MIGA 2:6-13
MIGA 2:6-13 Bybel vir almal (ABA)
Julle sê ek moenie praat nie, ek moenie so praat nie, dit sal ons nie help nie. Israeliete, julle sê: “Is die Here nou nie meer geduldig met ons nie? Is dit Hy wat hierdie dinge doen? Die Here belowe goeie dinge vir mense as hulle reg lewe!” Maar die Here sê: “My volk, julle het lank gelede my vyande geword. Julle vat die klere van mense wat in julle land kom en wat dink hulle is veilig by julle. Julle vat ook die klere van julle soldate wat terugkom van die oorlog. Julle jaag die vroue van my mense uit hulle mooi huise. Julle vat ook die mooi goed wat Ek vir hulle kinders gegee het om altyd aan hulle te behoort. Julle moet opstaan en begin loop, julle sal nie hier bly nie. Julle het die stad onrein gemaak. Die vyande sal die stad verwoes, heeltemal verwoes.” Hierdie mense wil 'n profeet hê wat lieg en bedrieg. Hulle wil 'n profeet hê wat sê: “Gee vir my wyn en bier, dan sal ek vir julle 'n profeet wees.” Julle sê die Here sê: “Israeliete, Ek sal al julle mense bymekaarmaak. Ek sal die mense van Israel wat nog lewe, bymekaarmaak soos skape en bokke in 'n kraal, soos 'n klomp skape in die veld. Die land sal weer vol mense wees. Ek sal hulle bring uit die lande waar hulle nou is, Ek sal voor hulle loop, en hulle sal weer by Jerusalem se poorte ingaan en uitgaan. Ek is die Here, hulle Koning, Ek sal voor hulle loop, Ek sal hulle lei.”
MIGA 2:6-13 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Moet nie profeteer nie! sê die valse profete. As 'n mens hieroor nie mag profeteer nie, sal die beskimping nie ophou nie! Mag dit gesê word, o huis van Jakob: Sou die HERE dan ongeduldig wees? Of is dit sy dade? Is my woorde nie vriendelik teenoor hom wat as opregte wandel nie? Maar reeds vroeër het my volk vyandig opgetree. Julle pluk die mantel af, weg van die kleed van die wat in gerustheid verbygaan, wat afkerig is van oorlog. Die vroue van my volk verdryf julle uit die huis wat hulle liefhet; van hulle kinders neem julle my sieraad weg in ewigheid. Staan op en gaan heen! Want nie hiér is die rusplek nie, weens die onreinheid wat verwoesting aanrig, ja, 'n onherstelbare verwoesting. As iemand wind nawandel en bedrieglik lieg en sê: Ek sal vir jou profeteer by wyn en sterk drank — dan sou hy vir hierdie volk 'n profeet wees! Gewis sal Ek jou geheel en al versamel, o Jakob! Gewis sal Ek vergader die oorblyfsel van Israel; almal bymekaarbring soos skape in 'n kraal, soos 'n kudde in sy weiveld; en dit sal dreun van mense. Die deurbreker sal optrek voor hulle uit: hulle sal deurbreek en deur die poort intrek en daardeur uittrek; en hulle koning sal voor hulle uit gaan, en die HERE heeltemal vooraan.
MIGA 2:6-13 Afrikaans 1983 (AFR83)
Dié wat maak of hulle profete is, sê: “Moenie jý 'n profeet probeer wees nie, moenie oor dié dinge praat nie. Daar sal nie ellende oor ons kom nie.” Volk van Jakob, moet daar gevra word: “Is die Gees van die Here kwaad? Doen Hy sulke dinge?” Belowe Ek nie goeie dinge vir dié wat opreg lewe nie? My volk het in die afgelope tyd 'n vyand geword en in opstand gekom; julle stroop die mooi klere af van dié wat houtgerus by julle verbystap soos soldate van die slagveld af. Julle jaag die vrouens van my volk uit hulle gerieflike huise uit, julle vat die blywende gerief wat Ek hulle gegee het, van hulle kinders af weg. Maak klaar, gee pad! Dit is nie julle blyplek nie, want dit is onrein en verwoes, onherstelbaar verwoes! Wanneer 'n rondloper, 'n bedrieër lieg en sê: “As profeet beloof ek aan julle wyn en bier,” sal hy vir hierdie volk dié profeet wees. Ek sal julle almal bymekaarmaak, Jakob, Ek sal dié vergader wat van Israel oorgebly het, Ek sal hulle bymekaarbring soos skape in 'n kraal, soos 'n groot kudde in die weiveld, die wêreld sal dreun van mense. Een wat uitbreek, sal hulle lei, hulle sal uitbreek en deur die poort gaan, hulle sal daar uitgaan, hulle Koning sal voor hulle uitgaan, die Here sal voor hulle wees.
MIGA 2:6-13 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“Julle moet nie driftig profeteer nie,” sê hulle driftig. “'n Mens mag nie hierdie dinge driftig profeteer nie. Beledigings sal in elk geval niks bereik nie. Kan dit gesê word, huis van Jakob ? Is die HERE ongeduldig, of is dit sy dade hierdie?” “Doen my woorde nie iemand goed wat die regte pad loop nie? Maar julle het vir my volk 'n vyand geword wat teenoor vredeliewende mense stelling inneem: Julle pluk die mantel af van niksvermoedende verbygangers, mense wat uit 'n oorlog terugkeer. Julle verdryf die vroue van my volk uit huise waaraan hulle verknog is; van hulle kinders ontneem julle vir altyd die waardigheid wat Ek gee. Maak gereed en gaan weg, want dit is nie 'n tuiste hierdie nie! Omdat dit •onrein is, sal dit vernietig word – 'n verskriklike vernietiging.” As iemand maar net voortdurend onsin en die leuen versprei, “Ek sal vir jou driftig profeteer oor wyn en sterk drank”, dan word hy die driftige profeet van hierdie mense! “ Ek sal jou beslis bymekaarmaak, Jakob, almal van julle; Ek sal beslis die oorblyfsel van Israel byeenbring. Ek sal hulle versamel soos kleinvee in 'n kraal, soos 'n trop diere in 'n weiveld; daar sal 'n rumoer van mense wees. “ Die een wat deurbreek, gaan voor hulle uit. Hulle breek deur en gaan deur 'n poort; hulle gaan daardeur uit! Hulle Koning gaan voor hulle uit, die HERE is op die voorpunt!”
