy het gekom na die poort van my volk, na Jerusalem. Vertel dit nie in Gat nie, ween glad nie; rol jou in die huis van Afra in die stof. Gaan weg, inwoner van Safir, met jou skande naak; hy sal sy aansien van jou ontvang. Want die inwoners van Marot het gewag op die goeie, maar die onheil het van die HERE af na die poort van Jerusalem neergedaal. O inwoner van Lagis, bind die wa aan die vinnige dier; dit is die begin van die sonde vir die dogter van Sion, want die oortredinge van Israel is in jou gevind. Daarom moet jy geskenke aan Moresetgat gee: die huise van Agsib sal 'n leuen wees vir die konings van Israel. Maar Ek sal vir jou 'n erfgenaam bring, o inwoner van Marésa; hy sal na Adullam kom, die heerlikheid van Israel.
MIGA 1:6-15 Die Boodskap (DB)
“Hoor wat sê die Here hieroor: ‘Ek gaan Samaria soos ’n hoop rommel maak wat in die oop veld lê. Samaria sal nie meer ’n plek wees om in te bly nie, maar ’n plek waar ’n mens eerder ’n wingerd sal aanplant. Die stad gaan heeltemal verwoes word. Ek gaan die klippe waarmee die stad gebou is, teen die rante laat afrol tot onder in die laagtes. Net die kaal fondamente sal oorbly. Ek gaan verder al die beelde wat in die stad is, stukkend slaan. Die mense moes betaal om deel te kon neem aan seremonies waarin die gode vereer is. As betaling moes hulle sekere goed na die afgodstempels gebring het. Ek sal al hierdie goed met vuur verbrand,’ sê die Here. ‘Ek sê weer, Ek gaan al die afgodsbeelde verpletter. Hierdie beelde en al die kosbare goed in die tempel is in die begin gekoop uit die betalings wat prostitute gekry het. Hulle het by die tempels gewerk. Maar daar sal mense wees wat hierdie goed sal steel en op ander plekke sal gebruik om vir prostitute te betaal.’” Miga was omgekrap oor die ongehoorsaamheid van Israel. Hy het gesê: “Dit voel vir my of iemand dood is. Ek wil net aanhou huil. Ek sal julle wys hoe hartseer ek is, ek sal kaalvoet en sonder klere rondloop. Ek sal geluide maak soos ’n jakkals wat tjank, of soos ’n volstruis wat brom. Samaria se toestand is soos iemand wat aan ’n ongeneeslike siekte ly. ’n Vyandelike volk gaan hulle aanval en niemand kan meer iets doen om hulle te help nie. Dieselfde gaan met die mense van Juda gebeur. Die gevaar is baie nader as wat hulle dink, die vyand is nie te ver weg van Jerusalem se hekke nie.” “Moenie vir ons vyand, die Filistyne, in die stad Gat van ons neerlaag vertel nie. Hulle moet glad nie sien ons huil nie. In Bet-Ofra kan die mense maar hulle hartseer wys deur in die stof te rol. Die mense van Safir is verslaan en gevange geneem. Om hulle te verneder moet hulle kaal uit die stad stap. By Saänan is die inwoners te bang om dit te waag om buite die mure van die stad uit te gaan. Hulle kan ook nie verwag dat die mense van Bet-Haesel hulle sal kom help nie, want hulle is te behep met hulle eie hartseer. “Die mense van Marot wag in spanning dat iemand hulle moet kom help. Dit gaan nie gebeur nie. Hulle gaan teleurgestel word. Die vyand wat die Here stuur om sy mense te straf is al amper by die hekke van Jerusalem. Die inwoners van Lakis kan hulle solank maar regmaak vir oorlog. Nie dat hulle moet dink dat hulle enigsins ’n kans het om te wen nie. Lakis was die eerste stad wat die noordelike koninkryk, Israel, se voorbeeld gevolg het om afgode te aanbid. Dit is waar die mense van Jerusalem geleer het om ongehoorsaam aan die Here te wees en afgode te aanbid. Julle kan solank vir die mense van Moreset-Gat ’n afskeidsgeskenk stuur, want dit is verby met hulle. Agsib het die konings van Israel opsetlik verkeerd laat verstaan. Hulle het verwag dat die mense van Agsib hulle sou kom help, maar daar het niks van gekom nie. Die Here sê dat Hy aanvallers sal stuur om die mense van Maresa te kom verslaan. Israel se belangrikste leiers sal na Adullam toe gaan om daar in die grotte weg te kruip.
MIGA 1:6-15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Ek gaan Samaria tot ’n puinhoop maak, ’n plek om wingerde te plant. Die klippe waarmee die stad gebou is, gaan Ek in die vallei laat afrol. Die fondamente gaan Ek blootlê. Al die beelde in die stad sal stukkend geslaan word. Al die skatte uit prostitusie verdien, sal met vuur verbrand word. Al haar afgodsbeelde sal Ek vernietig. Sy het uit prostitusie haar verdienste bekom. Vir die doel van prostitusie sal hulle weer gebruik word.” Daarom sal ek huil en treur, sal ek kaalvoet rondloop, sonder klere. Ek sal tjank soos ’n jakkals en brom soos ’n volstruis. My volk se wond is ongeneeslik. Dit tref die mense van Juda. Dit reik selfs tot by die poorte van Jerusalem. Moenie dit in Gat vertel en daaroor huil nie. Mense van Bet-Leafra, rol liewer in die stof as teken van julle ontsteltenis. Inwoners van Safir, gaan in ballingskap, naak en vernederd. Inwoners van Saänan, waag dit nie buite nie. Die mense van Bet-Esel treur, want hulle stad se fondasie is weggeruk. Die inwoners van Marot wag in spanning dat verligting sal kom, want die HERE se oordeel het al gekom tot by die poorte van Jerusalem. Inwoners van Lakis, span in die strydwaens! In Lakis het die sonde van Juda begin. Die ontrouheid van Israel het by julle begin. Stuur ’n afskeidsgeskenk na Moreset-Gat. Die dorp Aksib het die konings van Israel mislei. Inwoners van Maresa, Ek stuur ’n oorwinnaar teen julle. Die eer van Israel sal tot by Adullam kom.