MIGA 2:6-13 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Moenie profeteer nie, sê hulle vir die wat profeteer; o jy wat die huis van Jakob genoem word, is die Gees van die HERE benoud? is dit sy doen en late? doen my woorde nie goed aan hom wat opreg wandel nie? Selfs teen die tyd het my volk opgestaan as 'n vyand: julle trek die mantel uit met die kleed van die wat veilig verbygaan soos mense wat afwyk van oorlog. Die vroue van my volk het julle uit hulle lieflike huise verdryf; van hulle kinders het julle my eer vir altyd weggeneem. Staan op en gaan weg; want dit is nie jou rus nie: omdat dit verontreinig is, sal dit jou vernietig, selfs met 'n groot verwoesting. As iemand wat in die gees en leuens wandel, lieg en sê: Ek sal vir jou profeteer van wyn en sterk drank; hy sal selfs die profeet van hierdie volk wees. Ek sal sekerlik vergader, o Jakob, u almal; Ek sal gewis die oorblyfsel van Israel bymekaarmaak; Ek sal hulle bymekaarmaak soos die skape van Bosra, soos die kleinvee in die middel van hulle kraal; Die breker kom voor hulle op; hulle het opgebreek en deur die poort gegaan en daardeur uitgegaan; en hulle koning sal voor hulle uit trek, en die HERE is op hulle hoof.
MIGA 2:6-13 Die Boodskap (DB)
In reaksie op hierdie boodskap van Miga was daar vals profete wat gesê het: “Moet julle nie steur aan die negatiewe goed wat hy gesê het nie. Die Here gaan ons nie verneder deur hierdie ramp oor ons te bring nie.” Miga het toe gesê: “Sê my ’n bietjie, Israel, behoort julle nie te vra: ‘Is die Here ongeduldig?’ en: ‘Sal Hy regtig so iets doen?’ nie. Julle behoort te weet dat die Here goeie dinge te sê het vir mense wat lewe soos Hy wil hê hulle moet. Maar die Here sê party van julle wil nie hoor wat Hy sê nie. Omdat dit julle houding is, is julle my volk se vyande. Julle gryp sommer ’n mens wat kalm en rustig by julle verbyloop en skeur sy klere van sy lyf af. Julle jaag van die vroue van my volk uit hulle huise uit. Hulle het eintlik daardie huise so mooi na hulle smaak reggemaak. Deur dit te doen steel julle die kinders se reg om eendag te erf wat Ek vir hulle gegee het.” Miga sê toe vir hulle: “Staan op, maak dat julle wegkom! Hier sal julle nie langer in vrede kan bly nie. Omdat julle ontrou aan die Here was, gaan hierdie plek so erg verwoes word dat dit nooit weer reggemaak sal kan word nie. Weet julle, as ’n profeet wat graag leuens vertel en mense bedrieg, vir julle sou sê: ‘Ek sal vir julle vertel van al die voordele wat wyn en bier vir julle bring!’ sal so ’n profeet net die regte soort vir julle wees. Hy pas perfek by julle!’ “Die Here sê: ‘Ek sal die mense van Israel wat hierdie verwoesting vrygespring het, bymekaarmaak. Ek sal hulle bymekaarmaak soos ’n mense skape in ’n kraal saamjaag of soos skape wat saam in die veld wei. Die groot klomp mense wat saam in die land is, sal ’n lawaai opskop. Ek sal hulle help om deur die vyand se verdediging te breek soos om deur ’n hek te breek. Ek, die Here, is julle Koning! Ek sal julle leier wees.’”
MIGA 2:6-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die mense sê: “Moenie sulke dinge kwytraak of profeteer nie. So ’n skande sal nie oor ons kom nie!” Israel, behoort julle so te praat? Sal die HERE geduld hê met sulke gedrag? As julle doen wat reg is, sal my uitsprake vir julle aanvaarbaar wees. Maar nou is my eie mense vyandig en opstandig. Julle gryp mense en skeur die klere af van hulle wat rustig verbyloop soos soldate op pad terug van ’n veldslag af. Julle verdryf die vroue van my volk uit hulle gerieflike huise. Julle ontneem hulle kinders vir altyd van die seëninge, van hulle godgegewe erfdeel. Staan op! Maak dat julle wegkom! Hierdie land sal nie meer vir julle ’n rusplek wees nie. Dit is besoedel, in ’n ongeneeslike toestand! Die soort profeet wat julle sou verkies, is ’n profeet wat leuens vertel en vir julle sê: “Ek sal julle vertel van al die voordele wat wyn en sterk drank vir julle kan bring.” “Eendag, Israel, sal Ek julle almal terugbring. Die oorblyfsels van Israel sal Ek sekerlik weer bymekaarbring. Ek sal hulle bymekaarbring soos skape in ’n kraal, soos ’n trop skape in die veld. Julle land sal weerklink van die gedreun van mense. Julle leier sal deur die linies breek en julle uit ballingskap lei. Hy sal julle lei deur die poorte van die stede, julle sal deur die poorte breek op pad na julle eie land toe. Julle koning sal voor julle uit gaan. Die HERE self sal julle lei.”